Iets oor die Oudste Geskiedenis van Transvaal.
DIT is ons algar bekend dat die eerste Voortrekkers in 1836 Transvaal binnegetrek het. Tog het daar al lank voor dié tyd Afrikaners duskant die Oranjerivier, in die teenswoordige Vrystaat, gewoon. So is daar, b.v., in die Staatsargiewe te Pretoria 'n brief aanwesig van Andries van der Walt waarin hy sê dat hy al vanaf 1824 buitekant die grense van die Kaapkolonie gewoon het. In daardie jaar het hy al die Oranjerivier oorgetrek. Dit was op die plaas van hierdie Andries van der Walt dat Pretoria in 1855 uitgelê is, en Van der Waltstraat en Sint Andriesstraat is na hom genoem. Vroeër het hierdie laaste straat alleen ‘Andriesstraat’ geheet, maar 'n dertig jaar gelede is die Sint as 'n epitheton ornans daarvoor gevoeg, sodat ons met reg kan sê dat Andries van der Walt die enigste Afrikaanse heilige is wat ons het.
Die trekke van Carl Trichardt en Hans van Rensburg van 1836 het nie tot 'n blywende nedersetting in Transvaal gelei nie. Ons weet hoe die Van Rensburgs uitgemoor is en die Trichardts na Delagoabaai gegaan het, waar die grootste gedeelte aan die koors dood is, en die oorlewendes uiteindelik in Natal aangeland het. Trouens, Natal was die mikpunt van die Voortrekkers, en dáár het die middelpunt van hulle aktiviteite gelê, en dáár was hulle groot leiers soos Piet Retief, Gert Maritz, Piet Uys en Andries Pretorius. Hendrik Potgieter, wat ook 'n kragtige figuur was en een van die groot leiers, was egter individualisties van aard, met die neiging tot 'n alleenheerskappy, en daarom wou hy nie in Natal bly nie, maar het hy Transvaal ingetrek, waar hy in 1839 die eerste dorp gestig het, naamlik Potchefstroom, die hoofdorp van die distrik Potchefstroom. Hierdie distrik het ook die noordelike Vrystaat omvat. Waar by Potgieter 'n desentralisasiebeginsel sterk na vore gekom het, daar was Andries Pretorius, net soos later sy seun Martinus Wessel, 'n sterk voorstander van sentralisasie. Dit was dieselfde gedagte as wat ons in Holland vind, waar ook twee strominge was in die sewentiende en agtiende eeu en Oranje vir die sentralisasie gestaan het en die Regente vir desentralisasie. Was die gedagte uit Holland na Suid-Afrika oorgeplant? Eindelik het Pretorius dit reggekry dat die twee groepe, naamlik die Natalse groep en die Potchefstroomse groep, op 'n byeenkoms te Potchefstroom op 16 Oktober 1840 saamgesmelt het. Daar het die voormanne toe bepaal dat die ‘twee maatschappye’ - dié van Natal en dié van Potchefstroom - ‘tot nut en voordeel van de gehele volkplanteng’ heeltemaal vernietig sou word en ‘dat de publiek nimmer zullen ge-