| |
| |
| |
Buite in die Soete Somer: 'n Klein Romannetjie.
Deur Knut Hamsun.
DIE pension was goed besoek deur gaste, beide here en dames, party selfs van die naburige land. Die meeste het een of ander onbelangrike kwaaltjie gehad, mans sowel as vrouens was ooreis en het 'n paar weke in die vissersdorpie by die see kom uitrus. Die getroudes was in die meerderheid, en om die liewe vrede ontwil het hulle meestal hulle wederhelftes meegeneem, maar kon op eie houtjie optree. Daar was baie galanterie onder die ongetroudes, en 'n mens sien soms hoe oueriges weer jonk word onder die lampe in die sitkamer. Maar algar beweer: Dis die gesonde lug, dis die see!
Dit was algar fyn, deftige mense, koopmans, professorsvrouens, prinsipale. En daar was die vrou van 'n konsul-generaal en die vrou van 'n parlementslid, albei met hulle mans. 'n Met goud beslane meneer uit die hoofstad, wat net: ‘Otto Mengel, Koopman’, op sy visitekaartjie het, word as direkteur aangespreek. Die besitter van die pensioen het 'n groot begaafdheid gehad om by die voorstelling van die gaste aan mekaar elkeen se stand in 'n gepaste graad te verhoog. Oor direkteur Mengel is daar nou wel niks anders as goeds te sê nie; hy was glo 'n welaf man, en aan sy horlosieketting hang daar die vrymesselaarsembleme. Dit het tog 'n bietjie verbasing gewek toe jong Oxenstand, wat 'n opregte leeu was en totnogtoe vir niemand sy buiging gemaak het nie, opvallend diep buig by sy begroeting van direkteur Mengel toe laasgenoemde by die pension opdaag. Eers later het dit uitgekom dat mnr. Mengel 'n groot woekeraarsaak in die hoofstad dryf.
Die plaery van die gaste onder mekaar was maar net te beskou as die tergery tussen vriende, sonder dat daar enige onnatuurlike kwaadaardigheid mee bedoel was. Maar die assuransie-agent van die naburige land het 'n ware afkeuring van alle kante uitgelok deur te probeer om polisse in die pension van die hand te sit. Dit was asof hy daarop reken dat iemand sal doodgaan, en daar was mos inteendeel niemand wat sou doodgaan nie. Hulle noem hom toe ook direkteur om hom daardeur in sy eie opinie te laat styg; maar wat die agent aanbetref, was dit so veel tegemoetkomendheid verspeel. Hyself noem hom agent Anderson en niks anders nie, en verbeter almal wat hom die direkteurstitel gee.
So'n buffel - die man was pure besigheid. Hy makeer niks nie, en die onverbloemde waarheid was dat hy grof slaap en eet en krag in oorvloed het.
| |
| |
Een dag sê die vrou van die konsulgeneraal: Weg met hierdie mnr. Anderson!
Maar mevr. Milde wis goed waarom die vrou van die konsulgeneraal nou versoek dat Anderson moet uitgegooi word: hy het nooit haar tere toegeneentheid teenoor hom wou merk nie. Een aand het die konsulsvrou alleen in die donker in die tuin gesit en dweep, en mnr. Anderson het verbygeloop. Sy roep hom en spreek hom as direkteur aan, ja sy gooi selfs wenkies uit dat hy gesond en sterk is en dat haar senuwees tot bedaring kom wanneer sy hom sien.
‘O so?’ sê Anderson.
‘En dink, ek glo dat u omarming sterk is, hahaha!’ sê die konsulsvrou. ‘Kom hou my nou 'n bietjie geselskap.’
‘Dis te donker,’ antwoord hy.
‘Ja, maar moenie laat ons ingaan waar al die ligte is nie.’
‘Ja, sien u, ek weet dit uit ervaring dat ek beter in die lig sien as in die donker,’ sê Anderson.
'n Klipkop, dit was hy. En die algemene opinie oor hom was dat hy ook nie die natuur lief het nie; hulle het hom al die see sien aanskou met heeltemaal droë oë. Die leeu Oxenstand het een dag probeer om hom snaaks te hou, maar daarmee het hy geen sukses gehad nie. Oor die algemeen was dit nogal grappig om na die agent se antwoorde te luister. Die jong mevr. Trampe, die skoonheid van die pension, vra hom eenkeer dwars oor die tafel:
‘U is dus nie getroud nie?’
‘Nee,’ antwoord hy, ‘maar ek was darem ook nie altyd heeltemal sonder wederwaardighede nie...’
Ja, en toe sou mos die nuwe dame aankom.
Daar kom 'n telegram aan van die naburige land om plek in die pension vir 'n dame. Dit kan maar 'n klein kamertjie wees, maar dit moet in ieder geval op dieselfde verdieping lê as die woonkamer. Die gasvrou antwoord: ja, sy het plek.
Al die gaste van die pension loop nou vir die dame en wag. Waarom wou sy op die woonkamerverdieping woon? Was sy kreupel? Die jong vrouens in die derde of vierde jaar van hulle getroude lewe sou daar niks teen hê as die dame eenvoudig glad geen skoonheid was nie. Die leeu Oxenstand sê: ‘Ja, laat haar maar gerus mooi wees; vir u sal sy tog nie kan kers vashou nie, mevr. Trampe.’
Twee dae daarna kom sy aan. Haar rytuig ry 'n stywe draf tot by die ingang van die pension en hou meteens botstil. Die dame klim uit. Die spel word meteens gestaak op die tennisbaan, almal kyk na die dame. Sy het 'n groot hoed op en regtig fyn klere aan; en toe sy uitklim, kon elkeen sien hoe jonk sy was.
| |
| |
‘My naam is mevr. Anderson,’ sê sy aan die gasvrou.
‘Hoe is haar naam?’ vra die konsulsvrou.
‘Anderson!’ antwoord mevr. Trampe, die skoonheid.
‘Hemel, nog 'n Anderson! Hier kan geen mens dit binnekort meer uithou nie.’
Dit sou blyk dat die konsulsvrou heeltemaal reg het: mevr. Anderson kon niemand uitstaan nie - buiten die here. Maar in hulle het sy 'n wonderbaarlike lewe gebring. Dit was nou nie so maklik om meteens te verstaan nie. Sy was nie mooi van gelaatstrekke nie; nee, daar was geen vergelyking moontlik nie. Maar donker, gevaarlike oë het sy gehad - ja, dit het sy. Boonop was haar wenkbroue soos twee donker bloedsuiers, wat met hulle koppe teenmekaar lê en daar misties uitsien. En sy was jonk en halfblond, en haar mond was soos 'n blom.
Goed - - -
Mevr. Anderson staan soggens te laat op, en die gasvrou moes haar herinner aan die vasgestelde tye van die pension: ontbyt presies om neënuur.
Mevr. Anderson antwoord: ‘Ek sal altyd presies om neënuur daar wees - behalwe in die voormiddae.’
Toe moes selfs die konsulgeneraal na haar kyk. Hulle kyk vas in mekaar se oë. En die konsulgeneraal was so geskape dat niemand hom hoef te leer hoe om die oë te lees nie. Hy kom uit 'n bekende digtergeslag en skryf self voortreflike gedigte oor die natuur en oor mense.
Wat moet dus daardie onverskole brand in daardie vroue-oë helderoordag beteken! Die konsulgeneraal sien dit: dit was oë wat begin wil...
Mettertyd, toe mevr. Anderson haar rekening kry, vra sy sonder blik of bloos om uitstel met die betaling. Sy besit geen geld nie, sê sy, maar daar sal wel 'n uitweg kom een van die dae.
Daardie aand kom sy in gesprek met parlementslid Adami. Hy verkeer in die middel van sy tweede jeug, daardie laaste opflikkering, waarin die ouderdom weer onnatuurlik jonk word. Mevr. Anderson se vraag en antwoord was vir die deftige kaalkop heer tot groot vermaak.
Toe sy vrou hom wegroep, neem die konsulgeneraal onmiddellik sy plek in. En hy het lank sy kans afgewag.
Hy sê: ‘Ek het die parlementslid die lang gesprek met u beny.’
‘Dit is vir u wat ek gewag het, konsul,’ antwoord mevrou.
‘Onder ander om u iets te vra, en u te bedank.’
‘Wat is dit?’
‘Is dit u wat in my kamer laat blomme sit het?’
‘Blomme? Ek moet eerlik beken.... Het u blomme gekry?’
‘Vergewe my!’ sê mevrou. ‘Ek sou my ook wat verbeel het.’
| |
| |
Die poësie styg na die konsulgeneraal se kop by die geskiedenis van daardie geheimsinnige blomme, en hy bars uit:
‘Hemel, dit behoort ek te gewees het! Ons behoort dit algar te gedoen het. Elke dag.’
‘Ek is dol op blomme,’ sê mevrou, ‘maar ek is te arm om hulle te koop.’
Dit gebeur dat sy verskeie dinge uit haar lewe vertel en dat die konsulgeneraal dieselfde doen. Nooit tevore was hy so mededeelsaam teenoor 'n vreemdeling nie. Die end van die ontboeseming was dat hy gans en gaar 'n gek van hom maak.
Mevrou sê: ‘Maar u is mos getroud, konsul.’
‘In die liefde is dit gelukkiger om voorwaarts as terug te sien,’ antwoord hy en sug.
By die middagete die volgende dag voel die konsulgeneraal laf en koorsagtig aan tafel weens 'n gediggie wat hy in mevr. Anderson se servet ingesmokkel het. Toe sy dit vind en dit begin deurlees, bars hy uit en sê vir die man langs hom: ‘Soe, dit is hier vandag warmer as ooit tevore!’
Daar gaan 'n gerug dat dit maar seker die parlementslid was, daardie ou kaalkop, wat die rose in mevr. Anderson se kamer laat sit het. Maar voor haar self ontken hy dit.
‘Nee, nee, dit is nie ek nie,’ sê hy. ‘En ek mag dit dus nie beken nie.’
Mevrou kyk hom plotseling verbaas aan. Sy trek haar wenkbroue effens op, daardie twee fyn bloedsuiers wat mekaar met hulle snoete ontmoet, en sê:
‘O, hoe mooi het u nou gepraat! U stem het geklink soos die basnote van 'n harp. Sing u miskien?’
‘Nou... nee, dit doen ek nie. Dit wil sê, ek het eens ook 'n bietjie daaraan gedoen.’
Hy was bloedjonk. Dit was glo die gesonde lug en die see wat hom so perdfris en vurig gemaak het.
Sy vrou laat hom roep, maar hy gaan nie.
‘Ek gaan nie,’ sê hy. ‘Laat my tog 'n bietjie vrede hê. Wat wil hulle nou weer van my hê?’
En mevr. Anderson knik vir hom en gee hom gelyk: ja, hy kan maar bly sit.
‘Ons kan mos oor besigheid praat,’ sê sy. ‘Dan mag u seker tog bly.’
‘Ja, met u wil ek graag besigheid doen, mevrou. Laat ons hoor! Ja, kom ons doen maar 'n klein besigheidjie.’
‘Nie 'n groot besigheid nie?’
‘Ja, 'n groot besigheid. Hoe groter, hoe beter, hahaha! Gaaf, nè?’
Maar mevr. Anderson bedoel dit ernstig; sy wil sy lewe verseker, sê sy met nadruk.
| |
| |
‘O so?’ sê die parlementslid verbluf. ‘Is mevrou dan 'n agent?’
‘Dit was 'n paar jaar gelede. Ek moes my man help brood verdien. Wat moes ek doen?....’ En sy verklaar verder dat sy hom nie wou bedrieg nie; dit hoef ook nie vir 'n groot som te wees nie.
‘Ja,’ sê die parlementslid, ‘as dit dan so moet wees, dan liewers vir 'n groot som.’ En miskien kon dit nogal heeltemal verstandig wees om jou te laat verseker.
‘Ek sal die papiere huistoe stuur na my man dat hy hulle kan onderteken. Om die vorm ontwil moet die maatskappy se dokter u ondersoek, alhoewel u so gesond soos 'n jong seun is. Die dokter sal binnekort kom.’
Toe die parlementslid sy vrou teëkom, sê hy ewe ongeërg:
‘Ek het besigheid bespreek en kon nie kom nie. Wat moes ek vir jou doen?’
‘Besigheid bespreek? Met haar?’
‘Ek het my lewe laat verseker. Dit is uiters belangrik om verseker te wees. Sy verteenwoordig die beste maatskappy.’
‘Die slegste maatskappy,’ antwoord sy vrou dubbelsinnig, ‘die slegste maatskappy verteenwoordig sy.’
Die parlementslid was bly dat hy vir mevr. Anderson 'n guns kon bewys. Hy staan self daarop dat die besigheid so gou moontlik moet afgehandel word, en toe die dokter van die naburige land aankom, gaan die parlementslid in 'n uitstekende humeur na die ondersoek.
Natuurlik makeer hy mos niks, hoegenaamd niks nie.
Mevrou gee hom haar hand en dank hom.
‘Het ek u werklik hiermee 'n diens bewys?’ vra hy.
‘'n Groot diens. 'n Hulp. Ek wil nie graag meer sê nie.’
Die parlementslid laat toe die allerbeste in sy natuur seëvier en sê:
‘Ek dink amper ek kan die konsulgeneraal ook oorhaal om dieselfde besigheid met u te doen as u dit op prys stel.
Toe noem mevr. Anderson hom haar vriend en weldoener. Tegelykertyd kyk sy rond en bloos op 'n snaakse manier met albei wange.
‘Ek dink ons kon dit maar somar nou doen, terwyl die dokter van die maatskappy hier is,’ sê die parlementslid vir die konsulgeneraal. ‘Ons bewys seker mevrou 'n groot weldaad daarmee. Nie dat sy dit nou reguit gesê het nie, maar....’
‘Vir my het sy reguit gesê dat sy arm is,’ antwoord die konsulgeneraal. ‘Ek vind dit 'n sonde en jammer. 'n Heerlike kind, gevaarlike oë.’
Sy digtersiel sit op loop met hom, hy wil die bedrag nie verminder nie, maar sy lewe vir dieselfde groot som laat verseker as die parlementslid. Hy het bowendien 'n private redetjie om teenoor mevr. Anderson daardie gewilligheid
| |
| |
aan die dag te lê: sy het hom onlangs vir sy gedig bedank, met 'n gevoel wat nie juis iets minder as 'n uitbarsting kon genoem word nie. Die digter gaan verder met hom op loop en sê:
‘Wat sê u daarvan? Sal ons nie ook ons vrouens se lewens laat veseker nie?’
‘Wat? Ons vrouens?’ vra die parlementslid. ‘Nee, dit sal nie gaan nie, ek kry myne nooit so ver nie. U weet mos - die ondersoek... Nooit nie!’
‘My persoonlike mening is dat ons amper verplig is om dit te doen.’
Daar ontstaan 'n pause. Die parlamentslid prakseer sterk.
‘Sy moet dit doen!’ roep hy plotseling. ‘Ek gaan op die oomblik na haar toe.’
Selde het sy vrou die parlementslid so vasberade gesien. Hy het geen beswaar gedoë nie.
‘Dit is ons plig!’ beweer hy met die woorde van die konsulgeneraal.
‘Is dit ons plig?’
Maar hier laat die parlementslid sy gedagtes blitssnel gaan; hy raak hoegenaamd nie van sy wysie af nie, maar knik plegtig en sê:
‘Dit is ons plig, ja. Ons het 'n dogter, wat ons eenmaal sal moet agterlaat.’
En hoewel die dogter reeds met twee miljoen getroud was, was daar geen beswaar hoegenaamd om teen haar man se plegtigheid te laat opweeg nie....
Die vreemde dokter het sy hande vol gekry met die baie hoë lui inwendig en uitwendig te ondersoek en aan hulle sertifikate uit te reik na gelang van hulle verskillende gesondheidstoestande. Hy was 'n jong kêrel met donker oë en met 'n liggrys pak aan. Die leeu Oxenstand kon nie teen hom op nie en was 'n nul daardie dae wat die vreemde dokter in die pensioen deurgebring het. In die begin het hy probeer om hom nie daaraan te steur nie, maar toe ook mevr. Trampe, die skoonheid, 'n skerper glans in haar oë kry wanneer sy die dokter sien, verloor die goeie leeu sy kop totaal.
‘Jy het met my gespeel,’ sê hy vir mevr. Trampe. Hy sê dit daagliks en herhaal sy verwyte.
Een dag, moeg en verveel deur die leeu Oxenstand, sê sy reguit: ‘Ek het nie met u gespeel nie. Maar ek hou nie van u op dié manier wat u dit wil hê nie. En wat moet ook daarvan word? Ek is mos getroud, dink daaraan.’
‘U moes begin het met my dit te sê,’ antwoord hy. ‘Maar daarmee het u inteendeel juis nie begin nie.’
‘Maar ons gaan darem opregte goeie vriende bly, nie waar nie?’ bevestig sy.
| |
| |
Toe lag die leeu.
‘En u sal vir my soos 'n suster wees, nè, so lui dit mos, nè...?’
Sy was hopeloos verlief op die dokter en praat met hom die aand in die tuin.
‘Ek weet van iemand wat 'n hele entjie gelukkiger kon wees,’ sê sy en word bloedrooi.
‘Maar dit is seker nie u nie, nè?’
‘Ja, dit is ek. U is 'n dokter en verstaan dit mos. Dit is gevaarlik om die luilekker lewe op die platteland te lewe en perdfris te word van die lug en die see. En hier is daar niemand om mee te praat nie. Hier was niemand voor u gekom het nie.’
Die leeu Oxenstand loop toe juis verby. Dit lyk asof hy na iets soek om dood te slaan.
‘Daardie mevr. Anderson, ja; dié kan mos by u wees net wanneer sy wil,’ sê Mevrou.
Die dokter lag en sê: ‘Dit gaan net oor besigheidsake. Ons doen lewensassuransie. Sy verdien geld soos bossies.... Laat ek u ring sien. Gee my tog u hand. U wil nie? Net 'n oomblik.’
‘Nee, ek waag dit nie. Doen mevr. Anderson dit dan?... Goed, nou sit ek my hand in u hand asof ek tot iets inwillig. Maar hemel, ek doen dit darem nie werklik nie, ek willig nie tot enigiets in nie, verstaan my reg. Maar, wat doen u dan?’
Sy ruk haar hand weg.
Maar toe het hy dit alreeds gesoen.
‘Hoe fyn en warm is u hand!’ sê hy.
En mevr. Anderson loop verby. Ontbrand daar jaloesie by haar? Haar oë glinster op 'n eienaardige wyse toe sy die twee sien. Mevr. Anderson loop hoogmoedig aan, maar toe die leeu Oxenstand op die stoep sit en met haar begin praat, kom sy hom tegemoet met ongewone ywer. En die twee sit lank en koorsagtig met mekaar en praat asof hulle albei daardie twee in die tuin wou wys dat hulle mekaar gevind het.
Mevr. Anderson vrees nou geen rekening meer nie. Sy betaal haar losies asof die geldjies niks is nie - 'n fooi wat van die groot assuransie-premiums afval. En die parlementslid gooi in donker aande groot ruikers deur haar venster op die eerste verdieping. Bepaald is sy hier in die pension innerlik in onguns; maar daar bekommer sy haar nie oor nie. Sy skyn 'n hart van klip te besit teenoor almal behalwe juis dié vir wie sy belangstelling ontwikkel het. Sy het dus ook geen meegevoel gekoester met haar ongelukkige mededinger, die assuransie-agent Anderson nie. Hy is 'n buffel en spreek nie tot die harte nie. Uit die weinige woorde wat sy met hom gewissel het,
| |
| |
kon die aanwesiges hoor wat dié twee mekaar toewens: niks - dood en vernietiging.
Agent Anderson sien daar kompleet uit soos 'n gevaarlike sameswering.
Een warm nag leun die parlementslid by sy venster uit en koel hom goed af. Dis donker, en hy hoor net die sagte gesuis van die bome daar onder in die tuin. Hy kry die idee om mevr. Anderson se vensters daar onder dop te hou, en sien dat hulle gesluit is, dat die lamp uitgeblaas is en dat Mevrou slaap. Toe hoor hy in die donker hoe 'n venster geopen word - dit is een van mevr. Anderson se vensters -, en 'n man spring daardeur grond-toe. Daar gaan 'n kwaadaardige steek deur parlementslid Adami, en hy kon daardie nag nie slaap nie.
Die volgende môre dra hy sy vreeslike geheim soos 'n man. Maar so teen middag se kant gee hy dit op om langer in stilte die stryd te voer. Hy gaan na mevr. Milde en wy haar in die saak in. Want tussen daardie twee pensiongaste, wat eers hier mekaar leer ken het, het alreeds 'n goeie verstandhouding geheers. Dit was seker die gesonde lug wat sulke groot dinge uitgerig het.
‘Wat gaan mevr. Anderson jou aan, liefste?’ sê mevr. Milde.
‘Ek verdra dit nie,’ antwoord die parlementslid. ‘'n Mens moet snags vrede hê.’
Mevr. Milde werp haar arms om sy nek en huil en besweer hom om vir haar uitsluitlik plek in sy gedagtes te gee - uitsluitlik -. Anders hou sy dit nie uit nie.
‘So, so, so!’ sê die parlementslid. ‘Ja, seker, uitsluitlik. Maar.... Ja ek sê mos uitsluitlik.’
Maar mevr. Milde huil al hoe meer en verwyt hom daarmee dat hy dag na dag laat verbygaan sonder dat sy hom sien. En sy sê: ‘Daardie vreemde vrou neem jou heeltemal in beslag, en jy het niks tyd oor vir my nie.’
‘Tussen hakies - kan jy my sê wie daardie vent is wat haar snags besoek?’ sê die parlementslid, in sy eie gedagtes verdiep.
Toe bars mevr. Milde uit: ‘Sien jy nou? Jy het alweer aan haar gedink! Nee, ek hou dit nie ui - uit nie!’
Die parlementslid moes 'n volle halfuur by haar deurbring en haar omhels en alles doen om haar weer in 'n goeie bui te kry. Voor hy loop, sê hy egter heeltemal waardig:
‘Ek dink darem dit moet só word dat ons twee meer soos suster en broer teenoor mekaar moet wees.’
En merkwaardig genoeg, mevr. Milde bedaar gelukkig so ver, dat sy die parlementslid se woorde kan aanhoor sonder trane. Sy leun terug op die sofa en sluimer kort daarna behaaglik in.
| |
| |
Maar die parlementslid gaan daarna na die konsulgeneraal met sy geheim. Dit was ook 'n stommiteit om jou in verband met so'n saak tot vrouens te rig.
‘Ek verdink jou nie van die man te wees wat vannag rondgeloop het nie,’ sê hy vir die konsulgeneraal. ‘En u verdink my ook nie.’
‘Nooit in der ewigheid nie!’ sê die konsulgeneraal poëties.
En die trane kom in hulle oë van louter onderlinge vertroue.
Hulle bespreek die saak en raai dat die leeu Oxenstand die man van die daad was. Die parlementslid kry opdrag om te volhard met die verloklike Mevrou se vensters dop te hou.
‘Dis darem jammer dat daardie vent Oxenstand die haantjie van die baan daar moet wees,’ sê die parlementslid. ‘Dis mos eintlik ons twee, u en ek, wat haar opregte vriende gewees het.’
‘As dit Oxenstand is, dan gaan ek met die hoteleienares praat,’ sê die konsulgeneraal. ‘Hy moet laat vat uit die hotel. Ek gaan dit nie langer veel nie.’
Die parlementslid antwoord: ‘Ek gaan dit ook nie veel nie. Ek het van nag geen oog toegemaak nie.’
Die Ovenstand-affêre het ook aanleiding tot baie agterdog gegee. Sy wese word al hoe meer deur haar in beslag geneem, en hy fluister haar soet woordjies toe in almal se aanwesigheid. En sy vorige liefde, die skoonheid, tree by hom al hoe meer in die skaduwee.
Hy loop saam met Otto Mengel, die groothandelaar, 'n entjie weg, sodat hulle gesprek nie deur die ander kan gehoor word nie, en begin met hom praat oor geld, baie geld, 'n nuwe lening.
‘Nee,’ sê die geldlener, ‘dit loop te baie op. U het seker moeilikhede genoeg al met wat u alreeds geleen het.’
‘Glad nie. U het dit mis. Buitendien sal my oom binnekort doodgaan. Ek het juis nou-nou 'n brief ontvang waarin daar staan dat hy nou gou-gou sal doodgaan.’
‘Laat ons dit maar hoop, ja,’ sê Otto Mengel.
Maar hy wou nie die leeu verder help nie.
En daar kom nou pynlike dae vir die leeu. Hy het reeds sy voorneme te kenne gegee om hom by mevr. Anderson te laat verassureer, en kon nou nie woord hou nie. Eindelik kry hy een dag 'n telegram dat sy oom dood is, en Otto Mengel, die groothandelaar, was onmiddellik gereed met die geld. Maar so'n avontuurlike rente het die leeu nog nooit betaal nie. En tog swyg hy by dit alles, want hy het daardie telegram self gestuur.
En toe gebeur dit dat een van mevr. Anderson se vensters een donker nag weer oopgaan en 'n man uitspring. Die arme parlementslid Adami lê
| |
| |
daar bo op die uitkyk en kan alles sien, maar hoegenaamd niks anders wat gaande is nie. Maar die volgende môre neem hy die konsulgeneraal mee en ondersoek die voetspore onder Mevrou se vensters.
‘Dit is snaakse voetspore, nè?’ sê die konsulgeneraal.
Dis skoene met ysterpolvye,’ sê die parlementslid. ‘Van die soort wat die boere dra.’
Die volgende nag lig hulle al die skoene op wat in die gang uitgesit is om skoon gemaak te word; hulle kry een paar skoene met ysterpolvye: dit was lewensassuransie-agent Anderson se skoene.
Nog nooit was die twee ou speurders so met verbasing geslaan nie. Maar albei was verontwaardig en wou dit nie langer gedoë nie. Die volgende môre skimp hulle so effens voor die agent, en selfs die ligsinnige mevrou wou hulle nie 'n pyninginkie spaar nie.
‘Daar was vannag mense voor u vensters,’ sê die parlementslid.
‘Ja,’ sê die konsulgeneraal ook, ‘vlak voor u vensters. In die duister, donker nag.’
‘Wat sê u?’ antwoord Mevrou. ‘Was dit diewe?’
‘'n Korterige man. Dertig jaar. Donker aangetrek. Met ysterpolvye onder sy skoene, soos die boere hulle dra.’
‘Ek waag dit nie om verder daar te slaap nie,’ sê Mevrou.
En sy kom daar ook nooit meer slaap nie.
Later in die dag was Mevrou nêrens te vind nie, haar sitplek staan leeg met die middagete. Langsaan staan nog 'n leë stoel: die assuransiedokter se stoel. ‘Waarnatoe is hulle? Waarnatoe kan hulle dan wees?’ sê almal. Maar assuransie-agent Anderson van die naburige land byt op sy baard en lyk amper soos 'n groot sameswering.
Sy gelaatsuitdrukking word geensins vriendelik toe die besitter hom in die kantoor inroep en hom meedeel dat iemand hom in die nag mevr. Anderson se kamer deur die venster sien verlaat het nie.
‘Nou, wat daarvan?’ sê Anderson.
‘U moet vertrek, direkteur,’ sê die eienares. ‘Soiets word nie in my huis toegelaat nie.’
Anderson mompel: ‘Dit is nog nie die ergste nie; dat ek daar binne was en nou moet laat vat.’
‘Ek het 'n rytuig vir u bestel.’
‘Wat wel die ergste is, is dat hulle die keie in is,’ gaan Anderson voort. ‘En kan u my sê waarheen hulle is?’
‘Daarmee kan ek u nie dien nie,’ antwoord die eienares.
Anderson praat met homself. ‘Ek het lankal suspisie op hulle gehad. Maar ek het gehoop dat sy haar sou bedwing - hier op 'n vreemde plek.’
| |
| |
‘Dit kom my voor, dis u wat u nie kon bedwing nie.’
Anderson begin prikkelbaar word en antwoord: ‘Ek moes ingaan na haar toe om die papiere in orde te bring.’
‘Wat het u met haar polisse te doen - 'n vreemde dame?’
‘Sy? 'n Vreemde dame? Sy was mos my vrou.’
‘U vrou?’ vra die pensionvrou agterdogtig.
‘Sy was my vrou!’ skreeu agent Anderson. ‘Ek kon hier geen besigheid verrig nie, toe het ek destyds vir haar geskryf sy moet oorkom. En nou het sy laat vat met die dokter. Hulle het my 'n poets gebak. Hulle het al die geld saam.’
Toe swyg die eienares 'n hele minuut en oorpeins dit. Nog steeds het sy so'n klein suspisietjie.
‘'n Mens se eie vrou kan jy mos oordags ook besoek,’ sê sy as 'n klein poginkie.
‘Kan 'n mens sy eie vrou snags dan nie ook besoek nie?’ vra Anderson verbitterd....
Nou loop daar 'n skok deur die hele pension, al die here voel dat hulle vergek gehou is deur die oorlamse vrou. Agent Anderson bring die een papier na die ander voor die dag om te bewys dat mevr. Anderson sy vrou is - in daardie opsig was daar geen twyfel meer nie, hulle het in gemeenskap gehandel toe hulle die hele halwe pension verassureer het. Die leeu Oxenstand wou liewers sy lewensversekering geannulleer hê, maar hy moes doodstil bly, want hy het self daardie telegram gestuur. Parlementslid Adami en die konsulgeneraal dreig Anderson dat hulle hom sal gaan verkla.
‘Doen dit maar gerus!’ antwoord Anderson. ‘U het u by my verassureer, die polisse is in orde, my ondertekening het hulle geldig gemaak...’
En agent Anderson sou nie eens die pension so hals-oor-kop verlaat soos die vordering oorspronklik was nie. Alle here veroordeel nou wel daardie manier van besigheid doen, om sy vrou as tussenpersoon te gebruik; maar die dames kies party vir die agent en begin die lewe nog ondraagliker vir hom te maak met hulle spraaksame simpatie. Uit blydskap dat die gevaarlike vrou verdwyn het, gaan hulle so ver dat hulle die agent direk troos in sy teëspoed.
‘Wag maar, sy sal weer kom!’ sê mevr. Milde. ‘Sy sal wel leer insien dat dit tog net u is en niemand anders in die hele wêreld nie. So is in ieder geval die verhouding tussen my en my man.’
En selfs mevr. Trampe, die skoonheid, wat so skandelik deur die donkeroog assuransiedokter gefop is, beweer dat dit tussen haar en haar man dieselfde geval is, ja, dat hy tog maar die enigste in die wêreld is.
Maar agent Anderson het 'n eienaardige manier van treur gehad.
| |
| |
‘Natuurlik kom sy terug,’ sê hy. ‘Ek verwag haar self, want sy is baie knap met verassureerwerk. Maar as sy darem nog 'n keer met die premiums wegloop, sal sy vir my darem te duur uitkom.’
Drie weke daarna kom daar ook 'n brief van die verdwaalde eggenote dat sy nou op haar knieë voor haar man se drempel lê. En haar oë is vol trane, so staan daar. En vra my niks van die dokter nie, staan daar verder, want hy het vir altyd laat vat.
Agent Anderson moet onwillekeurig knik: ‘Wat het ek gesê? Sien u, sy kom weer terug! Maar as sy dit nog 'n keer doen om die geld mee te neem, gee ek haar aan.’
En agent Anderson keer tuiswaarts.
Dieselfde aand vertrek ook mevr. Trampe, die skoonheid, en vryf haar hande van louter gesondheid. Sy het tyd gehad om die dokter te vergeet en haar gevoelens vir die leeu Oxenstand terug te wen. En daar die leeu Oxenstand desgelyks weer volkome fiets gemaak is deur die landelike lug en die see, het die twee hulle in mekaar verheug soos nog nooit tevore nie.
Hy slaan sy arm om haar lyf en sê: ‘Nou kan u nie langer my ewigdurende liefde ontwyk nie.’
Sy het toe juis geen afwysende antwoord gereed nie, glimlag dus en fluister: ‘Buite in die soete somer....’ En daar was geen nee in haar mond nie.
Parlementslid Adami het geen ander uitweg as om weer na mevr. Milde te keer nie - na haar uitsluitlik. Maar sy het haar heerlik op hom gewreek oordat hy eenkeer in sy waansinnigheid net haar broer wou wees: vir twee aande wou sy niemand anders as die digterlike konsulgeneraal sien of hoor nie. Eers die derde aand sê sy: ‘Op proef!’ en toe laat sy weer alles soos voorheen word tussen haar en die parlementslid.
Geautoriseerde vertaling deur C. de Villiers uit die bundel Stridende Liv (1905).
|
|