[Die Nuwe Brandwag]
Die Afrikaanse Bybel.
7 September 1872 - 29 Mei 1933.
Die 27ste Augustus 1933 sal 'n gedenkwaardige dag vir ons volk wees. Dan sal ons die heuglike feit feestelik vier dat die kroon gesit is op die werk en strewe van lange jare, dat ons ons eie Bybel gekry het - 'n gebeurtenis van onskatbare betekenis vir ons geestelike en kerklike maar ook vir ons kulturele lewe. Op 7 September 1872 het Arnoldus Pannevis die eerste stem laat opgaan om 'n Afrikaanse Bybel, die 29ste Mei 1933 is die eerste besending Afrikaanse Bybels in Kaapstad in ontvangs geneem. Gedurende hierdie ruim sestig jare was die ideaal van Gods Woord in die eie taal die leidster van die Afrikaanse Beweging, wat begin met die besef aan die behoefte daaraan en afgesluit is met die verwesenliking van hierdie ideaal. Ere aan die manne van moed en volharding wat ons volk daarvoor help voorberei het. Dankbaarheid betaam ons vir en jeens die manne wat God gegee het om die grootse taak te volbring. By al die verrassende vorderinge wat die Afrikaanse saak in so'n korte tyd gemaak het, staan ons by die Afrikaanse Bybel voor 'n wonder wat ons vervul met ontsag. Maar met die verdwyning van die Statebybel, waarin al ons piëteit vir die verlede beliggaam is, deurhuiwer ook weemoed ons siel. Dié Bybel was ons rigsnoer in die verlede, dit het gedurende byna drie eeue vir ons volk meer beteken as enige ander kultuurinvloed, dit woon diep in ons volksiel en in ons taal. Met die verskyning van ons Afrikaanse Bybel word die veelbewoë tydperk van ons nasiewording afgesluit. Mag dit in ons volkslewe die plek bly behou wat die digter teken as hy sing van
die trekker met sy roer, sy os, sy wa, sy Boek.