Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1933
(1933)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina *7]
| |
GENERAAL DE WET (met A. van Wouw op 70-jarige leeftyd).
| |
[pagina 64]
| |
Die Nuwe Brandwag
| |
Anton Van Wouw.OP 1 Januarie 1890 het in Pretoria 'n jongkêrel aangekom met sy kop vol ideale, dog met maar min geld in sy beurs. Oor Lourenço Marques het hy die lang reis uit Holland gemaak, gedrewe deur sy voorliefde vir die Hollands-Afrikaanse Boerevolk en deur die hoop dat die jong en wel-af Republieke, wat besig was om geskiedenis te maak, 'n kans sou gee vir 'n jong beeldende kunstenaar. Inderdaad: die Boere-Republieke, in hulle ewigdurende stryd vir hulle volksideale, het behoefte gehad aan geskiedskrywers van stamverwante bodem wat hulle volksiel kon deurgrond. Geskiedskrywers met die pen of die penseel, geskiedskrywers in woord of in beeld, dit maak g'n saak nie. Anton van Wouw het met sy hande 'n stuk geskiedenis van Suid-Afrika vasgelê, wat sonder hom vandag seker verlore was. Biografieë het hy gemaak in sy koppe van Generaal De Wet (p. 64). Generaal Beyers en historiese episodes het hy vasgelê in sy ‘Slegte Nuus’ (‘Nuwe Brandwag’ 1930, I, p. 40), sy Vrouemonument, sy Kruger in Ballingskap (t.a.p. p. 28) en ander beelde, terwyl die vier hoekfigure van die Krugerstandbeeld op Pretoria 'n hele historiese tydvak verteenwoordig. Maar min mense kon vermoed, dat daardie sewen-en-twintigjarige jong Nederlander eens die nasionale beeldhouer van Suid-Afrika sou wees. Vandag nog staan in sy atelier 'n klein beeldjie in brons: 'n baba in sy stoeltjie, wat wys dat Van Wouw al as 'n jong seun in Holland oor 'n merkwaardige boetseertalent beskik het, en daarom is dit wonderlik om te hoor hoe hy sy loopbaan in Pretoria as.... 'n dekorasieskilder vir woning-interieurs begin het. Ou Pretoriane herinner hulle nog die saal waar die Z.A.S.M.-fees gevier is en waar Van Wouw met Oerder saam 'n reeks landskappe langs die wande geskilder het, wat algar natuurtaferele langs die spoorweg van Pretoria na Lourenço Marques voorgestel het; en onwillekeurig dink ons by hierdie | |
[pagina 65]
| |
primitiewe poging aan Pierneef se dekorasie van die hal in die stasie van Johannesburg! ‘Tempora mutantur’, en tog - - -. Ons moet darem nie vergeet dat Van Wouw baie geskilder en geteken het nie, want dit sal ons help om die pikturale element in sy beeldhouwerke te begryp. Van Wouw het partykeer maar swaar gekry, maar die opdragte vir beeldhouwerk het begin kom, en met die onwankelbaarheid en vasthoudendheid, wat ook so kenmerkend is vir sy artistieke persoonlikheid, het hy trou gebly aan sy tweede vaderland: Suid-Afrika, ondanks sy langdurige swerftogte deur Europa, waar hy, vernaamlik in Rome, die dorado van beeldende kunstenaars, inspirasie by die ou meesters gesoek het. Sy eie woning is die beste bewys vir sy liefde vir omswerwinge: dit lyk soos 'n museum van internasionale ou-kuns en kunsnywerheid, en die skatte wat daar in 'n klein ruimte opgeprop is laat ons dink aan die ‘rariteitekabinette’, wat in die agtiende eeu in Europa in die mode was. Drie-en-veertig jare het Van Wouw nou al trou gebly, en vandag vorm sy kuns 'n integrerende deel van die Afrikaner se kultuur. Nou dat hy sewentig jaar geword het en op 'n leeftyd gekom het dat party kunstenaars moeg en klaar is, het hy al sy krag en sy talent gewy aan sy planne vir die Voortrekkergedenkteken, wat in 1938 moet verrys! Sal ook hy, soos 'n Michel Angelo, sy mees grootse skeppinge na die Bybelse leeftyd skep? Die eerste vraag, wat ons nou wil beantwoord is: ‘Hoe het Van Wouw, die Hollander, die meesgeliefde Afrikaanse beeldhouer geword?’ Die antwoord moet lui: ‘Deur sy realisme.’ Toegegee dat waarskynlik die Afrikaner 'n groter mate van fantasie besit as die Nederlander, tog het hy die voorkeur vir realisme in die kuns, voortspruitende uit 'n skerp waarnemende werklikheidsin, van sy ou-Hollandse voorvadere geërf. Waar anders as in die skerp visuele waarneming van die realiteit wortel die sterk beeldende vermoë van die Afrikaanse taal met sy kostelike tiperende uitdrukkinge wat ons aan genre-skilderytjies van Jan Steen herinner? Van Wouw se realisme is egter nie modern nie. Die moderne realistiese kunstenaar gebruik die tasbare werklikheid om uitdrukking te gee aan 'n ontasbare werklikheid, wat agter die dinge staan, maar deur sy geestesoog waargeneem word; m.a.w. die moderne realisme staan onder ekspressionistiese invloede. Niks daarvan by Van Wouw nie - en dit kan ook nie anders nie! Gebore in 1862, het hy sy lyn as kunstenaar gevind in die negentiende eeu. Sy inspirasie kán ons met Potgieter se woorde aandui as ‘copieerlust des dagelijkschen levens’. Sy beeldjie van Leman, die telegrambesorger van | |
[pagina 66]
| |
Pretoria in Oom Paul se dae, kon 'n illustrasie uit die ‘Camera Obscura’ wees. Na sy leeftyd gereken, behoort Van Wouw tot die generasie van die ‘Tachtigers’ in die Nederlandse letterkunde, en, hoewel 'n mens hom seker nie by daardie kunsrigting mag indeel nie, sy realisme het in sekere opsigte hulle invloed ondergaan. Dit het die psigologiese verdieping gekry wat in die Tagtiger naturalistiese romans so kenmerkend is. Maar daardie romanskrywers werk nie met groot fors lyne nie, dog met 'n uiterste verfyning bring hulle die klein trekkies aan wat stadig die portret voltooi. Net so Van Wouw, wat 'n maand, maar ook 'n jaar aan dieselfde beeld kan werk. Wat is ‘beeldhou’ tog 'n wonderlike naam vir daardie kuns! Van Wouw ‘hou’ nie in die klip of die marmer, dat die stukke daaraf spat nie; Van Wouw is 'n ‘boetseerder’, en die klei is sy materiaal, waaruit sy wonderlik gevoelige hande met 'n oneindige geduld die wondere skep: nou nog 'n strekie hier, nou nog 'n bietjie weg daar, nou nog 'n bietjie meer ronding duskant en nog 'n plooitjie anderkant. So skep Van Wouw sy ontelbare details, wat algar volmaak naturalisties is, maar wat ook - en dis die genie van die kunstenaar - tesaam 'n harmoniese geheel vorm. Die Tagtigers het so sterk die groot lyne uit die oog verloor, dat hulle werk partykeer 'n detail-kuns van die skone woord geword het en in daardie hiper-verfyning het hulle persoonlikheid dan doodgebloei. 'n Enkele maal het vir Van Wouw dieselfde gevaar gedreig, het hy alte lank aan 'n selfde beeld gewerk, totdat die krag amper verlore gaan in die verfyning van die detail. Maar in die algemeen het hy wonderwel daarin geslaag om sy meesterlike details die totaalindruk van die beeld te laat versterk en nie verswak nie. In die geweldige kop van Christiaan de Wet is daar nie die kleinste lyntjie wat afbreuk doen aan die indruk wat die onderskrif wil wek nie. (p. 64.) Fantasie speel om so te sê g'n rol in Van Wouw se beelde nie: daelank laat hy sy modelle poseer, sy inspirasie lê in die aanskouing. Vir tipes - soos die Boerenooientjie - het hy 'n bepaalde model nodig wat vir hom poseer; die originele ou kleredrag moet gekry word en, al is dit gehang om 'n pop, hy wil die dinge sien. 'n Velskoen, 'n roer - ou-President s'n het, soos bekend, gedien vir die Dopper-Voortrekker by die Krugermonument -, 'n kappie, 'n patroonsak is van die onontbeerlike dinge vir hom, wat 'n mens vandag nog in sy atelier kan vind. As dit nou heeltemaal onmoontlik is om sy persone te laat poseer - ek dink aan sy beelde van oorlede generaals en staatsmanne -, dan het sy fabelagtige skerp kyk op die karakteristieke van 'n figuur, naas sy intieme bekendheid met die afgebeelde, hom gehelp; sien Christiaan de Wet (p. 64) en Oom Koos de la Rey! 'n Bewys vir hierdie eienskap vind 'n mens in die reeks | |
[pagina 67]
| |
met potlood getekende portrette van Generaals Botha, De Wet, De la Rey, Beyers en van Herman Coster, wat oorspronklik algar in die besit van mnr. L.L. Steen in Pretoria was en wat nie die indruk maak dat hulle in 1901 direk na die lewe vervaardig is nie (p. 75).Ga naar voetnoot1) Dit behoef geen betoog nie, hoe daardie tekenkuns van Van Wouw nie alleen sy hand gevoelig gemaak het nie, maar ook 'n direkte steun vir sy skulpturale talent was. 'n Reeks karikature van die hand van Van Wouw, van meer as dertig jare terug toon ons naas sy veelsydigheid ook weer sy skerpe tiperingsvermoë. Oom Paul, wat nou nie bepaald 'n groot kunskenner was nie en wat ook nooit vir Van Wouw wou poseer nie, het tog verwonderd gestaan toe die kunstenaar sy beeld uit die klei opgebou het, en het toe met 'n toespeling op Genesis gesê: ‘Van Wouw, moet nou nie dink jy is God nie!’ Maar om dit so ver te kry het Van Wouw elke dag op die hoekie van Kerkplein gestaan om te sien hoe die President kom aan stap! As die kunstenaar nou egter 'n beeld wil skep van 'n persoonlikheid, wat hom baie interesseer maar wat hy nie so goed intiem ken nie, dan voel ons tog, dat sy realistiese metode te kort skiet in vergelyking by die ekspressionistiese. 'n Voorbeeld: Van Wouw het Mussolini gesien, en hy hou van sy kop en bewonder hom as 'n staatsman. Met behulp van 'n vyftigtal foto's vervaardig hy nou 'n knap portret van die Duce. Maar vra ons nou of daardie kop een dag vir die nageslag kan getuig van die karakteristieke eienskappe van die Leier - goed of kwaad, of die kop ook as 'n simbool kan dien vir die gees van die Leier, dan is die antwoord: nee; gee ons net met 'n paar strakke lyne die geweldige wilskrag van die ken, 'n streep wat die bokant van die diepliggende oogkasse aandui, 'n geboë lyn vir die bekende onderlip en 'n sware boog vir die kragtige welwing van die skedel, dan mag al die verdere details onjuis wees - of wegbly!, maar ons het die kop van die heerser, soos hy in ons herinnering sal voortlewe. Hierdie puntjie bring ons as vanself op die volgende: Van Wouw as 'n skepper van monumente. Hier is dit sy aangebore gevoel vir die ewewig en die verhouding van afmetinge wat hom saam met Soff die onvolprese Vrouemonument laat skep het. Hierdie stuk van ons volksgeskiedenis is te alom bekend om hier beskryf te word, maar: as amper g'n vreemdeling daar met droë oë kan staan nie, dan kom dit nie alleen deur die wyding van die plek nie, dog ook deur die sobere krag van die groepering van beelde, muur en obelisk. | |
[pagina 68]
| |
Die Krugermonument in Pretoria kan in hierdie verband buiten beskouing bly. Dis eenvoudig 'n skande vir die Afrikanervolk dat daardie beeld nie lankal in harmonie met sy omgewing opgestel is en op 'n voetstuk wat die verhouding tussen die figure laat uitkom soos Van Wouw dit bedoel het nie. Dis 'n ereskuld aan die kunstenaar om daardie beeld so gou as moontlik 'n plek te gee in die middel van die historiese Kerkplein op 'n massale voetstuk waarvan die vier Boerefigure 'n steun en 'n onderdeel vorm. Ook in die beelde self van Van Wouw se monumente tref ons die harmonie van die goeie verhoudinge, soos, by voorbeeld, in Durban se Generaal Botha, in die drag van Spioenkop. Hierin word Van Wouw gehelp deur sy eg-Hollandse sekuurheid, wat hom elke beeld eers op 'n verkleinde skaal van twee voet hoogte laat maak, om die effekte te beoordeel, voordat hy die werk in die gewenste grootte gaan uitvoer. 'n Ander vraag is egter of sy realisme die bedoeling van 'n monument nie partykeer in die pad staan nie: Oom Paul staan daar asof 'n mens hom somarso op Kerkplein sien verskyn en vir die oueres onder ons is 'n lewensgetrouer afbeelding nie moontlik nie. Maar wat van die toekoms? Wat van die ver nageslag? Sal hulle ook in hierdie beeld hulle opvatting van Paul Kruger beliggaam vind, sal die beeld vir hulle soos 'n simbool wees wat Paul Kruger se boodskap aan die nageslag tot uitdrukking bring? Ons staan hier voor die ou probleem: wat is belangryker: die historiese persoon soos hy in al sy menslike swakheid was, of die historiese persoon in sy ‘legendêre’ vorm, soos sy nageslag hom sien? Sonder om op hierdie vraag in te gaan, wil ek nou egter 'n ander, meer algemene vraag beantwoord wat ek partykeer gehoor het: ‘Mag ons, as moderne mense, Van Wouw se realisme groot noem en artistiek hoog stel, nou dat ons die moderne ekspressionisme ken, wat ons as van ons eie tyd aanvoel en beter kan waardeer as die kuns van die oueres?’ My antwoord is baie positief: ‘Ja, ons moet!’ Om twee redes. Ten eerste: By die beoordeling van kuns mag ons net een ding vra, en dis of die kunstenaar 'n eie persoonlikheid het, wat hy suiwer en opreg in sy werke neergelê het. Die mate waarin hy in staat is om sy persoonlikheid esteties uit te druk, noem ons sy talent. Van Wouw is 'n baie sterk artistieke persoonlikheid en oor sy manier van uitdruk het hy 'n baie persoonlike opvatting. 'n Voorbeeld: ek kry juis nou 'n afbeelding in hande van 'n kop van die grootte van Van Wouw se ‘De Wet’, gemaak deur 'n jong Hollandse beeldhouer Visser. Dit stel die oorlede leier van die Nederlandse Sosialiste, Troelstra, voor. Troelstra het 'n enorme neus gehad, maar die smal en sagte oë het gewys dat daardie man ook 'n digter was. Die weerbarstige hare versterk weer die kragsaanduidinge in die | |
[pagina 69]
| |
kop. Nou het Visser net daardie drie elemente beklemtoon, en die verdere kontoere van die gesig is eenvoudig met skerp, hoekige vlakke uitgesny. Wys dit vir Van Wouw, en hy sal sê: ‘Maar daardie ding is mos nie “af” nie. Die man het opgehou waar ek sou begin het.’ Daardie laaste woorde is karakteristiek. Ons mag 'n kunsstyl nie veroordeel nie, maar die kunstenaars het die reg om mekaar te veroordeel, want hulle werk eis dat hulle eensydig is en net een uitdrukkingsmoontlikheid sien. Ten tweede: Van Wouw druk die gees van die tyd uit waarin hy groot geword het, die einde van die negentiende eeu. Nou is die kunsappresiasie van die gemiddelde Afrikanerpubliek op die meeste gebiede nog geheg aan die onmiddellik voorafgaande periode in Europa. Nou wil ek nie beweer dat die kritiek die publiek nie moet opvoed tot appresiasie van nuwe kunsrigtinge nie, inteendeel! Maar ek wil net konstateer dat op hierdie moment Van Wouw dus die man is wat die beste uitdruk wat in die volk lewe - 'n ware volkskunstenaar dus. En waar bly 'n kunstenaar wat nie wortel in sy volk nie, wat nie die gesublimeerde uitdrukking is van wat in sy volk lewe nie, wat ‘ivoren torentjies’ bou, so hoog, dat hy g'n uitkyk meer op sy volk het nie? Die Tagtiger digters wat die kontak met hulle volk verloor het, kan u die antwoord gee: hulle was tot artistieke ondergang gedoem. Is 'n kunstenaar wat sigself meer en meer terugtrek in sy individuele emosies groter as 'n man wat hom vereenselwig met sy volk en trag om die gevoelens en die sielelewe van sy volk uit te druk?
Mag ons Kloos ophemel en Adama van Scheltema veroordeel as ‘goedkoop’, omdat hy trag om 'n volksdigter te wees? En van 'n kulturele standpunt gesien: wie van die twee het meer vir sy volk gedoen: die man wat die snaar laat tril, wat die volksiel laat saam sing, of die man wat net vir homself musiek maak? In hierdie opsig is Van Wouw soos A.G. Visser, en dis nie aan ons om te oordeel nie.
Laat ons nou deur 'n kort bespreking van 'n paar afsonderlike kunswerke ons waardering nog 'n bietjie verduidelik. As ons die monumente, wat algemeen bekend is, buite bespreking laat, kan ons Van Wouw se werk verdeel in historiese groepe en persone, portrette en, ten slotte, naturelle-materiaal. Dat 'n Afrikaanse beeldhouer so baie aandag aan die naturel gegee het, is begryplik; veral die realistiese beeldhouer wat meer nadruk op die getroue weergawe van die liggaamsvorms as op die geestelike waarde agter die vorms lê, vind in die naturel 'n pragtige materiaal.
Neem ons nou eerste die portrette. Vertoon ‘Christiaan de Wet’ nie al die tipiese trekke waardeur sy markante kop ons nog altyd voor oë staan nie? Maar meer as dit: Spreek uit die kop ook nie die liefde wat begryp en | |
[pagina 70]
| |
bewonder, van die kunstenaar vir sy objek nie? Hoe spreek die oë, wat tog net uit gips gemaak is, met 'n klein stafie in die middel? Uit gips! Ja, want Van Wouw het nooit die kans gekry om hierdie beeld in brons te laat giet nie. Die werk was inspirasie, maar waar bly die Vrystaters om daardie kop in duursame materiaal te laat uitvoer? 'n Ander ereskuld wat op ons nasie rus! En wat van Oom Koos de la Rey? Is dit nie die Spaanse ‘grande’ onder sy voorouers, wat Van Wouw hier intuïtief gevoel het en vasgelê het in die aristokratiese trekke van die smal kop nie? Al die portrette van die Boere-leiers is tot in die fynste lyntjies uitgewerk, in teenstelling met party van die Kafferkoppe (Slapende Kaffer, p. 77), waar die gees minder sy stempel op die gesig gedruk het: die kultuurmens teenoor die natuurmens. Maar by die Kaffers is dit meer elke spierbondeltjie wat tot sy reg kom, elke huidplooitjie in die nek, elke hoekie, waar die geraamte sig wys onder die huid. Stryk die ‘Daggaroker’ (‘Nuwe Brandwag’, 1930, I, 8) oor sy rug en 'n mens sal die bou van die ribbe voel, waar jy dit amper nie met die oog kan waarneem nie. En kyk so'n bietjie na die spanning in die gekromde voetsole. Let by die slapende Kaffer op die vormlose wat die hele figuur gekry het en wat ook geestelike vormloosheid uitdruk. Maar dan weer die selfbewustheid van 'n eenvoudige Soeloe-bediende (p. 93), waarvan die kunstenaar nog 'n ander pragtige beeld gemaak het, met 'n kopdoek, drinkende uit 'n koppie wat hy met albei sy hande aan sy mond bring. (Daardie Soeloe het hulle in die Kaapstadse museum ‘American Negro’ gedoop!) Net so selfbewus, maar nou meer van sy krag as van sy gees, die Shangaan in vegtershouding, met die dreiging van die een opgetrokke skouer. Weer anders die Mosotho voor die magistraat, wagtende vir sy vonnis met 'n wonderlike, bokant die aardse dinge verhewe onverskilligheid, wat heeltemaal goed saamstem met die effens Mongoolse tiepe. Uitstekend van anatomiese bou is ook die borsbeeld van 'n amper honderdjarige Boesman, veral omdat die struktuur van daardie kop eenvoudig spot met ons normale anatomiese kennis. Al hierdie beelde dra absoluut 'n statiese karakter, hulle dui 'n toestand aan, nie 'n moment nie. Dit geld selfs vir die ‘Slegte nuus’, ondanks die opskrif. Kyk maar na die gestrekt afhangende hande, 'n tipiese Boeregewoonte. Was dit 'n ‘momentopname’, dan sou daardie hande tot vuiste gebal wees. Minder goed is dit in die Kruger-standbeeld, maar pragtig in die Vrouemonument, waar die twee figure sonder enige styfheid staan vir twee begrippe: lyding en volharding. Die enigste losstaande dier-figuur, wat nog van Van Wouw bekend is, is die fyn elegante ‘Duikertjie’ op die graf van koning Kama in Serowe. Die | |
[pagina 71]
| |
kunstenaar sou nie Van Wouw wees nie as hy daarvoor nie 'n egte duikertjie uit die dieretuin in leenbruik gekry het nie. Dit werk natuurlik taamlik dinamies op die toeskouer. Baie sterker nog is dit die geval met een van sy laaste werke: 'n tingerige Boere-vrou, met 'n groot kappie op, saamgeklemde hande en 'n ekstaties vertrokke gesig: 'n Voortrekkervrou, wat die Vryheid voor haar geestesoog sien, die vryheid wat kom, maar wat nog ver is. Hierdie beeld is van 'n Barokagtige hartstog in bewoënheid, wat 'n skerpe kontras vorm met die figure van die Vroue-monument. Dinamies ten slotte ook is die fries bedoeld wat voor aan die Johannesburgse stasie pryk. Ons moet egter eerlik wees en beken dat hierdie werk ons glad nie kan bekoor nie, maar dis die skuld nie van Van Wouw nie, maar van sy opdraggewers. Hoe meer 'n mens daardie gebou sien, hoe meer jy tot die konklusie kom dat die saamwerking van al die beeldende kunstenaars daar tog maar 'n vrome wens gebly het. Hoe meer ek Pierneef se dekoratiewe landskappe aanskou, hoe meer ek begin voel dat hulle minstens tien voet te hoog geplaas is om op hulle regte waarde geskat te word. Maar baie slegter is nog die plasing van Van Wouw se fries, wat, self nie hoër as drie voet nie, hoog in die lug hang en om sy skynbare wankelheid bepaald gesteun moes word deur 'n paar monsteragtige olifantskoppe, met slurwe soos klerehake! Verder was dit 'n materiaal wat miskien in die gebou gepas het, maar wat vir Van Wouw seker minderwaardig was, en ten slotte is die aard van die voorstelling: die ontwikkeling van die verkeer in Suid-Afrika in die loop van die eeue - 'n opdrag wat meer eise aan die fantasie as aan die realiteitsin stel - absoluut in stryd met Van Wouw se artistieke karakter. Die mislukking van hierdie werk is 'n bewys te meer vir my stelling dat Van Wouw 'n ras-kunstenaar is.... solank as hy aan homself getrou bly. Daar is nog een ding, waarop ons wil wys, en waarin ons Van Wouw, aan ander kunstenaars, tot 'n voorbeeld wil stel, en dit is die pragtige tegniek van die afgietsels in brons wat hy laat maak. Giovanni Nisini in Rome, wat vir hom die gietwerk doen, is 'n meester in sy vak, wat self daarin geslaag het om met behulp van was, van egte orgideë afgietsels te kry (in Van Wouw se besit). Die beurtelings groenbruin- en goudagtige bronskleure wat Nisini te voorskyn tower, help veral by die naturellebeelde om die realistiese karakter te versterk. En nog is Van Wouw nie tevrede nie en poets hy sy beelde amper elke dag nog mooier, en party van die patineerwerk doen hy nog self. Nie tevrede met homself nie, nou nie en nooit nie, dis die diepste karaktertrek van hierdie kunstenaar, van hierdie werker, en waarskynlik is juis daardeur Anton van Wouw so groot. M. BOKHORST. |
|