Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1933
(1933)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 167]
| |
Die Nieu-Hebreeuse Letterkunde.Ga naar voetnoot1)DIE Hebreeuse letterkunde is nou in sy vierde millennium. Daar is seker min volke in die hele wêreld wat op meer as drieduisend jaar geskiedenis van hul literatuur kan terugsien. Hierby moet nie vergeet word nie dat daar tussen die oudste voortbrengsels van die Hebreeuse letterkunde en dié van vandag, wat die taal betref, onvergelyklik meer ooreenkoms en verband bestaan as, by voorbeeld, tussen Middel-Nederlands en die teenswoordige Nederlands, of tussen die taal van die Angel-Saksiese kronieke en die huidige Engels, tussen Latyn en Italiaans of Oud-Grieks en Nieu-Grieks. Die seun uit die Oor-Jordaanse stad Sukkot wat die name van die sewen-en-sewentig aansienlikes en oudstes van sy stad vir die Rigter Gideon kon opskryf, sou seker nie baie moeite gehad het om heelwat van die kortverhale van die skrywers van sy ou volk van vandag te lees en te geniet nie, as hulle maar net in die Oud-Hebreeuse skrif geskryf was en 'n paar veranderde lewensomstandighede vir hom verklaar was. Tog lê tussen hom en vandag 'n tydsruimte van meer as dertig eeue. En die seuns van Juda wat uit een van die oudste Hebreeuse digbundels, Die Boek van die Opregte, die Klaagsang van Dawid op die gesneuwelde Saul en Jonatan moes leer, sou seker nie baie meer moeilikheid gehad het met die leer van Perets of Bialik se verse nie. Tog is die geskiedenis van die Hebreeuse taal en letterkunde vol lewe en beweging. ‘Opgaan, blinken en verzinken’ was ook hulle lot, maar dit nie slegs eenmaal en met ‘verzinken’ as die volstrekte einde nie, dog met 'n gedurige weer opgaan, telkens 'n nuwe dagbreek na die nag. Gewoonlik is op 'n dooie taal en sy letterkunde die woord van toepassing: ‘Dood, sal hulle nie meer leef nie, oorlede, sal hulle nie meer opstaan nie’, maar die Israelitiese volk, met sy taal en sy literatuur, lyk een van die ‘dooies van God’, van wie Jesaja sê: ‘U dooies sal leef!’ Die Oud-Hebreeuse taal, wat gedurende 'n vyf, ses eeue die uitdrukkingsmiddel was van 'n hoogontwikkelde letterkundige sin by die volk van Israel in die land Kanaän - die pragtige Oorwinningslied van Debora (Rigtere 5) is een van die ouds-dateerbare proewe daarvan (twaalfde eeu voor Christus), en die boekie Rut, die landelike idille, sou letterkundig as 'n eerste ‘kortverhaal’ kan beskou word - is in die eeue tussen die Babiloniese Bal- | |
[pagina 168]
| |
lingskap en die begin van die Christelike jaartelling uit die daaglikse gebruik verdring deur die Aramees, wat 'n paar eeue lank die algemene, internasionale verkeerstaal in die Ou Nabye Ooste was. Die taal van Jesus en die Apostels was, soos bekend, Aramees. Tot in die derde eeu na Chr. was Hebreeus egter as taal van die Joodse geleerdes nog in gebruik, in 'n jongere vorm wat vermeng was met baie Aramese, Griekse en Latynse woorde. In hierdie taal is die oudste gedeelte van die Talmoed, die Misjna, geskrywe. In die taalkunde word hierdie vorm van Hebreeus reeds Nieu-Hebreeus genoem. Onder die Nieu-Hebreeuse letterkunde word egter gewoonlik verstaan die literatuur wat aan die end van die negentiende eeu ontstaan het. Vanaf die vierde tot die tiende eeu het Aramees onbeperk geheers in die Joodse wêreld. Die jongere dele van die Talmoed (die Gemára) is daarin geskrywe. Tog was daar baie Hebreeuse elemente in hierdie taalvorm, soos ook reeds die Oud-Hebreeus van die Ou Testament verskillende Aramese elemente bevat het. En deur die ywerige studie van Bybel en Misjna deur die geleerdes, sowel as deur die verpligting wat op elke seun van die Ou Volk gerus het om die Skrif in die oorspronklike taal te lees, deur die baie Hebreeus wat by die erediens in die Sinagoge gebruik word en die groot aantal formuliergebede in Hebreeus vir persoonlike en huislike gebruik, het selfs in die eeue toe die ou Heilige Taal uit die daaglikse omgang verdring was, die kennis van die taal so lewendig gebly, dat hier moeilik van 'n dooie taal gepraat kan word; dit sou dan ten minste in heeltemaal verskillende sin as, by voorbeeld, van Latyn, gedoen moes word. In die elfde eeu beleef die Hebreeus, onder die invloed van die verwante Arabiese taal en letterkunde, 'n wonderlik kragtige en veelbelowende renaissance onder die Jodedom in Spanje. Bekende digters en skrywers soos Ibn Gabirol, Jehoeda Halewi en die gebroeders Ibn Esra het die ou taal weer tot nuwe intense lewe laat ontwaak, en nie alleen die liefde vir Sion en die heimwee na die Land van die Vadere in godsdienstige en nasionale gedigte besing nie, maar ook die natuur, die skoonheid en die liefde met Oosterse gloed en kleurerykdom in hul poësie geskilder. Ook in Italië het die herlewing deurgewerk, en waar die Jode in daardie tyd nog in die algemene kultuur van die tyd kon gedeel het, baie van hulle manne van wetenskap en bekleërs van belangrike posisies was, het die Hebreeuse letterkunde van die elfde tot die veertiende eeu 'n waardige plek ingeneem in die kultuur van die tyd. Dit spreek vanself dat die Ghetto-lewe, die opgesluit wees binne die streng bewaakte mure van die Jodewyk, wat veral na die verdrywing van die Jode uit Spanje aan die end van die vyftiende eeu begin het, nie bevorderlik was vir literêre produktiwiteit nie. Uitgesluit van die deelname aan die al- | |
[pagina 169]
| |
gemene kultuurlewe, aan alle moontlike beperkings en plaerye onderwerp, het hulle hul teruggetrek en beperk tot die studie van die Talmoed en die tradisionele wets- en stigtelike literatuur, en die poësie het alleen in godsdienstige liedere bestaan. Dit het geduur tot die end van die agtiende een, toe 'n ander gees oor Europa vaardig geword het en die waarde van die mens, ongeag sy afkoms en stand, besef is. Die sogenaamde ‘Verligting’ en die stromings wat in die Franse Revolusie hul gewelddadige uiting gevind het, het die houding van die Europese volkere tot die Jode gewysig en meer menslik gemaak. Die geslote mure en poorte van die Ghetto word oopgemaak. Die Westerse kultuurlewe word vir hulle toeganklik en dring op hulle aaan. Dit wek nuwe kulturele lewe in die dor doodsbeendere en gee die geboorte aan die Nieu-Hebreeuse literatuur. Die Nieu-Hebreeuse letterkunde word geag te begin in die jaar 1785, met die oprigting in Duitsland van die tydskrif Ha-Meässeef, ‘Die Versamelaar’, met die doel om die ‘Verligting’ onder die Jode te verbrei en die ontwikkeling van die Hebreeuse taal te bevorder, soos in die program staan: ‘.. om aan alle volkere die skoonheid van die taal van die Bybel te toon’. 'n Groot groep geesdriftige medewerkers, die Meässefiem genoem, almal Maskiliem, voorstanders van die ‘Verligting’ (in Hebreeus ‘Haskala’ genoem), het in artikels oor allerlei kulturele onderwerpe hulle oortuiging en die goeie reg van die Hebreeuse taal gepropageer. In die begin van die negentiende eeu slaan die beweging oor na die Oostenrykse Jodedom, vernaamlik in Galicië, en ongeveer in dieselfde tyd begin dit ook in Italië. Verskeie ander tydskrifte verskyn, asook geskrifte op die gebied van taalkunde, geskiedenis, wysbegeerte, godsdienswetenskap, letterkundige kritiek en skone lettere, vertalings wat bekende Europese skrywers en geleerdes bekend maak by die Jodedom in die nasionale taal, en alles wat aan die geestelike bevryding van die opgroeiende Jodedom uit die Ghetto-slawerny kon diensbaar wees. Name soos Mendelsohn, Erter, Wessely, Franko-Mendes, Rappoport, Krochmal, en, in Italië, die Luzatto's kenmerk hoogtepunte van die beweging. In die dertiger jare ontwaak ook die Russiese Jodedom onder leiding van die driemanskap J.B. Lewinsohn, M.A. Ginzburg en A.B. Lebensohn, met, as latere groot figure, J.L. Gordon en A. Mapoe, wat skepper is van die eerste Nieu-Hebreeuse roman Die liefde vir Sion, in 1853 verskyn. Dis merkwaardig om te sien hoe die tradisionele ortodoksie eerder vyandig as simpatiek teenoor die weeroplewing van die Hebreeus gestaan het. Aan die ander kant is dit begryplik, omdat al die skrywers besield was met die gees van die ‘Verligting’. Eers het hulle meer defensief die algemeen-menslike ontwikkeling van die Jode voorgestaan, maar hoe langer hoe meer begin hulle aanvallend op te | |
[pagina 170]
| |
tree. Die literatuur van die sestiger tot die tagtiger jare is 'n gedurige offensief teen die Rabbinisme en sy strewe om die Joodse lewe in die dwangbuis van die seremoniële wette en oorlewerings te pers. Hoe nodig hierdie ‘verligting’ van die Jodedom ook mag gewees het, dit het die gevaar van denasionalisasie meegebring. In hul ywer om die Jood Europese kultuur by te bring, het hul vergeet om die skatte van die nasionale tradisie en ideale diensbaar te maak aan die ontwikkeling van die Joodse nasie na eie aard en om die Jodedom op te voer tot 'n eie kultuurfaktor in die volkewêreld. Dat leidende geeste in die Oos-Europese Jodedom hierdie gevaar begin besef het, is 'n bewys van die gesonde lewe en ontwikkeling van die beweging wat in die Nieu-Hebreeuse literatuur sy uitdrukkingsmiddel gevind het. Reeds voor die opkoms van die Sionisme het in die begin van die sewentiger jare 'n man soos Smolenski in sy werke, met sprekende titels soos Die ewige volk, Dis tyd om te plant en Die dwalende op die paaie van die lewe (roman in vier dele), en die Palestyner Pines in sy Kinders van my gees in opbouende, nasionaal-kulturele en godsdienstige gees gewerk. Die Sionistiese beweging, met sy drie programpunkte: die fundamentele eenheid van alle Jode as nasie, die behoefte aan 'n staatkundige, nasionale sentrum in die Land van die Vadere, en die eis van 'n nasionale taal, Hebreeus, as voertaal van die nuwe staatkundig-nasionale lewe - hierdie beweging beteken in die tagtiger jare die begin van 'n nuwe fase in die Hebreeuse literatuur, geopen deur die groot hervormer van die Nieu-Hebreeuse taal, Ben Jehoeda, wat in sy huis in Palestina geen ander taal as Hebreeus geduld het nie. Die pogroms, die sistematiese deur die owerheid begunstigde massale Jodemoorde in Rusland, het aan hierdie nasionale beweging 'n kragtige stoot vorentoe gegee. Die Anti-Semitisme het die ‘verligte’, vereuropeaniseerde Jode net so goed getref as die ongeletterde massa en die gevoel van saamhorigheid versterk. 'n Hebreeuse joernalistiek met week- en dagblaaie ontstaan, volksliedere word gedig en gesing, en in romans (soos b.v. Twee Uiterstes, van R.A. Braude) word die nuwe strominge onder die Jodedom kunsvol verwerk, en word geprobeer om die gewenste sintese van konservatisme en vooruitstrewendheid te vind. Die magtigste figuur in hierdie geestesworsteling is Asjer Ginzberg, meer bekend onder sy tipiese skrywersnaam ‘Achad Ha'aam’ (‘Een uit die volk’), wat 'n geestelike Sionisme voorstaan, die geestelike ondergrond en historiese noodsaaklikheid van die Sionisme probeer ontdek en 'n Joodsnasionale wêreldbeskouing as grondslag van die beweging propageer. Hy wil herlewing van die Joodse ideale, maar as 'n nuwe geboorte, met die pioniers in Palestina as kern van die vernieude volk, maar met die Jode in die verstrooiing as ewe seer vernieu in gedagte- en gevoelslewe en as ewe harde samewerkers aan die nuwe toekoms, geen herleefde Ghetto-Jood nie, maar 'n nuwe | |
[pagina *18]
| |
UIT HOLBEIN, ‘BILDER DES TODES’.
| |
[pagina 171]
| |
Jood-mens, geen idealisering van die verlede, geen kosmopolitiese assimilasie nie, maar nasionale opbou, nie alleen staatkundig nie, maar veral na gees en gesindheid, en volgens algemeen-menslike beginsels. Vir dié herbore volk behoort Hebreeus die taal te wees, en nie Jiddiesj, die mengsel van Hebreeus, Aramees, Duits en die tale van die woonplekke van die Jode in die vreemde, nie; die historiese bewussyn van die nasie behoort met die taal verbonde te wees, en dit moet die taal wees waarin die vernaamste skatte van die gesamentlike nasionale skeppe van die volk gebêre is. Dis uit hierdie entoesiasme dat die jongere Nieu-Hebreeuse literatuur gebore is, waaraan die in hierdie versameling voorkomende skrywers 'n belangrike aandeel gehad het en gedeeltelik nog het. Achad Ha'aam se mees begaafde leerling is Bialik, wat die ideale van sy meester veral in sy gedigte besonder aangrypend en kunssinnig tot uitdrukking bring, en 'n wêreldroep verwerf het. Maar die laaste vyftig jaar het ook literêre kunstenaars van hoë gehalte voortgebring wat nie die ideale van die nasionale en seker nie van die geestelike Sionisme deel nie (die digters Tsjernichowski, Berditsjewski, en Sjnejoer, wat onder Nietzsche se invloed staan). Die literatuur van die laaste vyftig jaar weerspieël die mees uiteenlopende geestelike gesteldhede en lewenshoudinge, sowel die mees geesdriftig optimistiese nasionalisme as 'n panteïsties gekleurde natuur- en kragverheerliking, en selfs 'n pessimisme wat aan alle waardes begin twyfel het. Maar Hebreeus het vir al die gevoelens en gedagtes 'n volkome geskikte uitingsmiddel geblyk. Die toekoms van die Nieu-Hebreeuse letterkunde is, na menslike berekening, afhanklik van die slaag of misluk van die pogings wat in Palestina gedoen word om daar in die Land van Israel 'n nasionale tuiste vir die onder alle nasies verstrooide Jodedom te maak. Vir die ‘chaloetsiem’, die ‘pioniers’, is Hebreeus die huistaal, en op baie laer-, party hoërskole en aan die Hebreeuse Universiteit te Jerusalem is Hebreeus voertaal van onderwys. Maar selfs al sou hierdie pogings voorlopig nie die gewenste resultaat gee nie, en al sou na die pragtige opbloei van die Nieu-Hebreeuse taal en letterkunde van die laaste honderd-en-vyftig jaar weer 'n periode van verval volg, waarom sou na die herlewings in die elfde en in die negentiende eeu nie 'n derde renaissance moontlik wees nie?
B. GEMSER. |
|