Daar bestaan die mees uitvoerige voorskrifte wat aanbetref manipulasie van die teks en van die spelling, indeling, kennelike en ander skryf- of drukfoute, normalisering van die taal, hiate, lacunes, interpunksie, chronologiese ordening, tot selfs die gebruik van hoofletters en wat nie al meer nie, - álles slegs met die oog dáarop, om namelik die gebruiker van die herdruk te stel voor 'n stuk wat dit vir hom oorbodig maak om die origineel te sien.
En dan die bykomende verpligte arbeid van die uitgewer, om die waarde van sy stuk te verhoog bokant die oorspronklike: verklarende en ander aantékeninge, en, - wat van die uiterste belang is, - 'n register of bladwyser, wat vir so'n historiese dokument moet bestaan uit éen vir plaasname en 'n ander vir persoonsname.
Ek glo werkelik dat ons by die uitgewe van bronnemateriaal veels te los en sonder methode tewerkgaan, dat ons veelal oorbodige werk maak van vertalings, sodat die herdruk nie die waarde erlang vir die eventuele gebruiker wat 't anders so maklik kon hê.
Ons bepaal ons by die in my resensie van Fuller se werk genoemde boeke, en dan konstateer ek in alle beskeidenheid, dat my betoog onaangetas bly staan:
Cory se Dagboek van Owen is alleen in Engels uitgegee, sonder register. Die oorspronkelike Engelse teks is ál wat die ondersoeker nodig het. Maar hoe dan met die vertalings, in Engels, uit Hollands en Duits, sonder meer? En die afwesigheid van 'n register maak die Cory-teks net so onbruikbaar as die oorspronkelike: mens moet die hele dokument deurwaad vir 'n enkele naam. M.a.w., prof. Cory se arbeid het sig bepaal tot 'n ‘preface’ aan sy terugvinding van die dagboek, en 'n paar biografiese besonderhede oor die auteur, by wyse van inleiding tot die teks.
Lichtenstein bestaan slegs uit 'n Engelse vertaling.
Mentzel eweneens. Schryver ditto. In die Collectanea is 9, 10, 11 en 12 Engels, sonder vertaling.
Botha se ‘Wreck of the Grosvenor’ is sonder register.
Met Witbooi se dagboek het ek my vergis: dit is in die oorspronklike Hollands uitgegee, maar met 'n Engelse voorwoord.
Ons is arm aan veréniginge soos die ‘Van Riebeeck-Vereniging’. Was dit verkeerd, of teveel geverg om te probeer om die waarde van die werk wat die vereniging verrig te verhoog, deur op die wetenskaplike tekortkominge daarvan te wys? As dit so is, dan is ek die Vereniging 'n ekskuus verskuldig.
G.S. PRELLER.