| |
| |
| |
Oor Boeke.
Die plaasverdeling. Deur Abr. H. Jonker, J.L. van Schaik, Bepk., Pretoria, 1932. 7/-.
'n Jong skrywer van belofte is Abr. Jonker. Van hom het reeds verskyn ‘Gebeurtenisse’ en ‘Die Kanker van die Jare’. Daarin het hy met fantasie en 'n vlot vertellingswys verras. In eersgenoemde werk word interessante kykies in die lewe van die ou Transvaal gegee, in laasgenoemde word die geskiedenis van 'n moord behandel. Albei is met veel talent geskrywe en kan as boeiende lektuur aanbeveel word.
Met ‘Die Plaasverdeling’ word nie alleen 'n roman van groter opset aangebied nie, maar die avontuur maak nou plek vir indringing in die menslike siel en in die noodlot van karakter.
Plattelandsverarming en plaasverlating is ook hier die motief, by die verdeling van 'n plaas en by die geestesontoereikendheid van 'n onselfstandige sukkelaar. Ons maak kennis met Antonie en Jacob Reys, die twee seuns van 'n ou Karrooboer. Eersgenoemde, met sy agterlike verstand en gebrek aan selfstandigheid, goedgelowig en kinderlik naïef, sorg met sy Ampieuiterlik (en trots) vir die vee-afdeling, en Jacob, die man van sake, vir die saaiery. Daar is nog 'n broer. Hannes, wat gestudeer het, maar buite dinge staan as die ou vader te sterwe kom. Die plaasverdeling word deur die pientere Jacob so gereël dat Tonie met die slegste rante en 'n armoedige klomp veetjies bly sit en só natuurlik heel gou deur die aanhoudende droogte en die opgelope skuld uitboer en 'n armblanke-trekker word.
Met volkome beheersing van sy materiaal en ook met intuïsie bou Jonker sy realistiese stemmingsbeeld van patetiese bestaan.
Sy vernaamste sukses behaal hy met sy karaktertekening, wat van die suiwerste is in Afrikaans.
Weliswaar is daar in die groot omvang van die boek op 'n teveel en ook, soms, op 'n temin te wys. Eersgenoemde geld b.v. sulke mededelinge soos oor die kinders in die begin van hfst. XII - tensy ons dié as breë grondlegging moet beskou vir die eventuele vervolgdele. Die temin geld veral enkele belangrike byfigure, soos ons sal aandui.
Jonker het die plaasverdeling in sy psigologiese betekenis vir die betrokke persone uiteengesit. Dit word dus meer as 'n blote verdeling van eiendom - wat ook die groot opset regverdig -; dit word 'n verdeling tussen selfhandhawing en verval, 'n verdeling tussen twee menssoorte. Hierby was die gevaar van 'n voorbedagte voorstelling groot, om nl. van Jacob alleen die sluwe te maak en van Antonie òf 'n karikatuurvoorstelling òf 'n melodramatiese beligting te gee. En dis 'n verdienste van Jonker dat hy bedoelingloos en objektief kon deurdring in sy mense.
Jacob, aanvanklik tamelik hard gesien - die verhouding tot Hannes kon breër uitgewerk gewees het, ook wat sy beskerming van sy minderbedeelde broer betref - oortuig deur sy logiese handelwyse en staan ten slotte in sy wesenlike besorgdheid oor sy broer eg-menslik voor ons. Hy word gesteun deur sy vrou Ester. Om taktiese redes slaan sy 'n ironiese gedragslyn in. Kompositories is dit knap gesien dat elkeen, ook hierdie man en vrou, buite die ander se lewe staan, langs mekaar verbydink, en daardeur juis met mekaar saamstem! Die gegewe is so ryk dat dit my
| |
| |
spyt dat Jonker se realisme daarmee nie hoër gestyg het nie - vgl. p. 263, laaste alinea; p. 268. Maar die vinding self, en die sukses daarmee bereik, beloof veel vir die vervolg.
Uit die aard van die saak val daar meer lig op Antonie. Hy bly voor ons staan - hierdie tingerige mannetjie met sy pieperige gemoedjie en safte verstandjie, met sy naïewe selfgevoel voor sy vrou, sy skuheid voor elke vertoon van krag, sy hulpelose berusting. Mooi realistiese fragmente is hier aan te haal. Sien bv. Antonie aan die stroppe draai, p. 95 vlg., of die twee gesinne om die huistafel, voor die dood van die vader, p. 149 vgl.; en veral die plaasverdeling self, veral van p. 292. My laaste voorbeeld sal die leser tewens oortuig hoe knap Jonker al so 'n hoofstuk kan bou.
Waar Jonker, op menige plek, indringend die natuur sien en atmosfeer kan skep, daar verlang die leser miskien dat die natuur as simboliese mag sterker kon aangewend gewees het. Tog moet ons in hierdie verband daaraan dink dat stilisties die konsepsie veral te doen het met ondergang deur eie innerlike struktuur. 'n Mens voel dit in so 'n besonderheid soos Antonie se opgaan in die heerlikheid van die draadomheining. Die dreiging van die droogte tel nouliks mee by sy ingenomenheid oor die blink draad wat stukkie vir stukkie sy grond sy plaas maak. Wat hom kleinkry is minder die droogte as die Jood en die draad - en daarop word tereg die klem gelê -, en so word dit simbolies van innerlike verknegting en verdroging.
Ek het hierdie roman met groot belangstelling gelees en verwelkom die suiwerheid van realisme daarin en daardeur die feit dat ons jong skrywers hul siel, onbevooroordeeld, gaan oopstel vir begrip van die hul omringende wêreld. Waar die skrywer reeds besig is met die vervolg, wil ons hoop dat hom die tyd sal gegun word vir nog rustiger oorgawe aan sy lewensgevoel, vir nog strakker sielsbeweging, waardeur die alledaagse opstreef na 'n waarheid ‘die niet is voor d'oogen’.
FRANÇOIS MALHERBE.
Stellenbosch.
| |
Simson. Deur C.M. van den Heever. Nasionale Pers, Kaapstad, 1932. 4/6.
Dr. C.M. van den Heever, wat as kritikus hom reeds onderskei het as ernstige literator met 'n suiwer oordeel, en bekendheid verwerf het as romancier, toon hom met hierdie bundel ook een van ons beste novelliste.
In sy eerste gedigte en in sy romans ‘Langs die Grootpad’ (1928) en ‘Droogte’ (1930) het ons hom leer ken as iemand met 'n besonder gevoelige innerlike, veral ten opsigte van lewenssmart, menslike begrensing en heimwee na die onbereikbare of die verlorene. Sy styl het daarmee al die kenmerke vertoon van die jeugdige Faustiese siel, en het, op sy beste, uitdrukking gevind in 'n soort impressionisme, soos in ‘Droogte’, wat geheel nuut is in Afrikaans.
Weliswaar het die romantiek van sy verhale nog veelal vasgesit aan die ou procédé van die Romantiek, waarby die kunstenaar weleens in die gedrang gekom het. So is die romantiek in sy jeugwerk nog te swoel, die konsepsie, bou, psigologie - veral by die oplossing van probleme - nog te weinig oortuigend en die simboliek te opsigtig, maar uit sy taal, ten spyte soms van hinderlike beeldspraak, het 'n vreugde oor die dinge en 'n lus om hulle te beskrywe gestraal, wat ons die oortollighede en onvolkomenhede laat vergeet het. Reeds in ‘Droogte’ het hy groter beheerstheid, indringing in atmosfeer gegee, en hoewel die skoonheid daarin nog in onderdele gelê het, het dié waardevoller geword.
Met hierdie bundel, ‘Simson’, toon hy vooruitgang in elke opsig. Duidelik groei hy in kunstenaarskap.
Die konsepsie van die verhale is veel strakker, die grondidee veel essensiëler
| |
| |
verbeeld en psigologies verantwoord, sielselementêre waardes styg spontaner uit bo die feitelikheid van die besondere geval... die lyn van beskouing is innerlik gevorm, essensiëler volgehou, eenvoudiger dus geword.
Waarmee nog nie gesê is dat die verhale in elke opsig reeds ‘af’ is nie. 'n Enkele beswaar wil ek hier noem naas verdere aanduiding van sy vooruitgang.
Soos vroeër is dit veral die besef van lewensgebondenheid en tragiek, die kleinheid en magteloosheid van ons menssyr. teenoor die ontsettende magte wat in en om ons regeer, wat hy verbeeld, en liefs met dramatiese gespannenheid, teen die ewige dreuning van die see, of, met innige smartbesef, onder die wyd-koepelende misterie van die nag... Die natuursimboliek hierin is nie langer blote allegorie of blote natuurvergelyking van vroeër nie, maar opsigself gesien en só, dat dit direk ekspressief word van menslike gebeure. So word die romantiek van die literator meer en meer oorwin deur die groeiende werklikheid van die kunstenaar...
Ons weet dit: die siel van die kunstenaar vorm en vervorm die lyne van elke feitelike gebeure; en so kom daar in sy uitdrukking as geheel die ritme en musikaliteit wat die wese is van alle kuns. Maar daarvan kan eers sprake wees as die kunstenaar sy eie, oorwonne werklikheid vir ons bring. Eers dán kan dit meedein met die vloei van waaragtige lewe. Waar Van den Heever in hierdie opsig groei, wil dit sê dat hy meer en meer in staat word om vormlewe te verwek in die taalmateriaal - die enigste waarheid ook van die taalkunstenaar, en 'n waarheid, wat hoe langsaam ook, eindelik selfs in Suid-Afrika sal deurdring.
Die bedoelinglose skeppingwerk van Van den Heever is dan ook so heeltemal iets anders as die blote vernufswerk van menige skrywer by ons.
Die sterkste bereik Van den Heever dit in sy beelding van botsende drifte, met die klimaks van verbrekende krag. Veral voel hy hom aangetrokke tot 'n sekere oudtestamentiese ongenaakbaarheid van persoonlikheid, soos ons dié nog aantref op die platteland. So het die blinde woede in ‘Verbittering’, die uitlaaiende verontwaardiging in ‘Vadersmart’, maar ook 'n titaniese geweld in ‘Simson’, of die siedende wrok in ‘Broedertwis’, met meegierende natuurgeweld, van die sterkste prosa in Afrikaans opgelewer.
Maar ook die treurnis om die onbereikbare ween uit op menige bladsy....
'n Tweede punt wat ek hier wil noem, is die vooruitgang in die intrige en bou van sy verhale. ‘Verbittering’ is hier 'n goeie voorbeeld. Daarin is die ritmiese dwang van suiwere skepping. Dit is inderdaad 'n novelle, 'n kortverhaal soos ons dit verkies te noem om die vormvolmaking sedert die 19de eeu, en nie net 'n kort verhaal nie. Daarin die strakke konsepsie van die kortverhaal, die heel eie bou van 'n spesiale vormidee. In die konsepsie-as-geheel en in sy onderdele, t.w. milieu, karaktertekening, dialoog, beskrywing is daar die eenheidsritme van 'n persoonlikheid ten opsigte van 'n lewensbegrip. En daarin weer die essensiële nuancering, die deining van aanvang, oor hoogtepunt, tot natuurlike vervloeiing in stilte - hier die stilte van die dood na die lewensdeining en lewensstorm, met sy sonnige kabbeling tussenin. En alles as visioen. Ongetwyfeld die beste voorbeeld van die kortverhaal as kunsvorm in Afrikaans.
Waar die konsepsie self op 'n enkele plek vervaag, verloop die verhaal minder oortuigend of slap, soos die slot van ‘Wending’ en ‘Terug na die See’.
In sommige verhale is daar nog 'n tekort aan skeppende fantasie. Veral ‘Simson’ toon leemtes in hierdie opsig. Die vonds van Miemie as duiwelagtig in haar onmenslike wreedheid, om daardeur die logiese gang van die held te verantwoord, werk onoortuigend op die leser; soos ook die siening van Andries as ‘tergerige,
| |
| |
nare vent’ wat tot die onmenslikste wreedheid in staat is, sonder meer ons as oppervlakkige vinding aandoen.
Sy vooruitgang in natuursimboliek gee vertroue dat hy sal waak teen clichés van die soort ‘soos snelverskietende sterre aan die glansende hemel’.
Maar suiwerheid van klankekspressie is te prys op menige bladsy. Vergelyk die knap storm-op-see, bis. 128, of die ritme en musikaliteit van so 'n gewaarwoording:
‘Die golwe bult hoog op, en skuimend breek die lang watervalle, verruisend in blanke kabbeling oor die strand. Dit trek terug, suigend en rimpelend, invouend onder 'n aanrollende golf, en dan volg die aandreuning weer, oorklotsend die donkergladde rotse met 'n oorskietende en neerswiepende sneeu-reën.’
Daarenteen in die sin:
‘In die wit hotel, wat tussen die wildepiesangbome uitloer, dou die vakansierus saggies op hulle neer, en nadat hulle tec gedrink het, gaan hulle 'n entjie langs die see loop.’
- - daarin is die woord ‘uitloer’ oue, die woord ‘dou’ nuwe retoriek; teen albei moet gewaak word.
Ook is die styl, volgens die gegewe konsepsie, nog nie oral tot volle eenheid gegroei nie. Vergelyk bis. 1 en bis. 2 in verband met Simson se innerlike gewaarwordinge. Dit sal jy nie maklik kry nie. Maar alweer in dieselfde verhaal is daar 'n donkere kragswoeling wat naas die beste van elders te plaas is.
Alleraangenaams is die studie van hierdie bundel.
Sy vernaamste verworwenheid is tot dusver dat ook Van den Heever meer en meer leer ‘om die inwendige wonder van natuurverskynsels aan te voel en innig te verstaan’ - natuurverskynsels in ruime sin, dus ook die mens insluitende.
Hierdie bundel is my besonder welkom, nie alleen om die geacheveerde daarin nie, maar ook om die wesenlike belofte wat dit inhou vir verdere ontwikkeling in die diepte en só ook vir die veredeling van Afrikaans.
FRANÇOIS MALHERBE.
Stellenbosch.
| |
Dr. K.H. de Raaf en J.J. Griss: Een nieuwe bundel. Deel III-V, derde druk; stroomingen en gestalten, tweede druk. W.L. en J. Brusse's U.M., Rotterdam.
Hierdie drie dele van die bekende bloemlesing, wat in 'n duurdere uitgawe in stempelband verskyn onder die titel ‘Zeven Eeuwen’, dek die hele terrein van die Nederlandse Lettere van die 13e Eeu tot hede. Dele I en II is leesboeke vir die middelbare skool. Aan deel V en aan ‘Stroomingen en Gestalten’ het dr. Donkersloot (Anthony Donker) sy medewerking verleen deur die literatuur na 1914 te behandel.
Dit word mode onder resensente om hulle baie uit die hoogte uit te laat oor bloemlesings. Ongetwyfeld skuil daar 'n gevaar in die gebruik daarvan; dit kan lei tot dilettantisme en werk in die hand dat die oppervlakkige student die lewende werke verbyloop en hom tevrede stel met 'n paar deur die offisiële kenners tot meesterstukke verklaarde fragmente of afsonderlike produkte. Dit neem egter nie weg nie dat 'n goeie bloemlesing vir die beginner en vir die geïnteresseerde leek 'n onmisbare hulpmiddel is en 'n dierbare vriend kan word. So'n waardevolle hulpmiddel kan die bloemlesing van De Raaf en Griss vir die ernstige student wees. Hierdie reeks lywige dele bevat 'n kosbare skat van skoonheid. Natuurlik sal elke beoordelaar van 'n bloemlesing altyd ruime stof tot kritiek hê, omdat letterkundige smaak en insig gelukkig so sterk verskil. As die dosent wat hierdie bloemlesing gebruik, sy kritiek goed motiveer, kan dit
| |
| |
die uitgangspunt wees vir 'n insiggewende bespreking van die betrokke outeur of stroming en die student prikkel tot die vorm van 'n eie oordeel.
Ek wil dan ook nie 'n uitvoerige kritiek gee nie, maar tog 'n paar opmerkinge maak. In deel III volg die samestellers 'n heel verstandige metode deur van die fragment uit Spieghel se literêr-histories so belangrike ‘Hertspieghel’ 'n parafrase te gee. Dullaert, wat in die eerste druk uitgelaat was, is nou gelukkig verteenwoordig deur twee van sy mooiste sonnette. Hoort die volledige ‘Gijsbrecht’ in 'n bloemlesing tuis? Goed gesien is dit om in deel IV 'n sestal van die mooiste beryminge van die psalms op te neem. Maar mag Elizabeth Post met haar mooi prosa hier ontbreek? In deel V doen dit sonderling aan dat van Derk slegs ‘Iris’ opgeneem is en geen enkele sonnet nie. Tenspyte van die opmerkinge oor die latere poësie van Kloos sal daar nie veel wees wat hulle kan verenig met die keuse van gedigte soos ‘Potgieter’ of ‘Dieper Levensinkijk’ nie. By alle verskil van waardebepaling wat daar moontlik is ten opsigte van Verwey as digter, doen dit tog dwaas aan dat aan onbetekenende figure soos Speenhoff en Jeanne Reyneke van Stuwe meer plaasruimte toegeken word as aan hierdie Tagtiger. Hierdie gebrek aan objektiviteit word nog geaksentueer deurdat daar van sy diepsinnige, van fyn aanvoeling getuigende en pragtig gestileerde beskouinge oor literatuur en kuns niks opgeneem is nie.
So sal die verder gevorderde student heelwat stof tot kritiek kry - laat ons hoop dat dit vir hom 'n prikkel sal wees om hom duideliker rekenskap te gee van sy waardebepaling.
'n Waardevolle aanvulling is die laaste gedeelte van deel V waarin dr. Donkersloot 'n keuse doen uit die literatuur na 1914 - veral vir ons in Suid-Afrika kan dit goeie dienste bewys.
Oor ‘Stroomingen en Gestalten’ wat op ons Universiteite baie gebruik word. hoef ek seker niks te sê nie. Die hoofstuk van dr. Donkersloot oor die jongste letterkunde is 'n welkome aanwins daarin.
Hierdie werk van De Raaf en Griss is 'n waardevolle hulpmiddel by die studie van die Nederlandse letterkunde en bevat 'n skat van skoonheid.
G. DEKKER.
| |
Gedichten door Jac. van Looy, 1884-1925. A.W. Sijthoff's U.M., Leiden, 1932.
‘Naar allen die van Jacobus van Looy houden, gaat deze heen, ik weet hij zal zijn vrienden wel altyd vinden.’ Met hierdie woorde bied mevrou Titia Van Looy-Van Gelder ons die digterlike nalatenskap aan van haar man aan. Is daar in die hele Nederlandse letterkunde een kunstenaar wat vriende besit in die sin wat Van Looy hulle besit? Nie slegs bewonderaars nie, nie slegs dankbaar ontroerdes deur die skoonheid van sy kuns nie, maar vriende wat 'n warmte in hulle hart voel as hulle sy werke sien staan of na sy gemoedelike, oer-Hollandse, geestige kop kyk. Hierdie vriende dink nie in die eerste plek aan die siener van lig en kleur, aan die visionêr van die oëskoon met sy verbluffende skilderstalent nie, maar aan die mens wat hulle reeds agter daardie sketse gevoel het, aan die innigmenslike dromer Jaapje-Van Looy, aan die mymeraar Zebedeus, met sy bekoorlike, speelse fantasieë, sy geestige lewenswysheid en humor, die vrug van 'n seldsaam harmoniese lewe, sy fyn kunsbeskouinge en guitige kritiek, geuit na 'n lang lewe van troue, oorgegewe arbeid volgens die besef van eie kunstenaarswese en buite skool en leuses om. Daardie Van Looy bly vir ons nie slegs 'n geniale kunstenaar, 'n skrywer nie - uit sy werke klink die stem van 'n mens, wie se vriendskap ons vir ons kan verower tot 'n lewenslange vreugde.
En nou skenk mevrou Van Looy ons 'n skone gedagtenis aan hierdie vriend.
| |
| |
Van Looy is nie in die eerste plek digter nie. Tog herken ons ook in hierdie verse sy stem. Die meeste van hierdie gedigte ken sy vriende al - hulle lê verspreid in tydskrifte en in ‘De Wonderlijke Avonturen’. Dis 'n ryke verskeidenheid van verse wat die beeld van Van Looy as mens en as kunstenaar duidelik voor ons oproep en wat ons verrassend herinner aan sy skilderwerk. Daar is tal van stemmingsonette uit die jare van ‘Tagtig’, met telkens die karakteristieke individualistiese selfbeklag.
Als 'k lag versomberd in mijne eigen pijn,
In een der velen, eigen aan mijn leven.
Hy styg egter gewoonlik uit bo die blote stemming. Daar is 'n paar sonnette wat die lesers van ‘Jaapje’ as 'n kosbare aanwins sal beskou. Daar is die skone ‘Ode aan Rembrandt’ en ‘Voor Rembrandt's Standbeeld’. Daar is gedigte van 'n ruige krag, soos die siening van die Middeleeue op bl. 28. Wat 'n lugubere siening à la Gericault of Delacroix in ‘By eene fotografie’, en wat 'n mooi natuursiening in ‘De Dood van den ouden Triton’. Ontroerend is die deernis van ‘Van een ziek kindje’. Ook is verskillende liedjies uit ‘De Wonderlijke Avonturen’ oorgeneem.
Hierdie poësie munt nie uit deur spontane sang nie; daar is dikwels 'n sinvolle gewrongenheid. Telkens word ons egter getref deur die visionêre gloed wat daaruit opslaan, miskien nêrens so sterk as in die volgende sonnet nie:
Zoo uit woestijn waar schril de keemlen loeien,
Oei, oeie, oei, het huilt uit de Oceaan. -
Sleep-stappende, met trotsch en stadig moeien,
Zij dragen eens de volle korven aan. -
Na, sombre karavaan na karavaan,
Veel macht'ger bulten uit den nacht aangroeien;
Gecharterd en bevracht, bepakt, belaân,
O hoornen, bol van weelde, aan 't overvloeien. -
Wel is het weelde, ál bruikbaar, ál gemak;
Word' van die weelde ook een land een wrak,
Ga voor dien zegen ook een grootre henen. -
Oei, oeie, oei, o nacht, nacht zwaar van weenen,
Zwart', tuchtelooze nacht vol schennerijen;
Het loeit uit zee, uit zee de waatren schreien.
In die ‘Voorbericht’ gee mevrou Van Looy rekenskap van die keuse en rangskikking van die stukke. Die boek is opgeluister met 'n portret van Van Looy deur Willem Witsen en 'n selfportret van 1927. Alle vriende van Van Looy sal hierdie uitgawe aanvaar as 'n kosbare geskenk.
G. DEKKER.
| |
Simon van der stel's Journal of his Expedition to Namaqualand, 1685-1686, edited by G. Waterhouse, Longmans, Green and Co., London, New York, Toronto. Hodges, Figgis and Co., Dublin. 1932.
Hierdie pragtig uitgevoerde uitgawe van Waterhouse sal die belangstelling trek nie slegs van historici nie, maar ook van plantkundiges, dierkundiges en natuurliefhebbers. Meer nog: omdat dit so'n interessante beeld gee van die plante- en dierelewe van ons land 'n paar eeue gelede, is dit 'n werk van algemeen-kulturele waarde. Daarom is 'n bespreking daarvan in hierdie tydskrif nie misplaas nie. Hoewel ek dit hoofsaaklik van plantkundige standpunt bespreek, is daar ander aspekte wat ewe belangrik is.
Vooraf 'n paar woorde oor die geskiedenis van die dokument en van sy ontstaan. Volgens Theal het die Namakwas in 1681 uit die noorde in die Kaap aangekom met kopererts. As gevolg van die besluit van die Kompanjie om die kopervelde te gaan soek, vertrek die eerste ekspedisie in 1682
| |
| |
onder Bergh, maar weens droogte keer hy onverrigtersake terug. In 1683 gaan hy weer op 'n soektog, en dié keer bring hy dit tot aan die Olifantsrivier, maar verder noordwaarts is dit droog, daar dit toe in dié streek die afgelope twaalf maande nie gereën het nie. In 1685 dra kommissaris Van Reede aan Simon van der Stel op om self met 'n ekspedisie uit te gaan om na die kopervelde te soek.
Saam met die ekspedisie was 'n sekere Claudius, wat ook saam met Bergh se geselskap gewees het en aan wie opgedra was om veral aantekeninge van die plante- en dierelewe te maak. Hy was van Batavia deur 'n sekere dokter gestuur om plante aan die Kaap te versamel. As gevolg van sy bekwaamheid het die Kompanjie hom hier gehou.
Waterhouse is van mening dat die dokument wat in die voor my liggende uitgawe afgedruk is, die offisiële en verkorte redaksie van die oorspronklike reisbeskrywing is. Daar bestaan ook die moontlikheid dat daar afskrifte van die verkorte redaksie of van die oorspronklike gemaak is, maar almal het blykbaar verlore gegaan behalwe die een wat nou in die biblioteek van Trinity-Kollege ontdek is. Die offisiële dokument is in 1691 of 1692 uit die Kompanjie se argiewe verwyder. In 1802 koop Trinity-Kollege die Fagel-biblioteek aan; en onder hierdie versameling het Waterhouse in 1922 die dokument ontdek. Daar bestaan ook beskrywinge deur Valentijn en deur Moodie van Simon van der Stel se reis, wat volgens Waterhouse baie breedvoeriger is maar blykbaar nie die sketse en aantekeninge oor die plante en diere van die Trinity-manuskrip bevat nie. Valentijn het moontlik sy gegewens van die oorspronklike konsep-beskrywing gekry. Theal gee ook 'n beskrywing van hierdie ekspedisie, maar, soos Waterhouse daarop wys, stem dit meer ooreen met die van Valentijn as met die van die Trinitymanuskrip.
Van plantkundige standpunt is hierdie dokument van besonder groot waarde, daar dit in die eerste plek een van die vroegste reisbeskrywinge is waarin 'n pragtige oorsig gegee word van die land tussen die Kaap en die Koperberge en daarvandaan deur die Namib-woestyn tot aan die see. Hierdie oorsig word ons gegee in die daaglikse aantekeninge oor die fisiese en planteformasies; en oor die klimaatstoestande. Daar is ook waarneminge gemaak van die grond vir landboudoeleindes. Soos Waterhouse egter tereg in die aantekeninge, p. 171, opmerk, is ‘die observasies van die Kommandeur soms slegs tot op 30’ korrek, sodat dit moeilik gaan om die pad wat hulle getrek het, op 'n teenswoordige landkaart vas te stel’. In elk geval is sommige van die beskrewe streke, b.v., ‘Ribeecx Casteel’, ‘Paerden Bergh’, ‘Eliphants Jacht’, e.a. tog nog bekend onder dieselfde naam.
Toe hulle op reis gegaan het, was dit min of meer aan die einde van die reënseisoen van die Suidwestelike streek om die Kaap. Tot aan die Olifantsrivier was daar ‘overvloedigh water en gras’ en dikwels het hulle deur vlaktes getrek wat ‘moerassigh en saft was, oorsaecke de swaeren regentydt, waer door het land met 't water dat vande hoogte afkomt 't eenemael doorsypt en onbequaem werd....’ Soos gesê, bevat die dokument oral pragtige beskrywinge van die fisiese, topografiese en ekologiese eienskappe van die verskeie omgewings. So kry ons, b.v., van die omgewing van die ‘kleyne paerden bergh’: - ‘... geseyde riviertjie over gegaen synde quaemen wy aen een hoogen heuwel, die wy op marcheerden daar boven komende was den selven wel voorsien van branthout, en inde laagte met seer schoone valeyen, die door de natuur met bloemen van allerhande coleuren als besaeyt waeren, en ook overvloedigh gras tot vermaeck vanden aenschouwer...’ In die omtrek van ‘Ribeecx Casteel’ is ‘alle meest heuvelachtigh landt de gronden sand en keyachtigh ook meest met lies en ruygte bewassen, doorsneden met verscheyde loopende spruytjes...’. Naby die ‘honingh
| |
| |
bergen’ is ‘meest alle sandige en Steenachtige heuvelen uytgenomen achter de honingh bergen.... synde rooden kley gront wel met gras bewassen’. By die ‘pieket Bergh’ is daar schoone kley en saverachtige gronden overvloedigh met gras en wilde haver bewassen...’
Van die ‘Eliphants valey’ het die reis ‘door moerasachtige vlacktens, als oock schrale sand gronden, seer wild bewassen met lies, ruygte en geen gras...’ In die omgewing van die ‘Baviaens bergh’ is daar ‘veele heuvelen die alle sandig en klipachtigh waeren bewassen met ruygte en kreupel bosch...’ en die oewers van die riviere en spruite ‘bewassen met doorn geboomte... en beset met schoon gras’. By die Koperberge is die hange van die koppe en berge met aloes en struike begroei. Die ekspedisie tref dit in hierdie Karroo-streek nogal gelukkig, daar dit hier kort tevore gereën het, want, soos ‘d'Amacquas’ hulle vertel, ‘is dese voorleden regen tyd d'eenigste geweest, die dit landt in vier jaeren bevochtigt heeft..’ Hierdie mededeling stem heeltemaal ooreen met die geskiedkundige gegewens omtrent Bergh se reiservaringe van 1683. Oordag was dit hier soms ‘uytnemende warm’, en die winde wat waai, begin soggends uit die noorde en waai teen die agtermiddag uit die suidweste.
Die Namib tot aan die see is ‘geheel sandigh en overal met kreupel doornbosch bewassen... gras noch hout was hier niet’, en daar is soms ‘niet het minste water’. Enkele van die riviere het nog 'n bietjie water wat in die meeste gevalle brak is. Origens is hulle droog, vol sand en soms ook begroei met gras en riete. In die sand in die riviere grawe hulle soms vir water. Die hitte hier was ook ondraaglik.
Dit blyk uit die dokument dat hulle moontlik vir die eerste maal in die nabyheid van die Olifantsrivier 'n vlakte teengekom het waarin renosterbos groei. As dit so is, lyk dit asof die renosterbos hom eers later as gevolg van die uittrap van die veld deur vee en deur die ploeëry in 'n suidelike rigting versprei het, om die veld daar in te neem, sodat die boer vandag dit met hand en tand moet beveg om die waarde van sy plaas nie te laat daal nie.
Die tweede deel van die dokument, soos deur Waterhouse uitgegee, bevat beskrywinge en drie-en-veertig sketse van plante wat, sover ek kan uitvind, nie in 'n enkele vorige reisbeskrywing gegee word nie. Veral hierin lê die waarde van ons dokument. Afgesien hiervan is die beskrywinge en die sketse van die plante so goed, dat dit die vergelyking met soortgelyke moderne werk goed kan deurstaan. Een voorbeeld sal vir sigself spreek: ‘866. Deese Heyster groeyt aan vele dorre en sandige plaatsen draagt een soort van kerssen aangenaam en Rhins van smaak, die de gesonde verkoelt, en den reysenden man syn dorst verslaat, en hem seer wel te passe komt word by d'Inwoonders Cargoe genaamt. den 17:7br gevonden.’
Die beskrywinge bevat dus besonderhede omtrent elke plant se gewoonte en groeiplek, en waarvoor dit gebruik word en gee byna deurgaans die naam waaronder die inboorlinge die plant geken het, en in sommige gevalle word die plantkundige naam ook gegee. Die sketse van die plante en diere het Claudius in die veld gedoen en op die agterkant van die plate die aantekeninge geskryf. Die sketse is so deeglik gedoen dat die plante wat hy geskets het, in die meeste gevalle nog herken kon word.
Ná die oorspronklike volg in Waterhouse 'n noukeurige vertaling in Engels, voorsien van die nodige leestekens, wat maak dat dit dikwels makliker lees as die Hollands.
Almal wat belangstel in die geskiedenis van ons land, nie alleen die staatkundige geskiedenis nie maar ook die natuurlike geskiedenis, die natuurskoonheid en die rykdom van ons flora en fauna, sal hierdie fraaie en waardevolle illustrasies sowel as die beskrywinge beskou as 'n kosbare aanwins.
A.P. GOOSSENS.
| |
| |
| |
Die saga van Grettir, die Sterke. Uit die Oud-Noors vertaal deur dr. G. Dekker. J.H. de Bussy, Pretoria. 1931.
Dis verblydend dat die eerste kennismaking van Afrikaanse lesers met die Skandinawiese literatuur teenswoordig in hulle eie taal kan geskied, en dis te hope dat dit nie by die ‘Skandinawiese Vertellinge’ van Bouman en De Villiers, ‘Die Kortverhaal in Skandinawië’ van De Villiers, die ‘Grettirsaga’ van Dekker, en De Villiers se Ibsen-vertalinge sal bly nie. Die Skandinawiërs is grotendeels, net soos die Afrikaners, 'n boerebevolking, en die gemeenskaplike Germaanse bloed spreek nog sterk, maar daarby is hulle beroemd vir hulle intellektualisme en het hulle in verskillende tydperke 'n leidende rol gespeel in die Europese literatuur.
Die Oud-Noorse saga van Grettir verplaas ons in 'n samelewing van nog ruwe sedes, maar dis uiters interessant omdat ons eie voorouers 'n verwante soort maatskappy gevorm het, en dit boei dadelik deur die atmosfeer van vertroudheid wat deur die landelike omgewing geskep word. En deur die eenheid van konsepsie waarmee die verteller sy verhaal samegestel het, het sy ‘kunstelose’ vertelling ook tot hoë kuns geword, waarin ons aan die een kant getref word deur die ouderwetse realisme wat vir ons soos romantiek klink, en aan die ander kant deur die moderne psigologiese opvatting van die stof.
Soos oorgelewer, bevat die volledige saga gedeeltes wat vir die moderne leser eentonig is en interpolasies wat afbreuk doen aan die kunswaarde. Met gebruikmaking van die literêre en filologiese kritiek, veral van wyle prof. R.C. Boer, aan die nagedagtenis van wie hierdie vertaling opgedra is, het dr. Dekker hierdie gedeeltes weggelaat. Verder het hy die vertaling laat voorafgaan deur 'n waardevolle inleiding waarin die nodige opheldering gegee en die literêre verdienstes en tekortkominge van die verhaal beklemtoon word.
Wat die vertaling betref, in 'n lang werk soos hierdie sal iedereen natuurlik hier en daar 'n sinnetjie kry wat hy graag anders sou gesien het. Ek is, by voorbeeld, van mening dat hy alte letterlik was by die vertaling van die tye van die werkwoord, waardeur ons te veel het's en had's en sal's en sou's kry in sinne soos die volgende: - ‘Hulle het berserker-togte onderneem en niks gespaar wanneer hulle in woede geraak het nie’ (bls. 46); ‘T. het die jarl 'n geldboete aangebied, wat hy self kon vasstel volgens wat hy sou reken dat passend sou wees vir die eer van die bloedverwant’ (bls. 64); ‘T. het hom gevra om by hom te kuier as hy weer in Noorweë terug sou kom’ (bls. 70); ‘Hy ry gou na sy ouers se huis in Bjarg, waar Asmundr hom 'n eervolle ontvangs gegee het’ (bls. 70); ‘(Almal het) gesê dat wat betref krag en moed en durf Grettir Asmundsson sy gelyke nie gehad het in die hele land nie’ (bls. 93). As geheel genome wil ek hierdie werk, in teenstelling met party ander Afrikaanse vertalinge waarvan slordigheid 'n kenmerk is, egter juis aanbeveel om die nougesetheid en talent waarmee die vertaling gedoen is. Self sê dr. Dekker: ‘Ek het daarna gestreef om 'n suiwer vertaling van die saga te gee; daarom het ek my ook opsetlik daarvan onthou om die “onbeholpenhede” te “verbeter”.’ 'n Vertaling, dus, waarin opsetlik daarna gestref is om die gees van die oorspronklike te bewaar, en met sukses! Dis wat ons moet hê, maar waar ons so dikwels tevergeefs na soek.
Hierdie uitgawe verdien ten slotte ook om in wyer kring bekend te word om die durf wat sowel vertaler en uitgewer tot die onderneming laat besluit het. As die nodige ondersteuning hulle ten deel val, sal dit 'n aanmoediging wees vir ander om ook vertalinge van bekende literêre werke in die lig te gee, selfs al is hulle nie voorgeskrywe vir een of ander eksamen nie.
J.J. LE ROUX.
| |
| |
| |
Ter zake. Beschouwingen over litteratuur en leven, door Anthonie Donker. N.V. van Loghum Slaterus' Uitgeversmaatschappy, Arnhem.
As kritikus het Anthonie Donker in die laaste paar jaar heelwat opgang gemaak in Holland. Sy proefskrif ‘De Tijdperk der Vernieuwing onzer Poezie’ is. 'n uitstekende stuk werk oor die digters van Tagtig, en sy reeds gebundelde opstelle ‘Fausten en Faunen’ getuig van 'n fyne, oorspronklike kritiese talent. Ook as digter (ek herinner net aan die bundels ‘Grenzen’, ‘Kruistochten’, de ‘Draad van Ariadne’) het Donker blyk gegee van diep digterlike gevoel, openbaar hy hom as iemand wat bietjie oorhel na die swaarmoedige en hou van die suggestiewe woord om die geheimsinnige lewe van die dinge op te roep.
In sy ‘Fausten en Faunen’ het Donker ons verras met 'n aantal uitsprake oor letterkunde en digters, só oorspronklik gestel, dat die werk tot die beste moet gereken word wat in die laaste jare op hierdie gebied in Holland verskyn het. As redakteur van ‘Critisch Bulletin’, 'n uitstekende kritiektydskrif, het hy van tyd tot tyd menings oor letterkunde uitgespreek en van die kritieke het hy nou hier saamgevat in 'n bundel.
Donker is 'n ‘intuïtiewe’ kritikus. Hy lees 'n kunswerk, deurvoel dit skerp en gee dan sy indrukke weer. Omtrent nooit gee hy 'n omslagtige inhoud van 'n boek met 'n breedvoerige beredeneerde beskouing vir goeie of slegte hoedanighede nie. Hy skrywe beeldryk, indringend en besit die merkwaardige vermoë om die kernpunte in 'n werk aan te raak en duidelik te belig. Sy uitspraak is oortuigend en positief. Hy hou nie van onsekere gewik en geweeg nie.
Dit het al in Holland so bietjie 'n ongure mode geword onder die letterkundiges van die jongste geslag om hul eie volk en vaderland, of ‘onvolvloekbaar’ vaderland, soos dit selfs genoem is, te bespot en uit te maak vir alles wat bekrompe, kleingeestig en aanmatigend is. Ter Braak noem sy bundel essays selfs ‘Afscheid van Domineesland’,, waardeur hy bedoel dat hy verlos is van die newelagtige, niksseggende retoriek en 'n eie beskouing en uitdrukkingswyse verower het. Gewoonlik word die meeste skuld gelaai op die breë skouers van die ‘Calvinisme’, wat tot soveel dogmatiese verenging gelei het. Donker sê self: ‘Er is nu eenmaal, onloochenbaar, veel onaantrekkelijks in den Hollander met zijn onschoone galmende psalmen op Zondag, zijn lijzige orgel achter dichte vensters, zijn angstvallige voorzichtigheid en zorgzaam zuinige waakzaamheid over de welbelegde centen, zijn tekort aan spontaneïteit en geestdrift, zijn stijfheid, zijn onmacht tot feestvieren....’ Maar hy erken dat sy verblyf in die buiteland sy oë oopgemaak het vir mooi dinge in die Hollandse volk met sy taaie deursettingskrag, sy trouheid en ondernemingslus. Met sommige van die jong letterkundiges is dit eenvoudig net 'n geval dat hulle baie oor ander lande gelees het, nouliks 'n voet oor die drumpel van Holland gesit het, en skinderlustig hul eie woning beklad. Wie so tekeer gaan teen sy eie volk, ly aan 'n onuitroeibare minderwaardigheidskompleks en is gewoonlik 'n kleurlose kosmopoliet wat nêrens meer inpas nie.
In ‘Ter Zake’ gee Donker vir ons 'n baie duidelike uiteensetting van sy opvatting van 'n skrywer en van kritiek. Hy keur die Tagtigerstandpunt ten sterkste af dat 'n kunstenaar 'n aparte soort wese is, bokant die ‘gewone’ mens verhewe. ‘Met flapdas en flambard is men op den verkeerden weg, omdat daarmee reeds een soort onderscheiding begint, een lofspraak op zichzelf en het genus kunstenaar.’ 'n Kunstenaar is iemand wat in die openbaar 'n geding met en oor homself voer, 'n mens wat sy lewe skeppend uitbeeld. Alleen in die essensiële van sy lewe moet ons belangstel. Hy moet die waarheid hartstogtelik najaag en moet vir sy innerlike lewe, gevoelens, gedagtes, verbeeldinge, ekwi- | |
| |
walente woorde vind. In kritiek moet die skrywer se oordeelkrag, weerbaarheid en uiterlikheid tot uiting kom. Die kritikus soek rusteloos deur die krioelende menigte van drukletters, deur die doolhowe van die volsinne na die lewe, na die mens. Die kritikus gee die beeld van 'n mens, maar tegelyk die tweegeveg van twee mense om 'n persoonlike waarheid.
Wat ons besonder op prys stel in Donker se kritiek is die deurskynende helderheid daarvan. Elke sin verduidelik vir ons onmiddellik die skrywer se bedoeling. Of hy Dirk Coster verdedig teen die oordrewe estetici, of hy skrywe oor die vliegende Hollander of oor tendens en propaganda, altyd is sy uitdrukkingswyse skerp, konkreet, sy styl soepel en beweeg sy volsinne op 'n kragtige ritmiese deining. Watter verbluffende vindingrykheid en ekspressiewe krag die skrywer soms bereik, blyk tenslotte uit die volgende liriese ontboeseming oor woorde: ‘Woorden zijn wespen van laat-dunkendheid en bloedzuigers van eigenbaat, vleiende fluweelen katten van behaagzucht en verleiden. Woorden zijn onderkruipers en lakeien. Mollengangen en valkuilen. Woorden zijn krom als kobolden, spits en giftig als slangentongen. Woorden zijn edik en gal. Als gij kondt hooren wat ze over u zeggen, over hen die u het liefst zijn, over uw gestorvenen. Als ge één minuut de woorden over de gansche wêreld kond hooren, het kakelen, het kletsen, het onderdrukt gefluister, bezoedelend, bezwadderend. Over heel de wereld druischt die kakophonie, de schrille krekelzang, het gonzend Judasgebed der woorden, dat de harmonie der sferen verstoort.’
C.M. VAN DEN HEEVER.
| |
Handboek der poetiek. Door P.N. Dezaire. - N.V. Servire, Den Haag.
Die kunsbeskouing begelei die kunsproduksie soos 'n skaduwee. In lande waar die kritiese vermoë nie baie sterk ontwikkeld is nie, soos b.v. in Suid-Afrika en Vlaandere, gebeur dit dat daar miskien meer suiwer skeppingswerk gelewer word, al wil ons nie daarmee aandui dat dit juis altyd op kunsbloei wys nie. In Noord-Nederland het jy egter 'n besonder sterk ontwikkelde kritiese vermoë, met die gevolg dat die kritiek en kunsbeskouing hier bloei, in baie gevalle so erg, dat dit kan skadelik inwerk op 'n min of meer vrye uitlewing van gevoel en verbeelding. Heelwat handboeke oor kuns word geskrywe om die insig in kuns te verhelder.
Ek onthou 'n taamlik spottende kritiek van Frans Coenen waarin hy o.a. gesê het dat die handboek wat hy bespreek, nie beter of slegter is as ander van sy soort nie, waarmee hy blykbaar bedoel dat mens boeke van hierdie soort almal, sonder om jou te veel te bekommer oor individuele beskouings wat daarin uitgespreek word, in een hokkie kon stop. Alhoewel daar 'n eenselwigheid in werke van hierdie aard te bespeur is, is dit tog onbillik om almal oor dieselfde kam te skeer. Sekere dinge moet oor en oor gesê word in 'n boek met hierdie inhoud, tog kan die skrywer verbesondering en individualisering in die uitleg van die feite bring soos Kramer probeer doen het in sy ‘Het Literaire Kunstwerk’.
Dezaire se werk is breër van opset as Kramer s'n en dek ook meer sistematies die verskillende kante van die poëtiek. Op die buiteblad staan daar: ‘Met het woord poëtiek bedoelt de schrijver niet enkel de verskunst, maar volgens de oorspronkelijke beteekenis van het woord al de voortbrengselen van de scheppende verbeelding: poëzie, toneel, prosa.’ Daar word verder aanspraak op gemaak dat dit die eerste handboek in die Nederlandse taal is wat uitvoerig en grondig die wese, betekenis en tegniek van al die uitinge van die digterlike vermoë ondersoek. Of dit so is, moet betwyfel word, aangesien daar al reeds heelwat in hierdie opsig gelewer is, al is dit nie altyd ewe oorsigtelik en uitvoerig nie. Wat die lees van hierdie werk baie veraangenaam, is die groot aan- | |
| |
tal treffende aanhalinge oor kuns wat die skrywer as kunsliefhebber met vlyt vergader het. Tereg sê hy dat ons die eerste na kunstenaars moet gaan vir insig. ‘Wat zij van hun kunst gezegd hebben, moest het beste studiemateriaal opleveren.’ Voordat die skrywer by die bespreking van die verskillende kunssoorte met hulle onderlinge uitinge kom, gee hy eers taamlike breë beskouings oor die skoonheid, die skepping van poësie, die wese van die digkuns, die vermoë van die poësie ens. Hy probeer die wesenlike in die kunstenaar verduidelik, daardie wesenlike wat Albert Verwey so omskrywe: ‘Dit is het wezenlijke van een kuntsenaar, dat in hem het leven zich bewust wordt als schoonheid.’ Die skrywer gee veral baie aandag aan die harmoniese in die kuns, aan die sedelikgoeie, die verheffende daarin, waardeur dit kon meehelp tot ons kulturele verryking, want kunstenaars behoort volgens E. Barret-Browning te wees ‘only speakers of essential truth’ of soos Augustinus dit uitdruk: ‘Pulcher splendor veri.’ Die skrywer se groot uitgangspunt is eintlik die
‘verwantskapgevoel,’ wat as sleutel kan dien om veel in die kunslewe opgehelder te kry.
'n Fout in die skrywer se betoogmanier is dat hy hier en daar te veel aanhaal. Aanhalings moet net verhelderend werk, dit moet nie die draad van die skrywer se betoog heeltemal verlore laat gaan nie. (Vgl. bls. 21-22, waar Henriette Roland Holst van der Schalk die beskermheilige van die skrywer se mening is.) Daar word heelwat aangehaal uit die letterkunde van die dag, en veral Anthonie Donker, as een van die fynste moderne Nederlandse kritici, se uitsprake geniet die aandag.
Vir iemand wat die boek krities nader, sal daar heelwat kraakplekkies, veral in die definisies (wat gewoonlik die onbeweeglike sondebokke is) te vind wees. 'n Definisie soos die volgende oor die motief in die roman is tog aanvegbaar: ‘Het algemeene motief van den roman is het streven der menschen naar harmonie en onverstoord evenwicht, naar rust en voldaanheid, kortom naar het geluk, waarin geest, hart en wil hebben wat se wenschen.’ (Bls. 204.) Ek vra my ook af of dit gelukkig uitgedruk is om te praat van die inspirasie as ‘het zich openbaren van het ding aan den dichter’; van die intuïsie as ‘het aldus geopenbaarde’. In talle liriese gedigte, om maar net een enkel kantjie van die kuns te noem, word geen ‘ding’ geopenbaar nie, maar word die musikale sturing in ons gaande en laat die pen oor die papier loop. Met 'n definisie-kleed haak mens gedurig oral op jou nou paadjie aan die dorings vas! (Op bls. 30 haal die skrywer 'n gediggie van Leipolt (sic!) aan, maar dit is ongelukkig een van Keet.
Onderwysers sal egter baie waardevolle hulp uit hierdie werk kry. Dit is in meer as een opsig 'n woordeboek oor kuns.
C.M. VAN DEN HEEVER.
|
|