| |
| |
| |
Oor Boeke.
Honderd jaar Hollands in Natal. Deur G.S. Nienaber. J.H. de Bussy, Pretoria. - 229 Bladsye. Prys 5/6 posvry.
Ofskoon die geskiedenis van ons taalstryd reeds sedert jare algemeen bekend is deur die verdienstelike dissertasie van prof. E.C. Pienaar, het daar in 1932 twee belangrike bundels verskyn waarin heelwat nuwe gegewens verwerk is. Ek bedoel ‘U Dienswillige Dienaar’, deur C.J. Langenhoven, en ‘My Herinnerings van ons taalstryd’, deur J.H.H. de Waal. Die vernude belangstelling in hierdie onderwerp is inderdaad verblydend, want dit is die plig van die huidige geslag om alle beskikbare gegewens oor die langdurige stryd vir die nasaat te versamel. Soos reeds dikwels betoog, was en is die taalstryd vir ons feitlik 'n lewenskwessie, en as daar besonderhede in verband daarmee verlore gaan, dan sal die toekomstige historicus ons met reg 'n ernstige verwyt kan maak.
Afgesien van die twee genoemde bundels, verskyn daar ook af en toe waardevolle herinnerings van taalstryders soos o.a. dié van Vaalswaer, wat enige jare gelede in hierdie blad (helaas onvolledig) gepubliseer is. Ek vertrou dat hierdie paar opmerkings alle persone wat nog oor gegewens of dokumente in verband met die taalstryd beskik, sal aanspoor om dit vir die nageslag op te teken of in goeie bewaring te stel. Dit is, meen ek, 'n onbetwisbare feit dat die laaste woord oor die taalstryd nog glad nie geskrywe is nie. Ons is nou taamlik goed ingelig oor die toestande in die Kaap, en, deur hierdie jongste werk, ook oor Natal, maar oor die Vrystaat en Transvaal bestaan daar seker nog waardevolle inligtings wat nooit gepubliseer is nie.
Natal is vir die grootste gros van ons volk Terra Incognita - of anders alleen vakansie-oord. Dat op hierdie gebied al 'n honderdjarige stryd gestry is deur 'n handjievol Afrikaners, sal vir die meeste lesers 'n openbaring wees. Die Natalse Afrikaner moes in die verlede maar alte dikwels 'n eensame stryd voer, want daadwerklike steun van sy landgenote anderkant die Drakensberge het meestal ontbreek. Ek vertrou dat die verdienstelike werk van Nienaber in hierdie opsig veel misverstand sal wegruim en die weg baan vir meer aktiewe belangstelling van die ander drie Provinsies in Natalse kultuursake.
Hoe noodsaaklik die verskyning van hierdie boek was, blyk al voldoende uit die feit dat professor Pienaar in sy gesaghebbende geskiedenis van die Taalbeweging presies een paragrafie wy aan die kultuuraktiviteite van die Natalse Afrikaners. In die vierde druk van sy dissertasie (1931) kan u dit vind op bladsy 133-4. En hierdie paragrafie meld feitlik net die instelling van die eerste Afrikaanse eksamens deur die Saamwerk-Unie in 1917. The rest is silence.
Na hierdie inleidende opmerkings kan ons die werk van Nienaber onder beskouing neem. Dis 'n ‘eeu van onreg’ wat hier tot in die fynste besonderhede beskrywe word. 'n Klein minderheid voer 'n wanhopige stryd teen die magtige, georganiseerde meerderheid, wat doelbewus op volkome anglisering aanstuur. Op elke gebied moet daar gesmeek en gesoebat word om selfs maar die geringste erkenning van die Afrikaner se taalregte te verkry. En as die hoogste gesag eindelik 'n klein toegewinkie maak, dan sorg on- | |
| |
simpatieke amptenare dat daar in die praktyk niks van teregkom nie.
Dikwels, egter, word die Afrikaner se taal somar botweg verbied. In 1869, b.v., gelas die Goewerneur ‘that for the future in the country districts in which there is no Dutch interpreter attached to the Magistrate the Government cannot undertake to translate letters written in the Dutch languages, and that if such letters cannot be understood, they will be returned to their writers for translation.’ Vir die Kaffers en Koelies word egter wel deeglik vertalers aangestel!
In 1908 weier die Bestuurder van die Landbank (tans 'n Natalse Parlementslid) om aanvrae vir lenings, in Hollands opgestel, te behandel.
In 1914 word 'n Afrikaanse onderwyser in die Voortrekkerstad met die vuis geslaan deur 'n kollega, omdat hy dit gewaag het om in 'n hoekie van die stafkamer Afrikaans te praat met 'n mede-Afrikaner.
In 1926 verklaar die Voorsitter van die Natal Teachers' Society, wat ook hoof is van die Pieter-Maritzburgse Kollege, dat 'n Afrikaner uit noodsaak Engels leer, maar 'n Engelsman Afrikaans uit blote hoflikheid!
Hierdie vier voorvalle (drie daarvan deur Nienaber opgeteken) sou 'n mens tot in die oneindige kan vermenigvuldig, want Nienaber het tallose staaltjies versamel. Maar dis al genoeg om aan te dui in watter atmosfeer die Natalse Afrikaner opgegroei het. Is dit nie 'n wonder dat die platgetrapte doringboompie tog elke slag weer boontoe gebeur het nie? 'n Mens sou verwag het dat met soveel stelselmatige onderdrukking daar niks moes oorgebly het van die Afrikaanse tradisie nie. Maar ook in Natal het daar leiers opgestaan wat die volkskragte tot doelmatige verset georganiseer het, en langsamerhand is die een loopgraaf na die ander ingeneem. Dit het 'n langdurige en verbitterde stryd gekos, want elke duim gronds moes verower word.
En nog daagliks word die taalstryd voortgesit.....
Die verloop van hierdie honderjarige worsteling het Nienaber vir ons met prysenswaardige noukeurigheid opgeteken. Hy is 'n nougesette navorser, wat uit alle moontlike hoekies interessante gegewens bymekaar gesnuffel het, en die hoogste lof kom hom toe vir die onvermoeide ywer wat hy aan die dag gelê het. 'n Mens kry enigsins 'n besef van die tydrowende arbeid wat die skrywer hom getroos het, as jy die lys van geraadpleegde bronne nagaan. Hier en daar kan ek my wel nie verenig met sy interpretasie van die feite nie, maar in hoofsaak is sy uiteensetting volkome korrek. In die volgende paragrawe wil ek enige opmerkings maak wat van waarde kan wees by 'n tweede druk. Ek wil egter beklemtoon dat ek daardeur geensins die waarde van Nienaber se pionierswerk wil verklein nie, want sy goed gedokumenteerde arbeid is eenvoudig onmisbaar.
Nienaber het, meen ek, in 1926 na Natal gekom as lektor aan die Universiteit. Dat hy gedurende 'n vyfjarige verblyf Natalse toestande goed deurgekyk het, blyk duidelik uit sy werk. Maar hy mis tog die diepere insig in die groei van die Afrikaanse Beweging wat 'n mens alleen kan verkry deur 'n langdurige verblyf in 'n landstreek en deur aktiewe deelname aan elke fase van die volksbeweging. Wie vanaf 1910 in Natal gewoon het, weet dat daar in die afgelope twintig jaar 'n reuseomwenteling plaasgevind het. Die Afrikaanse saak het op elke gebied langsaam maar seker gevorder, en ten spyte van lawaaierige koerantartikels het daar ook in die gesindheid van ons Engelse burgers 'n geweldige omkeer plaasgevind. Die Nataller kom selde anderkant die Drakensberge, maar sy lidmaatskap van die Unie het tog sy blik oneindig verruim en hom 'n groot gedeelte van sy ‘Home-Kompleks’ laat kwytraak. As Nienaber enigsins 'n besef gehad het van hierdie veranderde mentaliteit, sou hy nie soveel nadruk gelê het op
| |
| |
die openlike vyandigheid van die onversoenlike Boerehaters nie, en met meer waardering gerep het van wat die Natalse Afrikaners al bereik het deur samewerking met die verstandige Engelse Nataller wat die Kroonkolonie-standpunt langsamerhand ontgroei het. Daar is Afrikaanse amptenare wat in alle stilligheid en met takvolle oorleg veel meer gedoen het vir die Afrikaanse saak as party van die luidrugtige agitators op wie se uitsprake in die pers Nienaber hom so dikwels beroep.
Verder begaan Nienaber in die laaste gedeelte van sy werk die ernstige fout om byna al sy gevolgtrekkings te baseer op die toestande soos hy dit persoonlik leer ken het in die stedelike gebied. Ofskoon die meeste leiers van die Afrikaanse Beweging in Pieter-Maritzburg gewoon het, het hulle tog steeds hul sterkste ondersteuning op die platteland gevind, en veral in die twee oud-Transvaalse distrikte, Vryheid en Utrecht, waar die eentalige juk die seerste geskaaf het. Maar oor die ontwikkeling van Afrikaans-medium-skole in die Noorde sê Nienaber feitlik niks. Hy het sewe bladsye nodig om die stryd vir 'n afsonderlike Afrikaans-mediumskool te Pieter-Maritzburg te beskrywe, er die oningeligte leser sou meen dat dit die enigste inrigting in Natal is waar Afrikaans tot sy reg kom. Reeds in 1916, egter, is daar o.a. in Vryheid begin, en binne weinige jare kon 'n Afrikaanse kind moedertaalonderwys ontvang vanaf die laagste klas tot en met Matrikulasie. In 1923 het die eerste A.M.-kandidaat die Matrikulasieeksamen te Vryheid afgelê. Die besonderhede van die ontwikkeling in hierdie sentrum is te vinde in die ‘Gedenkboek van die middelbare skool’ (1927), wat Nienaber egter nie geraadpleeg het nie.
Ook het hy blykbaar geen inligting ingewin van die inspekteurs in die Noorde nie, want anders sou hy glad 'n ander kyk op ons skoolsake gehad het. Geen melding word, b.v., gemaak van die feit dat vanaf omstreeks 1923 onder die Superintendentskap van mnr. Hugh Bryan baie Afrikanerskoolhoofde aangestel is, terwyl dit in die vorige tydperk alleen by hoë uitsondering geskied het. Tans het ons vier Afrikaanse inspekteurs uit 'n totaal van agt, met 'n Afrikaanssprekende as Superintendent van Onderwys. Verder is dit al sedert jare moontlik om alle korrespondensie met die Departement van Onderwys in Afrikaans te voer. Sulke feite toon aan dat Nienaber veral in sy slothoofstuk (IV) 'n onvolledige beeld gee van ‘die toestande vandag’. Wat hy daar beweer, geld in hoofsaak alleen vir Durban en Pieter-Maritzburg, maar sekerlik nie vir die platteland nie.
By 'n tweede druk kan die skrywer ons ook gerus 'n algemene oorsig in breë trekke van die hele Afrikaanse Beweging in Natal gee. Nienaber se voorliefde vir breedvoerige dokumentasie het soms die nadeel dat die leser verward raak deur veelvuldige besonderhede.
Solank Nienaber hom besighou met feite, is sy uiteensetting en toeligting deurgaans helder en saaklik, maar sodra hy betogend optree, verdwaal hy in 'n doolhof van onverstaanbaarheid soos op bladsy 206-7:
‘Elke volk wat as 'n eenheid, soos 'n sielhebbende organisme bestaan het 'n plekkie op aarde waar hy hom bevind, en hy het die reg om in die genade vir hom tuis te voel in daardie plekkie, insover as hy bestaansvaardigheid en regverdigheid betoon teenoor ander van dieselfde lewensklas. Het hy die vermoë om in die gang van seleksie uit daardie lewenssoort vir hom te handhaaf, dan moet die voortbestaan ook hand aan hand gaan met die vereiste dat hy aan sy aard moet getrou bly, want kragtens hierdie eienskap het hy sy bestaan geregverdig.’
Gelukkig is staaltjies van hierdie soort styl egter seldsaam, en vergeleke met Nienaber se vorige werk ‘Die Afrikaanse
| |
| |
Beweging’ is 'n groot vooruitgang merkbaar.
Ek vertrou dat hierdie belangrike bydrae tot die geskiedenis van ons taalstryd 'n groot leserskring sal vind. Nienaber het 'n monument opgerig vir die onvermoeide taalstryders wat ook die Natalse Afrikaner nasiebewus gemaak het. Wie sy werk aandagtig lees, sal merk dat selfs in hierdie uithoek die stryd ter bereiking van die Afrikaanse ideale geensins hopeloos is nie. Die helder uiteensetting van die veelomvattende werksaamhede van die Saamwerk-Unie van Afrikaanse Vereniginge moet selfs die grootste twyfelaar oortuig. Voortaan sal daar geen verskoning wees vir die skromelike onkunde wat so baie skrywers oor die toestande in Natal aan die dag lê nie. Eindelik het Natal dan ook 'n beskeie, maar welverdiende plekkie verkry op die kultuurkaart van die Afrikaanse Beweging.
P.C. SCHOONEES.
| |
Alt-Heidelberg. Drama in vyf Bedrywe, deur Wilhelm Meyer-Förster. Geoutoriseerde vertaling uit die Duits deur M.R. Heyns. J.H. de Bussy, Pretoria. Posvry 3/6.
‘Ah! les premières fleurs, qu'elles sont parfumées!’
Die gang en stemming van die populêre stuk?
O, mein lieber Karl-Heintz, mach' die Augen auf! Om in die lewe te sien, in die volle lig van jeugdige romantiek en deur die skemer van betraande oë, betraan omdat daar liefde is wat gee sonder om te vra, liefde wat maar een keer gevoel word as kinderlike blydskap - spontaan, heerlik, alomvattend!
Karl-Heinrich, Prins van Sachsen-Karlsburg, het die skooleksamen afgelê en mag na die studentestad, Heidelberg. In geselskap van die goeie, menslike ou Doktor Jüttner, sy leermeester, en die ysig-kille, konvensionele kamerdienaar Lutz vertrek hy na die oord van vrolike jeug, en neem sy intrek in 'n vrolike gashuis, dawerend vrolik deur studentebesoek.
Hier maak hy kennis met lede van verskillende corps, word self lid en word dadelik ingepalm deur die pragtige kind Käthie; beliggaming van skoonheid en lewensvreugde, word sy die son in sy lewe; en deur haar en die spontaneïteit van studentevriendskap leer Karl-Heintz die lewe ken as warmste waarheid. Ook die ou siek Doktor word andermaal weer mens in diepste waaragtigheid, en word deur die fel-op-bruisende lewe meegesleep, tot plotseling die kille dood sy hand op hom lê.
Teenoor dit alles staan daar in verblufte gêne die negasie van alle lewensvreugde, die outomatiese stuk hofmeganisme, Lutz!
Karl Heintz moet helaas maar al te gou besef dat die geluk maar 'n dag duur. In skoonheidsbewing van vervlietende sonnegoud staan Karl Heintz en Käthie daar in hul eerste groot geluk van 'n nuwe dag. ‘Ons is jong, Käthie, ons het die jeug! Lank genoeg het hul my die keel toegesnoer en my alles ontneem... Lag tog, Käthie... Ons moet iets aanvang, iets wat nog nooit tevore gedoen is nie.... Laat ons twee alleen om die wêreld reis ... na Parys!’
En smagtend teen hom aan leunende murmel sy: ‘Parys!’...
Maar die tere weefsels van ons drome ... hoe snel word hul aan flarde geskeur deur die nugtere werklikheid! En voor ons weet, sit ons diep in die benouenisse van elke dag, sy sit in die gewone burgerlike bestaan of in die dodekelder van 'n hofkonvensie.
So was dit ook met Karl Heintz.
Hy moet na die siekehuis van die Regering in Karlsburg, maar sy lewensvreug bly agter in Heidelberg. En by al die howelinge-sufheid het sy siel gesmag na kinderoë diep en klaar, soos in die bonte lewenstuin, die blomme van die jaar...
Nog een maal besoek hy Heidelberg. Hy vind egter alles koud, konvensioneel - - een starre hulde aan sy hoogheid. Die
| |
| |
studentevrolikheid is dood. Maar Käthie is nog daar. Sy sal nou maar gaan trou met burgerlike fatsoen; ook hy moet in die huwelik tree met 'n adellike dame. Sy hart wil hom nog vasklamp aan die enigste liefde wat hy ooit geken het... Maar dit kan nie. Nou is dit Käthie wat om 'n glimlag van Karl Heintz smeek, hom opbeur tot aanvaarding van die lewensplig. Eers as hy haastig afskeid geneem het, sak sy hulpeloos neer, omfloers deur die eensaamheid van haar groot verdriet....
Mnr. Heyns het hierdie gees mooi bewaar in sy vertaling; ook verbind hy die stuk met sy mooiste herinneringe uit die mooiste tyd van die lewe. ‘Alt-Heidelberg’, so skryf hy in sy Voorwoord, ‘wat 'n mens bekoor deur sy ewig-jonge romantiek en warme menslikheid, sal vir my steeds die weemoedig-tere herinnering bly aan dinge wat skoonheid was, maar te vroeg verbygegaan het.... die skoonheid van vergane studenteplesier en lewensvreugde’.
En dit is hierdie sentiment wat alle geleerd-letterkundige en kritiese beskouing van die stuk as kuns uit die orde reël, en wat tewens die roem verklaar wat hierdie stuk in alle lande te beurt geval het.
Seker herinner so'n stuk aan veel liefs. Nee, ons praat hier nie van estetika nie. Maar van menslikheid. Van spontaneïteit, van jeugoorgawe. Wie alleen aan die baie bier dink wat die studente drink, of alleen die duelstrepe op hul wange raaksien, of met Lutz die vrypostigheid van 'n Frauenzimmer laak, toon alleen dat hy die ware lewensvreugde van die jeug nooit geken het nie. Vir hom is alles ‘shocking’, vir hom bestaan deug uit ‘'n pantser om zondige leên’, vir hom is die droogstoppel Lutz die enigste reddende moraal temidde van so veel ydele uitspattelikheid. Maar wie deur die kern van menslike waarde ontroer word by al die onegte van die daaglikse roetinelewe, kan altyd nog in ‘Alt-Heidelberg’ veel vreugde vind.
Ek wil nie weer in 'n vergelyking met ons eie studentelewe tree nie. Ek gee alleen nog dit: ‘Bly jonk, Karl Heintz, dis al wat ek jou toewens. Bly soos jy is, en as hulle jou anders wil maak - almal sal dit probeer - stry dan daarteen. Bly 'n mens, Karl Heintz, met jou jong hart...’
Tog verander ons almal. Almal. Behalwe die droogstoppels. Want dié is oud gebore.
Die vertaling van mnr. Heyns is uitstekend geslaag en verdien 'n groot afset. Waar die Outeur my skryf: ‘Am Abend meines Lebens schrieben Sie mir, daß mein Schauspiel, “Alt-Heidelberg”, im fernsten Süden die jungen Studenten Ihres Heimatlandes erfreut und bewegt hat... Da nun Herr Heyns mein Schauspiel in die Afrikandersprache übertragen hat, so wird es hoffentlich der Jugend Ihres Landes gut gefallen und für meine deutsche Heimat auch dort Freunde werben,’ - daar bring ons ook in hierdie blad hulde aan die sewentig-jarige wat kan terugsien op 'n genot altyd weer aan die jeug verskaf.
FRANCOIS MALHERBE.
| |
Eugene N. Marais: Gedigte. Met 'n Inleiding deur Gustav S. Preller. Tweede druk. Nasionale Pers, Bpk., Kaapstad, 1932.
Eugene N. Marais: Versamelde Gedigte. J.L. van Schaik, Bpk., Pretoria, 1933.
Dat 'n herdruk van Marais se eers in 1925 gebundelde gedigte nodig was, is 'n heuglike teken. Hierdie beskeie bundeltjie bevat gedigte wat behoort tot die suiwerste en beste wat ons jong liriek besit. As ooit 'n kunstenaar volksdigter was, verlossende uiting gegee het aan die diepste smart van die volksiel, dan is dit Marais met sy ‘Winternag’, reeds in 1904 gedig en een van die skoonste kunswerke wat ons besit. Subtieler natuurskildering as vertolking van eie stemming is daar nie weer in ons taal gedig nie. Troosteloos is die stem- | |
| |
ming van hierdie gedig waardeur die skraal winterswindjie van die Hoëveld kla. Tog moet so'n uiting 'n reinigende, verligtende uitwerking gehad het, soos Preller tereg opmerk in sy mooi inleiding. Dat juis Preller 'n voorrede geskryf het, maak dat die bundeltjie nog meer tot ons spreek. Naas die droewig klaende digter, wat die dowwe smart van sy volk vertolk - so spontaan die tolk daarvan, dat ons so'n gedig soos ‘Winternag’ amper aanvoel as die werk van 'n anonymus - die strydbare prosaïs, die stukrag in die Noorde van die Tweede Beweging.
Marais is 'n pessimis. Dit blyk ook uit ‘L'Envoi’ van sy gedig ‘Skoppensboer’:
Gewis is alles net 'n grap?
Ons speel in die komedie mee
geblinddoek met 'n lanfer-lap
wat selfs die son 'n skadu gee.
En sy troos is slegs 'n geforseerde aansporing tot sinnelike lewensgenieting:
Wat treur ons tog?
Viool en fluit maak nog geluid;
en lank die nag wat voorlê nog.
Al kan ons nooit volmaaktheid raak,
nog blink die oog en gloei die huid
wat heel die winter blomtyd maak.
Want:
Maar naas hierdie somber toon hoor ons ook 'n blyere klank. Ek dink veral aan ‘Die Smid’ met sy hoë idealisme, sy manlike aansporing. Besielend klink dit telkens: ‘Blaas hoog die vlam!’ En nes die smid se vuur brand ook die verse hier met 'n suiwer wit vlam:
wees beeld van ons gemoed die stroom
wat oprys oor die muur. -
Dis die manlike optimisme wat later weer sal opklink in Leipoldt se ‘Klim op, klim op met die slingerpad!’
Hierdie gedigte is algemeen bekend en het 'n groot rol gespeel in ons nasionale bewuswording. Net so bekend is die geestige ‘Klaas Vakie’, waarin pragtig weergegee word die siening van die dommelende kind wat in 'n half-droom verkeer, waardeur Tant Sannie se stem snerp en ‘haar naald blink nes 'n weerligstraal’. Mooi is ook die Bosman- en Kafferliedjies met hulle vrye, eentonige sang. Pragtig word b.v. in ‘Die Towenares’ die eensaamheid van die verbanne jong meid uitgebeeld in die trage ritme van die slotverse:
Sy hoor net die stem van die wind alleen,
Pragtig van beelding is die verhaal van Mabalel en ‘Die Dans van die Reën’. Is die volgende nie 'n fyn skilderytjie nie, so teer en grasieus van lyn as ons skilders nog nie bereik het nie:
Die grootwild jaag uit op die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle buk, om haar fyn spore op die
Inderdaad hierdie bundeltjie is een van die kleinodieë van ons letterkunde, en die feit dat dit gewaardeer word, stem tot dankbaarheid en stem hoopvol.
Of die feit dat hierdie gedigte byna gelyktydig by twee verskillende uitgewers opnuut verskyn, ook so'n verblydende teken is, betwyfel ek. Ek wil hier nie ingaan op die motiewe wat hier agter skuil en wat deels deurstraal in die voorwoord tot Van Schaik se uitgawe nie. Maar 'n ekonomiese aanwending van kragte lyk dit my nie waar die uitgee van poësie in ons land finansieel tog al so'n moeilike onder- | |
| |
neming is. Die lesers is hier voor 'n moeilike keuse geplaas. Die herdruk van die Nasionale Pers is, wat die uiterlik betref, veel smaakvoller - en by die genieting van poësie is dit 'n faktor van betekenis. Bowendien bevat dit die mooi inleiding van Preller wat ook literêr-historiese waarde besit. Daarteenoor bevat die ‘Versamelde’ gedigte by Van Schaik uitgegee 'n vyftiental gedigte wat in die ander uitgawe nie voorkom nie. Wel betwyfel ek of daar baie lesers is wat met die digter enkele van hierdie nuwe gedigte ‘as sy beste werk (sal) beskou’, maar, naas gediggies wat eintlik in 'n bundel kinderversies tuishoort, en naas vertaaloefeninge, bevat dit gedigte wat ons nie graag sou mis nie: ek dink hier veral aan die diep ontroerde ‘Die Plaasvervanger’ en aan die wondermooie ‘Lelasini’. Verder is dit die enigste uitgawe wat onder die persoonlike toesig van die digter gestaan het en het die digter veranderinge aangebring - afgaande op 'n noukeurige vergelyking van die twee redaksies van ‘Mabalel’ moet ek egter betwyfel of die veranderinge altyd as verbeteringe kan beskou word.
Wie al Marais se gedigte wil lees en ook Preller se inleiding, is wel genoodsaak om altwee uitgawes aan te skaf.
G. Dekker.
| |
Die holistiese dinamisme van die Witwatersrandse Universiteit. Our Changing World-View, Ten Lectures on recent movements of thought in Science, Economics, Education, Literature and Philosophy. Johannesburg, University of the Witwatersrand Press, 1932. Pp. 172, groot octavo-formaat, stywe linneband; prys onbekend, maar die afsonderlike lesinge is verkrybaar teen 1/6 per stuk, van die Universiteitsbibliotekaris; en 'n beperkte aantal van die hele bundel onderteken deur die referente, teen 21/- per eksemplaar.
Hierdie lesinge wat georganiseer was deur prof. R.F.A. Hoernlé, is bedoel eensdeels om fondse te verskaf vir die nuwe Universiteitsbiblioteek, anderdeels om as kultuurfaktor te dien, ter bevordering van kultuur in die beperkte Engelse sin van ‘Culture’; in die woorde van die ‘Preface’ deur die Rektor, beoog die bundel soos die Universiteit self: ‘The spread of culture among the people’, ‘the development of a wider culture in South Africa’, ‘of a true South African culture’, ‘of a real culture for South Africa’. Die dryfkrag van hierdie ‘culture’ word blykens dieselfde voorwoord gevind in ‘the overpowering belief in the dynamic character of the universe’.
Nou het die inhoud van die lesinge self geen direkte belang vir ‘Die Nuwe Brandwag’ nie, soos duidelik kan blyk uit die volgende inhoudsopgawe:
Genl. J.C. Smuts: Some recent scientific advances in their bearing on philosophy. |
Prof. J.P. Dalton: The Material World - Yesterday and Today. |
Dr. R. Broom: Evolution - Design or Accident? |
Prof. J.F.V. Phillips: Man at the Crossroads. |
Mnr. I.D. MacCrone: Psychology in Perspective. |
Prof. J.Y.T. Greig: Literature in the Machine Age. |
Prof. T.J. Haarhoff: The Holistic Attitude in Education. |
Prof. C.S. Richards: Our Changing Economic World. |
Prof. S.H. Frankel: Africa in the Remaking. |
Prof. R.F.A. Hoernlé: Old Truths and New Discoveries. |
Maar die dinamistiese tendens van die gemeenskaplike grondgedagte is sekerlik 'n faktor van betekenis in ons Afrikaanse kultuur-ontwikkeling hede en toekoms en verdien wel die aandag van ‘Die Nuwe Brandwag’ se lesers. Veral verkry hierdie oorweging gewig, as daarop gelet word
| |
| |
dat die gepropageerde holistiese dinamisme nie alleen gehuldig word (met indiwiduele skakeringe) deur al die bogenoemde eminente referente nie, maar ook openlik gepatroniseer is deur manne soos mnr. H.J. Hofmeyr, dr. P.J. du Toit, dr. H.J. v.d. Byl, dr. Pole-Evans, prof. J.T. Dunstan, dr. L. van Schalkwyk, dr. S.F.N. Gie, prof. E.H. Brookes, dr. D.F. Malan, e.a., almal leidende figure in ons openbare lewe. Met enige reg kan ons selfs aanneem dat die Witwatersrandse bewegingsfilosofie maar net die hoogtepunt is van een van die hoofkragte wat ons volkslewe in sy ontwikkeling beheers, naamlik die krag wat vanuit die Angel-Saksiese en orige Europese kultuur ons volk wil assimileer deur die kanaal van ons universiteitslewe en lektuur, ons politiek en handel, ons amusemente, sport en mode.
Dit lê nie hier op ons weg om hierdie dinamistiese filosofie te toets en te waardeer nie: laat dit genoeg wees in hierdie verband om daarop te wys dat die teenoorgestelde kultuurkrag waarmee dit om die voorrang worstel, nie is, soos graag voorgegee word, die krag van traagheid of konservatisme nie, maar wel die strewe na kulturele selfverwesenliking. Om die Witwatersrandse dinamisme reg te waardeer, sou ons dit moet vergelyk, nie met konservatisme nie, maar sou dit as 'n tendens tot selfoplossing gestel moet word teenoor die drang na selfhandhawing, of nog meer ingrypend, as 'n vorm van humanistiese relativisme teenoor die Christelike theonomie.
Maar in hierdie blad is sulke waarderinge en vergelykinge waarskynlik misplaas. Al wat hier verwag kan word, is 'n beknopte weergawe van die kulturele betekenis van die behandelde beskouingswyse en 'n aanduiding omtrent die wyse waarop dit voorgedra is.
Wat die laaste betref, die uitwendige versorging is uitstekend, drukfoute byna geheel afwesig, die taal natuurlik Engels, die metode en styl oor die geheel briljant, die algemene voorstellingswyse interessant en selfs boeiend.
Wat die eerste betref, dit kan bes weergegee word, deur vooraf kortliks die hoofgedagte van elke spreker te formuleer:
Gnl. Smuts: - die werklikheid is in sy indiwidue holisties, spiritueel en vry; alleen in sy aggregate gebonde en onvry. |
|
Prof. Hoernlé: - hierdie vryheid is egter wetmatig, gekondisioneer deur 'n holistiese oorsaak, wat die ewolusie lei tot vryheid en vrye tyd vir die mens, waarin die menslike siel self die objek van godsdienstige verering is. |
|
Dr. Dalton: - die stoflike wêreld is oneindig meer kompleks as voorheen ooit geglo is en van sy eigelike samestelling weet ons nog absoluut niks nie. |
|
Dr. Broom: - Ewolusie is beheers deur 'n plan en is op fisiese en fisiologiese gebied feitlik voltooi; die toekomsontwikkeling is die geestelik-sosiale ontwikkeling van die mens. |
|
Dr. Phillips: - Die toekomstige ontwikkeling van die menslike samelewing hang af van die heerskappy van 'n holistiese wetenskap, d.w.s. 'n wetenskap wat die mens sien in sy verband met die heelal en die lewe as 'n koöperatiewe geestelike geheel. |
|
Mnr. MacCrone: - Die taak van die toekomstige psigologie, veral ook as sosiale psigologie, is die ondersoek van die menslike persoonlikheid as 'n geïntegreerde geheel. |
|
Dr. Greig: - Ons meganiese beskawing van die verlede is antipatiek teenoor die letterkundige kuns en is verderflik vir die eg menslike lewenswaardes. |
| |
| |
Prof. Haarhoff: - Ons opvoeding moet meer humanisties word, d.w.s. dit moet die mensheid as 'n geheel sien en in die jeug van die mensheid daardie geheelheidsinsig voed. |
|
Prof. Richards: - Die ekonomiese toekoms wys in die rigting van groter internasionalisme, solidarisme en stabilisasie of planmatigheid. |
|
Prof. Frankel: - In Suid-Afrika soos in die hele Afrika moet die pad vrygemaak word onder blanke leiding vir die ontwikkeling van die naturel ook op ekonomiese gebied. |
Kort saamgevat kom die boodskap van hierdie lesinge neer op die volgende:
Die werklikheid en die waarheid verander steeds, en nou veral; die stukrag en die einddoel van dié verandering is 'n spirituele geheelheid na die trant van die menslike persoonlikheid, waarvoor ons oë nou eers behoorlik oopgaan; en die praktiese konsekwensie behoort te wees 'n redelike integrasie van die menslike lewe in vrye geestelikheid, waarin elke lid sal tel volgens die mate van sy redelikheid of geestelikheid alleen. Hierdie integrasie sal gelei word deur die goddelike ideaal van die mensheid as 'n universele persoonlikheidsgeheel.
Die strekking van hierdie boodskap vir ons kultuur is die vervanging van die norme van die 19e-eeuse meganiese naturalisme en indiwidualistiese liberalisme maar ook van ons tradisionele Christendom en nasionalisme deur 'n spiritualistiese dinamisme en 'n holistiese humanisme.
Wat ons ook mag dink van die uitdaging in hierdie boodskap vervat - en daaroor kan hier nie gehandel word nie - in elk geval stel dit ons vierkantig voor die nuwe situasie in ons kultuurontwikkeling waarin kerkisme sowel as materialisme en party-politiek saam met ekonomiese indiwidualisme hul algenoegsaamheid as organisasie-faktore ingeboet het.
L.J. DU PLESSIS.
| |
Het beste uit de gedichten van Rene de Clercq. - Uitgevery ‘De Torentrans N.V.’, Zeist, 1930.
Voor in hierdie lywige, netjies besorgde bloemlesing staan die portret van die gemoedelike, mensliewende Vlaming: die oë sterk en helder, die lang wit baard soos dié van waardige ooms wat ons op elke Afrikaanse dorpie aantref. Verlede jaar is René de Clercq oorlede, en in Holland en Vlaandere is hy nie alleen met liefde geëer en herdink om sy propagandawerk in belang van die Vlaamse volk se vrywording nie, maar ook as digter van die lewensvreugde, genieter van die oorskuimende volheid daarvan.
De Clercq is gebore in Deerlijk (Wes-Vlaandere) op 14 November 1877. In 1902 het hy in Gent gepromoveer op 'n proefskrif oor Gezelle. Hy was aan verskillende skole as leraar werksaam. Van 1914-1915, toe hy uit België die wyk geneem het, was hy werksaam aan die Belgiese skool in Amsterdam. In Oktober is hy, saam met dr. Ant. Jacob, om sy propagandawerk in belang van die Vlaamse saak, uit die Belgiese diens ontslaan. Tot in Julie 1917 het hy in Bussum, Holland, gebly, en toe is hy, na Duitsland se besetting van Vlaandere, na Brussel as konservator van die Wiertmuseum. Hy was tegelyk een van die leiers van die Aktiviste en onder-voorsitter van die Raad van Vlaandere. Maar toe die Belgiese Regering in 1918 teruggekeer het, moes hy weer die wyk neem na Noord-Nederland. In 1919 is hy deur die Belgiese Regbank tot die dood veroordeel. Hy het sedert die tyd in Holland bly woon, en eers sedert 1929 kon hy weer vry na Vlaandere terugkeer.
| |
| |
Ons noem hierdie feite uit die lewe van hierdie strydende digter, want dit gee ons 'n baie beter kyk op sy gedigte. Die meeste van hulle is geleentheidsgedigte en het betrekking op Vlaandere se worstelstryd teen die Wale. In een van sy gedigte praat hy met afsku van die ‘Waalsche wijf’, wat vir 'n honderd jaar al om die nek van Vlaandere hang. Veral in sy pragtige strydbundel ‘De Noodhoorn’ het ons kragtige gedigte, vol verontwaardiging oor Vlaandere se vernedering. Soos 'n basuingeskal klink die oproep tot die stryd:
Niet om den zwier van 'n vrij gebaar;
Niet om de vreugd van een schoon gevaar;
Noch uit zucht dat ik roem verkrege;
Niet om mijn forschen Leeuwenhaat;
Niet uit wrok, om eeuwen smaad;
Niet om den jubelzang der zege;
Uit liefde, uit liefde alleen,
Vlaanderen, heb ik uw strijd gestreên!
Sy hart bloei as hy die lyding van sy volk sien. ‘Wij zijn Germanen, geen Latijnen,’ sê hy trots, en daarom is die Waal en die verfranste Vlaming sy vyand. Hy droom van Groot-Nederland: ons is deur broederskap tot 'n eenheid gehewe, bokant grense en tyd:
Hollandsch, Vlaamsch, Zuid-Afrikaansch,
slechts de naam is anders.
Boven 't vlak des oceaans,
boven ruimte, boven tijd,
staan wij in der geesten strijd,
Ja, hy sien die Vlaming as 'n kragtige smid wat slaan dat 'n vonkereën om hom bewe:
Zwarte reus met uw schort van leder,
de oude banden liggen te vuur.
Hameren, hameren, Vlaamsche smeder,
deugdelike vormen, werk van duur.
Daar gaan 'n kragtige, weldadige vaart deur hierdie verse van De Clercq. Hulle is nasionale gedigte van die suiwerste soort: die manlike ritme, die kragwoord, die emosionele geweld. 'n Digter soos Jan Celliers, wat die Afrikaanse volk so wakker opgeroep het tot die stryd, het ongetwyfeld baie invloed van De Clercq ondergaan, en 'n vergelyking tussen hul werke sou baie leersaam wees! Ook ander Afrikaanse digters, wat hulle aangetrokke gevoel het tot die vaderlandse lied, soos b.v. Keet, het seker ook onder die bekoring gekom van De Clercq se marsmusiek.
Maar De Clercq is nie alleen die oproeper, aanvuurder tot die stryd nie. Hy is ook die gemoedelike, hartlike Vlaming, wat sy Vlaamse natuur: die pragtige groen weides, die glinsterende Skelde, die eeueoue Gent, uit sy hart lief het. Hy hou, net soos Timmermans, van die vrolike, uitbundige volksfeeste, waar mense is met 'n ope hart, met 'n drang in hulle om die lewe soos 'n glas skuimende bier uit te drink. Hy is lief vir die ‘land’, die boer, die bloue vertes, en elke ding, wat vol frisse lewenskrag is, trek sy aandag. Sy hart is vol geluk as hy teen sononder die waggelende eende sien aanstap:
Geen happen nu, geen wroeten,
Geen kwakend hennengroeten;
maar kop heel hoog, en kuit heel laag,
met vaste val van roode voeten,
en spannend vlies van teen tot teen,
draai-waggelen ze achtereen.
Wie na die oorverfyning van die moderne liriek soek, sal by De Clercq nie die fyngesponne droom en suiwer taal- en beeldvorming vind nie. Nee, hy is soos die kragtige boer wat oor die fris-geurende omgeploegde aarde die goue koring uitstrooi en in sy siel geniet van die dinge wat sy sinne voed. Hy vra nie na die geheim van lewe en lot nie, hy is soos 'n
| |
| |
ander Pallieter wat die bome sy broers noem. Hy verstaan hul taal:
Hoort gij den eik, o bloode boomen?
hij ruischt daar, zwaar en zwart!
Hij droomt zijn donkere droomen,
Maar ook die digter wat graag wil omring wees van die goue vreugde van eie huislike kring. Hoor hoe opgewek-bly hy sy dogtertjie aanspreek:
Gelijk een daske zijt gij dik,
gelijk en kwartelke van kwik,
gelijk een moorke soms zoo zwart,
mijn kleen, kleen dochterke, mijn hart!
So wou hierdie digter, met sy kinderlike hart, graag staan in die midde van die bonte, wemelende lewe. Geen bedagte, serebrale kuns by hom nie. Dit borrel op uit die hart soos 'n springende fontein, en die strale van die skeppende son tower hul tintende spel daarin. By hom nie die besonke liriek wat in versuiwerde gestalte opstaan in die klare dieptes van die herinnering nie, maar die gloedvolle, van lewe gelaaide gedig wat ontstaan uit die onmiddellike aandoening, uit die visie van die oomblik. In die ritme van die gedig moet die lewe van die onmiddellikheid klop. Geen besinnende digter nie, maar 'n Pallieter, wat weliswaar baie gely het, maar vir wie die lewensliefde, die hartstog vir die geursware aarde tog tot die laaste bygebly het as die rykste wat 'n arme mens in sy nood kan hê.
En daarom is hy vir Vlaandere - ‘Daar is maar één land, dat mijn land kan zijn’ - so'n verteenwoordigende digter!
C.M. VAN DEN HEEVER.
| |
Nieuwe geluiden, met een inleiding door Dirk Coster. Vierde, herziene en bijgewerkte druk. - Van Loghum Slaterus' Uitgeversmaatschappij, Arnhem. (Ingenaaid f.2.95; ingebind f.3.95.
Hierdie meesterlike bloemlesing en inleiding van Dirk Coster is ongelukkig in ons land nog nie bekend genoeg nie. Die meeste van ons wat belangstel in die jongste Afrikaanse digkuns, het al so stadigaan begin ongeduldig word omdat tekens van 'n nuwe, frisse geestesopenbaring uitbly. En ons het al soveel gepleit vir verfyning en innerlike verdieping, dat mens naderhand noodwendig verval in niksseggende gemeenplase. By die deurblaai van hierdie vierde druk van Dirk Coster se bloemlesing, by die lees van 'n treffende gedig hier, van 'n verrassende beeld en uitdrukkingswyse daar, het by my weer opnuut die gevoel opgekom dat ons jonger Afrikaanse digters beslis moet kennismaak met die moderne Nederlandse liriek. As hulle hul deeglik ingewerk het in die Nederlandse taalvorme, sal hulle besef hoe belangrik dit is vir hul hele ekspressiekrag, hoe dié onbewus sal win aan draagwydte en gekonsentreerde krag.
Dirk Coster het hierdie bloemlesing saamgestel op die voorbeeld van die Duitse bundel ‘Menschheitsdämmerung’, waarin die nuwe Duitse liriek verteenwoordig is. Hy het begin by 1910.
Die Tagtigers het die groot vernuwing op die gebied van die liriek gebring, maar by hulle was die ‘ek’ op die voorgrond, die individualistiese aanbidding van die Skoonheid, wat tenslotte maar net hulle eie, verheerlikte innerlike was. Na hulle (al bly hulle nog gedigte skrywe) kom 'n nuwe geslag, wat intens voordeel getrek het uit die Tagtigers se hiperverfynde waardering van die woord se draagkrag, maar hulle is min of meer verlos van die selfverheerliking; die sonnet, wat tog by uitstek dié kunsvorm is vir die verwoording van die persoonlike emosie, verdwyn gedeeltelik, en 'n wyer ritmiese ontplooiing volg, 'n verhoogde waardering vir die volsin. Ons kry 'n definitiewe hoogtepunt in die figure P.C. Boutens, Henr. Roland Holst, Karel van de
| |
| |
Woestyne, J.H. Leopold (wat taamlik laat bekend word).
Omstreeks 1910 het hierdie meesters reeds die rypste van hulle wese in hul poësie uitgedruk, en by die nuwe geslag wat nou opkom, begin Coster se bloemlesing. Van dié digters wat hy as mees verteenwoordigend beskou, word 'n aantal gedigte opgeneem, en in sy inleiding kry ons 'n indringende, merkwaardig fyne en juiste karakterisering van die digterskap van daardie digters, en tegelyk lig deur die karakteristiek ook die besonder tydsfeer, waaraan geen digter heeltemal ontsnap nie. Deur die digtergeslagte so te volg, kry ons 'n organiese beeld van die ontwikkeling van die Nederlandse liriek sedert 1910, en leer ons, soos nêrens anders nie, die mentaliteit van die mens van voor en na die wêreldoorlog ken.
Elke nuwe druk bring dan nuwe figure met 'n uiteensetting van dié se betekenis vir die liriek.
Die groep digters wat 'n bloei besorg aan die Nederlandse letterkunde in die tydvak 1910-1918, is seker ook van die belangrikste in die hele Nederlandse liriek. Coster het hom hier bepaal by die volgende: Van Eyck, Geerten Gossaert, J.C. Bloem, H. Roland Holst, H. van der Leeuw en die minder belangrike figure Jacob Israël de Haan (wat in Jerusalem vermoor is) en Francois Pauwels. Dan kry ons tussen 1918 en 1925 'n groep digters met 'n na-die-oorlogse kyk op die lewe, ons kry 'n ontbinding van die metriese vorm, die sogenaamde ‘vrye vers’, waarin die lewe so skerp en hewig as moontlik moet na-tril. Daar is die oorgangsfigure soos M. Nyhoff, De Mérode, Werumeus Buning ens. by wie die liefde vir die suiwer vorm nog oorheersend is. Maar dan kom die ‘modernes’ - te veel om te noem - en hulle soek in hul ‘vrye vers’ na 'n bevryding van die tradisie. Hier was die Vlaming Paul van Ostayen 'n voorloper. In Noord-Nederland word die groep ‘modernes’ verteenwoordig deur digters soos Herman van den Bergh, Hendrik de Vries, J. Slauerhoff, H. Marsman, A. den Doolaard. 'n Nuwe Katolieke digkuns bloei ook op (Albert Kuyle, Jan Engelman, Henri Bruning, Antoon van Duinkerken, ens.). Na 1926 ongeveer kom 'n terugkeer na die tradisie met digters soos Anthonie Donker, H. van Elro, Theun de Vries, ens. Die edel geboetseerde vorm word weer bewonder.
Die leser moet die gedigte van die verskillende digters lees om Dirk Coster se weergalose vermoë om te karakteriseer, te kan waardeer. Ons kan die inleiding oral opslaan en ons vind deurdringende kritiese prosa soos die volgende: ‘Hy (n.l. Roland Holst) is die gebannene van een jeugdherinnering gebleven. Eenmaal in zijn jeugd, of in de eerste jongelingsjaren langzaam thuiskerend van een bad, of wakkerliggend in zijn bed, heeft hij de fluistering van zulk een zaligheid in zich vernomen, hij heeft de gewone dingen zulk een oneindige schoonheid en verzieldheid aan zien nemen, dat een digterleven hem niet te lang scheen om ervan te zingen en te droomen. Dus werd zijn kunst een zingend en zoekend terugverlangen naar het paradijs waaruit zijn ziel gekomen scheen, en een uitputtend en bedwelmend zoeken naar de enkele geheime teekenen in dit leven die nog een vage flonkering van dit paradys aan zich droegen, en soms ook een machteloos pogen, zich met een sprong van al zijn energieën buiten deze werkelijkheid te storten, den tijd te breken, en in een tijdeloos geluk terug te keren.’ (bls. XIJ).
Die beswaar wat al teen Dirk Coster as kritikus ingebring is, is dat hy soms meer in 'n gedig lees as wat daar werklik is. Die gedig is vir hom soms feitlik net 'n aanknopingspunt vanwaar hy dan himnies voortgaan met sy statige, sonore volsinne. Hier en daar is dit seker waar, maar dit is meer uitsondering as reël. Hy bepaal hom meestal by die kern. Coster is nie altyd ewe ‘esteties’ in sy oordeel nie,
| |
| |
en hy het digters in hierdie bloemlesing opgeneem wat wel miskien, vanuit 'n menskundige oogpunt gesien, enigsins belangrik is, maar wie se gedigte benede die middelmatige bly hang.
Nog 'n fout in Coster se kritieke is 'n stelligheid van uitspraak soms wat as oordrewe aandoen, b.v. na aanleiding van die hoogtepunt wat na die Tagtigers in die liriek bereik is, sê hy: ‘Het was dus te verwachten, dat de vorm, die als 't ware een oogenblik te voren tot een zoo klassieke volmaking was gekomen, als sinds 200 jaar in ons poëzie niet was bereikt’ (bls. VII). Verder weer: ‘... dat men niet behoeft te aarzelen, dit beeld te zien als één der stralende toppunten van ons Europeesche geestesleven, een der hoogste stijgingen waartoe de Europeesche poëzie, na Shelley en Keats, na Baudelaire en De Vigny, instaat geweest is om te stijgen (bls. X). Of oor 'n gedig van P.N. van Eyck: ‘Men behoeft niet te aarzelen, dit de grootste stoïsche levensbelijdenis te noemen die onze litteratuur bezit, en slechts vergelijkbaar bij enkele gelijksoortige uitingen buiten onze grenzen’ (bls. XII). Maar as iemand met so'n hartstogtelike liefde kan skrywe oor die digters wat hy behandel, as hy so fyn die tydstrominge kan aanvoel, dan vergewe ons hom as die toppe van sy ekstase soms te hoog is, en ons word meegeneem deur sy aanbidding vir al wat waarlik skoon en menslik diepsinnig en waar is. Om die grootse te bereik, moet mens soms mateloos wees.
‘Nieuwe Geluiden’ behoort op elke Afrikaanse onderwyser se rak te staan!
C.M. VAN DEN HEEVER.
|
|