Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1933
(1933)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 151]
| |
Leipoldt as Digter.IV.IN Die BergtragedieGa naar voetnoot1) hoor ons nie die hartstogtelike gevoelsdigter nie, maar die sagte mymeraar. Na die beste in ‘Uit Drie Wêrelddele’ vertoon hierdie werk 'n groot insinking. By die eerste lesing word ons ontstel en ontstem deur die chaotiese, die gebrek aan samehang. En ook by herhaalde lesing kan ons geen diepere eenheid, geen innerlike noodwendigheid bespeur nie. Na 'n lang natuurbeskrywing waarin die sentrale siening ontbreek, vertel die digter hoe 'n jong seun Tafelberg beklim, deur die mis oorval word en in 'n afgrond stort. Die siel verlaat die lyk, wat ons in sy jeugskoonheid uitvoerig geskilder word. Dit bring die digter tot 'n lang mymering oor die Skoonheid; daarna kyk ons saam met die siel neer op die panorama wat sig voor hom ontvou; 'n reeks liriese sange op Kaapstad, Stellenbosch, Pêrel, Wellington, Tulbagh volg. Dit word middag en nag, en die siel styg omhoog en los hom op in die ‘ruimt'lose eensaamheid’, die ‘wêreldsiel’. Net soos in die geval van ‘Dingaansdag’ is ook hier nie die stof die oorsaak dat die werk nie geslaag het nie - dis die gebrek aan sterk besieling, wat die stof tot 'n hegte eenheid moes saamgesmelt het. Browning sou van hierdie gegewe 'n grootse kunswerk geskep het. Maar Leipoldt besit nie die gawe van grootse komposisie nie, hy kan nie 'n werk van langer adem skep nie. Ook sy dramatiese werk bewys dit - sy werklik dramatiese skeppinge het òf monoloë gebly òf is as dramas nog te skematies (‘Die Heks’, ‘Die Laaste Aand’). Leipoldt is die digter van die kortstondige felle ingewing, hoewel daardie ingewinge 'n eenheid van sielelewe as agtergrond openbaar. Ons het reeds gesien hoe die ritme van die ontroering in sy styging en daling skoon versinnelik word in die harmoniese bou van hierdie korter gedigte. Maar in ‘Die Bergtragedie’ is die ontroering mat - die gevolg is die bandelose, die gebrek aan selfbeheersing en gevoel vir verhouding wat hierdie individualis juis dán so sterk kenmerk. Die hoofkonsepsie word so oorwoeker deur afsonderlike, dikwels bloot toevallige détails, dat dit daarin verstik. In plaas dat die hoofmotief: die siel wat skielik deur 'n katastrofe van die brose, vir aardse skoonheid so ontvanklike liggaam bevry | |
[pagina 152]
| |
word, styg op tot sy raadselagtige ewige bestemming van opgelos te word in die Alsiel, in plaas dat hierdie konsepsie, wat al lank in Leipoldt leef, uitgroei tot 'n grootse Idee, waaraan al die bykomstige van self ondergeskik is, sodat die geheel word 'n skone argitektuur, het ‘Die Bergtragedie’ verloop in 'n kunsmatig aaneengeskakelde reeks afsonderlike sieninge en mymeringe waarin die dinamiese stroom van die grote ontroering, die formerende krag van alle grote kuns, ontbreek. Dit het geword 'n wonderlike aaneenryging van langdradige natuurskilderinge à la Leipoldt in sy minder besielde oomblikke, wat reekse van détailsieninge bly, slegs selde fel of treffend van visie, dikwels slegs cliché of herhaling van sy vroeëre poësie, en mymeringe oor die skoonheid, met as toegif die nogal gewildsangerige liedere van die dorpe, persoonlike ontboeseminge van Leipoldt wat met die hoofmotief nie die minste verband het nie - die toppunt van gewildheid is wel die refrein ‘O Ararat, o Ararat’ in die lied die Pêrel.
Die bewonderaar van Leipoldt wat ook agter hierdie digwerk die broeiende, maar nie fel lewende, nie tot groot kunsskepping ontgloeiende, digtersiel voel, ondervind dat langsaam sy ontstemming plaas maak vir weemoed, weemoed dat die sagte geneurie van ontroerde mymeringe soos die volgende nie deel uitmaak van die musiek van 'n grootse geheel nie: Ons lewe, deur die jare heen,
Is soos 'n ligglans wat verdwyn
In skemer wat die nag verleen
Voordat die volle maanlig skyn -
'n Glans wat net genoeg is om
Te wys die Weg wat ons betree,
Voordat die nag se donker kom,
En voor die Dood ons vrede gee -
Die Weg wat deur die wêreld lei,
Die sterre en komete oor,
Die lug-omgorde heelal verby,
En verder as die donker vóór.
Weemoed dat die glansing van heerlike skildering soos die volgende telkens verdof tussen die grys-eentonige opsomming van détailsiening: | |
[pagina 153]
| |
Skoon kleure verf
Die heerlike sonsondergang
Waar in die wes die songod sterf,
Met bont van pers en blou oorhang,
En die oseaan
Wat hyg benee die wonderprag
Van kleurskakerings wat vergaan
Al stadig in die skemernag -
Weemoed dat die ryke afwisseling van versvorm en strofebou nie 'n gedragenheid van sielsmusiek verklank nie, dat hierdie gedig nie sy eie lewe van binne uit lewe nie, dat die skone slotverse daardeur nie geword het 'n heerlike Apoteose nie: Tot in die ruimt'lose eensaamheid,
Rys statig op die siel, bereid
Om, soos die druppels reën wat spat
Neer op die onstuimige see se nat,
Bereid is om hul waterkrag
Te meng met die oseaan se mag,
Sy eenheid en selfstandigheid,
Sy eie Ek, wat Dood nòg tyd
Kan breek of broksgewys verniel,
Met daardie groter wêreldsiel
Daarbuite die heelal se kring,
Volmaak, oneindig een te ming.
| |
V.
Wagg'lende halme in die wind - die blom wat verlep in 'n middag -
Doww'rige, donsrige wolkies daarbo in die kroon van die hemel -
Branders wat bloei tot 'n berg van smaraggroen-deurskynende skoonheid,
Branders wat breek in 'n oomblik tot skuim waar die reënboog in lewe -
Spinnerak-matte bedou met die soet, koele dou van die môre,
Skitterende pêrels van vog, verwasem tot niks eer die skaduwee,
Fier uitgerek, van die berg in die ooste verdwaal tot 'n vlek -
Wat is die lewe meer as al hierdie vlugtige skoonheid?
Reeds in ‘Dingaansdag’ besing Leipoldt die skoonheid, in verse wat nie juis getuig van sterk ontroering nie: | |
[pagina 154]
| |
Ja, iets wat Tyd nog Dood kan skinner,
Nog aan sy mag kan perke stel,
Wat meer as roem en rykdom tel
Bly oor; die Skoonheid as oorwinner.
In ‘Uit Drie Wêrelddele’ kom dieselfde gedagte weer voor (Slampamperliedjie XXVI), en in ‘Die Bergtragedie’ mymer hy oor die wese van skoonheid. Sy jongste bundel dra die naam Skoonheidstroos.Ga naar voetnoot1) Leipoldt se skoonheid is nie Shelley se Intellectual Beauty nie, ‘the awful shadow of some unseen Power (that) floats though unseen among us’; dis ook wesensverskillend van die hieraan verwante panteïstiese godheid voor wie Perk geknield lê: ‘Schoonheid, o, Gij, wier naam geheiligd zij.’ Ook bid Leipoldt nie soos Adama van Scheltema tot die ‘Schoonheid die in de hemel zijt, die in de wereld zijt, die in ons zelven zijt’, om te gee ‘van uw geweldigheid, van uw deemoedigheid, van uw dapperheid’ om groot en goed en eerlik te lewe nie. Sy lewe is ook nie een strewe na die suiwere verbeelding van die sinnelik waarneembare skoonheid soos Keats se kort lewe was nie. Leipoldt mis die suiwer artistieke drang en die alles bykomstigs verterende intensiteit van die Engelse digter met sy ongelooflike eenheid van doel. Vir hom is die skoonheid 'n troos: Om lewe ryker, godliker te maak
Vir peinsend siele wat deur aards geweld
Verbyster word, deur werklikheid gekwel
Tot moedeloos twyfel aan die lewenstaak.
So is dit reeds in sy eerste bundel waarin hy ontkom aan die skrynende smart deur hom met kinderlike onbevangenheid oor te gee aan die heerlike natuur, wat hom dan weer nuwe moed gee om aan te spoor: ‘Klim op, klim op met die slingerpad’. So is dit ook in sy derde bundel waarin hy juig ‘somer en son en safier vir my’. En namate die stryd in sy siel hewiger woed, die gevoel van eensaamheid skrynender word, gee hy hom meer bewus oor aan die skoonheid wat vergetelheid bring. Daarom kry sy poësie later 'n koorsagtige aksent, gaan die selfbeheersing dikwels verlore. Dit word 'n bedwelmingsmiddel om te ontkom aan sy smart. In ‘Die Bergtragedie’ en ‘Skoonheidstroos’ gaan Leipoldt meer bewus nadink oor die wese van die skoonheid, en die grondtoon van hierdie mymeringe (hoe gebrekkig en swak-besield ook dikwels verwoord in die eers- | |
[pagina *17]
| |
4. UIT DIE DODEDANS VAN DIE KNEKELHUIS IN METNITZ, KAERNTEN (ongeveer 1500).
| |
[pagina 155]
| |
genoemde digwerk, is tekenend vir sy digterpersoonlikheid. Die skoonheid bly nie slegs die huiwering van die sinne nie, dit word egter ook nie 'n buite die siel bestaande metafisiese mag nie - die wese daarvan lê vir hom in die daad van die siel wat dit sig eie maak.
Nie in die uiterlike bekoring lê die skoonheid nie: Maar in die siel wat sublimeer
Tot goud die skrale sinsprofyt
Uit rein gevoel, en keer op keer
Dit omskep tot nuwe heerlikheid.
En daarom: Nie één van dié,
Musiek nòg woorde en kleure, kan
Die innerlike harmonie,
Die wese van die skoonheidsplan
Verklaar nie. Krag
Om te besef wat skoonheid is,
Lê in die siel wat skoonheid ag
As sy onsterflike erfenis.
Dis kenmerkend van hierdie individualis en eensame soeker dat die waarde van die skoonheid vir hom lê in die verwerwing daarvan deur die siel. Daarom kan hy selfs praat van ‘vir skoonheid sy siel ontgin’. En daarom kom hy in sy roerende ‘Kersnaggebed’, waarin die toon van 'n waaragtige gebed tril, nadat hy gesmeek het om naasteliefde, om krag tot troue vervulling van sy plig, om die strewe na ware kennis, om geduld as die ouderdom kom, om volharding, tot die skone klimaks: Ek smeek U, Heer, om hulp dat ek behou
Die wonderskat my toebedeel as kind:
Dat ek, in wat ek op U wêreld vind,
Weerkaatsing van U godlik skoon aanskou.
Hierdie skoonheid bloei telkens vir hom op in die natuur en laat hom, wat so uiters ontvanklik is vir sinsindrukke, huiwer van geluk. Hierdie geluk is die troos waarmee hy sy vermoeide, afgestrede siel verkwik. | |
[pagina 156]
| |
‘Skoonheidstroos’ bring geen nuwe Leipoldt nie, geen nuwe, verrassende ontwikkeling van sy talent nie. Dit vertoon wel groter rustigheid en selfbeheersing. Dit vertoon nog al die gebreke van ‘Uit Drie Wêrelddele’, maar in minder mate. Die hewige stryd, die opstandigheid is verby, die grondtoon klink vaster, sekerder - die pessimisme is nog daar, klink 'n enkele keer nog fel op, maar gewoonlik bly dit meer op die agtergrond, gedemp van kleur al die verse met 'n sekere berustende droefgeestigheid. Agter die natuurbeskrywinge skryn gedurig die besef op van die voortvlugtige, die verganklike van die aardse skoonheid. Die grootste deel van hierdie gedigte beantwoord dan ook nie aan die beskrywing wat die digter self in Slampamperliedjie XIX gee nie: Soos 'n borrelende vink sy hart verlos
Van die sang wat opbruis en uiting moet vind
As hy swaai op die tak van die swarthoutbos,
Gestreel deur die sag-koel môrewind;
Soos die seemeeu sing as hy ooswaarts gly
Op sy sterke wieke die branders oor,
Omhoog, omhoog in die blou lug, vry,
Deur die skyn van die son en die see bekoor -
So sing ook die hart wat die skoonheid min,
Want skoonheid bekoor soos die son en die see;
En hy wat vir skoonheid sy siel ontgin,
Skenk terug in sy lied wat die lewe hom gee.
Die meeste gedigte in hierdie bundel is wel sang, die digter skenk daarin ook wel ‘terug in sy lied wat die lewe hom gee’, maar die hartstogtelikspontane, die juigende wat in die eerste twee strofes van hierdie lied uitgebeeld word, hoor ons lank nie in al die gedigte nie.
Dis natuurlik nie die bedoeling om al hierdie gedigte uitvoerig te bespreek nie. Ek sal slegs by enkele van die belangrikste stilstaan.
In ‘Pater Servaas’ openbaar Leipoldt hom as die fyn-ironiese verteller. Die geestige spot, wat tog altyd simpatiek bly, met die dogmatiese pater wat so jammerlik faal in sy geesdriftig ondernome sending om die glimlaggend-hoflike, in die redeneerkuns so geslepe Oosterlinge te bekeer, en wat sy eie geloof alleen deur 'n roemlose vlug red, is heeltemal in ooreenstemming met Leipoldt se lewensbeskouing. Hoe fyn-geestig is die volgende portret: | |
[pagina 157]
| |
En Abdoel Feisal - koddig dat 'n gees,
So groot, tevree met stof so klein kan wees
As hierdie liggaam, uitgeput en teer;
Die kind-fyn hande deur die tyd verweer,
Die skerp gelaat deur ouderdom besaai
Met rimpels wat sy ruwe werk verraai;
Die fonk'lende oë, gulsig na die lig
En selwers vol daarvan, die bleek gesig,
Die dun sarkasties' lippe met hul lag -
Dis Feisal wat na waarheid soek en wag.
Mooi is die siening in ‘'n Kersnaglegende’ van Judas wat ronddwaal ‘stok-oud, gebroke, en alleen’ op die Noordpoolvelde. Na die skone, innige ‘Kersnaggebed’ volg 'n reeks sonnette, waarin poësie voorkom wat tot die beste en meest tipiese van hierdie bundel behoort. Die twee sonnette op ‘Die Pan’, ‘In die Suringtyd’ en die twee op ‘My Moederstad’ gee pragtige skildering, maar styg nouliks bo skildering uit. Opmerklik is dat ons in die eerste sonnet op ‘My Moederstad’ wat die opset betref onmiskenbare invloed merk van Totius se ‘Die Oue Put’. Die res van die twintigtal tref ons deur die kragtige toon en die selfopenbaring wat die digter daarin gee. In ‘Voorbeelde’ bring hy ‘as allenigheid my moedloos maak’, 'n slapelose nag deur temidde van die natuur, en dan: Rys voor my op, in droomgestaltes dig,
Die ontelb're siele van die voorgeslag
Wat ook alleen gestaan het om te stry
Vir wat hul reg geag het, eer en plig.
Dan kry ek in my eensaamheid 'n krag
So sterk as ooit 'n sterflik mens kan kry!
Ook in ‘Die Las van Lang Verlede’ klink die ou toon op: O, bitterskoon was alles, en versot
Op skoonheid was die siel wat, vir sy loon,
Gefolter is om daeliks, waar hy kyk,
Die afval-as van al sy moedeloos stry,
Die flenters van sy ideaal te aanskou...
Hoe hoor ons weer die toon van pessimisme en van manlike pligsaanvaarding in ‘Die Teenkant’ - al die heerlike skoonheid is hy bereid om af te staan: | |
[pagina 158]
| |
Dit sal ek afstaan, soos ek moet, tevree;
Ek het dit tog bewonder en gehoor,
Daaruit geput my troos en sielsplesier
Wat moed tot deurvolharding steeds kon gee,
Voordat die teenkant, met sy smart, versmoor
Die liefde wat my lewensloop versier.
Die verleiding om van hierdie skone gedig ook die pragtige oktaaf te siteer, was groot. Want hierdie gedig is skoon nie alleen as gedig nie, maar veral ook as sonnet. Dit is ook die geval met ‘As ek moet kies...’, waarin die motief van ‘Mymering’ (‘Uit Drie Wêrelddele’) terugkeer, en met ‘Kinderverstand’, met die heerlike plastiek van die oktaaf: Ek soek, in pelgrimstogte deur die duine
Die stem wat eenmaal ek as blootsvoet kind
Gehoor het en verstaan het in die wind,
En in die see se growwe bas-basuine,
In kreun en kraak van branders wat die bruine
Geknoeste bamboes uit mekaar ontbind,
En waterskoon en waterkleur verslind,
En strandkastele wegslaan om in puine
Te lê te treur!
Let op die pragtige antiklimaks van die laaste half-vers - veral op die ritme. Hoe graag sou ek ‘In die skemer’ uitvoerig vergelyk het met ‘Die Soutpan’ - ook hier, in sy latere gedig, die geestelike siening van die landskap, maar hoe heel anders en met heeltemal verskillende middele uitgebeeld. Hier nie die détailindrukke, veral van die oog, nie, hier waai die misterie ons toe uit die forsgesiene grootse silhoeëtte wat geheimsinnig opdoem in die flou maanlig - en in die slotverse stroom die verborge lewe te voorskyn wat die hele sonnet besiel: En in die stilte wat die aandlug streel,
En soos 'n seën rus oor die hele land,
Ruis deur die nag die weergalm van sy lied.
Leipoldt bly in ons letterkunde nog altyd onoortroffe as sonnettis. Verskillende van hierdie gedigte sou as uitnemende voorbeelde kan dien om die wese van hierdie heel besondere kunsvorm aan te toon. | |
[pagina 159]
| |
Ook die verdere deel van die bundel is ryk aan ontroering, aan plotseling opbloeiende skoonheid. Ek ken in ons hele letterkunde geen vers wat 'n groter wonder van klank en ritme en siening is as die eerste vers van die mooi ‘Branderlied’ nie: Die blou van die bewende see waaroor die wit seemeeue skree -
Luister ook na die slot-akkoord van hierdie lied van die brander wat ‘stroom uit die diep oseaan’: En my hoof na die hemel gerig, rol ek voort in 'n dond'rende skaar.
Wat 'n weelde van natuurprag in ‘Bosveldlied’, en hoe gloei en bewe in ‘Waarom’ die yle, voortvlugtige skoonheid van die verganklike. Daarnaas vind ons minder besielde gedigte; meer as een gedig word ook geskend deur onsuiwerhede, deur verse waarin die bedenkende verstand die verkwynende besieling te hulp moet kom met 'n gedagtebeeld. Ons hoor van: Die sagte middag-seewind, wat die skroei
Van die loodregte, louwarm sonstraal snoei.
en dat: die lug se blou-bleek perlemoen
Deur die somer se goud word gesoen tot 'n mengsel van
minlike kleur.
Ons hoor van ‘die hand van die outyd’ en van die winter se yskoue hand wat die nuwe kleure geverf het oor die land. En so sou ek tal van voorbeelde kan aanhaal. Ook die sonnette is glad nie almal vlekkeloos nie. Hoewel daar in hierdie opsig 'n groot vooruitgang te bespeure is, sondig Leipoldt nog menigmaal teen die taal - die Engelse ‘met’-basil tier nog welig.
* * *
As individualis in die dieper sin van die woord is Leipoldt uniek in ons letterkunde. Langenhoven word 'n individualis genoem, en hy is dit ook - in 'n ander sin. In sy verset teen alle skyn en onegtheid, - in sy geestigheid en humor, selfs in sy mees verrassende wendinge en verbluffend grillige invalle is hy altyd in die eerste plek die tolk van die volk. Sy stryd is teen magte buitekant hom, hy is nooit eensaam nie, agter hom staan die volk, van wie se mentaliteit hy 'n geniale uiting is. Leipoldt stry sy stryd alleen, 'n | |
[pagina 160]
| |
stryd van die magte in sy siel. Alleen uit die latere poësie van Totius spreek 'n individualisme wat in sommige opsigte verwant is aan die van Leipoldt. As die smarte van die lewe hom murw geslaan het, kom 'n namelose droefheid en verlatenheid sy siel soos 'n vloedgolf oorweldig: Net soos 'n skaap wat siek is, dwaal
en uit die kudde, stil aan 't wei,
verlate alleen wil agterbly -
so dwaal ek weg, en wil my gees
in eensaamheid gekoester wees.
Hier nie die heftigheid en opstand van Leipoldt nie, en die klag verstil as die digter die vertroosting van sy geloof weer deelagtig word. Op my ou ramkietjie
Met nog net een snaar
Speel ek in die maanskyn
Deurmekaar.
So het Leipoldt self sy kuns gekarakteriseer. Jong Suid-Afrika sê seer seker nie meer ‘Halfpad mal!’ nie, maar het in hom een van sy beste digters, een van sy interessantste kunstenaarpersoonlikhede leer waardeer, in sy poësie die eerlike, spontane uiting van 'n modern-komplekse siel, die sielekreet van 'n mens gehoor. Sy jongste bundel bring die openbaring van verhewigde skoonheidsontvanklikheid, van 'n rustiger lewensbeskouing en groter artistieke selfbeheersing. ‘Skoonheidstroos’ bring 'n skone belofte vir die toekoms.
G. DEKKER. Potchefstroom, Januarie 1933. |