| |
| |
| |
Herfsrose.
EK was in die nabyheid van 'n Noordduitse stad op die landgoed van 'n vriend op besoek. Ons het 'n groot gedeelte van ons jeug saam deurgebring, tot ons, amper aan die einde daarvan, deur die verskil van ons beroep geskei is. Gedurende die twintig jaar waarin ons mekaar nie gesien het nie, het hy die direkteur van 'n belangrike handelshuis geword wat hy opgerig het; my het die omstandighede in die vreemde gedryf en daar vir altyd vasgehou. Nou was ek eindelik weer 'n keer in my geboorteplek.
Die gasvrou het ek tot nog toe nie geken nie. Sy was nie meer jonk nie; maar in haar bewegings was nog die vlugheid van die jeug, en haar rustige oë was van 'n kinderlike helderheid. Daar het tussen hierdie twee mense, soos ek al gou geleentheid gehad het om te bemerk, 'n wedersydse eerbiedige liefde geheers, byna soos tussen 'n bruidspaar. Wanneer sy netjies gekleed vir die ontbyt die saal binnekom, soek haar oë eers na hom en doen aan syne die stille vraag of sy hom só geval. Dan verdwyn die diep rimpel 'n oomblik van sy voorhoof, en hy vat die hand wat sy hom reik, nes of dié hom pas so-ewe aangebied is. Partymaal, wanneer hy in sy werkkamer aan die skryftafel sit, kom sy uit die woonkamer of uit die daarvoor geleë tuinkamer en gaan swygend langs hom sit; of sy gaan staan ongesien agter sy stoel en lê suutjies haar hand op sy skouer asof sy hom moet verseker dat sy in sy nabyheid is, dat sy vir hóm daar is.
Dit was 'n sonnige namiddag in Oktobermaand. My vriend het juis, na afhandeling van sy sake, uit die stad teruggekeer, en ons het oor die ou dae sit en gesels op die breë terras voor die huis, vanwaar 'n mens oor die laer geleë tuin en oor 'n aangrensende groen weiveld die uitsig het op die donker water van die Oosseebaai en, oorkant die baai, op sag glooiende beukebosse waarvan die loof reeds begin verkleur. Dit alles saam met die diepblou herfshemel daar oorheen was deur die hoë populiere wat aan weerskante van die terras staan, soos deur donker reusecoulisse omlys. -
Die vrou van my vriend het, met haar jongste dogtertjie aan haar hand, uit die oopstaande vleueldeur van die tuinkamer gekom en met 'n stil glimlaggie by ons verbygegaan; sy wou haar nie indring in ons skimme-wêreld waaraan sy geen deel het nie. Nou staan sy met die kind op haar arm aan die rand van die terras en kyk 'n verbyvarende stoomboot agterna, wat met die gebruis van sy ratte reeds 'n tydlank die stilte van die landskap onderbreek het. Haar hoë
| |
| |
gestalte, die omlyning van haar edele hoof teken hulle duidelik teen die donker hemel af.
Ons twee se oë mag haar onwillekeurig gevolg het, want die gesprek het verstom. Ek het verstrooid na die druiwe gereik wat in 'n kristalbakkie voor ons op die marmertafeltjie staan.
‘So moes dit kom,’ sê ek eindelik, terwyl ek die onderwerp van ons gesprek nog weer 'n slag opneem, ‘ek wat selfs met kastaiings en kersiepitte handel gedryf het, het 'n man van die wetenskap geword; en jy - waar het jou treurspele gebly wat jy as skoolseun geskryf het?’
‘Die Italiaanse boekhouding,’ antwoord hy glimlaggend, ‘is 'n kwaai medisyne teen die poësie; en tog moes ek nog my vaste wil daarby voeg om die middel te laat werk.’
Hy kyk my aan met sy donker oë wat nog die idealistiese trek verraai wat hom in sy jeug onderskei het. ‘Dit sal jou seker moeite genoeg gekos het,’ sê ek.
‘Moeite?’ herhaal hy langsaam, - ‘dit is miskien nog die minste wat dit my gekos het.’ En daarby het 'n blik na sy vrou gevlieg, so teer en gelukkig asof hy die geliefde pas onlangs verower het.
Onwillekeurig moes ek aan 'n klein voorval op die eerste dag van my besoek dink. Toe het, by die binnekom in die werkkamer van my vriend, my eerste blik geval op die beeltenis van 'n skone jong meisie wat langs sy skryftafel hang. Dit was in olieverf, met helder, ligte kleure en met 'n werklik sonnige vrolikheid en lewensfrisheid. Op my vraag wie dit voorstel, het Rudolf geantwoord: ‘Dit is die portret van my vrou. Dit wil sê,’ het hy daarby gevoeg, ‘van die meisie wat later my verloofde en toe my vrou geword het. Dit is vir haar grootouers geskilder en het uit hul nalatenskap aan haar teruggekom.’ Hy het onder hierdie woorde eweneens voor die portret gaan staan, terwyl ek in gedagte die jeugdige trekke vergelyk met dié van sy vrou wat ek nog slegs vlugtig gesien het. - Toe ek my na 'n rukkie tot hom wend, dra sy gelaat die onmiskenbare uitdrukking van 'n byna smartlike innigheid wat ek my gedurende my verdere verblyf hoe langer hoe minder kon verklaar. Want hierdie meisie het immers syne geword; sy leef, en - so het dit gelyk - sy maak hom nou nog gelukkig.
Op hierdie oomblik stap die skone, rustige gestalte voor ons van die terras na die tuin toe en aangesien ek nie gevrees het dat ek 'n ongeheelde wond sou aanraak nie, kon ek my destydse waarneming nie langer verswyg nie. ‘Wat was dit, Rudolf?’ vra ek en vat my jeugvriend se hand, ‘sê dit vir my as jy kan.’
Hy kyk nog 'n maal ondertoe na die tuin waaragter uit die weiveld die aandnewels reeds begin opstyg. Toe stryk hy sy sagte hare van sy voorhoof
| |
| |
weg en sê met die hartlike toon van sy stem wat my vroeër so vertroud was: ‘Daar is geen onreg by en ook geen onheil nie; ek kan jou dit gerus sê -, vir sover so iets kán gesê word. - Jy het destyds uit my briewe verneem, hoe ek my vrou nou amper vyftien jaar gelede in my ouerhuis leer ken het. Sy het my suster besoek wat sy by die strand op ons Wessee-eilande ontmoet het. Ek het destyds in die mees ingespanne en afmattende werksaamhede geleef. 'n Vennoot op wie se middele 'n deel van die pas opgerigte handelshuis gedryf is, het skielik gesterf, en die ontbrekende geld moes op 'n ander manier binne 'n baie kort tydsbestek bygepas word. Daarby het nog gekom die oprigting van die stoomvaartmaatskappy wat ek reeds destyds voorberei het, maar waarvan die uitvoering gedurig op nuwe hindernisse gestuit het weens die naywer van die omgewing. Ek het, as ek die dag in werk en opwinding deurgebring het, 'n bemoedigende belangstelling nodig gehad, 'n toevlugsoord waar ek my hart kon laat uitrus. Albei het ek by die jong vriendin van my suster gevind. Saans in die tuin van my ouerhuis, by die op- en neerwandel deur die ligusterlanings, was my planne en my sorge die onderwerp van ons gesprekke; sy het 'n oor vir alles gehad en ook 'n begrip daarvan. Die eenvoud en rustige versekerdheid van haar wese wat jy onlangs, reeds die eerste dag van jou besoek hier, in haar bewonder het, was toe al aanwesig. Maar ook die moedswilligheid van die jeug was haar nie vreemd nie. Ek herinner my een aand toe ek by die ou tuintafel teenoor albei meisies in die tuinhuisie gesit het. Daardie dag het allerlei ongelukke my getref. In 'n skielike aanval van moedeloosheid het ek uitgeroep: “Dit gaan op die ou end tog nog bo my kragte!” Sy het nie daarop geantwoord nie, maar sy het swygend haar kin in haar hand gestut en my 'n rukkie soos met toornende, verbaasde oë aangekyk. Toe draai sy haar hoof na my suster en sê
glimlaggend: “Sien jy! Hy glo dit self nie meer nie!” En sy het gelyk gehad; reeds die eersvolgende weke het ek gevoel dat my kragte toereikend was. Dit het ten slotte amper vanselfsprekend geword dat sy haar hand in myne lê en dat ek dié vashou. Ander het my van haar skoonheid vertel; ek het haar daarop beskou; ek het toe nog nooit daaraan gedink en dit ook verder nie gedoen nie. So het sy my vrou geword; 'n gesellin vir die lewe wat die dae vir my gebring het en voor my geplaas het as 'n steeds vernieude probleem om op te los. Jy sal jou herinner - want ek het destyds nogal dikwels aan jou geskrywe - hoe van toe af die een warboel na die ander opgelos is. Vir my het dit gevoel asof dit deur haar hand geskied; want sy op haar plek het die gawe besit om alles op die regte oomblik te doen; sy het die stomme taal van die dinge verstaan, nes Goud-Maria van die sprokie, wat in die verbygaan uit die bome hoor roep: “Skud ons, ons appels is almal ryp!” Reeds na enkele jare was ek in staat om hierdie villa te koop en na ons beskeie wense in te rig. Maar met die geluk wat my begunstig het, het ook my besigheid uitgebrei; ek
| |
| |
het dit nie besit nie, dit het my besit, ek was vasgevang in 'n net van sorge, wat die een die ander opgevolg het; al die kragte van my gees was aan hierdie een diens gewy wat hulle dag vir dag in beslag geneem het.’
My vriend het geswyg. Sy oudste, twaalfjarige dogtertjie het uit die huis na ons toe gekom en na haar moeder verneem. Hy vat haar in sy arm en luister na die tuin ondertoe. Daar kon 'n mens van die glashuis waarvan die wit dak se punt langs die tuinmuur bo die bossies uitsteek, die klein dogtertjie se gelag hoor, en daar tussendeur as 't ware sussend die stem van haar moeder. ‘Toe loop, Jennie!’ sê hy glimlaggend, ‘daar is twee groot vye ryp; julle kan hulle maar vat!’ Sy knik, en weg is sy, die trap af en oor die grasperke wat onderkant die terras lê, en dan verdwyn sy in die struikie.
Haar vader kyk haar 'n oomblik agterna, dan vervolg hy: ‘Dit was in die voorjaar, op 'n Sondagnamiddag; die slanke meisie wat ons nou net na haar moeder toe gestuur het, mag toe 'n halfjaar oud gewees het. Die tuinkamer hier by die terras was juis geverf, die voorjaarson het die vloer beskyn en deur die oopstaande vleueldeur het die geur van die jong blaartjies en ontluikende knoppe na binne gedring. Ek het op die rusbank gesit en 'n boek ter hand geneem, iets wat my sedert lank nie meer onder die oë gekom het nie; ek weet nie, of ek aan jou gedink het en aan die Ou-Duitse studies waarin ons ons een tyd so ywerig verdiep het nie, en of ek my slegs wou vergewis dat hier buite vir my 'n ander wêreld bestaan as daar in die stad tussen die donker mure van my kantore. Dit was Meester Gottfried se Tristan wat ek opgeslaan het. 'n Entjie van my het my vrou teenoor my aan die venster gesit, besig met 'n huiswerkie; in die kamer langsaan het die kind in haar wiegie gelê. Alles was stil; niks het my verhinder om met Tristan en Isote die seereis te begin nie.
Die kiele gly voort; in die eensame middaguur sit Isote op die dek. Die somerwindjie waai deur haar goue hare; maar haar oë is vol trane uit smartlike verlange na haar geboorteland en uit vrees vir die vreemde waar sy die gryse koning se gemalin moet word. Tristan wil haar troos, maar sy stoot hom terug; sy haat hom, omdat hy haar oom Morolt gedood het. Die lug is drukkend, sy het dors. In die kajuit van die jonkvrou staan, onvoldoende bewaak, die minnedrank wat die hart van Isote vir haar bejaarde bruidegom moet laat ontbrand. 'n Klein hofdametjie roep: “Kyk, hier staan wyn!” en Tristan bied argeloos die beker aan die konigin.
“Sy het weif'lend gedrink, sy was so bedroef,
En gee dit vir hom; toe drink ook hy.”
En nou begin die towerspel van die digter; ons leef met hulle saam in hul twyfel en in hul liefdesbegeerte, hoe hulle nie wil nie en tog moet, hoe hulle nog glo dat hulle vry is en tog bang is om mekaar te verloor. Onophoudelik vloei die soete verse; met hul geheimsinnig betowerende melodie bring hulle die hart
| |
| |
in vervoering. Ek het hulle voor my gesien, die skone jeugdige paar, hoe hulle saam teen die borswering van die skip leun: hulle blik weg oor die water om nie te sien hoe hul hande heimlik inmekaar rus nie; en onderwyl hulle heeltemal liefdedronke is, spreek hulle as 't ware toevallige vreemde woorde, van oseaan en newel, van lug en see. - - -
Die geur van die beker wat die ou meester so vir sy leser weet te suggereer, het opgestyg en ook op my sy towerwerking begin uitoefen. Deur die gedig is iets in my gewek wat die lewe tot dusver laat sluimer het; ek het hierdie ander wêreld nog nie leer ken nie wat aan Tristan en Isote nou sy eie onverbiddelike wette opgedring het, waaronder ook die digter self, soos hy in die aanhef van sy gedig sê, wil te gronde gaan en gelukkig wees.
Ek het van die boek opgekyk na my vrou. Destyds, my vriend, het nog die rose van die jeug op haar wange gebloei. Deur die venster het die skaduwees van die jong populierblare op haar voorhoof geval en suutjies heen en weer beweeg terwyl sy haar oë op haar werk neerslaan. - Was sy nie ewe skoon soos die verleidelike Isote nie? Of was die minnebeker geen blote simbool nie en was die geheimsinnige drankie werklik nodig om hierdie soete sinsbegogeling te skep?
Op hierdie oomblik het die kind langsaan wakker geword. Die jong moeder staan op en lê haar werkie neer; maar terwyl sy deur die kamer loop, kyk sy my aan met haar skone, blye oë en wink my om haar te volg. -
Ek moes glimlag. “Wat wil jy nog meer hê!” het ek halfluid vir myself gesê en slaan die ou towerboek toe. En reeds was sy terug en bring vir my die kind wat haar groot oë, nog dronk van die slaap, wyd oopmaak vir die helder voorjaarson. - -
So het dit rustig tussen ons gebly soos dit was. Die een jaar na die ander het verbygegaan; en in die tussentyd het die skone jong vrou langsaam aan my sy verwelk. Ek het dit nie gesien nie; ek het geen oog daarvoor gehad nie hoe die trekke van haar liewe gesig onmerkbaar die tere omlyning van die jeug verloor en hoe die syglans van haar blonde hare verdof; net van haar geestelike wese het ek steeds duideliker bewus geword; ek het duidelik gevoel hoe dit steeds sterker word en ook hoe ek haar steeds meer vereer.
Drie jaar gelede is daar nog 'n tweede dogtertjie gebore - luister net! Hulle is in die glashuis; hoe argumenteer sy nie met haar suster nie!
Ondertussen het my werksaamhede geleidelik makliker geword; die besigheid het sy gereëlde gang gegaan, sodat ek baie aan ander hande kon oorlaat. My lewe kry eindelik weer ruimte vir ander dinge. Daar die noodsaaklike sonder moeite kon gebeur, het die drang na skoonheid wat die mens aangebore is, hom weer laat geld. Ek het die tuin sy teenswoordige vorm gegee en daar onderkant die roostuin laat aanlê. Jy het reeds gehoor dat
| |
| |
sy die rose bo alle ander blomme liefhet. Die jaar daarop is die ruime tuinhuis agter die roostuin gebou. Die houtmosaïek van die vloer, die gemakstoele en wat daar verder aan huisraad in nodig was, het ek na tekeninge van 'n bevriende argitek deur kundige handwerkers laat vervaardig; voor die helfte van die hoë vensters is liggrys sygordyne gehang, sodat 'n gedempte, weldadige lig verkry is. In hierdie stil plekkie in die tuin het ek vir die eerste keer in ongestoorde samenhang die eeue-ou sange, die Odyssee - die Nibelungenlied, gelees; ek het hulle hardop gelees; want sy sit langs my en luister, en haar vlytige hande lê onbewus die werk neer. Ook die huismusiek is nie vergeet nie; my het die lewe geen tyd vir die beoefening van kuns gelaat nie, maar my vrou kon sing, en sy het dit altyd graag in my en die kinders se teenwoordigheid gedoen. Ander het daarby gekom wat net so goed kon sing; want onmerkbaar het 'n klein kring van deelnemende en gelykgesinde mense hulle by ons aangesluit.
So het in Junie van die vorige jaar my veertigste verjaarsdag gekom. - Die vroeë oggendson het my gewek, verder het alles nog geslaap. Ek het my aangeklee en loop deur die stil huis na die terras. Die grasperke daar onder was nog in diepe skaduwee; net die toppe van die bome en die vergulde nokkie van die tuinhuis glans in die oggendson; daar anderkant op die water lê nog die wit newel waaruit die wiegelende punt van 'n mas net nou en dan te voorskyn kom. Ek het langsaam in die tuin afgestap, geheel vervuld van die gevoel van die soete ongerepte more; ek stap suutjies, asof ek bang is om die dag te wek.
Die vorige aand het ek weer 'n keer Meester Gottfried se Tristan gevat en my geheel in die ou boek verdiep. Dit was die laaste blaaie wat hierdie grasieuse digterhand geskryf het.
Die towerkrag van die minnedrankie het proefhoudend geblyk. Die skone koningin Isote en Tristan, die koning se broerskind, hulle kon mekaar nie laat staan nie. Die ou lankmoedige koning het eindelik die skuldiges verban; die digter egter bevredig sy kloppende hart en lei sy lieflinge ver van die mense in die wildernis. Geen spioen het hulle gevolg nie; die son skyn, die blomme geur; in die geweldige eensaamheid net sy en hy; om hulle heen die ruisende woud, en onsigbaar in die uitspansel die onophoudelike gesang van die voëls. Hulle wandel in die aandskynsel deur die veld, daarheen waar die koel fontein klater; daar sit hulle onder die lindeboom en blik terug na die rotsgrot waar hulle die nag saam gerus het. Sonop ry hulle op jag deur die bedoude heide, die boog in die vuis, die perde teen mekaar dringend, Isote se goue hare om Tristan se skouers waaiend.
In die stil morelug het die beelde van die gedig soos drome in my opgestyg. Intussen het dit later geword; die son skyn warm op die tuinpaadjies,
| |
| |
KONTRASTE.
Deur J.A. Smith.
| |
| |
die dou drup van die blare, die welriekende geure van die blomme versprei hulle, en in die lug begin die fyn musiek van die insektewêreld. Ek het die volheid van die natuur gevoel, en 'n gevoel van die jeug het oor my gekom asof die geheim van die lewe nog onontseël voor my lê. Ek verhaas my stap, ek loop minder suutjies; onwillekeurig strek ek my arm uit en breek 'n bloeiende takkie van die struike wat langsaan in die grasperk staan. Onder voor die tuinhuis staan nog die tuinstoele soos ons hulle die aand tevore verlaat het; teen die geslote vensterluike drup die dou af. Ek haal die sleutel uit sy bergplek onder die trap en maak die deure wyd oop dat die oggendlug kan na binne dring. Daarop stap ek terug, trek in die verbygaan aan die geslote deur van die glashuis en gaan na 'n rukkie deur die tuinkamer na die woonkamer van my vrou. In die huis is alles nog stil, die morerus lê nog in alle hoekies. Maar 'n sterk fris rosegeur skyn die nabyheid van 'n verjaardagstafel te verraai. Toe ek die deur van my werkkamer oopmaak, val my oog op 'n olieskildery in ovaal medaillonvorm wat op my skryftafel gestut staan. Dit was die lewensgroot profielbeeltenis van 'n meisieskop; oor die swaar, vergulde lys waarin dit geraam is, lê 'n festoen van groot-oop donkerrooi rose. Die kop was 'n bietjie agteroor gegooi, die glansende blonde hare lyk of hulle pas flussies deur 'n ligte hand teruggestryk is; op die halfgeopende lippe lê die kostelike oormoed van die jeug.
Ek het ademloos die skone, jeugdige gelaat staan en aanstaar; dit was vir my asof ek my nabyheid nie durf verraai nie, asof deur 'n onversigtige asemtog alles in 'n waas kan wegwaai. Dit moes 'n wêreld vol voorjaarsonlig wees waarin hierdie jong laggende oë kyk. Ek buig onwillekeurig my hoof. Sy - dit moes sy gewees het; met haar sou ook ek in daardie eensaamheid gevlug het waarna elke mensehart eenmaal verlang - - -’
Rudolf het my hand gevat.
‘En waarom was dit nie sy gewees nie? - Jy ken die beeltenis. Wat ek gesien het, was nie die verbeelding van 'n skilder nie, nie miskien die blonde koningin Isote wat wellig nooit geleef het nie. Hierdie gelaat voor my het aan die lewe, aan my eie lewe behoort; so was sy eenmaal gewees wat baie jare gelede haar hand in myne gelê het, wat nog aan my sy leef.
Ek het weer opgekyk, dit het my nie met rus gelaat nie; die dors na skoonheid het my geheel oorweldig. Die aanhef van 'n ou lied skiet my te binne: “O jeug, O skone rosetyd!” - sy het dit destyds in my ouerhuis dikwels gesing. Ek strek my arms na die beeltenis uit asof sy so nog 'n keer moet terugkeer, asof hierdie soete, jeugdige gestalte nog nie vir altyd aan die verlede ten offer geval het nie.
Toe plotseling, terwyl my hart deur berou en deur vergeefse smartlike verlange verskeur word, kom 'n besef van ontwyfelbare, onuitspreek- | |
| |
like geluk oor my. Sy wat eenmaal so gewees het, sy self lewe nog, sy is in die onmiddellike nabyheid, ek kan nou al, hierdie oomblik nog by haar wees.
Ek het die kamer verlaat, ek het haar gesoek; maar sy was nie meer in die huis nie. Toe ek afgaan na die tuin toe, kom sy my onderkant die terras teë. Sy kyk my glimlaggend aan asof sy in my oë die vreugde oor haar verjaardagsgeskenk wil lees. Maar ek het haar geen tyd gelaat nie, ek het swygend haar hand gevat en haar na die tuin gelei. En soos sy in haar wit oggendkleedjie op haar meisiesagtige manier langs my loop, met haar stil oë my vraend en verbaas beskouend, soos haar hand so lig en toegewyd in myne lê, kon ek nie wag om my in aanbidding voor haar neer te werp nie, want al die hartstog van my lewe het ontwaak en op haar aangedring, onstuimig en onweerstaanbaar.’
Rudolf swyg 'n oomblik; toe sê hy saggies, terwyl hy voor hom uit in die aandgloed kyk wat reeds met sy laaste skynsel aan die hemel brand: ‘So het ook ek nog uit die minnebeker gedrink, 'n diep, kragtige teug; te laat - en tog nog nie te laat nie!’
Ons het swygend langs mekaar gesit; langsamerhand het die duisternis geval. In die tuin het alles stil geword, maar onder in die tuinhuis was die ligte al aangesteek en het deur die bossies geskyn. Toe word 'n akkoord aangeslaan en, deur 'n diepe altstem gesing, klink die woorde deur die nag:
THEODOR STORM
(vertaal deur J.J. Dekker).
|
|