Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1933(1933)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 135] [p. 135] Die Wêreld is Ons Woning Nie. Die wêreld is ons woning nie. Dit merk ek aan die son wat wyk, en 'k merk dit aan die reier wat mistroostig na die son sit kyk op een been, in die biesievlei. En is die laaste strale weg, dan rys 'n koue op uit die vlei. 'n Koue gril deurhuiwer my; en 'k sien dit dan in alle ding wat in die skemer my omring: die wêreld is ons woning nie. Die wêreld is ons woning nie. Dit sien ek as die bloedrooi maan van agter veldstof opgegaan, nog net die kerk se dak bestryk, vanwaar 'n uil, misterie-stom, sit na die maan se skyf en kyk. En nou dit stil word op die straat, dink ek hoedat die middag laat 'n lykstoet daar het uitgekom waar nou die maan en uil ontmoet. En 'k merk dit dan aan alle ding wat in die aandstond my omring: die wêreld is ons woning nie. Die wêreld is ons woning nie. Dit voel ek as die wind ontwaak, as die eikebome knars en kraak; dit hoor ek in die fladdering van voëltjies wat hul vlerke slaan teen die verwarde boomtakke aan. En as ek nader kom, dan vind ek by die maan se wisselstraal 'n nes vol kleintjies deur die wind omlaaggeslinger, dood, verplet. Ek voel dit dan aan alle ding wat in die nagstond my omring: die wêreld is ons woning nie. TOTIUS. (Uit ‘Passieblomme’.) Vorige Volgende