Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1933
(1933)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 100]
| |
Leipoldt as Digter.III.DIE verskyning van ‘Oom Gert Vertel’ was 'n gebeurtenis in die letterkundige lewe, die ‘ontdekking’ van hierdie verse was 'n gebeurtenis in ons sielelewe. Hoe het ons uitgesien na die tweede bundel! Dat die felle brand van die eerste verse nie kon voortduur nie, het ons wel vaag besef. Maar watter ontgogeling het Dingaansdag (1919) ons gebring. Die suiwer literêre waarde van hierdie bundel is gering. Tog sal ons 'n óomblik daarby stil moet staanGa naar voetnoot1), omdat dit van belang is in die digter se ontwikkelingsgang - sekere trekke van sy kunstenaarspersoonlikheid tree hier sterker na vore. In sy ‘Voorwoord’ sê die digter: ‘Die bundeltjie maak geen aanspraak op geskiedkundige opregtheid (sic!) nie en net so min op dramatiese samehang. Dit is 'n aaneenskakeling van los gedagtes wat in die oorpeinsing van ons volkstoestande by my ingang gevind het, en as sulks bied ek dit die leser aan.’...... Hiermee het Leipoldt hierdie bundel gekarakteriseer, wat gebrek sowel aan samehang as aan besieling betref. Na ‘Die Aanroeping’, wat arm is aan ontroering, volg 'n reeks gedigte in bonte mengeling: 'n beskrywing van die Trekker se vendusie, 'n Trekkerslied, 'n verhaal van die ou volk se gehegtheid en trou, 'n afskeidslied, 'n sangerige, Oosters-eentonige lied van Mali, stories by die kampvuur, liedere van Dingaan.... Die digter is natuurlik soewerein in die keuse van sy stof, omdat dit nie hy is wat die stof aangryp nie, maar die stof wat hom aangryp, maar ons verwag tog 'n innerlike noodwendigheid in die konsepsie daarvan. Hierdie innerlike noodwendigheid ontbreek hier. Om 'n bundel ‘Dingaansdag’ te noem en daar 'n dun epiese draadjie deur te vleg, maar dan metafisiese mymeringe oor die dood te gee wat heeltemal buite die gees van die voortrekkers lê (X), om die voortrekker sy storie van Koenraad Fiet te laat begin met 'n lang natuurbeskrywing à la Leipoldt, om na die moord op Piet Retief ‘Dodeland se Koningin, Peresfone’ aan te roep, is dinge wat ons nie verwag van 'n digter van die dramatiese talent van ‘Oom Gert Vertel’, ‘Vredeaand’ en ‘Van Noot se Laaste Aaand’ nie. Natuurlik lê hierin nie die oorsaak van hierdie bundel se swakheid nie. Die besielde digter versmelt elemente wat nog meer heterogeen | |
[pagina 101]
| |
lyk as die onsamenhangende ‘los gedagtes’ wat ‘aaneengeskakel’ is in hierdie werk. Wat in ‘Dingaansdag’ ontbreek, is die sterk ontroering waardeur die afsonderlike gedigte tog 'n skone geheel sou geword het waaragter 'n grootse konsepsie opdoem. Hierdie gebrek aan besieling is ook oorsaak van die swak, ritmelose verse, van verbluffende staaltjies retoriek soos van die son wat met spinnerakke vry en van eerste sonstrale wat hul barensnood verwag. Wat moet ons verstaan uit die volgende strofe op die lyk van 'n vermoorde kind? O slanke wese, rein as reën,
Wat van die winter-wolke stort,
Onskuldig voor die wêreld word
Jou bank waarvan jy skuld kan leen!
Die vinkekoor fluister: Dat daar 'n huisplek was en plaas
Nog half gehul in newelwaas
En nog nie van sy troon ontset.
Ons hoor van ‘broederlik gesamelde nasievlyt’, dat ‘verder peil vir ons onreikbaar is’, van iemand wat is ‘ontset van hulp, deur hoop bevloek’. Ons kry serebrale beelde soos: ‘die veld vervel’ en ‘die swart vernis van blare nuut geboen’ - hierdie laaste anglisisme en nogal visielose beeld het groot navolging gevind by ons jonger digters (maar veral by Leipoldt self!), nes die soene wat Leipoldt die diverse hemelliggame en die elemente laat uitdeel, en die vryerytjies waarin hy die son sig laat verlustig. Tussen al die onbesielde verse en gedigte, tussen al die storende van gebrekkige taal en vers (dis ongelooflik dat 'n digter sulke taal en sulke verse kán skrywe), word ons 'n enkele keer ontroer deur 'n gedig soos ‘Teen die blou van die jakarandas’, 'n sober-gevoelige liedjie soos ‘Nee huil maar’, die mooie ‘O aandblom’ en die bekende ‘Die koperkapel kom uit sy gat’. Naas die leë woordevloed van ‘Die See!’ tref ons die mooi beeld van die siel: Is gans my siel van lig en lewe sat,
En smagtend na sy rus
Wat droomloos, ongestoord, my siel sal kus,
Soos 'n groot stil swart seekoeigat wat sag
Die droë dooie blare van die boom,
Wat oor die water droom,
Op sy deur wind gerimpelde vlakte sus,
Oneindig op en neer,
| |
[pagina 102]
| |
Oneindig heen en weer,
Totdat die droë, dooie blare sink,
Verrot, vergaan, vermink,
Weg in die water wat hul krag sal los,
Om krag opnuut te leen aan struik en bos
Wat deur die water nuwe lewe kry?
Mooi is ook die plastiese uitbeelding van die weerligstraal (XL). ‘Dingaansdag’ is vir ons van belang omdat dit 'n oorgangstadium in Leipoldt se ontwikkelingsgang verteenwoordig. Waar geen sterk ontroering die kragte van die siel versmelt tot een gloed nie, tree een trek nou sterk op die voorgrond: sy individualisme. In ‘Oom Gert Vertel e.a. Gedigte’ groei die besef van eie individualiteit hier en daar al uit tot individualisme. Dink slegs aan ‘Op my ou Karoo’ en aan die Slampamperliedjie: 'n Mens moet huil of lag, moet loop of stil sit,
En ek moet versies maak, of praat met - wie?
In ‘Dingaansdag’ is die eerste hewige smart verby - en met hierdie diepe ontroering het ook die selfbeheersing verdwyn, en die gevolg is anargie, swak verse waarin die sterk individualistiese mymeraar maar al te dikwels die digter verdring. Daardeur is hierdie poësie meer interessant vir wie Leipoldt se ontwikkelingsgang nagaan as ontroerend deur skoonheid. Die diepere sielehuiwering van die volgende verse oor die dood is seldsaam - en dan nog: hoe worstel die ontroering om deur te breek deur die stugge vorm, waarin dit amper verstik: Voordat, van vreug vervreem,
Wat siel is in my sugtend, eensaam staan,
En huiwerig vir 'n onheil onbekend
Ver in 'n onbegrensde sterlos nag
Waar kille koudte slaan
My teen van elke kant waar ek my wend
Om steun te vinde vir verstikte krag.
Die ommekeer in die digter se politieke gevoelens word hier reeds duidelik weergegee: Wat vra ons vir ons kinders en onsselwe,
Wat eis ons in die toekoms vir ons land?
'n Ongestoorde lewe, stil en rustig,
| |
[pagina 103]
| |
In vrede, môre en aand, die jare deur,
Om stil wat ons gegee word aan te neem,
En stil wat ons geweier word te laat staan.
Ook die verandering in sy natuursiening waarop reeds gesinspeel is, kom duidelik uit - lees slegs die aanhef van ‘Ver in die Troe-troe-vlakte’ (XXVIII). | |
IV.
Soek jy na suiwere waarheid, o siel wat versteen staan?
Wat is die waarheid wat suiwer as waarheid kan geld?
Dit: dat jy staan, skoon jy enkel apart en alleen staan.
Dit: dat jy is, en rondom jou die nag en die veld.
Daar is skilders wat ons bekoor en ontroer deur kunswerke ‘louter niets dan lieflijkheid’, elk 'n afgeronde geheel, 'n wonder van volmaakte skoonheid wat sy eie skoonheidsdroom droom. So is die skeppinge van 'n De Hooch, 'n Millet. Daar is digters aan wie se siel heerlike, melodieuse liedere ontvloei, suiwer van ontroering, gaaf van verwoording - en ons gaan op in die skoonheid daarvan sonder dat ons soek na die digterpersoonlikheid wat dit geskep het. So 'n Leopold, 'n Boutens. Daar is egter ook kunstenaars wie se werk ons veral ontroer as lewensbieg; elk van hulle skeppinge voer ons regstreeks na die skepper daarvan - die kunstenaar wat in die werke opdoem. Daar gaan van hierdie kuns die suggestie uit van 'n siel van nog aangrypender skoonheid as die kuns waarin hy hom openbaar. Elk van hierdie skeppinge, hoe skoon reeds op sigself, kry vir ons eers dan sy hoogste ontroeringswaarde as ons dit kan sien as veropenbaring van die misterie van die skepper se innerlikste bestaan. So 'n Rembrandt, die grootste van hierdie kunstenaars, so 'n Van Gogh, 'n Henriëtte Roland Holst. So 'n Leipoldt. Daar is gedigte wat stil brand soos 'n suiwere vlam. Daar is ook gedigte wat brand soos 'n magtige vuur wat in verterende vlamme oplaai en alles deurgloei, om dan weer weg te sink en op te flakker met 'n donker walm en floue glans en die landskap van die siel met 'n onrustige flikkerspel grillig te verlig. Dikwels kan die vuur nie deurbreek nie, maar ons weet hy is daar. Wat hierdie kuns aan suiwerheid inboet, win hy dikwels aan hewigheid en aangrypende menslikheid. Tot hierdie soort behoort 'n Browning, behoort ook Leipoldt. Die leser sal wel besef dat ek Leipoldt hier in een asem noem met hierdie grotes nie om hom tot wêreldkunstenaar te proklameer nie, maar om die wese van sy kuns te bepaal. | |
[pagina 104]
| |
Ons literêre aanvoelingsvermoë en ons letterkundige kritiek verkeer nog in 'n ontwikkelingsfase wat sterk die gevaar meebring dat dit nie deurdring tot die wese van kuns soos die van Leipoldt nie. Ons meen nog dat die indruk wat 'n kunswerk op ons maak, opgebou is uit détailindrukke, dat die skoonheid van die geheel berus op die skoonheid van die onderdele. Ons besef nog te min dat 'n kunswerk 'n sintetiese skepping is, dat inteendeel die skoonhede van die onderdele voortvloei uit die sentrale ontroering wat die hele werk beheers, en ons in aanraking daarmee moet bring. Die kontak met die siel van 'n gedig kan nie verkry word deur noukeurig te let op die tegniek, deur te speur na skoonheid en suiwerheid van beeld en klank en ritme nie. Alleen as die leser sy eie siel onbevange oop stel, sal díe kontak kom, intuïtief, misties, met die lewe wat daar in die verborge dieptes klop - dán eers sien ons hoe dié lewe tot die fynste vesel en aar van die vers deurstroom, dán bring elke hernieude lees van die gedig, die betragting van die tegniek, ons nuwe verrassende openbaringe van die misterie dat die geestelike, die onsinnelike sig voortset in die sinnelike. Alleen langs dié weg kan 'n skone vers vir ons in die diepste sin van die woord word ‘een gebaar van bevende schoonheid’. Omgekeerd is dit nie die afwesigheid van skoonheid van beeld en klank, aanwesigheid van retoriek en onegtheid wat ons 'n gedig laat veroordeel nie, maar die intuïtiewe besef dat daar geen siel is waarmee ons kontak kan vind nie. Die gebreke van die vers is dan nie bewyse dat die lewe ontbreek nie, dit bevestig slegs ons bevinding en maak dit nog meer bewus. In Uit Drie Wêrelddele (1923) kom heelwat gedigte voor waarin die besieling heel swak is, dit bevat selfs blote maakwerk, grillige invalle van die mens Leipoldt. Gedigte wat van begin tot end onafgebroke gedra word deur die stroom van die ontroering, is skaars; gedurig kwyn die besieling en kry ons verse wat ritmeloos is, wanklanke van verstandelike, onware beeldspraak, growwe sondes teen die taal. In byna elke gedig voel ons die loodskakels. Maar wie hierdie werk nie slegs van buite af probeer benader nie, wie luister of hy nie die diep stem van menslikheid hierin kan opvang nie, vir hom sal daar die gestalte van die digter opdoem, vir hom sal daar opklink uit hierdie gebroke ritme, die sielekreet van 'n mens wat vereensaamd staan in die lewe, wat soek en worstel om die oplossing van die misterie wat hy huiwerend besef maar waarvan hy die sin nie kan deurgrond nie; 'n mens wat nameloos eensaam en pessimisties voel, maar lewensdurf en lewensmoed besit en sonder romantiese selfbeklag die lewe manlik aanvaar as 'n roeping. Dis my strewe om hierdie digtergestalte duideliker te belig. Daarvoor sal dit nodig wees om langer stil te staan by enkele gedigte en om gedurig die digter aan die woord te laat. | |
[pagina 105]
| |
Een van die gedigte waarin Leipoldt die duidelikste geteken staan, is ‘Die Man met die Helm’. Die digter is self die siener wat nie begerig was om deur die wand te skou,
(Die) grendelvaste blindings op te slaan,
Ek wou geen kers hê vir die donker nag,
Geen sluiers wegruk en daaragter kyk.
Begerig was ek nooit die golwe deur
Te swem om die stil agterwater-groen
Se sagte streling om my lyf te speur.
Nee: Vir my was hierdie wêreld goed genoeg
Soos ek as mens die wêreld het kom kry -
Die braakland bruin, nog vreemd vir eg en ploeg;
Die boggel-koppies, wat die blou lug sny,
Die huldiging van lente en somertyd;
Die weduprag van winter en sy bruin;
Die luist'ryk weelde nà die voorjaarstyd;
Die trots van kleure en groen hier in my noordetuin.
Maar: Die opgesuigde gif van sienerskrag
Het vroeg die vrede van my tyd gesteel.
En nou sien hy ‘wat selfs (sy) sinne nie kan vat, onmenslik' dinge, magtig in hul mag.’ Heerlik is die natuur wat in sy voorjaarsweelde spog, maar die beeld van sy lewe sien hy in die tingerige rokie wat soos 'n smeekgebed na boontoe rys
En in die lug se perlemoen verdwyn -
'n Kalm deurleefde lewe; uit die grond,
Uit vuur en smart gebore, sterk en vry,
Om regop in die reine môrestond,
En eind'lik krag verspil, die wêreld deur te sprei.
| |
[pagina 106]
| |
So was my lewe in my waan vir my!
Want bly verbeelding kon niks beters skep
As eindpunt dan wat mis en wolke kry
Eer dat hul krag vergaan, hul kleur verlep -
kans om in vergaan onsterflikheid te win,
En skim te meng met skyn en gees met groter gees.
want wat ons siel noem, is 'n vonk wat saam
met duisend vonke vlieg om tot 'n vlam te brand.
Hy breek met die eiegeregtige, domme trots en onverdraagsaamheid en skynheiligheid Wat uit geloof 'n misgeboorte draai,
'n Oupaaiboelie-afgod van die nag.
Dit alles was en bly vir hom ‘'n las waarmee (sy) mensdom mislik deur moet veg’, sodat hy geen kans kry om deur te dring en weg
In reiner oorde met my siel te kom,
En af te skud die bitter sienersmart.
My wêreld is hierbinne, en alom
Is aaklig niks as leegte en duister, donker, swart.
Maar hierdie gefolterde Siener eindig met 'n visioen van troos wat ons laat dink aan Shelley se ‘Prometheus Unbound’, al mis Leipoldt hier die towerkrag van die Engelse digter se musiek en beeldeprag: O sorgsaam' siele, kom en skou
Soos ek die dae in, gordyne deur,
En sien hoe wraak verswak, en hoe berou
Almagtig loer en oor die mensdom treur;
Hoe onreg wegsink, sag, soos in die see
Die dooi lyk met sy vrag van lood belaai;
Hoe alles een word, en die almag gee
Sy nuwe krag vir saad wat weer word oorgesaai.
| |
[pagina 107]
| |
Minder troosvol eindig ‘By die Vlei’. Die heerlike natuur, waarin die nag die dag in skoonheid oortref, bring hom tot droefgeestige mymering en martelende vrae. Die enigste vas-staande waarheid vir die soekende siel is: Dit: dat jy staan, skoon jy enkel apart en alleen staan.
Dit: dat jy is, en rondom jou die nag en die veld.
Maar moet nie verder soek nie, want: Soek jy nog verder, o Siel, openbaring en kennis,
Roepstem van elders, 'n gids uit die land van die Dood?
Soek dan vergeefs, want die enigste troos wat jy wen, is
Riet vir 'n leunstok wat breek in die dag van jou nood.
Krag in jouselwe en wete van wat hier op aarde
Leidraad en rigsnoer moet wees vir jou daaglikse gang,
Kennis om selwers te kies tussen werklike waarde
En wat niks werd is, is al wat 'n mens kan verlang.
Soek liewers na die vrede van die dood: Doodgaan? O Siel, is jy bang vir die breek van die lewe,
Bang om te klim met die pad wat 'n koning en kind
Voor jou betree het tot vrede? Jy bibber en bewe,
Vyand verwag jy; wat kom, is 'n trooster en vrind.
Kla nie, want niemand is hier wat jou angskreet van smart hoor.
Niemand wat voorspraak sal wees vir genade by God.
Wat ons hier leed noem en smart, is niks anders as skyn nie,
Skadu en skim van die krag wat die wêreld besiel.
En hy kom tot die vae maar vaste hoop: Moedig, alleen, as die moordende skadu's jou koud maak,
Struikel half blind soos jy is, deur die duisternis heen,
Totdat die son van die toekoms die donker tot goud maak,
En wat voorheen net 'n vloek was, verhef tot 'n seën.
En dan volg die huiweringwekkende skoonheid van die volgende verse met hulle trotse opstand: | |
[pagina 108]
| |
Jy was sag in jou smart, o Siel,
Sag en gebuie en gebreek,
Tevrede om neer te kniel
Soos 'n klein kind, tingerig, week,
Vir jou erfreg ootmoedig te smeek
In gebed aan wat agter gordyne
Verskuil deur die jare heen staan
Sonder teken van meely of traan,
Bleek en bedaard soos die maan,
Tevrede, alleen in jou waan.
Jy is syne, o Siel, jy is syne.
En nooit het die moed jou gewek
Om te sê in jou droom: ‘Ek is gek.
Wat ek het, is my eie; dit's myne -
Myne al skeur ook die dag
In flenters so swart as die nag -
Myne al breek ook die brandende son
Met 'n sussende suis in die see se bron
Waar die yskou water vir ewig spoel
En 'n yskou maalstroom ewig woel.
Myne al sterwe ook kleur en lig
En daar's niks as die dood voor my aangesig -
Myne, ja myne, ewigdeur,
Tot ek begin en eind' bespeur
Waar ek nou net bestaan en nie bestaan
Gewaar, onwetend hier in my waan.
Hierdie opstel begin deur al die sitate meer op 'n bloemlesing lyk, maar om die leser in lewende kontak te bring met die individualisme van die digter was dit nodig om hierdie verse met hulle hewige aksent aan te haal. Maar die digter weet self nie wat hom die moed gegee het om tot hierdie opstand te kom nie, en na die fel-bewoë verse eindig hy droewig met 'n teenstelling tussen die skone natuur en sy vrugtelose wag op antwoord: O, die see is groen in die krom van die baai;
En dis smaragblou waar die seewind waai;
En my ore is dof met die dreun van die see
As ek wag, o Siel, tot jy 'antwoord gee.
| |
[pagina 109]
| |
Een van die mooiste gedigte uit hierdie bundel is die laaste Slampamperliedjie. Fel het Leipoldt hom ingelewe in die eensaamheid en smart van die vereensaamde heidense vors wat sy droefheid in die natuur weerspieël sien. Deur die skone woordkuns, deur die suiwerheid en volgehouenheid van die ontroering behoort dit tot die beste wat Leipoldt gedig het: Grysblou bulte voor my en die motreënmis op die pad,
En 'n pêrel-besaaide witdoring met sy bas en sy blare nat;
Nêrens die lag van die lug nie; die lied van die veld versmoor
Deur die sag, sag stadig sanik van die reën wat jy orals hoor.
En die wêreld orals grys, verlate en eensaam stil,
Krag ontbloot van kragte in de son se skyn verspil,
Soos 'n man wat moeg gebuk loop, sy hart deur haat versteen,
Met sy liefde lank verwaarloos, alleen, alleen, alleen!
En in hierdie troosteloos wenende landskap smeek die eensame siel: O, wit-gekleurde geeste waarteen ek skuld bely,
Neem wat ek het, my lewe - neem dit en laat my bly,
Hier waar ek huiwerig wag op niks wat my siel kan seën,
'n Vonk wat nie meer lig het nie, alleen, alleen, alleen!
Leipoldt se individualisme verskil sterk van die individualisme van die Tagtigers, dit mis die oorbewuste van die lewensgevoel van laasgenoemdes wat dikwels ontaard tot ekkerigheid, dit is ook nie so vol romantiese selfbeklag nie. By hom nie 'n trotse wêreld-veragting sonder 'n veragting van die wêreldse of die aardse nie, by hom nie die bleke doodsverlange van so menige romantikus nie. Wel gee hy 'n enkele keer toe aan 'n siniese humor: Ons loop die wêreld in, en wie
Kan sê ons loop nie vir die grap -
'n Grap wat niemand ooit bespeur,
Waarom geen mens op aarde lag -
'n Grap die lange lewe deur
Van more-rooi tot middernag?
Wel ja die gedagte dat ons ‘miskien weer terug kom in die lewensworstel en -gewoel, waar bitter noodlot al ons vreug verniel en al ons ideale ru verteer’ 'n koue gril oor sy siel (Sonnet VIII, Slampamperliedjie XXXVIII), maar hy beskou die lewe as 'n roeping, 'n stryd wat manlik gestry moet word. Ons vind in sy poësie die viriliteit van 'n Browning en sy intellektuele passie, maar hy mis die positiewe geloof van die Engelse digter: | |
[pagina 110]
| |
God's in his Heaven -
All's right with the world!
Die dood hou vir Leipoldt geen vrees nie; net soos die grysaard soek ons almal: Slaaptyd en rus!
Dit soek ons algar ons lewelank deur -
Droomtyd en slaaptyd en tyd om te treur
Oor al ons stories waarmee ons ons sus.
Maar voor daardie rus moet daar gewerk word, sonder vrees, die donker in, sonder weemoedige verlange na die dag se verkwynende prag: Wil jy stilstaan as ek voorgaan, wil jy stilstaan?
En die laaste skyn geniet
Eer die laaste straal verskiet?
Wil jy stilstaan as ek voortgaan, boetie, stilstaan?
Dink jy dag alleen is mooi
as die son sy strale strooi
Oor die laagland en die heuwel?
Moet jy so jou smarte sus?
Ek moet lewe voor ek sneuwel,
Ek moet sterwe voor ek rus!
Wil jy stilstaan as ek voorgaan, boetie, stilstaan?
Dit is die slotstrofe van een van Leipoldt se skoonste gedigte waarin hy geteken staan in al sy manlike lewensaanvaarding. Ook waar hy uiting gee aan sy nasionale gevoel hoor ons hierdie toon. Die digter wat in ‘In Amsterdam’ reeds hartstogtelik uitgeroep het dat 'n nasie nie somar soos die koring groot word nie, dat daar ‘'n hele boel’ gedoen moet word, - hierdie digter wil nou die verlede vergeet, al die smart en haat, al die broedertwis van later: ‘Scheepers lê begrawe in Graaff-Reinet se sand!’
Kêrel, droom jy nog van gisternag?
Hoor hoe raas die stampers bokant op Witwatersrand,
Net soos branders van die see so sag;
Oor die hoë dakke, oor die wye veld,
Op die koel wind in die middernag,
Vreugdevol, tevrede met die werk en plig van hede,
Sing hul sag 'n welkom vir ons beter, nuwer dag.
| |
[pagina 111]
| |
Hoe ons ook mag staan teenoor die optrede in die openbaar van Dr. Leipoldt op die gebied van taal en nasionaliteit, hierdie verse dra die aksent van diep ontroering, van waaragtigheid. En ook hier staan Leipoldt as die individualis. Teenoor die gees van ons ander digters, teenoor die geestesstroming waarin onbewus en bewus die besef so sterk leef dat die ontwakende gevoel van eie nasionaliteit en kultuur sy natuurlike voedingsbodem moet vind in die nasionale verlede, teenoor die besef dat 'n nasie, en veral 'n jong nasie wat so groot gevaar loop om deur magtige vreemde invloede oorrompel te word, die hom van God gegewe kragte en talente ontwikkel in die eerste plek binne die enge perke van die nasionale begrensinge, staan die kosmopoliet Leipoldt wat sy hewige smart oor die verlede oorwin het en juig: Maar ek is uit die vlakte
(waar mense moed verloor)
en bo sy skadus oor.
En hy verkondig sy kosmopolitiese boodskap: Leer dat die louter liefde vir jou land,
Die groter liefde vir jou medemens
Nie uit- maar in-sluit; dat die paradys
Nie meer op die manier van Mohamed
Alleen bevolk word deur soldate-dood;
Leer dat die band wat volk aan volk moet heg,
Nie meer verbreek mag worde deur 'n hand
Wat nie almagtig is nie; dat die see,
Die lug hierbo, die aarde waar ons trap,
Vry vir elk mensekind moet wees en bly -
Nie afgebaken soos 'n agterwerf
Vir een of ander wat die sterkste is.
Leer dit en lewe na jou leer, en ly
Totdat jou wêreld ook dieselfde les
Geleer het, en wat mens is, mensheid ken.
* * *
Die groot bron van troos wat hierdie digter besit, is die natuur: Want droom, nòg dagwerk, nòg die drang wat druk
Al vorentoe vir hom wat liewers vry
Van wêreldtwis en wêreld-ongeluk
En baar genot en brokkelig' roem wil bly,
| |
[pagina 112]
| |
Gee rus en krag waarteen 'n mens kan leun
In bitter dae. Die Natuur alleen,
Wat moederlief met moederstreling steun,
Bring ongevraag haar son en sterrelig se seën.
En aan dié natuur gee hy hom heeltemal oor met sy hewige ontvanklikheid vir die sinnelike skoonheid: Gemmer-geur in die tuin en die mirre van minjoenet
(O boetie, die lewe is mooi, en ek het in die lewe lus!).
Brom-bye bowe die tulp, wat bewe en bruis van pret
(O boetie, die son skyn mooi om die wêreld hier te sus!).
In sy natuurpoësie bly nog steeds iets oor van die kinderlike vreugde wat in sy eerste bundel opklink: Heer, wat die hemel oor my sprei,
Dit is my eerste en laaste bede:
‘Somer en son en safier vir my!’
bid hy in ‘Die Beste’, een van die heerlikste sange wat ons besit, een argelose juigtoon oor die vreugde van die natuur. En Leipoldt ken die natuur. Sy sintuie is soos die van 'n faun; trillende van verrukking vang hy al die geluide en kleure en geure op - veral die geure laat hom huiwer van geluk en vervul sy siel met vae assosiasies en herinneringe: Geurige ruik van die wit water-uintjies wat sluimer;
Wasem van sandduine warm en berghelling-klei.
Dikwels ondergaan die digter dit alles as 'n roes wat sy siel bedwelm en sy eensaamheid laat vergeet. Daarom dat hierdie poësie dikwels ly aan owerdaad, aan te veel opeenstapeling van afsonderlike sinsindrukke, te min uitgroei tot dieper sintese. Soos reeds herhaaldelik betoog was dit my strewe om hier 'n beeld te gee van Leipoldt se digterpersoonlikheid. Daarom het ek hier nie geprobeer om 'n suiwer letterkundige waardering van hierdie bundel te gee nie. Graag sou ek nog stil gestaan het by die skoonheid van afsonderlike gedigte, gewys het op die skone dramatiek van ‘Van Noot se Laaste Aand’, op die skrynende humor van ‘Boggom en Voertsek het saam geswerwe’, op | |
[pagina 113]
| |
die ontroerende uitbeelding in ‘Oupa is oud...’ met sy waggelende, knieëknikkende ritme, op menige sterk vers in die Sonnette, op die snerpende ballade van verraad en vrouehaat ‘Uit die Ou Tyd’, op die Oosterse weelde van die natuuruitbeelding in ‘Uit my Oosterse Dagboek’ en op die musiek van die name. Ek sou ook moet gewys het op heelwat gebrekkigs, op die gebrek aan selfkritiek wat spreek uit die opname van serebrale maakwerk, van gedigte wat slegs die uiting is van bisarheid en grillige invalle. Ek sou moet wys op die tallose gedeeltes waarin die besieling, tussen momente van felle brand in, slegs smeul of heeltemaal verdwyn het; op die ‘Voorspel vir 'n Afrikaanse Heldedig’, wat verloop in détailskildering en afsonderlike sinnelike indrukke; op ontstellende taalverwringing en taalfoute.Ga naar voetnoot2) Inderdaad, hierdie bundel vertoon 'n onrusbarende gebrek aan selfkritiek en artistieke ewewig - die Nemesis van Individualisme.
G. DEKKER. (Slot volg.) |
|