| |
| |
| |
Levina.
(Eerste Bedryf uit die dramatiese verwerking van Die Burgemeester van Slaplaagte.)
Huiskamer van Lodewikus Prinslo.
LODEWIKUS PRINSLO (Oom Lood). |
HENDRIK OBERHOLZER, sy swaer. |
TANT LEVINA, sy vrou. |
LEVINA, sy dogter. |
HARRY PEACH, handelsreisiger. |
LOOD (kom binne met 'n bokvel, wat hy brei):
Vandag is ek dankbaar dat ek g'n boerdery het om my oor te bekommer nie. Wêreldse goed gee net beslommernis; - selfs 'n bokooi of 'n vers vra gedurige versorging in hierdie swaar tyd. - As die droogte so aanhou, gee ek die boere nog drie dae en dan kan hulle maar 'n vuurhoutjie in hulle gesaaide steek..... Ons ouderling is ook raadop met sy tyd; - die ou is seker weer op huisbesoek. (Hendrik Oberholzer kom binne.) Die son brand dat die kraaie gaap! Môre, boet!
Slaplaagte voel soos 'n bakoond! Die vlieë trap vandag vas! Soos Jan Kirsten gesê het: die wolke trek vanjaar net met een span! Ek sê: Ons word gestraf! Ons het afgedwaal van die oupaaie, en ons kinders wandel op die breë pad na die groot dorpe toe! Die fout lê by ons, boet Lood!... Ek hoor dat Levina ook soontoe dwing.
Ek voel beswaard boet Heina, omdat ek so onmagtig teenoor my eie dogter is. Die kind is anders as toe ons nog kinders was. Ek verstaan die jong geslag van teenswoordig nie; - alles gaan so buitekant die ouers om; - 'n ouer se raad en planne beteken niks meer nie.... Maar wat ek wou sê, terwyl die droogte onse land so teister, .... ek dreig al 'n week lank om met jou daaroor te praat; - dink jy nie dat dit baie wenslik sal wees om 'n biduur te bestel nie?
Wanneer ons harte reg is, goed! Oorlede vader het dikwels gesê: Goud het g'n waarde tensy dit gemunt is nie; - en met ons gaan dit net so; - as ons gemunt is, kan ons bidure hou; - so nie, dan is ons bidde laster!... Jy moet vir Levina kort vat boet!... Sy is 'n knap dogter, maar sy het verkeerde planne... Ek praat nou soos jou ouderling.
| |
| |
Ja, boet Heina... Wat sal 'n mens sê? Dis maar moeilik!... Ek meen Levina is 'n baie moeilike kind... Ons moet tot inkeer kom!... Die droogte is tog te vreeslik swaar, boet Heina!
Maar ek het ook oorgekom met baie goeie nuus. Die droogte kan die loop van onse kerk se lewe nie uitdor nie! Ek kan ook soos oorlede Koos Vermaak gesê het, toe die sprinkane sy koring bytrek: Dit sal 'n verandering in die lewe bring! Die Ring het besluit om af te stig, boet Lood...
Ons gaan ons eie leraar en ons eie kerk hier kry?
En ons eie koster!... Heelwaarskynlik sal jy die amp nog kry. Jy het ons altoos trou gehelp in daardie betrekking tydens ons buitedienste.... Maar boet, laat ek jou waarsku,... hou jou dogter in die spoor van onse opvoeding... Ek is op huisbesoek, ou swaer, en moet verder. (Af.)
'n Mens se swaer moet nooit sy ouderling wees nie!... Boet Heina loer te veel oor ons onderdeur en is te danig besorg oor Levina. - Die kind sal regkom, as ek net die kans kry om verstandig met haar te praat... As sy net onderdanig wil bly... As sy net haar onstuimige humeur kan bedwing... (Tant Levina kom binne met wasgoed.) Vrou, hè-jy die nuus gehoor?
Ons het afgestig, en die kosterskap is heel waarskynlik myne! Ou vrou; sy 't seker al dikwels daaraan gedink nie waar nie?
My kop is vol gedagtes, Lood.
Ek meen dat ons die kerk duskant die skool moet bou. Daar kan ek die kerkklok ver oor die bulte laat hoor.
Jy plant voordat jy geploeë het, my man! Ek moet jou reguit sê dat Pieter van Staden ook 'n eersteklas koster sal uitmaak. Hy kan sy tong roer, en hy is rats.
Piet van Staden, sê jy?... Jy sê Piet van Staden? Hy is 'n windbroek al is hy rats. 'n Koster mag nie rats wees nie,... 'n koster moet effens ouerig wees, hy moet sy woorde weeg en so half stywerig met kraakstewels deur die kerk loop... Ek kan skoene maak wat kraak!
As die amp vir jou bestem is, sal jy hom wel kry.
Maar boet Heina lê 'n servituut op ons - ons moet Levina in die spoor van onse opvoeding hou.
| |
| |
Ja Lood, dis juis oor haar dat my kop so vol gedagtes is. Die kind gee baie sorge. Sy maak die wêreld moeilik vir haarself; sy kan hier in ons samelewe nie aard nie. Maar boet Heina het nie nodig om hom daarmee te bemoei nie; hy 't self groot dogters.... Meester het gesê dat ons haar verder moes laat leer het.... Daar het boet Heina en sus ook hulle oë en neuse voor opgetrek. Hulle moet stil bly oor Levina!
Sy 't ver genoeg geleer, dwars deur die skool. Jy kan skaars jou naam teken en jy 't goed deur die wêreld gekom! Altemit is dit die geleerdheid wat haar inwendigheid so in 'n rep en 'n roer bring. Hoekom kan sy nie soos haar moeder wees nie? Wetenskap en kennis bring tot raserny; ons lees dit in die Woord....
Levina het my geaardheid, Lood. Ek moet woel en werskaf en is tevrede hier; maar Levina se drang om uit te spring en te werk, dryf haar van Slaplaagte af weg.
Altemit is dit die droogte wat op haar senewees druk. Ons moet haar met tak behandel, en ek dink dat ons vanaand gerus iets besonders kan gebruik. Gee vir my 'n daler, dan koop ek vir ons 'n blikkie vis. Ons kan haar van die afstigting ook vertel. (T. Lev. af)... Piet van Staden... Koster?... Die dwarstrekker se dwarstrekker sal dit in sy dwarskop kry om my voor te spring... (T. Lev. bring die geld.) (Lood af.)
TANT LEVINA (vou bondel wasgoed saam.) - (Levina kom binne):
Hoekom loop jy dan so in die warm son, my kind?
Ek was by die pos; Tant Annie sê dat hulle daar 'n werk vir my oop sal hou; sy laat die groete weet.
En is dit regtig jou begeerte om ons te verlaat? Het Johannesburg se trekpleister so sterk geword? Daar sal jy onder vreemdes harde dae hê; jy sal aanstote moet verdra, belediginge moet sluk, skimpe opvreet en nêrens die liefde ondervind wat jou ouers se huis jou kan gee nie, as jy jou net kan oorgee aan die lewe hier.
Maar dis juis waarna ek verlang; werk en lewe met ander meisies van my leeftyd saam om vir myself te sorg! Hier lê die toekoms voor my soos 'n doodsvallei, hier beweeg ek soos 'n pop wat niks kan uitrig nie. Wat is my lewe hier werd? Omring deur lug en bulte; opgesluit in die ruimte, waar 'n mens voel hoe waardeloos jy is en altoos teen dieselfde liewe, stroewe, eenvoudige gesigte van jou familie vaskyk, waar hulle jou agternakyk met groot vals oë, om tog op te merk
| |
| |
of jy wel deeglik in jou spore trap!... Ag liefste moeder, praat tog met pa. Gee my net 'n kans om self vir my te sorg, al was dit net vir 'n maand of twee. Moeder sal nooit spyt daarvan kry nie. Ek soebat julle!
As dit 'n kuier na sus Annie hulle is, kan ek jou vader oorhaal; maar dis jou selfstandigheid en eie wil wat sake so moeilik maak. Oom Heina het vandag reeds met jou vader gepraat. Hy meen dat jy verkeerde pad opgaan en waarsku ons.
Wat het oom Heina oor my te sê? Ek is mos julle dogter; - sien ma nou, dis ook 'n rede waarom ek hier nie kan bly nie; hy pas ons op soos 'n tronkbewaarder sy bandiete! Laat hy sy eie huis oppas!
Maar hy is ons ouderling, Levina; hy moet waak soos 'n wagter op Sions mure; - en hy het baie invloed hier in ons gemeente.
Solank as ek my goed gedra kan hy niks maak nie moeder, en ek weet hoe om my te gedra, ek het g'n oppasser nodig nie!
Ek sal weer met jou pa daaroor gesels, Levina; maar nou moet ek eers die wasgoed besorg. (Af.)
Oom Heina het hom weer laat hoor, nè - ek kon dit dink! Pa is vir die swartspan net so bang as vir die magistraat. (Gooi haar brief op die tafel.) Wat help dit my dat tant Annie hulle werk vir my gekry het op die Rand? Ek sit hier vasgeketting deur oom Heina se stille dreigemente en pa se vrees vir hom. (Werk aan 'n doilie.) En ek moet soos 'n sedige ounooi op hierdie dooie plaas my deurentyd sit en verveel tot iemand eendag opdaag en hom oor my ontferm..... Dan sal ek ja sê uit pure kan-nie-anders-nie (lag bitter). Dis wat oom Heina en al die goeie mense hier wil hê... Doilies hekel vir tydverdryf; besoekies aflê op Slaplaagte, en dit in die ongenadige hitte. Alles maak 'n mens hier moedverlore! Alles staan hier en opkrimp; - die mielies lyk soos stokou riete, en die pampoenblare bly in die nag soos vaatdoeke hang. Hier sal ek net so verlep en verskrompel en wegraak soos die kweek op hierdie kaal ou werfie!... Ek moet 'n gehoorsame meisiekind bly, volgens oom Heina se goedkeuring, na die voorbeeld en patroon van sy dogters... (smyt die hekelwerk op die tafel). Hoekom kan ek nie soos hulle wees nie? Hoekom wil ek anderster wees as hulle? O, die begeerte brand in my om weg te kom van hierdie omgewing, om my eie pad deur die lewe te volg, te veg as dit moet!... Maar ek sal, wag maar!... (vat die brief en lees) - (Lodewikus Prinslo kom binne.)
| |
| |
Dis 'n antwoord op my brief aan nig Annie, Pa; - sy skrywe dat daar 'n oop plek sal wees in die fabriek waar hulle werk... Ek het mos vir pa hulle gesê wat my planne is. Ek hoef nie vir ander meisies, wat vir hulle self sorg, agter te staan nie!
Maar jy handel al te danig op jou eie houtjie!... Jy sal die planne uit jou kop uitsit, wanneer jy weet wat ek weet. Ek sal jou die geheim vertel. Ons hoef nie meer so skraps te lewe nie, Levina. Slaplaagte gaan sy eie kerk kry, en ek word koster. Jy kan jou ook maar klaar maak om hier aangeneem te word.
Ek pas nie by die jong klomp van Slaplaagte nie!
Ek het vis gekoop vir ons vir vanaand, - die toekoms lyk rooskleurig - jy sal die klere kan dra wat jou hart begeer, want ek wil hê dat jy aansienlik moet lyk wanneer ek koster is.
Ek is baie bly vir pa se part; maar ek wil eers vir pa wys wat pa se dogter kan doen; - ek wil my planne deursit, pa!
'n Kind doen soms dinge waarvan 'n ouer g'n notisie hoef te neem nie! Jou planne is gevaarlik, my kind!
Ek kan g'n gevaar sien nie!
Ek hoop so; maar ek sê vir jou dat die duiwel die sterkste is waar die mensdom opmekaar gepak is in die stawels huise, blok aan blok. Sê nou dat jy daar beswyk vir sy mag? Wat word van ons?
Pa is darem bang; - hoe meen pa eintlik?
Wanneer ek jou laat gaan en jy kom tot 'n val, dan is my kosterskap ook na sy maai! Hulle sal jou onder sensuur bring; - jou oom Hein het my reeds gewaarsku.
Ek sien! Pa is bang!... Omdat sy suurpruim van 'n dogter so salig op Slaplaagte sit, wil hy pa s'n ook hier hou, en pa gee in! - Syne is bang vir hom om hoë-hak skoene en sy-kouse te dra, en dis iets wat sy innerlik begeer; - omdat ek hulle lankal dra, is my oorblufte niggie afgunstig en venynig en haar bekrompe baasspeler van 'n pa vertoorn op my. Die duiwel is hier die sterkste in die ouderling se huis!
Stil Levina! Ons moet die kerk se opsieners eerbiedig....
Maar hulle moenie so nagaande wees nie en nie wil baasspeel oor 'n ander nie!
| |
| |
Ons moet maar verdra en onderworpe bly, Levina; - hou dit maar uit, my kind; - dis nie so erg as jy dit maak nie; - dis alles tot ons beswil; - ek neem g'n notisie daarvan nie!
LEVINA (vat die hekelwerk, sonder om te hekel):
Pa wil my paai, maar Pa sal notisie van my moet neem! (Ja ongeduldig die vlieë van haar gesig.) Dekselse goed! (Probeer hekel.)
Die vlieë is vandag besonder lastig.
Die goed tempteer 'n mens!
'n Mens moet maar geduldig die ongemakke van die ou wêreld dra!
Ek kan nie soos pa en ma hier op Slaplaagte geduldig bly nie!
Wanneer dit eers gereent het, sal jy weer geduldig word, my kind. Dis droogte wat jou aantas. Dis maar tydelik!
Dis die eentonigheid wat my klaar maak; ek sal hier nooit aard nie.... ek wil ook nie hier aard nie!
Ek verstaan jou nie, my kind!
Pa sal my ook nooit verstaan nie, omdat pa nie kan voel soos ek voel nie.... hierdie doellose lewe van doilies hekel,... melk gaan haal, .... pos toe stap,... wasgoed wegbring;.... hierdie aldag selfdag is my dood!
Ek verstaan jou, maar jy verheel jou dit alles.
Nee pa,... ek is hier in my eie pad... ek is in almal se pad; .... ek wil alleen vir myself sorg en nie op die nek van my ouers lê nie!
My kind, ek glo dat jou gestel uit order is.... dis die droogte. Gebruik kort-kort 'n lepel van die bitterolie, jou maag en lewer is uit order.
Bitterolie! Droogte!... Pa se onverskilligheid maak my mal! Ek sal op hierdie kale buiteveld tussen al die liewe, goeie, geduldige mense sterf!
Ek wil jou goed glo, my kind; - al die goeie en geduldige mense op ons liewe ou aarde moet sterf.
Kan pa dan nie verstaan dat ek nie soos pa hulle so ewe tevrede 'n bokvelletjie kan kernuffel nie? Moenie onverskillig word nie, pa!... Ag my liefste pa, gee my tog die kans om na Johannesburg toe te gaan. Ek gaan mos by ons eie bloedfamilie bly! Elke Sondag sal ek gereeld na die kerk gaan; - ek sal die aanneemklasse bywoon en elke maand geld vir julle opstuur.
| |
| |
Ons het nog nooit gebrek gely nie, Levina, en altoos nog goed sonder jou hulp klaar gekom.
Maar julle lewe van die goedheid en genade van oom Heina hulle. Smorens moet ek in sy kombuis staan en wag vir die daaglikse kan melk; my staan en opkrop as hy 'n kooksel groente vir my gee, en ek skaam my dood as hulle my nog ander gunsies bewys.... Pa kry mos amper alles verniet. Dis ma wat onder die bondels wasgoed gedaan raak, en ek voel dis onreg om van daardie geld vir my te vat... Ek kan vir myself sorg... ek wil vir myself sorg!
Nee, my kind, sit daardie gedagte uit jou kop uit. Ek mag jou nie oop-oë in die verderf sien stort nie...
Wat sal my verderf?... Hier!... Hier!... Alles hier sal my verderf. My eie gedagtes sal my hier in die verderf stort... Hier sal ek wegraak soos 'n pampoenrank!... En dan sal pa nog sê: my kindjie, neem 'n paar druppels van die bitterolie,... dis die klimaat wat jou aantas!
Moenie so te kere gaan nie, Levina!
Ek sal raas!... Ek sal aanhou...
LEVINA (haar moeder kom binne; Levina val haar moeder om die nek):
Ag my moeder, praat tog met pa!... Pa wil my nie verstaan nie! Pa maak my mal!... Pa moor my!...
TANT LEVINA (stoot haar suutjies opsy):
Jou vader is reg, my kind; - sy bedoelings is die beste om jou ontwil! Gaan lê 'n rukkie op jou kooi, en wanneer jy kalmer is, sal ons verder oor die saak praat.
Ek sien die hele ding nou deur en deur:... julle span saam om my hier in die ellend te stort!... Julle wil my hier vashou!... Maar ek sal wegloop;.... ek sal trap al is dit môre!... ek sal wegloop tot in die verderf!... En dis julle skuld!... Julle soek daarna!... dis julle skuld!... (Wil na buite vlug, maar loop amper teen Harry Peach vas, wat net inkom - gil - vlug haar slaapkamer binne.)
PEACH (kom dralend nader):
Verskoon my tog, vriende, dit lyk nou sleg om om te draai. Ek besoek al ons mense;... maar as ek hier ontydig gekom het, sal ek omdraai en later weerkom... Ek het hier iets wat ek julle tog moet wys.
| |
| |
2. UIT DIE DODEDANS IN DIE ABDYKERK VAN LA CHAISE-DIEU, AUVERGNE (ongeveer 1400-1410).
| |
| |
Nee vriend, kom maar binne;... Ons was maar net 'n weinig ontdaan! Levina... ek meen onse dogter... nee wat, dit sal reg kom... Sit maar... En hoe is die neef se van?
My naam is Peach, meneer Prinsloo; - ek het by die winkel gehoor dat u hier bly.
Peach nè. As jy hier gebly het sou ons jou perske verdoop... Ouvrou, kyk tog of daar 'n lafenissie in die ketel is. (T. Levina af.)
Moenie laat ek julle ‘trouble’ nie, my werk is om vir julle iets te wys, en ek wil 'n present gee wat julle vir julle lewe kan behou en julle kinders na julle. (Maak sy handsak oop en haal 'n pak portrette en vergrotings uit.) Ek sal enige portret van u Meneer Prinslo of van u vrou of van u kind of van julle almal saam, dit maak g'n saak nie, ek sal enige portret vergroot, so wesenlik, so perfek as niemand anders dit kan doen nie. En die gee ek julle dan vir 'n persent. Ek sal hom maak in kleure ook, net soos julle begeer. Kyk, dis die portret, en dis die vergroting, hier is nog baie; - ... dis die dogtertjie van die onderwyser van Bultvlei. Julle ken hom altemit... Hier is die oorlede president se vergroting.... Die kan ek julle ook persent gee as julle dit verkies... Ek het mooi skilderye ook.
Maar jy is alte goed om somar iets persent te gee...
Tog is dit so, meneer Prinslo; die vergroting is verniet, ek wil niks daarvoor hê nie. Hier is die slag van Bloedrivier; kyk hoe pragtig is die kleure; dit lyk of 'n mens die kaffers by hul nekke kan vat en hulle koppe teenmekaar kan stamp. (T. Levina kom binne met koffie.) Dankie, mevrou.
Sit maar neer, ouvrou. Ek dink dat ek hierdie een maar sal vat, meneer Peach, hy geval my goed.
Reg, meneer Prinslo; al wat ek van u wil hê is dat u die ‘frame’ en die glas by my bestel. U hoef nie alles nou te betaal nie; gee my net 'n deposit van tien sjielings...
'n Deposit van tien sjielings? Jy vra 'n deposit op 'n persent? Bêre hom, ou vrind. Ek het g'n geld vir deposits nie. Hoe gaan dit met Levina, kyk 'n bietjie, my ouvrou!
Ons moet haar stil laat staan; die kind se senewees is heeltemal uit order.
Sy maak my dom! Ek begin so stadig aan te dink dat ons haar vir 'n week by sus Annie hulle moet laat kuier.
| |
| |
Is u kind siek, meneer Prinslo? Ek kan haar invat na die dokter toe.
'n Dokter kan net so min aan Levina doen as 'n predikant aan 'n wederdoper. Sy dwing met mag en krag na Johannesburg toe om daar in 'n werk te kom.
Ek dink dat u dogter heeltemal reg is.
Ons voel so skrikkerig om haar na die vreemde plek te stuur. Die wêreld is vol verleiding.
So dink julle almal in die ‘backveld’, en dis totaal verkeerd. Die wêreld het so verander, dat julle hom nie bra verstaan nie! Wat tien jaar gelede 'n ongehoorde iets was, is nou 'n simpele saak. Dis nou die tyd dat elke mens moet agter homself kyk. Daar werk baie eerbare meisies in my besigheid.
Maar ons geaardheid en opvoeding is nie so nie.
Ek het 'n groot besigheid daar. Die meisies wat daar werk, word goed opgepas, en die werk is skoon... Ek het niks met julle sake te doen nie, maar as julle wil, sal ek vir julle dogter daar 'n plek kry. Vir 'n eerlike meisie van 'n opregte plaasboer kan ek altoos gebruik... Hier is my adres (oorhandig sy kaart). Laat haar net na my toe kom. Julle was baie vriendlik vir my; ek het 'n persent belowe, en hier is hy, meneer Prinslo (gee die ‘Slag van Bloedrivier’). Moenie so sleg van Johannesburg dink nie en ook nie van julle dogter nie. Gee haar 'n kans!... (Groet laggend - af.)
LEVINA (storm die vertrek binne):
Dankie tog, my liefste moeder! Dankie, pa! Ek het alles gehoor! Julle sal nooit berou hê nie! Die man het soos 'n besturing na ons toe gekom. Nou sal julle sien wat julle dogter werd is en wat sy kan verrig!
My kind!... Jy ken die geskiedenis van die verlore seun. Ek voel soos die vader, want ons gee jou af aan die wêreld... Bewaar die reinheid in jou hart en bid gedurig dat die Here die reinheid in jou hart bewaar.
(Gordyn.)
JOCHEM VAN BRUGGEN.
|
|