Schumann en ook werklik 'n mislukking. Die Wagnerse orkesvoorspel is inderdaad 'n inleiding tot die opera, gebaseer op die motiewe. Ook dit vind mens al in vroeëre operas (Mozart: ‘Don Juan’, ‘Towerfluit’, maar nie ‘Figaro’ nie; Beethoven: ‘Leonore’ 1, 2, 3), maar nie so konsekwent soos by Wagner nie.
Sy geweldigste werk, al is dit nie sy mooiste musiek soos ‘Meistersinger’ en ‘Parsifal’ nie, is ‘Der Ring des Nibelungen’. Dis vier operas (‘Rheingold’, ‘Die Walküre’, ‘Siegfried’, ‘Götterdämmerung’) wat bedoeld is om op vier opeenvolgende aande opgevoer te word. Die teks ontleen hy aan die Germaanse godeleer. Baie bekende orkesgedeeltes is die ‘Feuerzauber’ uit ‘Walküre’, as Wotan die vuur rondom die slapende Brunhilde laat kom, en die treurmusiek by Siegfried se dood uit ‘Götterdämmerung’.
Wagner het sy hervorminge ook uitgestrek tot die inrigting van die operagebou. Die gewone skouburg met sy klein orkesruimte, sy stalles en losies is akoesties vir opera-doeleindes nie juis in alle opsigte bevredigend nie. Hy verwesenlik sy plan met die stigting van die wêreldberoemde ‘Festspielhaus’ in Bayreuth. Dirigent en orkes is hier onsigbaar vir die publiek, wat net die toneel sien en wie se aandag nie deur die onvermydelike bewegings van dirigent en orkeslede gestoor word nie. Die sangers sien net die dirigent; die orkes is oordek en loop onder die toneel deur. Die beskikbare orkesruimte is groot, en al mag die klank bietjie minder ope en helder wees, die sangers word, selfs by sterk orkesbesetting, nie oorstem nie. Dis ook maar al te waar dat die klank van twintig viole wat saggies speel, baie aangenamer is as dié van vier viole wat sit en kras!
Die resultaat sien mens in Wagner se orkesbesetting: in die vroeë operas, soos ‘Lohengrin’, skryf hy gewoonlik vir drievoudige besetting van die blaasinstrumente (‘Meistersinger’ selfs twee hobo's, twee klarinette, twee fagotte), in die ‘Ring’ egter vir vier of vyf, ag horings, ses harpe, dit alles gebalanseer deur 'n sterk besette strykorkes. Ook gebruik hy die min toegepaste blasers soos die klein fluit (piccolo), die lae hobo (Engelse ‘horing’ - dis heeltemal geen ‘horing’ nie), die basklarinet, die kontrafagot, bastrompet, kontrabastuba, kontrabastrombone.
Mens moet hiermee vergelyk die orkesbesetting van die simfonieë en operas van Haydn, Mozart en Beethoven: een of twee fluite, twee hobo's, twee fagotte, twee horings, soms twee klarinette (Mozart, Simfonie in Es, operas, en al Beethoven se simfonieë), soms een of twee trompette en, as 'n groot uitsondering, trombones, piccolo en kontrafagot (finale Beethoven se vyfde; die beroemde kontrafagot-effek in Haydn se ‘Schöpfung’).
Met hierdie ryk orkes bereik Wagner allerhande nuwe effekte; hy is 'n groot instrumentator soos Hector Berlioz, die pionier op hierdie gebied. Die