| |
| |
| |
Felix Qui Potuit - -
INGESLUIT deur die see aan die een kant en hoë rotse aan die ander, was die stukkie seestrand soos 'n wêreldjie apart. 'n Wêreldjie op die oomblik bewoon deur drie mense, 'n jong meisie en twee manspersone. Die een, Hennie Trigart, het op die sand gesit en speel met skulpies nes of hy nog 'n kind van vier was pleks van 'n man van vier-en-twintig. Aan sy uiterlik was daar by die eerste oogopslag niks besonders te bespeur nie. 'n Wit laphoed het die sonderlinge skedelvorm bedek, en sy weldeurvoede, enigsins lomp liggaam was geklee in die gewone wit flenniebroek en hemp van die strandbesoeker. Slegs as hy sy kop van tyd tot tyd oprig, kon die wesenlose blik van sy oë en die strakke gryns om sy mond wat steeds effe oophang en kwyl, die idioot verraai.
‘Dis mos 'n lekker plekkie hierdie!’ sê Matilda Trigart vir haar metgesel Johan Erasmus, terwyl sy haar ligte strooihoedjie afhaal en haarself daarmee koelte toewaai.
‘Heerlik!’ antwoord hy enigsins kortaf, nes iemand wat aan iets anders dink.
‘Hennie skyn dit ook te geniet. Hy is so lief vir die see; ons kom aljare strand-toe met hom.’
Johan kyk vlugtig oor sy skouer na die idioot, wat nog rustig sit en speel met sand en skulpies.
‘Jy moenie vir hom laat merk dat jy hom oppas nie,’ sê Matilda op 'n fluistertoon. ‘Daar hou hy tog nie van nie. Dawidse verstaan die kuns van ongemerk oppas meesterlik. Maar hy pas ook al jarelank vir Hennieboet op, terwyl jy dit nog maar 'n week doen. O, jy moenie dink dat ek aanmerkings maak nie, Meneer Erasmus. Ek dink dat jy 'n wonderlike slag het om met hom om te gaan, en ek kan sien dat Hennieboet van jou hou...’
‘Ek is bly om dit te hoor, Juffrou Trigart,’ antwoord die jonge man enigsins styf, want lof van enige aard het hom steeds verleë laat voel.
Matilda haal 'n stukkie handwerk uit 'n sakkie te voorskyn. Johan beskou haar vlugge vingers 'n rukkie, en sy blikke dwaal daarvandaan na haar effe vooroorgeboë hofie. Daar haar oë op haar werk gerig is, kry hy die kans om haar gesig van naby op sy gemak te bestudeer. Vereers betrag hy met welgevalle haar suiwer vel, egalig gebruin deur die son, haar donker
| |
| |
krulkoppie en harmonieuse gelaatstrekke. Daarna bekruip 'n gevoel van ontstemming hom waarvan hy hom geen rekenskap kan gee nie. Sy lyk op iemand op wie sy nie behoort te lyk nie, ja, maar op wie? Eensklaps besef hy wie, en die besef is nòg onaangenamer as die vae ontstemming van daarstraks. Sy lyk op haar broer, vir sover 'n intelligente, aanminnige suster op 'n swaksinnige broer kan lyk. Haas ongelooflik, en tog....
Skielik kyk sy op, ontmoet sy blik en bloos effe. Hy voel weer verleë en sê gevolglik die eerste die beste wat by hom opkom. Nie 'n alte taktvolle vraag nie; dit voel hy sodra dit geuit is.
‘Is U jonger as U broer of...’
‘Twee jaar ouer. Het jy gedink ons is 'n tweeling?’
‘Allawêreld, nee!’ protesteer hy.
‘Og, ek weet ons lyk op mekaar,’ kalmeer sy hom en vervolg:
‘Ja, ek is twee jaar ouer. Hy is die jongste, ma se lieweling, haar troetelkindjie. Daar was geen ander kinders na hom nie, ongelukkig, of moet ek sê: gelukkig? Nou het hy altyd haar babetjie gebly.’
‘Dis volkome natuurlik, aangesien....’
‘Nee, wat, dis onnatuurlik om 'n kind soos Hennieboet so voor te trek. Al die liefde wat sy hom gee, is verspil. Hy het geen besef daarvan nie, hy waardeer dit nie....’
‘Maar laat my tog uitpraat!’ onderbreek hy haar skielike woordestroom. ‘Daar is baie moeders wat liefs sou wil hê dat hul kinders altyd babetjies moet bly, volkome afhanklik. Hul hou nie daarvan nie om hul kinders te sien groot word en losraak van hul....’
‘Wel, as ek ooit kinders moet hê, sal ek darem verstandiger wees.’
‘Ek hoop U verstaan ek is nie besig om goed te keur of af te keur nie, Juffrou Trigart: ek probeer maar net vir U duidelik maak hoekom U moeder vir U broer so “voortrek”, soos U dit noem. Dis sy hulpeloosheid wat so gedurig haar moederhart raak. Die digter sê mos: “'n Moeder se grootste sorg word steeds aan haar swakste kind bestee....”.’
‘Dankie, Meneer, vir jou mooi uitleg, maar ek vrees dit help my nie en troos my nog minder!’
Dog die bitter woorde word versag deur die toon waarin hul geuit word en deur 'n glimlaggie wat 'n kuiltjie in haar sagte wang tower. Johan Erasmus, hoewel ten alle tye pynlik konsiënsieus en by tye bietjie pedant, skyn nogtans in haar oë 'n aangename jongkêrel, en seker beter geselskap as Dawidse.
By die sien van haar glimlag moes Johan ondanks homself ook saam glimlag.
| |
| |
‘Troos dit U dan nie, juffrou Trigart, om die oorsake van alles te leer ken nie? Felix qui potuit rerum cognoscere causas, is dit nie so nie?’
‘Hai, nie so gou nie, my kennis van Latyn laat my nou lelik in die steek. Jy word veels te geleerd vir die arme Boernôi, Meneer.’
Johan vertaal, en Matilda werk 'n rukkie in stilte voort, om dan meteens weer te hervat:
‘Sê vir my, Meneer Erasmus, wat het eintlik vir jou beweeg om hierdie tydelike baantjie as Hennieboet se oppasser aan te neem?’
‘Wel,’ antwoord hy, elke woord sorgvuldig weënd, ‘soos ek vir U vader gesê het, my redes is tweeërlei. Ten eerste is ek 'n behoeftige student wat graag in die lang somervakansie iets wil verdien, en ten tweede is ek as mediese student geïnteresseerd in U broer se geval....’
‘Dis 'n hopelose geval!’
‘Ja, dit weet ek. Maar ek hoop om eendag as dokter te spesialiseer in sielsiektes, en miskien word ek nog aangestel op die staf van een of ander inrigting vir soortgelyke gevalle....’
‘Ja, ek weet Hennieboet behoort in 'n inrigting te wees,’ onderbreek sy hom, dié slag nie juis baie ter sake nie.
‘Wel, ek weet nie of ek heeltemal met U saamstem nie. Hy is gelukkig op U vader se groot plaas en geniet daar 'n groter mate van vryheid as wat hy in enige inrigting....’
‘Ja, dis alles goed en wel van sy standpunt beskou, maar...’ Sy breek 'n draadjie met nydige gebaartjie deur tussen haar sterk wit tandjies.
‘Jy moet dit nie doen nie, dis baie sleg vir jou tande!’ bestraf hy haar skertsend, en verval daarby onbewus in die intiemere ‘jy’ en ‘jou’. ‘Waar is jou skêrtjie?’
Sy gee 'n kort laggie en bly hom die antwoord skuldig. Hy kyk haar opnuut aan en meen dat hy kan lees wat daar in haar mooi hofie omgaan. Wat moet die gedurige teenwoordigheid van so 'n idiote broer nie beteken vir so 'n jong meisiemens nie? Hoe moet dit die vriendinne wat anders by haar sou wil kom kuier, nie die lus daartoe beneem nie? Hoe moet dit die vriende wat anders dalk meer as vriende sou wil word, nie afskrik nie? Hennieboet, veilig in een of ander inrigting weggestop, sou nog maklik kan vergeet word, maar soos dinge nou is....
En dan geen susters of ander broers om huislike omstandighede vir haar draagliker te help maak nie....
‘Ek wou maar net sê, hy sou die verskil miskien glad nie voel nie, terwyl ek... ag wat, kom ons praat maar liewer oor iets anders. Vergeet maar wat ek nou net gesê het, nè?’
| |
| |
Hy belowe dit en wens hy kon vergeet. Ook vergeet hoe nydig haar mooi wit tandjies daardie draad deurgebyt het, nes of dit arme Hennieboet se lewensdraad was... foei, wat 'n gedagte...
Ondertussen sit Hennieboet nog op dieselfde plek en speel doelloos met sand en skulpies deur hul op te tel en dan weer deur sy vingers te laat gly.
‘Hy is nes 'n klein kind. Ek het soms lus en gee hom 'n grafie en emmertjie dat hy sandkasteeltjies kan leer bou. Hy sou dit seker geniet, maar dit sou sy ma se hart breek om hom dit te sien doen,’ sê Matilda. ‘Ag, kom ons hou liewer op om vir hom so te bespreek. Ons kan tog seker baie ander dinge vind om oor te gesels, nie waar nie?’
‘Ja, ek is seker ons kan!’ antwoord Johan op die toon van iemand wat 'n belangrike ontdekking gedoen het.
Die weke het vinnig verbygeglip vir Matilda en Johan op die afgeleë strandplekkie. Weldra sou hy die Trigarts moet vaarwel sê om terug te keer na die Universiteit, en dan sou Hennieboet weer toevertrou word aan die goeie sorge van Dawidse, terug van sy welverdiende vakansie. Die twee oumense het meestal op die stoep van hul strandhuis gesit, maar die drie jonge mense het lang wandelings gemaak en daeliks gaan baai. Hennieboet was dan skaars uit die water te kry. Gewoonlik het hy, salig-gelukkig, in 'n vlak dammetjie gesit of anders op die sand net waar die golwe oor hom kon breek, maar soms het hy dieper ingewae en selfs ente geswem. Niemand het hom dit ooit geleer nie, hy het dit van kleins af instinkmatig soos 'n hond leer doen.
Een warm middag het Matilda die twee soos haar gewoonte was, vooruitgegaan en eers gebaai. Tans lê sy, nog in haar kostuum, op 'n groot plat rots in die son en braai en rook 'n sigaret. Van haar hoë lêplek kyk sy af op die klein baaitjie wat blougroen in die son skitterblink, en sy roep vir Johan toe dat hy maar gerus 'n ent kan uitswem as hy wil, sy sal solank haar oog op Hennieboet hou. Lui uitgestrek lê sy en afkyk hoe die een man met kragtige slae die water deurklief terwyl die ander onhandig rondspartel in die vlak gedeelte. Tog miskien nie so vlak nie, Hennieboet wae dit vandag mos verder as gewoonlik en moet reeds amper uit sy diepte wees. Hy word seker aangevuur deur die voorbeeld van Johan....
Daar gee Hennieboet opeens 'n skree wat deur 'n mondvol soutwater verstik word. Hy het te diep gegaan... of is dit 'n verraderlike stroming wat hom seewaarts trek? Johan swaai dadelik om en swem vinnig na hom toe.
‘Toe maar, Hennie, toe maar, ek kom, moenie bang wees nie,’ klink sy stem ewe gerusstellend. Maar dis of die stroming vir die idioot al verder en verder wegsleep van sy redder.
| |
| |
Matilda spring op, hardloop na die punt van die rots, lig haar arms hoog bokant haar kop en peil af na die diepte. Haar kop kom weer te voorskyn nie ver vanwaar Johan swem nie. Sy deurklief die water so vinnig sy maar kan, dit lyk of sy en Johan resies ja om te sien wie die eerste by Hennieboet sal wees.
‘Laat staan, Mattie, laat staan!’ hyg Johan. ‘Laat hom oor aan my. Om Godswil, ek kan jul nie altwee red nie! Bly weg van hom! Bly weg, sê ek!’
‘Johan, ek kan nie meer nie... help.... 'k het kramp in my been gekry....’
Haar kop gaan skielik onder en toe dit weer bo kom, is sy dig by Johan. Sy gooi haar arm uit en omklem sy arm - toe haar ander hand op sy skouer.....
‘Mattie, om liefdes wil, laat los... lê op jou rug en drywe! Laat Hennie oor aan my...’
Maar pleks van te los klou sy nog vaster. Hul gaan albei onder, en toe hul weer bo kom, besef Johan dat dit 'n kwessie is van Mattie se lewe of Hennie s'n. Nee, daar bly vir hom nie eens 'n keuse tussen die twee nie, want die meisie se vingers boor diep in sy vlees met hul doodsbenoude greep...
‘Maak nou nes ek vir jou sê, anders verdrink ons al drie.’
‘Ja, Johann... ek sal... red vir my, Johan...’
Twee dae later het Hennieboet se lyk opgespoel, 'n hele ent daarvandaan langs die kus.
Matilda, vreemd en somber in die rouklere wat haar ligte strandrokkies vervang het, het vir Johan terug stasie-toe gedrywe in haar eie klein motor. Die twee oumense het hom by die huis gegroet. Matilda het haar vader vooraf gesmeek om tog ter afskeid iets vir Johan te sê wat sou opweeg teen die direkte sowel as indirekte verwyte wat die arme kêrel sedert die ongeluksdag te beurt geval het. Vir haar moeder het sy nie op soortgelyke wyse durf nader nie, want dié het reeds meermale opgemerk dat haar dogter waarlikwaar minder begaan skyn te wees oor die verdrink van Hennieboet as oor die verdediging van die persoon deur wie se nalatigheid dit geskied het. Die ouman het egter, soos by baie vorige geleenthede, sy dogter ter sy gestaan.
‘Wel, Erasmus, ons moet nou maar so dink: gedane sake neem geen keer nie, en dis sekerlik aan jou te danke dat ons nie altwee ons kinders op een dag verloor het nie!’ sê hy, terwyl hy die jongman se hand 'n warm afskeidsdruk gee. ‘Jy het gedoen wat onder omstandighede die allerbeste was om te doen, en meer as dit kan tog nie van 'n mens verwag word nie!’
‘Ja, dit mag alles waar wees, maar ag! as die Mattie tog net nie so haar kop verloor het nie!’ Die ouvrou begin weer te snik, want nes Rachel
| |
| |
wou sy nie getroos word nie. ‘My Hennie, my babetjie, verdrink in die see! Ag, jul moes liewer nooit met hom gaan baai het nie! Ek was altyd daarteen gewees, ek het hom nooit enige bietjie plesier misgun nie, maar ek het altyd gesê, en ek sê nou nog....’
‘Stil, my ou vrou, ons mag nie vergeet: wat die Here doen is welgedaan.’
‘As jy daardie trein nog wil haal....’ Erasmus was bly om Mattie se sagte stem agter hom te hoor, in stilte hand te gee en die huis te verlaat. In die motor, op pad stasie-toe, was Mattie die eerste om die beklemmende stilte tussen hul te verbreek.
‘Ek is jammer dat moeder dit so opneem. Jammer om jou ontwil.’
‘Hoe anders sou sy dit kan opgeneem het?’
‘Wel, vader het ten minste.... ag, ons moet regtig ophou met dieselfde dinge so oor en oor te herhaal!’ Daarop vervolg sy, nes of dit vir die allereerste keer was:
‘Johan’ (sedert die ongeluksdag was dit nie meer meneer en juffrou tussen hulle nie), ‘Johan, belowe my nou dat jy jou nie verder oor iets sal verwyt nie. Dis alles my skuld gewees. Ek het jou mos aangespoor om te gaan swem en gesê ek sal die oog hou op Hennie. Ek het jou nie betyds gewaarsku nie, jy weet, so van 'n hoogte lyk die see altyd vlakker dan wat dit regtig is. En later was dit ook my skuld gewees, en Pa en Ma begryp dit volkome....’
‘Mattie, ek dag ons sou nie meer vir ons herhaal nie? Hoeveel keer het jy nie dit alles vir my gesê nie, en hoeveel keer het ek nie geantwoord dat dit geen verskil vir my maak nie? Jy praat tog te maklik. Hennie was nou eenmaal aan my sorg toevertrou, en deur my nalatigheid het hy verdrink. Daar sal ek nooit verbykom nie....’
‘Maar, Johan, glo jy dan nog dat jy hom sou kan red het? Ek sê vir jou nee, en duisendmaal nee! Die krag van iemand soos hy is dubbel die krag van 'n normale mens wat sy volle verstand het! Dink jy vir een oomblik dat Hennieboot sou geluister het na jou en gemaak het soos ek gemaak het toe jy my gered het? Dink jy hy sou sy noodgreep gelos het en gedwee toegelaat het dat jy hom op jou eie manier so liggies vasgehou het en land-toe geswem het met hom? Jy weet net so goed soos ek dat hy dit nooit ofte nimmer kon gedoen het nie! Jul sou albei verdrink het!’
‘Og, ek sou hom wel kleingekry het... desnoods eers bewusteloos geslaan het! En as ek saam met hom verdrink het, sou ek tog tenminste my lewe verloor het in die volbring van my plig. Nou sal ek tot my sterwensdag toe 'n man wees wat in sy dure plig tekort geskiet het...’
| |
| |
‘Maar, Johan, Johan, wat dan van my? Hoe sou ek gevoel het by die gedagte dat jou nuttige, veelbelowende jong lewe opgeoffer is aan 'n swaksinnige, aan iemand wie se lewe nòg vir hom nòg vir iemand anders tot enige nut was? Dink bietjie daaraan. Dink tog bietjie aan my, Johan, aan my!’
Hy bly stil, want haar hartstogtelike woorde het by hom 'n vreeslike vermoede vir die eerste keer in die lewe geroep. Sy vervolg, al hoe driftiger:
‘Hennieboet, arme ou Hennieboet, mag God my vergewe oor ek so praat! Maar God weet ook hoe daardie arme broer van my oor my hele lewe totnogtoe 'n donker skadu gewerp het! En moes hy vir my nog oplaas deur sy dood berowe het van jou, van jou, Johan?’
Terwyl sy so praat, is dit of 'n stem in haar binneste vir haar waarsku om haar tong in toom te hou, dog tewens besef sy ook dat sy nie een van diegene is wat haar lewensgeluk sal kan koop met 'n leuen, of selfs met verswyging of verbloeming van die waarheid nie. En nog voor Johan weer begin praat, weet sy wat gaan kom, weet sy dat vir haar alles verlore is. Sy het die lewe van die man wat sy liefhet, gered ten koste van sy liefde vir haar. En toe die woorde kom wat haar soos geselslae striem, buig sy haar hoof in die stil besef dat die straf 'n regverdige is.
‘Mattie! Moet ek nou eers verstaan hoekom jy in die see gespring het? Moet ek nou eers verstaan dat dit nie was om daardie arme broer van jou te probeer red nie, maar om my pogings om hom te red te verydel? Mattie, sê dis nie waar nie! Dit sou te afskuwelik wees, dit sou mos beteken dat ek jou vir altyd sou haat en verag, en ek het jou mos leer liefkry! Maar nou... Mattie, praat, sê iets, om Godswil, sê vir my dat jy nie die moordenares van jou eie broer is nie!’
Dog die meisie langs hom bly stil, en in 'n stilte wat al hoe ondraagliker word, ry hul voort. Toe hul eindelik die stasie bereik, was dit vir albei 'n verlossing wat geen oomblik te vroeg gekom het nie. Toe Johan uitklim, waag hy dit om na haar te kyk. Haar gesig lyk soos 'n dodemasker, en die uitdrukking in haar oë herinner hom afskuwelik baie aan dié van Hennie, maar toe sy merk dat hy na haar kyk, kom daar weer iets van lewe oor haar strakke gelaatstrekke en 'n wanhopig smekende blik in haar oë.
‘Kan jy my onmoontlik vergewe, Johan, nou dat jy alles weet en verstaan? Nou dat jy die oorsaak verstaan, kan jy my nie vergewe nie? Vergewe en vergeet, en eendag weer gelukkig wees en... gelukkig maak? Verdien ek dit dan nie van jou nie, een dag?’
Sy steek hom haar koue handjie toe, en hy vat dit na 'n kort aarseling, om dit gou weer los te laat.
‘Vergewe, ja, maar vergeet, nooit! Ek haat en verag jou nie, dit was verkeerd van my om so te praat. Ek is jammer vir jou, nog meer as vir
| |
| |
myself. Maar gelukkig wees? Geluk van daardie soort is nie vir almal nie, my arme Mattie!’
En hy draai weg van haar en vlug soos vir 'n dreiende gevaar. Nog net betyds om in die vertrekkende trein in te klim, die trein wat hom moet wegneem van een wat hy nooit weer mag sien nie. En namate die afstand tussen hulle groter word, voel hy dit sal nooit groot genoeg kan wees nie.
MARIE LINDE.
|
|