| |
| |
| |
Oor Boeke.
C.M. van den Heever. Die Digter Totius. Sy betekenis vir die Afrikaanse Letterkunde. J.L. van Schaik, Bepk., Pretoria.
Ek glo nie dat ek my vergis as ek in hierdie proefskrif 'n teken van die tyd sien nie. Ons lewe in 'n tyd van kulturele bewuswording, van bewuste soeke na die oorspronge en die wese van ons kultuur om daardeur te geraak tot 'n verdiepte kennis en waardering van die suiwer nasionale waaruit ons lewe, en waarop ons kan voortbou. Daarom is dit 'n verblydende teken dat een van ons jong kunstenaars, tewens geleerde wat sy wetenskaplike vorming voltooi het in Nederland en sy kunsaanvoeling verdiep en verfyn het deur die studie van die moderne Nederlandse letterkunde, hom geroepe gevoel het om dieper deur te dring tot die gees en die kuns van Totius. Immers in die kuns van hierdie digter is van die vernaamste oorspronge van ons kultuur, die Calvinistiese geloof en wêreldbeskouing, waarsonder ons die Afrikaanse geskiedenis en volkskarakter nie kan begryp nie, nog steeds die bron van lewe en besieling. Daardeur is Totius ook die tolk by uitnemendheid van wat daar omgegaan het in die siel van die Afrikaanse volk gedurende die belangrike jare na die Tweede Vryheidsoorlog.
Maar Van den Heever se proefskrif is vir my ook in 'n ander opsig 'n teken van die tyd: dit is 'n openbaring van die onmiskenbare verdieping wat daar die laaste jare in ons letterkundige kritiek merkbaar is - hoeveel dwaashede en oppervlakkighede daar ook nog in die naam van die kritiek gedebiteer mag word!
Van den Heever het sy taak nie onderskat nie en in die kern aangegryp. Die groot verdienste van sy boek is dat hy besef het dat die enigste manier om die kuns van Totius te benader, is om deur te dring tot die gees van die Calvinis Totius, sy taal te verstaan, die skone sintese te vind waaruit sy skoonheidsontroeringe voortgevloei het. Totius se weemoedig berustende smart, sy liefde vir land en volk, sy gehegtheid aan die ou nasionale, sy leed oor die opdringende vreemde skynbeskawing, wat hom tot boetprofeet maak, sy natuursimboliek, die karakter van sy vers en van sy taal, wortel in daardie sintese.
Daarom is die eerste hoofstuk 'n verdienstelike poging om die wese van die Calvinisme te gee, veral soos dit hom in Suid-Afrika geopenbaar het. Wel doen hierdie hoofstuk nog te veel aan as 'n bewuste, enigsins moeisame poging om sig van buite af in die onderwerp in te lewe. Ons mis in sy bespreking die logiese klaarheid van die lewensbeskouing wat hy wil karakteriseer. Dan volg die hoofstuk ‘Lewensagtergrond en eerste pogings’, waarin die invloed van Totius se geniale vader goed geteken word. Mooi is die volgende karakteristiek:
‘(Totius) is in die eerste plek digter en geleerde. Sy gees is na binne gerig, hy neem die buitewêreld op en verinnerlik dit tot sy wêreld. Plaas die portret van Totius naas dié van sy vader, en die verskil is dadelik opvallend - die onderskeid in tipes tussen die weemoedig-berustende mens en die aktiewe plannemaker (hierdie laaste woord is minder gelukkig. - G.D.). Die weemoedige uitdrukking op Totius se gelaat vertoon veel ooreenkoms met dié van 'n Gezelle, 'n Mörike s'n. Pessimisme is dit allermins. Die lyne van die gelaat, die neerhangende hoekmond, die blik in die oë: alles getuig van die weemoed waarin die digtersiel lewe, 'n weemoed wat ons
| |
| |
altyd aantref by digters met sterk introspektiewe neiging, innige oorgawe.’
Nadat die skrywer ons die geestelike agtergrond geteken het waarteen hy Totius sien, skets hy ons deur middel van 'n analiese van sy verskillende digbundels en gedigte die digter se ontwikkelingsgang. Hy laat ons sien hoe die paar motiewe wat Totius se poësie beheers, ryp en verdiep tot skoner kuns. Hy sien Totius as ‘die ernstige peinser wie se gedigte, onder watter verskillende omstandighede nou ook al ontstaan, altyd fynveselig vasgeweef is aan 'n eenheidskern’. Van den Heever gee hier blyk van ware kritiese gawes. Hy pas nie slegs meganies 'n aantal norme toe wat hy opgedoen het by sy studie van moderne Europese digters en kritici nie: hy stel sy siel oop vir die vers van Totius en beluister daarin die fluisterstem van die ontroering. Hy besef dat elke digter, maar veral Totius, volkome oorgawe eis. Daarom het hy die ontroering ondergaan van gedigte en verse wat menigeen onverskillig verbyloop. En hy dring diep in tot die wese van hierdie heel besondere skoonheid, belig dit, karakteriseer dit telkens in mooi ontledinge en beskouinge. Slegs een mooi suggestiewe karakteristiek na aanleiding van ‘Trekkerswee’ ter illustrasie:
‘Waar sy poësie verloor aan die kleurehewigheid, aan grootsheid van plastiek, aan die dansende ritme en gloeiende sinsgenot van die digter wat die aardse heerlikheid lowe, daar win hy aan soberheid en eenvoud, wat strewe na eenheid van lyn, diepinslaande segging, na sobere lewenswysheid, na die streng-bindende sintese. Mag die sterk verbeeldingsdrif ontbreek wat 'n groot stof omvorm tot 'n indrukwekkende geheel, die ewewig tussen hart en hoof is aanwesig, waardeur die gevoelstroom neig na die simboliese diepte en daar 'n harmonie ontstaan, wat nie op uiterlike skittering en beweging berus nie, maar op 'n dieper-wykende agtergrond wat ons onverwags die Ewigheid laat gewaar...’
Tot hierdie insigte geraak hy dikwels deur vergelyking met verwante digters soos Revius, Da Costa, Gezelle, of deur teenstelling met 'n kunstenaar soos Boutens. En Van den Heever tree nie op as die blinde verheerliker van sy bewonderde digter nie. Sy lof is hooggestemd, maar krities en gemotiveerd. Hy wys ook eerlik op die beperkinge van Totius se kuns, op die swakke en die onbesielde. Maar hy het eenkeer die ewigheidsruise gehoor in sy verse, gevoel dat daarin ‘word die woorde draers van verborge geheime, kry hulle ook iets van die afglansing van 'n wêreld waarheen ons voorgevoel ons ewig trek, maar wat ons sintuiglik nie binne kan gaan nie.’ En van die oomblik af is sy siel verryk met die gawe om hierdie ewigheidsruise op te vang.
Die beste hoofstuk is seker die vyfde, waarin die totnogtoe onderskatte bundeltjie ‘Wilgerboombogies’ bespreek word.
Of daar dan glad geen kritiek op hierdie werk uit te bring is nie? Dis hier natuurlik nie die plek vir détail-kritiek nie. In so'n uiters subjektiewe iets as literêre kritiek sal daar altyd verskil van mening bly - gelukkig! Ook ek het meer as een vraagteken of kruisie geplaas. In sy strewe om sy opvattinge te motiveer is Van den Heever soms nodeloos breedvoerig, haal hy onnodig die uitsprake van ander aan, en verval soms in herhalinge. Die hoofstuk oor Totius as psalmberymer bevredig nie. Hier het die skrywer 'n uiters moeilike taak gehad wat 'n studie op sigself is - ook kon sy konklusies nog maar voorlopig wees, omdat Totius hierdie belangrike werk nog lank nie voltooi het nie. Maar hierdie hoofstuk dra die spore van haastigheid, en die skrywer het nie gebruik gemaak van al die bronne wat tot sy beskikking was nie.
Ook vra ek my af of Van den Heever hom wel genoeg bewus was van dié aspek dat Totius se hele digwerk in sekere opsig kan beskou word as die natuurlike voor- | |
| |
bereiding vir sy grootse taak as psalmberymer.
Die hoofstuk ‘Invloede en Taal-evolusie’ bevat 'n mooi vergelyking tussen Totius en Gezelle, maar die behandeling van die veranderinge wat Totius later aangebring het in sy werk, veral in ‘Rachel’, is teleurstellend. Die skrywer maak hom daarvan af met te verwys na die nog maar onvolledige voorstudies wat op hierdie gebied gelewer is en met die opmerking dat dit ‘'n uitvoerige studie sou kos’ - hierdie studie moes hy hom getroos het.
Deeglike bestudering van hierdie boek deur ons onderwysers en studente sal die hoop wat die skrywer in sy Voorwoord uitspreek dat dit ‘iets sal bydra om die digter Totius beter te laat begryp en waardeer’, verwesenlik en ons letterkundige studie in die algemeen ten goede kom.
G. DEKKER.
| |
Humor in die algemeen en sy uiting in die Afrikaanse letterkunde. Deur Dr. F.E.J. Malherbe. Twede, hersiene en vermeerderde druk. Swets en Zeitlinger, Amsterdam.
Dit is al 'n hele tydjie gelede dat dr. Malherbe se werk oor humor verskyn het. Dit gebeur maar selde dat 'n proefskrif so'n goeie afset het dat 'n tweede druk aangevra word. In die geval van hierdie proefskrif is dit verstaanbaar, want dit is 'n deeglike stuk werk wat veel gedaan het om ons 'n beter insig in die wese van letterkunde te gee. In hierdie tweede, hersiene en vermeerderde druk bied dr. Malherbe ons 'n boek aan wat sowat 'n honderd blaaie dikker is as die eerste druk. Nie alleen het hy probeer om die Afrikaanse letterkunde tot op datum by te werk nie (vgl. 'n nuwe hoofstuk oor Visser, breër beskouings oor Langenhoven, Van Bruggen, ens.), maar aan die styl, die hele uitdrukkingswyse het hy gewerk, sodat dit soberder en van 'n meer effektiewe krag is. In die eerste druk het ons nog in die verte Prinsen se stem verneem, maar die skrywer het intussen veel gestudeer, en sy styl is nou sy eie, gegroei uit sy ontwikkelde lewensbeskouing.
Daar kan vir die student in die letterkunde seker nouliks 'n aantrekliker studie wees as oor humor in al sy fyne nuanseringe. Dr. Malherbe sowel as ander wat gesaghebbend oor hierdie onderwerp geskrywe het, meen dat die ware, grote humor, wat die resultaat is van 'n bepaalde lewenshouding, 'n sekere totaalgevoel, 'n moderne verskynsel is. Van die vroegste tye af het skrywers die waardeloosheid van die aardse lewe deurvoel en dit liefdevol probeer aanvaar, instede van, as gevolg van innerlike swakheid, sinies daarteenoor te staan. Maar met die ontwikkeling van die mens se geesteslewe, sy verdiepte blik in die komplekse lewensverskynsels, sy vermoë om uit te styg bo die donker omringende wêreld en dit met 'n weemoedige glimlag van die lewensdeurgronder te sien, openbaar hom ook in die letterkunde, in buitengewoon verfynde vorm: die humor. Dit is die blanke, lieflike blom wat opgegroei het uit die donker grond van leed, van worsteling, van stryd om lig. Laat ons onthou dat hierdie blanke blom onmoontlik is sonder die donkerte van die aarde daaronder. Talle van die fynste humoriste se lewe bewys dit juis vir ons dat die weg van die humor dwars deur die pessimisme lê. Tereg roem dr. Malherbe vir Felix Timmermans as 'n besonder gevoelig-beeldende humoris. Kon daar 'n groter lewensvertwyfelaar gewees het as hy met sy doodgedagtes wat sku opgehuiwer het in die skemeringe van die dood? En toe hy die lewe byna verloor, toe ontdek hy plotseling die waarde van daardie gesmade liefde. Van lewensaanvaarding kom hy tot lewensliefde, wat uitbloei in sy skone skepping Pallieter. Die oomblik wanneer ons in ons lewensnood, in ons vertwyfeling plotseling die verruiming van die tere glimlag voel, dan gloei daar netnou uit die diepte 'n warmer lig op: ons kyk die lewe
| |
| |
in die oë soos 'n vriend wat ons verstaan en nie haat nie: ons is humor-bewus. Daaroor sal die humor nooit die onbedaarlike lag wek wat die Middeleeuer laat skud het as hy na die plat-klugtige esbattemente kyk nie. Dit veronderstel 'n diep ontwikkelde innerlike met 'n gevoel vir waardenuanseringe. Daar is die laere en hoëre humor: die laere verklaar die kwaad en dwaasheid met goedmoedige skerts en is ryk aan gevoeligheid, wat deur innigheid van ons bespieëling van die wêreld in ons self 'n laggende of skertsende tevredenheid opwek. Die hoëre humor gaan egter bokant hierdie mymerende houding uit, dit styg bokant die kleinlikheid en huigelagtigheid van die lewe, bokant vernedering en hartstogtelike geworstel en kyk met 'n innig begrypende glimlag neer op die aardse gewemel. By Shakespeare, Bredero, Querido sal ons dit vind. Humor getuig so van 'n gerypte lewensbeskouing, van lewensverwinning. Hoe banaal is dit daarom nie om 'n grappige, geestige kêrel ‘humoristies’ te noem nie! So is die woord deur onkundiges verneder.
Maar om al die kante van hierdie hoogs belangwekkende onderwerp te bekyk, moet die leser - elke onderwyser wat les gee in letterkunde, moet die doen - hierdie werk sorgvuldig lees. In Deel I behandel die skrywer humor in die algemeen; hy wys op die bewuswording van die humor; die komiese; die wese van die humor self; humor en satire; humor en ironie, en humor en tragiek. Hierdie deel is, net soos Deel Twee, heelwat omgewerk. Dr. Malherbe het die nuutse werke geraadpleeg wat verskyn het oor die onderwerp, so, b.v., Bierens de Haan se insigryke ‘Zin van het komische’. In Deel Twee behandel die skrywer die komiese en geestige voortbrengsels van die Eerste Taalbewegings; en die verskillende goeie Afrikaanse prosaskrywers se werk deel hy in onder die hoofde: Humor in gemoedelikheid (Visser, Maré, Van Bruggen, Sangiro, Langenhoven); humor in satire (dr. O'-Kulis, Langenhoven); humor in tragiek (Leipoldt). Die skrywer wou blykbaar nie stelselmatig al die openbaringe van die verskillende vorme van die humor in die Afrikaanse letterkunde nagaan nie (ek dink, b.v., aan die Hobsons se werk, wat in hierdie opsig op een lyn kan gestel word met Sangiro s'n). Hy wou net sy teorie oortuigend maak deur illustrasies.
Hier en daar moet die leser onwillekeurig 'n vraagteken plaas by dr. Malherbe se beskouinge oor die Afrikaanse outeurs. Die skrywer vertolk myns insiens Visser se gedig oor die ou Voortrekker se dood verkeerd: ‘In die plek van die Patriot-gemoedelikheid is hier die digter-hartstog,... in die plek van gemeenplasigheid is hier psychologiese beelding, geskakeerdheid, rythmiese dwang,’ karakteriseer hy, soos Kloos dit eertyds in verband met die Tagtigers gedaan het. Maar wie Visser se gedig noukeurig lees, sal nie daarin vind wat die skrywer daarin lees nie. So is daar ander plekkies waar dit vir my lyk of die skrywer die visier te hoog opslaan. Maar dié is van minder belang.
Dr. Malherbe hou van die wysgerige indringing in die letterkunde, van die gloedvolle bespieëling, die intense deurlewing van 'n skrywer wat vir hom simpatiek is. Hy besit die vermoë om die wesenlike te peil agter die kunswerk, die alles-deurstralende gees te verstaan, en dit maak sy uiteensetting vir ons belangrik, omdat ons in ons letterkundige beskouings so graag met ons brandmaer aantekeninge aankom. Dr. Malherbe se werk is ook simpatiek om die menslike toon. Sy beskouing oor humor kan ons volk leer om op hierdie stadium van ontwikkeling geestesbalans te kry, want ‘sensitiveness to the comic laugh (d.w.s. die fyne, geestelike) is a step in civilisation’, soos Meredith dit uitdruk.
C.M.V.D.M.
| |
Media vita: Gedichten van J.C. Bloem. Joh. Enschedé en Zonen, Haarlem.
Bloem is een van die fynste moderne
| |
| |
Hollandse digters. Hy behoort tot die groep van Van Eyck, Gossaert, Roland Holst, Nijhoff. Sy bundel ‘Het Verlangen’ het veel opspraak verwek, en Robbers het tereg opgemerk dat hierdie bundel om die menslike teerheid daarin waarskynlik nog sal lewe ná die werk van baie tydgenote vergete is. Om die werk van Bloem te waardeer, is dit nodig dat die Afrikaanse leser dit oor en oor lees. Ons sê so maklik dat 'n digter ‘onverstaanbaar’ is so gou as hy nie Tollens-agtig sy gevoelens vir ons soos 'n formule uitdruk nie. Onder die moderne Nederlandse digters is daar diegene - en Bloem is 'n meester in hierdie opsig - wat strewe na fynheid van gevoelsverklanking, gevoelsuitdrukking. Ons het ons gewone growwe daaglikse aandoeninge, maar daar kom oomblikke in die lewe van die nugterste mens wanneer hy voel dat die ewigheid langs sy hart verbygaan: by die lyk van 'n geliefde voel hy dit, as hy in die aand staar oor die wye seevlak en die geruis van die branders hoor, as sy siel aangeraak word deur werklike liefde. Maar om die fyne aandoening uit te druk, is alleen gegee aan begenadigdes. Ons kan dit soms met woorde moeilik vat - nee, deur die woorde flits daar iets van die emosie-wonder, dit tril agter die sinne soos 'n onsigbare vlinder, dit gly oor die woorde en ritmiese deining heen soos die adem van ons diepste gevoel. Die fynste geeste haat die growwe, lukrake uitdrukking van growwe gevoelens; hulle soek na die individualisering, na 'n magiese oproeping in die woord van die geheimsinnige gevoelens, wat soms net vir 'n sekonde deur ons hart huiwer. Hierdie tipe digter sal nooit populêr word nie, maar wie deurgedring het in sy werk, moet die banaliteit verafsku van baie Catsiaanse geeste wat ‘so dig staan by die volk’.
Op die agtergrond van al Bloem se gedigte is 'n ewigheidsgevoel. Die verskynsels van hierdie wêreld, al die aardse beweginge, die kortstondige in die menselewe sien hy teen daardie agtergrond. Hy maak nie altyd die gewone verskynsel tot simbool van die ewige nie, maar sy hele uitdrukking wieg op daardie dieper gevoel van verganklikheid wat soos 'n skaduwee al die ondermaanse vergesel. Die eerste gedig in ‘Het Verlangen’ is een van die mooiste wat Bloem geskrywe het. In die rustelose gedruis van hierdie wêreld met sy nuttelose strewe bly vir hom net die sekerheid van sy ouerhuis oor. En as hy in die nag wakker lê, hoor hy die verborge ruising:
De stilte spoelt en ebt door de portalen,
De diepe nacht wordt zilveren en zwart;
En 'k lig te luisteren, hoe het ademhalen
Van de beminden aanstroomt naar mijn hart.
En wensen slechts, nu de dag mij is verleden,
En zijn verneedring van mij henen glijdt,
Dat ik mijn nooit-gesproken teederheden
Aan 't ruischend hart des donkren nachts belijd.
In sy ‘Nieuwe Geluiden’ het Dirk Coster tereg vir Bloem gekarakteriseer, in vergelyking met sy tydgenote, as die mees menslik-opene, teer en sku, en weerloos naas die rustig-geestelike weerbaarheid van P.N. van Eyck. Hy is die gevangene van 'n liefde wat geen doel weet nie, van 'n oneindige verlange, ‘dat alleen maar hulpeloos en bedroefd weet uit te staren’.
Baie jare na ‘Het Verlangen’, 'n naam wat al opmerklik genoeg is, kom ‘Media Vita’. Die digter se toon het dieselfde gebly, maar hy wat gevange is in die donkerte van die aardse begrensdheid en nooit verlos kan word van sy heimwee na 'n verre vreugde nie, het tog 'n beter houvas in die lewe gekry, daar is berusting, al gaan dit gepaard met 'n lewensmoegheid:
Wat dan te doen, grijs landschap, grijze luchten,
| |
| |
Uit de oudste dromen van de ziel gemaakt,
Wat met dit hart te doen, welks diepste zuchten
Al haast niet meer naar deze dingen haakt?
In hierdie vreemde wêreld moet hy tot die aanvaarding kom dat, hoe opstandig die siel ook al was, beteres hom voorgegaan het met 'n minder deel as hy. Telkens kom by hom die gevoel terug van die waardeloosheid van dit alles:
En beiden: 't lichaam, tot de dood verzworven,
Waarin het leven niet meer kolkt en schuimt,
Het wordt, in een toevallig bed gestorven,
Op een vuig kerkhof haastig weggeruimd.
Herinnering en verlange, lewe, dood: dit beheers die digter se beskouing, en baie duidelik teken hy vir ons die kontras tussen lewe en dood in die laaste gedig - dit karakteriseer hom voldoende as digter:
Leven: een duizeling bevangt de lijven,
Het lentefeest rumoert met dans en schal.
Dood: op de heuvelen alleen te blijven,
Terwijl de herders keerden naar het dal.
C.M.V.D.H.
| |
Het literaire kunstwerk. Door W. Kramer. J.B. Wolters, Den Haag.
‘Handboeke’ oor die wese van kuns kan 'n gevaarlike en skadelike uitwerking hê. Daar is tallose skoolvosse aan die werk wat presies weet hoe 'n kunswerk moet wees, waarom dit ons ontroer en hoe dit alles hokkiesgewyse ingedeel kan word. Hierdie soort beskouings gee maklik aanleiding tot geestelike ontaarding. Groot kunstenaars het soms 'n mening uitgespreek oor hul eie werk, oor die skeppingswonder, en hierdie intuïtiewe mededelings is soms die meeste werd om ons 'n insig te gee in die bou van 'n kunswerk. Daar het egter - waarskynlik onder die drang om al dié dinge ‘uit te lê’ op skool en aan die Universiteit - 'n respektabele hoeveelheid woorde en uitdrukkinge opgehoop in verband met kunsvertolking, en vir die kritikus is dit die eenvoudigste weg om hom met woorde uit hierdie arsenaal te wapen. Daarom word daar soveel beskouings geskrywe waarin niks gesê word nie, die woorde net niksseggende artistieke huigelaars is.
Dit is egter ook misleidend om te dink dat beskouings oor kuns net die skone vernietig, dat mens passief die skoonheidsindrukke moet ondergaan en nie moet vra na verklaring van jou besondere aandoeninge nie. Daarom sê Th.A. Meyer dan ook tereg: ‘Der Kunstgenuß wird bereichert und vertieft, wenn man das Gefühl hat, dem Kunstwerk nicht bloß mit dunklem Empfinden, sondern mit der lichten Erkenntnis gewachsen zu sein.’ Elke kunstenaar, elke kritikus verdiep dan ook voortdurend sy kunsbeskouing. Dit groei saam met sy lewensbeskouing. Om 'n kunswerk aktief te deurleef instede van dit passief te ondergaan, ontwikkel die vermoë om heel suiwer aan te voel waar die essensiële foute van die werk skuil.
W. Kramer is vir ons as kunsbeskouer goed bekend uit sy artikels in ‘De Nieuwe Taalgids’. Wat hierdie werk van hom van belang maak, is die feit dat Kramer nie maar net aandraf in die oopgetrapte paadjies nie, maar met 'n fyne sin vir die oorspronklike probeer hy om insig te gee in die verskillende kunssoorte, en hy benader dit in die lyn van die nuwere poëtiek en stilistiek, wat soveel verheldering in die kunslewe gebring het. Wat veral belangwekkend is vir die student wat belangstel in hierdie rigting, is die beredeneerde literatuurlys van die skrywer aan die einde van sy werk. Veral werke uit Duits - die Duitsers is van oudsher bekend om hul wysgerige benadering van kunsprobleme - is van die grootste belang.
| |
| |
Kramer se werk het ongetwyfeld invloed ondergaan van die fyne, indringede werk ‘Das dichterische Kunstwerk’ van Emil Ermatinger. Hierdie kunssinnige Duitse geleerde het ontsaglik veel gedoen om insig te gee in die organiese eenheid van 'n kunswerk, om langs die weg van psigologiese indringingsmetode 'n kunstenaar se persoonlikheid te ontdek, instede van stukkies uit sy werk aan te haal, dit te prys of af te keur. Sy drie dele oor die Duitse liriek is meesterstukke, en wat sy karakterisering van die verskillende digters betref, sy aandagtige ontleding van gedigte, kan hy seker moeilik oortref word.
Kramer behandel in bogemelde boekie 'n veld wat al oor en oor gedek is. Maar ons kan nie sê dat sy beskouings oorbodig is nie, want in die aangename, oorspronklike manier van beskouing lê die bekoring daarvan. Behalwe gewone dinge wat in elke boek van hierdie soort behandel word, soos b.v. in Poelhekke se werk, soos ritme. maat, rym, vorm en inhoud, die digsoorte, probeer die skrywer om vir ons die betekenis van kuns as lewensvorm en lewenswaarde te belyn, asook om die aandag te vestig op die inwendige betekenis van styl en die verskillende stylrigtinge.
Om 'n suiwer insig in die literêre kunswerk te kry, sê die skrywer, beteken om in te dring in die wese van die taal - die taal wat die onmiddellike spraak van die gees is. Deur die ontdekkinge van die psigologie het ons daartoe gekom om te verstaan dat ons waarneming, voorstelling en die daarmee gepaard gaande gevoelens hulle in ons voltrek as motoriese aandoening. Op elke sinnelike indruk reageer ons organisme deur 'n refleksiewe beweging - of dit nou al sigbaar is of nie. Al ons ervaring word geprojekteer in 'n imiterende mimiek in ons senuwee- en spierstelsel, sodat as wet van ons waarnemingslewe geld die woord van Holophernes in Hebbel se Judith: ‘Man wird das, was man sieht.’ By 'n spontaan lewende kind is hierdie imiterende reagering baie duidelik waar te neem. By die ontwikkelde mens is dit nie so maklik te sien nie want hy het hom leer beheers, maar in oomblikke van kragtige opwinding openbaar hy onwillekeurig sekere bewegings. Ons waarneming is dus 'n weerspieëling van indrukke. Die kragtige indruk bly as voorstelling met 'n karakteristieke gevoelstoon in ons bestendig. Ons het die vermoë om uit voorstellinge en voorstellingselemente nuwe komplekse te vorm tot eie gevoels- en gedagtebeelde, wat hulle ook as motoriese reflekse in ons organisme projekteer. Dit is die skeppingslewe van die gees, maar dié is so fyn en ingewikkeld dat geen psigologiese ondersoek ooit die geheim daarvan sal ontsluier nie.
Die skrywer gee 'n baie mooi beskouing oor die digter se vermoë om in die wonder van die taal sy aandoening uit te kristalliseer; eers in die taal bestaan die gedagte, het dit tot bewuswording gegroei. Die kunstenaar se verbeelding is veral suggestief, want hy is die vinder van die sintetiese gebaar wat konsentrerend werk in ons voorstellingslewe en daar die persoonlike beeld laat opbloei.
Oor die uiters moeilike kwessie van die verband tussen metrum en maat kan mens natuurlik baie verskillend redeneer, soos Albert Verwey in sy mooi studie aangetoon het. Is ritme die natuurlike lewensbeweging van alle taaluiting, sê Kramer, maat is iets kunsmatigs, aan die taal nie eie nie. Tog het die aanwending van maat in die vers en die bekoring wat daarvan uitgaan, sy psigologiese grond. Die opmerkings wat die skrywer maak oor rym, plastiek en beeld vind ek die beste in sy boek. Daar is al soveel geredeneer oor die waarde van rym vir 'n gedig, en veral van die jonger digters het dit beskou as iets uit die bose. Maar die besware teen rym het nooit uit die aard daarvan ontspring nie, maar uit die misbruik wat daarvan gemaak is. Die rym is 'n algemene verskynsel in sy ruime sin van herhaling van dieselfde klank in beklemtoonde letter- | |
| |
grepe. Dit het 'n drieërlei werking: die aangename indruk op die gehoor as melodiese klankspel; die bondige krag van sy parallelisme, sy effektiewe uitdrukkingswaarde. Die fyn gekose voorbeelde van die skrywer, waarin die afwisselende werking van die rym aangetoon word, toon dan ook afdoende die taalvernuwende krag wat in die wese daarvan gesoek moet word, want sy eintlike oorsprong sal ons vind in die mimiese karakter van die taal, wat herleef in spontane gevoelsuiting en in die drang by die digter om sy gedagte melodies, suiwer en afgerond te verklank.
Die skrywer meen dat ons liewers nie moet praat van ‘plastiek’ van die taal nie, aangesien hierdie woord meer by die beeldende kuns tuis hoort. Veel liewers kan ons van die ‘evokatiewe’ mag van die woord praat, aangesien die woord en woordakkoorde 'n ryk voorstellings- en gevoelsfeer oproep.
Ek wil nog net wys op die skrywer se besonder fyn opmerkings oor die ekspressiewaarde van die enjambement (veral by Gezelle en Gorter), wat 'n verswakking van die metriese snede is aan die einde van die versreël deur die oorloop van die sin uit een vers in die ander. Hoe die enjambement, gewoonlik in verbinding met alliterasie, die aanskoulike in die taal kan verhoog, die karakteristieke klankgebaar kan aksentueer, toon die skrywer baie duidelik aan.
Oor die algemeen doen ‘Het Literaire Kunstwerk’ fragmentaries aan. Die hoofstukke oor Vorm en Inhoud en die digsoorte kon duideliker gewees het. Ek dink veral aan die onderskeid tussen die roman en die drama (veral die leesdrama). Die skrywer gebruik ook soms te groot, weinigseggende woorde instede van sy bedoeling glashelder te verduidelik. Oor die algemeen gee die werk egter veel insig in die eindelose sirkelgang van die kuns, wat deur Boutens so mooi aangedui is.
Zoo beeldt zich eindeloos dezelfde ziel
omdat zij haar gelaat onbeeldbaar weet,
Achter het masker van het oogenblik.
C.M.V.D.H.
| |
Ritme en metrum. Door Albert Verwey. Uitgeverij C.A. Mees. Santpoort, 1931.
Vanaf sy mooi opstel ‘Het sonnet en de sonnetten van Shakespeare’, wat hy as vroegrype jongeling van twee-en-twintig in ‘De Nieuwe Gids’ gepubliseer het, tot bogenoemde studie, wat hy as sewen-en-sestigjarige professor uitgee, het Verwey hom gehandhaaf as een van die diepsinnigste en subtielste Nederlandse skrywers oor letterkunde en kuns in die algemeen en oor poësie in die besonder. Daarby beskik hy oor 'n styl wat tegelyk kernagtig en suggestief is. Sy ‘Inleiding tot Vondel’, sy essays en kritieke saamgebring in ‘De Oude Strijd’, ‘Luide Toernooien’, ‘Stille Toernooien’ en veral in die tien dele ‘Proza’, sy literêr-historiese werke oor Potgieter, Van der Noot en Spieghel, sy ‘Vondels Vers’ - hierdie vrugte van 'n hele lewe se rustige besinning en ernstig werk is 'n kostelike geestelike besit van sy volk en sal altyd die leser se insig bly verdiep en verryk, sy aanvoelingsvermoë bly verhewig en verfyn.
In die opstel ‘Ritme en Metrum’ sien ons Verwey op sy beste. Dit vervul met dankbaarheid jeëns die Leidse Senaat. wat die autodidakt en digter voorgedra en die Minister wat hom benoem het as hoogleraar - en dit nogal as opvolger van Kalff.
Verwey sê in die ‘Voorrede’: ‘De lezer van dit opstel zal zien dat het niets anders bevat dan de aesthetische ervaringen van zijn schrijver. Geen dogmen, geen deducties, geen voorbeelden derwijze aangehaald dat ieder het zijne eruit lezen kan; maar overal de elementen van een persoonlijke ondervinding, konkreet en feitelijk, en daardoor geschikt om in vergelyking te worden gebracht met even kon- | |
| |
krete ervaringsfeiten van anderen.’ En hiermee het hy sy opstel uitstekend gekarakteriseer. Dis die vrug van 'n hele lewe nadink oor die innig beleefde ontroering van die skoonheid. Daarom is dit ook vry van alle selfverheffing en ekkerigheid.
Verwey benader sy onderwerp volkome onbevange - dit wil sê met 'n vooropgesette vaste oortuiging, die juistheid waarvan hy egter al gou bereid is om in twyfel te trek. As sy studente hom die vraag stel wat die verskil tussen ritme en metrum is, ‘antwoordde ik zonder aarzelen: metrum is iets dat niet bestaat, het eenige wat bestaat is ritme’. Op hulle versoek om 'n kollege oor die onderwerp gaan hy aan die werk, maar die studie van die belangrikste werke daaroor bring hom nie veel verder nie. Die feit dat 'n aantal Duitse digters op 'n enquête deur 'n Weense professor gehou, hom in die gelyk stel, bring Verwey tot nadenke:
‘Zooals het meer gaat: eerst nadat ik op deze wijs volkomen gelijk had gekregen, begon ik na te denken over mijn mogelijk ongelijk.’ En nou kom hy deur glasheldere logiese redenering, gebaseer op die konkrete ervaring, tot die konklusie: ‘Metrum als besef van abstracte regelmaat, bestaat wel degelijk, en het is zeer de vraag of de werkelijke regelmaat van het ritme er ooit buiten kan.’ Hierdie konklusie versterk hy deur die ontleding van 'n aantal sogenaamde ‘vrye verse’ van Gorter, Nina van der Schaaf, Whitman, Otto zur Linde. Hierdie ontledinge is meesterstukkies in die gawe om in te dring tot die diepste wese van 'n gedig, die ontroerde stem wat uit die vers opklink, te beluister. Dit behoort tot die allerbeste wat Verwey geskryf het.
Die mooie van hierdie studie is dat Verwey so vry is van alle geleerdheid en skoolse kennis, dadelik so eenvoudigweg die probleem in die kern aanpak, en dat hy sy subjektieve ervaring en praktyk as digter op die agtergrond hou.
Dis te hope dat hierdie studie sal gelees en herlees word deur diegene wat in ons land moet meewerk aan die letterkundige vorming en deur almal wat hulleself rekenskap wil gee van die skoonheid wat hulle ontroer - dit kan nie anders as bevrugtend werk nie.
G. DEKKER.
| |
Vondelkroniek. Driemaandelijksch Tijdschrift onder Redaktie van B.H. Molkenboer. Jaarg. III, 1-4. Uitg. De Wereldbibliotheek, Amsterdam.
In 1867 konstateer Busken Huet op sy koel, byna siniese manier: ‘Het behoort gezegd te worden: Vondel heeft nooit geleefd, Vondel leeft althans op dit oogenblik niet, in het hart der Hollandsche natie.’ Sedert dié tyd het daar heelwat verander. Rooyaards en Verkade het Vondel op die toneel vertolk, Simons het diep gedelf in die ryk myn van die digter se skoonheid, en, in samewerking met De Klerk, Vondel deur voortreflike uitgawes weer toeganklik gemaak vir die groot publiek, Sterck en 'n skaar van ander geleerdes het 'n ywerige filologiese studie gemaak van die digter se lewe en werke, en Simons het die kroon op sy nobele lewenswerk gesien in die tans verskynende monumentale nuwe Vondeluitgawe, waarop die Nederlandse volk kan trots wees.
Sedert drie jaar verskyn in smaakvolle omslag en druk die tydskrif ‘Vondelkroniek’ onder redaksie van die bekende Vondelis Molkenboer en met medewerking van die beste Vondelkenners, o.a. Gerard Brom, dr. Diferee, C.R. de Klerk, dr. Moller, prof. Prinsen, L. Simons, dr. Sterck, prof. Verwey, prof. de Vooys. Ook ons landgenoot dr. M.S.B. Kritzinger se naam kom voor in die lys van medewerkers. Die Vondelbestudeerder wat hierdie voortreflike tydskrif nie gereeld lees nie, verwaarloos een van die belangrikste hulpmiddele by sy studie en sal al heel gou nie meer op hoogte van die moderne Vondelstudie wees nie. Dit bevat deeglike wetenskaplike artikels
| |
| |
oor Vondel se geloof, die studie van Vondel in die buiteland, die interpretasie van bepaalde werke en plase, die datering van sy werke, biografiese en historiese aantekeninge wat help om menige moeilikheid op te los en om 'n beter insig te verwerf in die meester se kuns. Die lesers sal hulle dan ook met die redaksie verheug in die mooi blyk van waardering wat die ‘Maatschappij der Nederlandsche letterkunde’ gegee het deur die toekenning van 'n jaarlikse subsidie. Ek wil hierdie mooi tydskrif warm aanbeveel.
G. DEKKER.
| |
F. van der Goes. Litteraire Herinneringen uit den Nieuwe-Gids-Tijd. Uitgeverij C.A. Mees, Santpoort, 1931.
Die ‘Tagtigers’ verdwyn een na die ander van die aardse toneel. Dit word nou moontlik om 'n suiwerder oordeel te vorm oor die waarde van hulle kuns. Selfs die wetenskaplike literatuurstudie begin al hierdie terrein te ontgin. Die Tagtigers self het herhaaldelik en in sterk bewoordinge die stelling geponeer dat ons by 'n beoordeling van die werk van 'n kunstenaar alleen met daardie werk te doen het en nie met die kunstenaar se persoonlike aangeleenthede nie. Hoewel hierdie bewering in laaste instansie waar is, kan 'n nadere kennis van die kunstenaar se lewe en van hoe hy hom teenoor sy tydgenote geopenbaar het in sake van die daaglikse lewe, ons dikwels van groot hulp wees om 'n beter insig in sy digterperpersoonlikheid te kry. Dit is in besonder groot mate die geval met die Tagtigers - hulle was só uiters subjektief, en die botsing voortvloeiende uit verskille van beginsel en temperament wat hierdie manne na so'n kort tyd van vrugbare samewerking uitmekaar gedryf het, gaan só skuil agter kleinmenslike motiewe, dat 'n meer intieme kennis van hulle doen en late buite hulle kuns om nodig is om 'n beter begrip van die literêre gebeure van die tyd te kan vorm. Daarom verdien Van der Goes ons dank vir hierdie herinneringe, wat 'n oordruk, met enkele aanvullinge, is van 'n reeks artikels enkele jare gelede verskyn in ‘Groot-Nederland’. Frank van der Goes, die idealis en Sosialis, was self geen kunstenaar nie, eintlik nie eens 'n literator nie. Hierdie skrywer van pittige essays, veral oor politieke kwessies, het die agting van sy mederedakteure besit en het buiten die botsinge en animositeite van sy literêre konfraters gestaan; hy betoog dan ook self ‘dat de krisis (in “De Nieuwe Gids”) zelf in zekeren zin buiten hom om is gegaan, immers stond hy geen partij in de artistieke meeningsverschillen en evenmin in de daaraan verbonden veeten tusschen personen’. Hierdie nugtere man streef
slegs daarna om reg te laat geskied en na die ideaal om 'n orgaan te hê waarin hy uiting kan gee aan sy gematigde sosialisme. Dis dan ook baie gelukkig dat juis Van der Goes die noodsaaklikheid daarvan besef het om sy herinneringe op te teken.
Die eerste opstel ‘Busken Huet en de Tachtigers’ bring waardevolle en interessante gegewens, al bring dit nie juis nuwe insigte nie. Die belangrikste opstel is vir ons egter die tweede: ‘De Krisis in den Nieuwen Gids’. Heel beskeie vang hy aan: ‘Met de diepere oorzaken van de gebeurtenissen, die in de tweede helft van 1893 een eind maakten aan een bloeiend tijdschrift, laat het volgende verhaal van haar feitelijk verloop zich niet in.’ Hiermee het hy hierdie opstel uitstekend gekarakteriseer. Hy gee ons 'n sorgvuldig gedokumenteerde relaas van die gebeurtenisse self, nie van die dieper oorsake wat daaragter skuil nie. Wat besonder simpatiek is, is dat hy, wat 'n leidende rol daarin gespeel het, homself op die agtergrond hou en daarna strewe om objektief te wees - 'n strewe waar hy voortreflik in geslaag het. Hy onthou hom van oordeelvellinge oor persone en hulle dade: hy deel slegs die gebeurtenisse mee en die sienswyse wat hy toegedaan is en wat hom tot sy optrede beweeg het. Hierdie strewe na ob- | |
| |
jektiviteit val besonder sterk op by sy bespreking van die rol wat Van Eeden gespeel het. Sy skerp opmerkinge oor Tideman doen geen afbreuk aan sy objektiviteit nie. Wie hierdie ongure verskyning nog nie ken nie, leer hom goed ken uit die karakteristiek wat Van der Goes van ‘de ezel van Bileam’ gee en uit die gesiteerde stuk kranksinnige rymelary wat hy die vergadering van 'n paar vriende van ‘De Nieuwe Gids’ toestuur:
‘Ik lag een bom op jou vervloekten stoep.’
Agter die hele gebeure doem die patetiese figuur op van Kloos. Die sielige van die rol wat hy speel, word geaksentueer deur die gematigde houding wat Van der Goes, maar ook die ander, teenoor hom inneem. Een en ander gee die meer ingewyde stof tot sterk vermoedens. En is dit nie opmerklik, nie roerend nie dat al die belanghebbendes in ‘De Nieuwe Gids’ dit stilswygend eens is dat hulle hul regte nie sal probeer verkry op 'n wyse wat die eiesinnige gevalle Leier finansiële skade sal berokken nie?
Van der Goes se opmerkinge oor Verwey se strewe met ‘De Beweging’ lyk my minder objektief en enigsins aanvegbaar. Hierdie simpatieke, trouhartig neergeskrewe en aan die gegewens van ander ander tydgenote getoetste herinneringe is 'n bydrae wat ons nie graag sou gemis het nie. Anthonie Donker het in sy proefskrif dan ook al 'n dankbare gebruik daarvan gemaak. Dis geen groot opgesette werk nie: dit is uit die aard van die saak fragmentaries. Dit bevat interessante documents humains.
G. DEKKER.
| |
Vakwoordeboek: scientific and technical dictionary. Deur Dr. D.F. du Toit Malherbe, Professor in Chemie aan die Universiteit van Pretoria; Lid van die Nederlandsche Chemische Vereeniging, van die S.A. Vereniging vir die Bevordering van die Wetenskap, van die S.A. Akademie vir Taal, Lettere en Kuns, en met die medewerking van vyf-en-twintig vakgeleerdes. Deel II: Afrikaans (Nederlands)-Engels: Afrikaans (Dutch) - English. Uitgewers Firma J.H. de Bussy, Pretoria; H.A.U.M. v/h Jac. Dusseau & Co., Kaapstad. 1932. pp. 244, dubbel kolom.
Die tweede deel van hierdie baanbrekende werk het gelukkig nie lank op hom laat wag nie, wat èn uitgewers èn opsteller tot eer strek. As techniese produk kan die uitgewers trots op hulle werk wees. Die band is keurig en stewig, die drukwerk is fyn afgerig en die papier is goed. Wat die inhoud betref, het ons hier die vrug van jarelange arbeid waar almal in ons tweetalige land steeds na uitgesien het. Dit is 'n onontbeerlike hulp wat die lewe vir menigeen nou draagliker sal maak.
Dit is makliker om in 'n leuningstoel te sit en vit as om self baanbrekerswerk te doen, want as die weg eenmaal gebaan is, dan kan iedereen dit op sy gemak bewandel. As eerste van sy soort in Afrikaans en Engels steek hierdie Woordeboek baie gunstig af by ander eerste poginge, en myns insiens is sy toekoms versekerd.
Daar is orthografiese puntjies wat onseker is, maar dit is nie die opsteller se skuld alleen nie. Hierdie Woordeboek verskyn net in 'n tyd as ons spelling in 'n uiters vloeibare staat verkeer, wat 'n Herakleitos weldadig sou aangedoen het. En tog moet ons die opsteller gelukwens dat hy ter elfderure nog soveel reëlmaat kon ingevoer het. Daar ek daar vas oortuig van is dat hierdie Woordeboek hom lank sal handhaaf, hoop ek dat die opsteller sonder versuim hom daarop toe sal lê om 'n tweede uitgaaf aan te voor wat orthografiese vastheid en groter volledigheid sal bewerkstellig. Die taalskat groei steeds aan, en met hierdie aanwas moet 'n woordeboek tred hou.
Of ons ooit eenstemmigheid en vrede sal bereik wat die spelling van vreemde woorde met c, ch, g, k, s, z, ens., betref, sal ons
| |
| |
maar aan die toekoms moet oorlaat. Dit lyk my dat die spellingonvastheid wel dié voordeel op die duur sal hê dat ons meer op die suiwerheid van ons taal sal begin let as op die verkeerde spellingjassie waarin ons 'n onbetrapte Anglicisme miskien mag steek. Tog is ek nie pessimisties oor ons spelling gestemd nie, en die beste raad wat ek aan prof. Malherbe kan gee, is om maar so konservatief moontlik te wees. Dit is die veiligste leuse vir lexikograwe - en ministers van financies.
Ek gee my nie uit vir 'n specialiteit op 'n gebied wat deur vyf-en-twintig vakgeleerdes bearbei is nie, maar die steekproewe wat ek as leek gemaak het, is baie bevredigend en lewer bewys dat hierdie Woordeboek die gekwelde siel van die bejammerenswaardige vertaler tot groot hulp en seën sal wees. In ons tweetalige land sal die taalmartelare seker nog uit pure dankbaarheid 'n monument aan hulle redder die Lexikograaf oprig.
H.G. VILJOEN.
| |
Camera Obscura van Hildebrand. Uitgegee met inleiding en aantekeninge van Prof. Dr. G. Dekker (No. 3 van die reeks ‘Uit die Dietse Boord’, onder redaksie van Th. le Roux en G. Dekker). J.H. de Bussy, Pretoria, 1932.
Ek stel daar prys op om te verklaar dat onderstaande aankondiging nie op versoek van die redaksie van hierdie tydskrif geskrywe word nie. Ek is egter oortuig daarvan dat die beskeidenheid van een van die redakteurs nie in die weg moet staan van 'n bespreking in ‘Die Nuwe Brandwag’ van hierdie belangrike reeks uitgawes nie.
Die redakteurs verduidelik hulle strewe in die volgende woorde: -
‘Hierdie serie wil voorsien in die behoefte aan vir Suid-Afrika geskikte uitgawes van Nederlandse en Vlaamse klassieke, met 'n inleiding oor die skrywer, sy werk en die plek wat hy literêr-histories inneem, en verder met die nodige verklarende aantekeninge van literêre en taalkundige aard. In sowel inleiding as aantekeninge word die stof van belangrike publikasies, monografieë en tydskrifartikels verwerk wat die groot publiek nie bereik nie en in ons land selfs nie altyd vir iedereen toeganklik is nie.
By ons keuse en wyse van uitgawe het ons sowel die hoër klasse van die middelbare skool as die universiteit op die oog.’
In die ou dae is ons jong mense afgeskrik van die lees van Nederlandse boeke, nie alleen deur die onnodige nadruk wat op allerlei grammatikale puntjies gelê is nie, maar ook deur die vreemde en gevolglik onbegryplike omgewing waarin hulle skielik verplaas is. Die tye het nou verander. Ons kinders leer op natuurlike manier letterkundige smaak ontwikkel deur die lektuur van bevatlike Afrikaanse boeke wat al vanself boei deur die vertroude omgewing waarin hulle speel. En dan ontstaan spontaan die begeerte na iets anders, dikwels na iets diepers en rypers, en dit lê voor die hand om gebruik te maak van die Nederlandse boek, wat gewoonlik hierdie begeerte kan bevredig, maar die Nederlandse boek bly dikwels nog 'n bietjie onbegryplik. En daarom verwelkom ons van harte hierdie serie waarin die vrugte van die Dietse Boord daar oorkant die see in die regte verpakking vir die Afrikaanse mark aangebied word. Die uitgawes is trouens nie alleen geskik vir skool en universiteit nie, maar vir elke ontwikkelde Afrikaanse leser.
Die eerste twee nummers van hierdie reeks was: 'n ‘Bloemlesing uit die gedigte van A.C.W. Staring’ en ‘Ernest Staas van Anton Bergmann’, altwee uitgegee deur dr. G. Dekker. Hierdie nummer bevat die oorspronklike ‘Camera Obscura’ van 1839, sonder die later toevoegsels, en vir die aantekeninge is natuurlik 'n dankbare gebruik gemaak van Hildebrand se ‘Na Vijftig Jaar’, J.M. Acket se skooluitgawe van die ‘Camera’ en ander werke.
| |
| |
In die Inleiding het dr. Dekker hom daarop toegelê om deur middel van 'n eenvoudige, bevatlike, ryklik met voorbeelde geïllustreerde betoog die gemoed en bevattingsvermoë van die leerling te bereik, en hierin het hy m.i. uitmuntend geslaag met handhawing van 'n waardige toon wat nooit tot goedkope populariteit afdaal nie. Ondanks die eenvoud van voorstelling is die uitgawe egter 'n toonbeeld van deeglikheid en geleerdheid, uit elke bladsy waarvan blyk dat die uitgewer alle belangrike literatuur oor die onderwerp konsensieus geraadpleeg en, sover nodig, verwerk het.
Na 'n skets van die lewe en kuns van Nicolaas Beets, kry ons 'n bespreking van die Camera, ingedeel onder die algemene begrippe: Realisme, Satire, Geestigheid en Styl, Humor. Helder en treffend is die manier waarop hy onderskei tussen die realis en die simbolis, wat tot hierdie opsomming lei: ‘Die groot verskil tussen die simbolis en die realis is dat die eerste hierdie eenheid meer van uit sy sielelewe op die dinge projekteer, terwyl die realis tot die ontdekking van hierdie eenheid kom deur sy liefdevolle verdieping in die dinge. Albei openbaar dus die ewige, die tydelose, maar hulle styl verskil sterk, net soos die manier waarop hulle dit ontdek het, sterk verskil.’ Mooi en goed gesien is ook die passasie waarin hy betoog dat, hoewel die lewenshouding van Hildebrand weinig liefdevol is, sy satire nòg kwaadwillig nòg revolusionêr van geaardheid is. Daarenteen dink ek dat die verskil tussen 'n individuele karakter en 'n karaktertipe enigsins helderder en skerper geformuleer kon gewees het, veral deur te wys op die algemeen-menslike ook in die individuele. Ook sou dit goed gewees het om wat langer te verwyl by die verskil tussen humor en geestigheid teneinde die geaardheid van die geestige vollediger te kenskets.
Die beknopte bibliografie van ruim 'n dosyn werke is 'n waardevolle wegwyser vir verder studie, en die aantekeninge aangepas aan die behoeftes van die Afrikaanse student.
Hierdie uitgawe open vir die Afrikaanse leser die poorte na een van die bekendste Nederlandse geskrifte van die vorige eeu en kan vir Afrikaanse uitgewers as 'n navolgenswaardige voorbeeld dien.
J.J. LE ROUX.
|
|