Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1933
(1933)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 90]
| |
Die Huis van Clodia, Die SkoneGa naar voetnoot1)Die marmer-skoonheid van die Palatyn,
Die weelde van sy rose en sy wyn
(Rooi marmer vèr in Afrika gekap),
Rooi wyn gerangskik deur die kenners fyn.
En mosaïeke, waar die kunstenaar
Van Rome keurig-kleurvol kon bewaar
Figure wat die oog genotvol streel,
Nog, deur die mis van eeue, sterk en klaar,
As soms in Delos of Pompeii een
Wat reis op voetspoor van Odysseus heen,
Lui krabbelend in die stof, plaveisel ryk
Ontdek wat luister aan sy plek verleen,
En wandtonele, goud met rooi, dof-rooi,
En sinnelik en ryk en weelderig mooi,
En stories oud, romanties uitgesprei,
En klein Erotes wat hul bloeisels strooi,
Of uit olywe parfuum-olie maak,
Of dans op wasgoed in 'n voller-saak,
En linne bleik, of anders goudsmid speel
In winkels waar Vulcanus gloeiend waak.
En suile sierlik met akanthus-blad
Loop om die binneplaas, in groen vervat
Van palme, en die spelende fontein
Verlok vir Iris langs haar reënboog-pad.
T.J. HAARHOFF.
|
|