Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1933
(1933)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 161]
| |
Deur Hoop Gemartel.ONDER die kelders van die Kerklike Geregshof van Sarragossa het, jare gelede, die eerwaardige Pedro Arbuez d'Espila, sesde prior van die Dominikane van Segovia, derde Groot-Inkwisiteur van Spanje, gevolg deur 'n fra redemptor (meestermartelaar) en voorafgegaan deur twee dienare van die inkwisisie-regbank - laasgenoemdes met lanterns in die hand -, een aand teen skemer afgedaal na 'n onderaardse gevangenishol. Die grendel van 'n swaar deur knars: hulle tree 'n bedompige in-paceGa naar voetnoot1) binne, waar 'n klein venster bó slegs vaag, tussen ringe in die muur ingemessel, 'n pynbank, swart van die bloed, 'n komfoor en 'n kruik laat sien. Op 'n hoop vuil strooi en opgerig gehou deur kettings, met die yster halsbeuel om die nek, sit 'n man van 'n voortaan onbepaalbare ouderdom, verweerd en in toiings. Hierdie gevangene is niemand anders as Rabbi Abarbanel, 'n Aragonse Jood, wat - beskuldig van woeker en hardvogtige onverskilligheid teenoor die Armes - reeds meer as 'n jaar lank elke dag op die pynbank gemartel is. Ewewel, aangesien ‘hy in blindheid net so verhard is as sy huid’, het hy nog altyd geweier om sy geloof af te sweer. Trots op sy afkoms van etlike duisende jare, groots op sy voorouers van oudsher - want alle Jode wat die naam waardig is, is jaloers op hulle afstamming - het hy, volgens die Talmud, afgestam van Othoniël en gevolglik van Ipsiboa, vrou van hierdie laaste Rigter van Israel - 'n omstandigheid wat hom tot sterkte was in die ergste van die oneindige martelinge. Dit is dus met trane in sy oë oor hierdie verharde hart wat die saligheid verwerp, dat die eerwaardige Pedro Arbuez d'Espila die sidderende rabbi nader en as volg toespreek: ‘Wees verheug, my seun: jou beproewinge op aarde gaan 'n einde neem. Indien ek, om soveel hardnekkigheid, met leedwese moes toelaat dat jy veel liggaamskwelling ondergaan het, my taak van broederlike tereghelping het tog sy perke. Jy is die weerspannige vyeboom wat so dikwels sonder vrug gevind is dat hy uitgeroei moet word.... maar dis aan God alleen om oor jou siel te oordeel. Miskien sal die lig van Eindelose Goedertierenheid oor jou skyn in die laaste uur! Ons moet dit hoop! Dit het al tevore gebeur... mag dit so wees! Rus dan in vrede vanaand. Môre sal jy die auto da féGa naar voetnoot2) ondergaan; | |
[pagina 162]
| |
dit wil sê, jy sal blootgestel word aan die quemadero, die vlamme wat die voorsmaak is van die Ewigdurende Vuur: dit brand, soos jy weet, my seun, van vèr, en die Dood neem ten minste twee, dikwels drie uur om in te tree, as gevolg van die ysverbande waarmee ons die voorhoof en hart van die brandoffer beskerm. Julle sal altesame slegs drie-en-veertig wees. Bedink dus dat jy, aangesien jy in die agterste ry geplaas sal word, oorvloedige tyd sal hê om God aan te roep en Hom hierdie vuurdoop, wat van die Heilige Gees is, aan te bied. Hoop dus op die Lig en rus.’ Aan die einde van die betoog gee Don Arbuez 'n teken dat die ongelukkige ontketen word, en hyself omhels hom liefderyk. Vervolgens is die fra redemptor aan die beurt; fluisterend smeek hy die Jood om hom te vergewe vir die marteling wat hy hom met die oog op sy bekering laat ondergaan het. Dan word hy omhels deur die twee dienare wie se kusse deur hulle mantelkappe geluidloos gegee word. Die plegtigheid is ten einde, en die gevangene word alleen en verbysterd agtergelaat in die duisternis. Rabbi Aser Abarbanel staar met 'n droë mond en 'n deur lyding verdwaasde uitdrukking op die gelaat na die geslote deur sonder om te sien. ‘..... Geslote?’ Die woord op sigself wek 'n illusie in sy verwarde brein, die illusie dat hy vir 'n oomblik die lig van die lanterns deur 'n skrefie tussen die muur en die deur gesien het. 'n Sieklike besieling van hoop, veroorsaak deur die verswakking van sy verstand, ontroer sy hele wese. Hy sleep hom na die ongewone verskyning! En baie saggies terwyl hy sy vinger met groot voorsorg inskuif in die kier, trek hy die deur na hom toe oop.... Verbystering! Deur buitengewone toeval het die dienaar wat dit toegemaak het, die groot sleutel gedraai voordat die deur teen die klipkosyn gestamp het, sodat die verroeste tong van die slot nie in die huisie geskiet het nie en die deur opnuut die krot binneswaai. Die rabbi waag 'n blik na buite. In die bleek lig van skemering onderskei hy eers 'n halfsirkel van grondkleurige muur waarin 'n spiraalvormige trap opgaan; hoër voor hom, bo vyf of ses kliptrappies, 'n swart portaal wat toegang verleen tot 'n uitgestrekte gang, waarvan hy hier van onder net die eerste gewelwe kan sien. Hy strek hom dus op die grond uit en kruip tot op die drumpel van daardie portaal. - Ja, dit is wel 'n gang, maar onmeetlik lank! Bleek daglig, 'n droomskynsel, verlig dit: nagliggies bo aan die gewelwe werp 'n blouagtige skynsel neer in die matte kleur van die insyferende lig... die einde van die gang verdwyn in die duisternis. En nie 'n deur langs die hele uitgestrektheid nie! Net aan die een kant, die linkerkant, is daar in die muur ysterbetraliede luggate waardeur 'n skemerlig syfer, seker dié van sonsondergang, want af en toe val daar rooi strepe lig oor die plaveisel. | |
[pagina 163]
| |
En hoe verskriklik stil is dit!.... Tog kan daar ver, aan die ander end, in die diepte van die wasigheid, 'n uitgang na vryheid wees! Die flikkerende hoop van die Jood is hardnekkig, want dit is die allerlaaste. Sonder aarseling dus waag hy hom op die plaveisel, al onder die luggate langs, en probeer om homself te laat saamsmelt met die donker kleur van die mure. Hy sleep homself langsaam vorentoe op sy maag en onderdruk telkens 'n smartkreet as 'n ope wond teen die stene stamp en hom laat sidder van pyn. Plotseling dring die geluid van naderende voetstappe tot hom deur in eggo van die steengalery. 'n Rilling gaan deur sy lyf, angs verstik hom, sy oë verdof. Nou ja, dis gedaan, dis seker! Hy vou homself op in 'n hoekie, en half-bewusteloos van angs wag hy. Dis 'n dienaar wat haastig aankom. Hy gaan vinnig verby met 'n marteltoestel vasgeklem in die hand, sy gesig agter die monniksmantel verberg - aaklig - en verdwyn. Die ontsteltenis het die rabbi se lewenskrag as 't ware tydelik uitgeblus, en byna 'n uur lank kan hy nie die geringste beweging maak nie. Uit vrees dat hy dubbele marteling sal ondergaan as hy gevang word, begin hy daaraan dink om terug te keer in sy sel. Maar die vroeëre hoop fluister hom weer daardie goddelike ‘Miskien’ toe wat troos gee in die grootste nood! 'n Wonder het gebeur! Hy mag nie meer twyfel nie! Hy begin dus weer aan te kruip na die moontlike oord van ontsnapping. Afgemat van pyn en honger en bewende van angs, gaan hy vorentoe! - En die grafagtige gang skyn op geheimsinnige wyse langer te word terwyl hyself maar aanhou voortgaan en altyd instaar in die duisternis voor, daar vèr, waar daar 'n uitkoms tot redding moet wees. O! O! Daar klink die voetstappe weer, maar hierdie keer langsamer en somberder. Die wit-en-swart gedaantes van twee inkwisiteurs met langwerpige hoede tree te voorskyn in die matte lig in die verte. Hulle praat op 'n fluistertoon en skyn te argumenteer oor 'n belangrike saak, want hulle maak heftige handgebare. Rabbi Aser Abarbanel sluit sy oë: sy hart klop om te sterf; sy verflenterde klere is klam van koue angssweet; hy bly sprakeloos lê, roerloos, uitgestrek langs die muur in die lig van een van die solderlampe, roerloos, in vurige smekinge tot die God van Dawid. Die twee inkwisiteurs kom tot regoor hom en bly in die lig van dieselfde lamp staan - ongetwyfeld laat die loop van die gesprek hulle toevallig juis hier stilstaan. Een van hulle kyk, al luisterend na sy metgesel se argumente, strak na die rabbi! En onder daardie blik, waarvan hy in die begin nie die afgetrokke uitdrukking opmerk nie, voel die ongelukkige weer die vurige tange invreet in sy vlees. 'n Nuwe aanklag en 'n nuwe foltering wag hom dus! Byna bewusteloos, met swaar ademhaling en bewende ooglede, ril hy oor sy hele liggaam as die monnik se mantel aan | |
[pagina 164]
| |
hom raak. Maar, vreemd en tog natuurlik, die blik van die inkwisiteur was klaarblyklik dié van iemand wat diep in gedagte is oor wat hy gaan antwoord, met sy hele aandag in beslag geneem deur wat hy hoor; sy oë is star - en skyn na die Jood te kyk sonder om hom te sien! Inderdaad, 'n paar oomblikke later sit die twee onheilspellende diskuteerders hulle wandeling al fluisterend voort na die binneplein waaruit die gevangene gekom het: Hulle het hom nie gesien nie!.... En plotseling flits daar deur die verskriklike warreling van gewaarwordinge die gedagte: ‘Sou ek reeds dood wees dat hy my nie gesien het nie?’ 'n Afgryslike gesig ruk hom skielik uit sy bedwelming: terwyl hy na die muur vlak voor sy gesig kyk, meen hy dat hy daar regoor syne twee wreedaardige oë sien wat hom aanstaar!... Hy ruk sy kop agteruit in skrikbeweging... Maar nee! nee! Hy betas die klippe met sy hande: dis die weerkaatsing van die inkwisiteur se oë wat hy nog in sy eie bewaar het en wat nou deur twee kolle op die muur teruggewerp word. Voorwaarts! Hy moet hom haas na die doel wat hy hom, waansinnigerwys natuurlik, as die redding verbeel! na die duisternis wat nou nie meer as 'n tree of dertig van hom af is nie. Hy hervat dan vinniger as tevore op knieë, hande en maag sy weg van smart, en weldra kom hy in die donker deel van die skrikaanjaende gang. Meteens voel die armsalige skepsel 'n tog van koue lug op sy hande wat op die plaveisel rus; dis 'n sterk trek van onder 'n klein deurtjie waarop die twee mure uitloop. O God! as die deur uitgaan op die buitewêreld! Die hele wese van die armsalige vlugteling ondergaan 'n duiseling van hoop! Hy bekyk dit van bo tot onder sonder om veel te kan onderskei in die donker. Hy betas die deur: geen slot of grendel nie - 'n klink!... Hy rig hom op: die klink skuif onder sy duim; die deur swaai geruisloos voor hom oop. ‘Halleluja!....’ prewel die rabbi met 'n groot sug van danksegging, terwyl hy nou regop op die drumpel staan en die toneel voor hom gadeslaan. Die deur het oopgegaan op tuine, onder 'n sterbestrooide hemel! Op die Lente, die Vryheid, die Lewe! Dit kyk uit op die omliggende velde, op die verre Sierras waarvan die kronkelende kartellyne blouagtig afgeteken staan teen die horison - daar, dáár is die Vryheid! - O! om te ontvlug! Hy sal die hele nag deur die lemoenboorde loop, waarvan die geur nou na hom aangesweef kom. As hy eenmaal in die berge is, is hy veilig! Hy adem die frisse, geheiligde lug in; dit laat sy longe uitset, gee hom sterkte. Hy voel in sy onstuimige hart die Veni foras!Ga naar voetnoot1) wat Lazarus eens gehoor het! En om nogmaals die God te dank wat hom hierdie genade betoon het, strek hy sy arms voor hom uit en hef sy oë op na die Hemel. Hy is in verrukking. | |
[pagina 165]
| |
En toe lyk dit of die skaduwee van sy arms op hom terugkeer, asof daardie skadu-arms hom omvat, hom omhels, - en dat hy liefderyk teen iemand se boesem gedruk word. 'n Lang gestalte is inderdaad langs syne. Sonder argwaan kyk hy af na daardie gedaante.... en hy bly roerloos staan, hygend na asem, verdwaasd, en met verstarde blik. - Verskrikking! Hy is in die arms van die Groot-Inkwisiteur self, die eerwaardige Pedro Arbuez d'Espila wat hom aankyk met betraande oë en soos 'n goeie herder wat 'n afgedwaalde skaap terugvind... Die sombere priester druk die Jood teen sy hart met so'n heftige opwelling van liefde dat die hare van die Dominikaan se boetrok deur sy kleed op sy bors steek. En terwyl Rabbi Aser Abarbanel, met oë omgekeerd onder sy ooglede, roggel van angs in die arms van die strengvrome don Arbuez en met sy verwarde verstand begin begryp dat al die fases van die noodlottige aand niks anders was nie as net 'n nuwe voorbedagte marteling, dié van die Hoop, prewel die Groot-Inkwisiteur in sy oor met asem brandend-droog van vas, op 'n toon van ontroerende verwyt en met 'n uitdrukking van ontsteltenis:
‘En nou, my seun? Op die vooraand miskien van jou saligwording... wou jy ons dan verlaat!’
Uit: Nouveaux Contes Cruels (Mercure de France, Parys, 1922)
van Philippe Villiers de l'Isle-Adam, vertaal deur
J.F. MARAIS. |
|