Selfs die vinke vind dit nou te eensaam en warm om te maai waar hulle nie gesaai het nie. Nog net so'n dun swermpie, met 'n langstert flap, met sy kromsteelpyp manewales, op die agterhoede, vlieg oor die onderend van 'n hawerland in die rigting van 'n populierbos, aan die onderkant van 'n lopie, so'n vierhonderd tree van die werf verwyderd.
Van die aangesig van die dagvors stroom strak strale van voldoening, omdat hy vandag weer alles wat leef en beweeg op Rooiwal, in sy mag kan troetel of gebied.... van die gladde klippies sy spieël kan maak, en alles wat plant is, laat neerbuig onder sy aanblik. Selfs die pampoenblare, in 'n nie te veraf geleë stuk land, voel hulle onmagtig om die klein pampoentjies behoorlik die blinkerige lyfies te beskerm; party outjies lê driekwart oop en snik langs die ou grotes, waarvan die wit rugge bokant die groen uitsteek. Plekke lê die groot beespampoene so na aan mekaar, dat dit lyk of hulle mekaar wil verdruk, en elkeen maar net moet stoei om 'n vaste lêplekkie te verower. Een grote sit half regop onder 'n paar blare, om die ander kans te gee om ook inkruipplek te kry. 'n Plaatjie soetriet, aan die onderend van die akker, blinkblaar ook maar net, want, wie weet, miskien nog voor vanaand donker sal party van hulle moet swig voor die wit tande van die swart Sagrys as hy gaan kalwers haal.
Ghoef!... Hierdie trommelgeluid kom uit die stal, waar die hen agter die jukke ewe manhaftig, so plat soos 'n pet, sit en ylhoofdig word. Ou Kol, die ryperd van die plaas, wat die ewewig van sy vet liggaam gemaklik op drie bene weet te handhaaf, staan half aan die slaap met sy toe oë, sy onderlip, wat effens bak hang en die onderkant van 'n paar wit tande sigbaar maak. Meteens skrik hy geweldig, helder nugter-wakker! Spits die ore na die sakdeur se kant toe en laat 'n benoude gesnork hoor. Sy anders so goedige ou kykers vonk nou van helse onrus en onheil. Wat sou dit vandag met ou Kol wees? Sou dit onaangename drome uit sy jongperddae wees, toe soms tot sy grootste gramskap 'n twee-disselboomgedoente aan sy agterlyf gehang is? Sy oubaas is tog seker te trots op sy ou ryperd om hom so te verkleineer tot die status van 'n slaaf. Alles lyk vir hom so vreemd in die stal. Hy voel of folterende spykers van alle kante die ruimte om hom al kleiner en nouer maak. Die afloopkersie in 'n swart hol plekkie in die muur dreig hom ook met iets afskuweliker as die grou van rotsskeure in die donkerste nagte, wanneer 'n onweer geweld uitoefen in 'n bergwêreld.
Swart voëlgedaantes, met witgeborduurde bekke, hou die plaaswoning dop en dwing om duiselig te word van die hitte, terwyl die begeerte om versadig te word hulle aanspoor om hulle kans waar te neem solank dit vir hulle die welaangename tyd is. Die skêrgeluide van die oopbek spreeus op die prieëlpaal voor die waenhuis dra daartoe by om ou Kol stapelgek van angs te