die tradisionele opera, wat veral in die agtiende eeu onder die beskerming van die Duitse howe 'n ongekende bloei beleef het en waaraan roemryke name soos die van Glück, Mozart, Weber en selfs Beethoven verbonde is. So dig en komponeer Wagner sy eerste, nog onrype werke, ‘Das Liebesverbot’ en die groots aangelegde opera ‘Rienzi’.
Ondertussen het sy awontuurlike swerwerslewe reeds begin. Nadat hy in verskillende Duitse stede as teatermusikus werksaam was, vind ons hom in Riga in 'n soortgelyke betrekking. Maar ook hier kan hy dit nie lank uithou nie. Hierdie verre uithoek bied hom nie voldoende geleentheid tot ontplooiing van sy kunstenaarskap nie. Ook word hy van alkante bedreig deur skuldeisers - dit sal die nagmerrie van sy hele lewe bly! Met sy hartstogtelik sinnelike kunstenaarstemperament is dit vir hom 'n fisieke onmoontlikheid om in armoede te lewe. Parys, die stad van die groot opera, lok die kunstenaar. Op sy seereis van Riga inspireer 'n ontsettende storm hom tot die digterlikmusikale behandeling van die ou sage van die ‘Vliegende Hollander’. Die drie jare in Parys behoort tot die bitterste van sy hele lewe. Trots alle poginge bly die Paryse teaters vir sy eie skeppinge geslote. Maar hier in die vreemde kom die vereensaamde kunstenaar tot die volle besef van sy ware roeping as skepper van die moderne Duitse musiekdrama. Met ‘Tannhäuser’ neem hy afskeid van die opera; met ‘Lohengrin’ skep hy se eerste musiekdrama.
Om Wagner se kuns na waarde te kan skat moet ons die wesensverskil tussen die tradisionele opera en die nuwe musiekdrama goed in die oog hou. Wagner het die opera leer ken as 'n onvrugbare tweeslagtige soort kuns, waarin die twee elemente, woord en musiek, as onafhanklike dele en dikwels geheel sonder die minste innerlike verband tot mekaar staan. Wel is die opera - 'n Renaissanceproduk uit die sestiende eeu - oorspronklik gebore uit die verlange van die digter om die gevoelslewe van sy drama deur die musiek te verdiep en te verinnig, maar dit het al heel spoedig ontwikkel tot iets heeltemal anders; die musiek het hoofsaak geword, die dramatiese teks word nog bloot gebruik om situasies te skep waaraan die musikus sy musikale stemminge kan vasknoop. So het die drama ondergeskikte bysaak geword, middel tot 'n doel, en ontaard tot 'n dorre aaneenskakeling van tonele, sonder enige sielkundige eenheid of ontwikkelingsgang, ondigterlik en onwaar. Hierteenoor stel Wagner sy leer van die musiekdrama. Sy uitgangspunt en doel is die drama, wat vir hom die hoogste kuns is. Wagner is dus eers digter, dan komponis. Waar die opera-komponis die woordkuns, die drama ondergeskik maak aan die musiek, daar stel Wagner die musiek in die diens van die drama, alleen op 'n artistiek gesonde wyse. Waar die digter slegs kan spreek, daar beeld die musikus uit, so leer Wagner: ‘Wo die anderen Künste sagen: das bedeutet, sagt die Musik: das ist.’ Die menslike taal en selfs ook die drama-