| |
| |
| |
Die Russiese Wêreldbeskouing.
NOG altyd wek die ou Rusland met sy kerke en sy torings, sy koepels en sy kruise - die Rusland soos ons hom geken het voor die koms van die hemelstormende, materialistiese Bolsjevisme - by ons die hemelstormende, materialistiese Bolsjevisme - by ons die hoogste belangstelling op. Vir hom egter wat opgegroei is in die skool van Westerse begrippe en denkbeelde, is dit geensins 'n gemaklike taak om hierdie Rusland in sy ware wese te leer ken en te verstaan nie. Die Westerling sien maar alte dikwels net die uiterlike omhulsel van die Russiese siel, terwyl die diepste dieptes daarvan vir hom 'n geheimenis of slegs 'n skadubeeld bly. Dit weet die Russe ook. In 'n boekie oor Die Tsaar en die Revolusie, deur 'n drietal Russiese skrywers, lees ons: ‘Europa ken slegs die liggaam, nie die siel van die Russiese Revolusie nie. Hierdie siel, die siel van die Russiese volk, bly vir u 'n ewige raaisel. Ons lyk slegs op u soos die regter- op die linkerhand’. En in 'n Proklamasie van Jong Rusland word verklaar: ‘In ons lewe is beginsels opgesluit wat vir die Europeane geheelenal onbekend is.’ Dis dan ook alleen met 'n veranderde kyk dat die Westerling, wie se lewens- en kennisrigting van binne na buite gaan, tot 'n begryp kan kom van die na binne gekeerde geestesgesteldheid van die Oosterling.
Hierdie opstel wil dan ook nie aanspraak daarop maak om 'n volledige behandeling van die onderwerp te wees nie: dit wil slegs 'n paar min of meer samehangende hooftrekke van die Russiese wêreldbeskouing enigermate belig.
Teneinde 'n beeld van hierdie wêreldbeskouing te kry, wend ons ons nie tot een of meer filosofiese stelsels nie. 'n Gesistematiseerde filosofie, soos dié van die Weste, is in Rusland maar eers van betreklik jong datum. Dis nie in filosofiese stelsels nie, maar veral in die letterkunde - die romans en verhale, die gedigte en opstelle van sy skrywers - dat die siel van die Rus na uiting soek en hom op veelvormige wyse openbaar. Dis vir ons van belang om dit te weet, omdat die kennis van hierdie feit nie net ons metode van ondersoek bepaal nie, maar ons reeds 'n belangrike karaktertrek van die Rus openbaar. Vir die Rus bestaan daar naamlik nie soiets as 'n kennis terwille van die kennis, 'n kuns terwille van die kuns nie. Die beoefening van die skone en van die ware geskied nie terwille van die skone en van die ware nie, maar om kanale te verskaf waarlangs 'n veelvoudige menslikheid homself openbaar. Skrywe is hier geen spel nie, maar diepe erns, gespruit uit 'n diepe siel wat na uiting soek en homself in hierdie uiting terugvind.
| |
| |
Die abstrakte denkproduk, die suiwer kunswerk met sy voorgeskrewe vorm is vir hulle iets bloot skematies. Daaraan ontbreek die lewensgloed, die diepe, volle waarheid, wat alleen in die volle lewe gevind kan word. In sy denke en in sy skrywe soek die Rus dan ook nie na 'n belangelose betragte van dinge nie, maar na 'n verklaring en oplossing van die lewensprobleme en 'n sinduiding van die geheimenisse wat hom omring; die digter is nie net digter nie, maar hy is filosoof, politikus en etikus tegelykertyd.
Volgens die Russiese opvatting bestaan daar dus 'n allernouste verband tussen kennis en lewe. Aan die een kant spruit alle kennis uit die lewe, en aan die ander kant moet alle kennis die lewe dien. Ons noem hierdie beskouingswyse anti-rasionalisties, omdat dit gerig is teen alle denke wat geskei is van die lewe. Die bron van alle kennis is hier nie die belangelose, abstrakte, verstandelike beskoue nie, maar die konkrete ervaring, wat beteken lewende gemeenskap met die syn, innerlike nalewe en meevoelende verstaan daarvan. Egte kennis is daar om die lewe te dien. Die idee assulks, egter, is magteloos (soos ook in die filosofie van Karl Marx), hy kry eers mag, word eers diensbaar wanneer sy voedingsbron die volle, werklike lewe is. Hierdie gedagtestroming kom herhaaldelik in die Russiese filosofie voor. Netchajef, b.v., verwerp alle verstandelikheid, tensy dit op die onmiddellike praktyk gerig is. Skoworoda, die Russiese Sokrates, maak die bewering dat denke en lewe feitlik dieselfde is, en 'n ander denker, Iwan Kirejewski, verkondig die leer van die lewende wete of die lewenswete. Van hieruit is dit nog verstaanbaar dat die hoofwerk in die Russiese filosofie (Solofjef se Regverdiging van die Goeie) geen kenniskritiek is nie, soos, b.v., dié van Kant in die Duitse filosofie, maar 'n etiese beskouing.
Die Rus is altyd prakties. Die teorie word altyd met die etiese deurdring, die intellek gedurig in die lewens- en gevoelsfeer omgesit, en aan die bloot rasionele word 'n religieus-mistiese sinduiding verleen. So sterk is soms hierdie verlewendiging en singewing van die idee dat aan Kirillof kon gesê word: ‘U het nie die idee verslind nie, maar die idee het u verslind.’ Die Rus lewe sy kennis, en sy kennis dien sy lewe. Nie alleen is kennis dán ware kennis wanneer dit deurdring is met lewensvolheid nie, maar alle kennis vervul ook dan eers sy doel wanneer dit die lewe dien, bydra tot verbetering en vervolmaking van die syn.
Vir hom wat nog altyd die opvatting huldig dat kennis niks anders is as 'n min of meer getroue verstandelike of ideële weergawe van 'n werklikheid nie, sal hierdie Russiese opvatting enigsins vreemd voorkom. Die Russiese standpunt omtrent kennis en waarheid is egter heeltemaal iets anders. Kennis is hier nie net 'n oordeel oor een of ander werklikheid nie, en waarheid is nie die ooreenstemming van so'n oordeel met die werklikheid nie, maar
| |
| |
kennis is self 'n doen, 'n verloop in die syn, en waarheid is self 'n synde, 'n werklikheid. Kennis is nooit blote teorie nie, en waarheid is nie net 'n idee nie. Die ware, as deel van die syn, is tegelykertyd die egte en die goeie; dis 'n lewende werklikheid en kan daarom bydra tot die verbetering en verlossing van die mensdom.
Terwyl die Westerse filosofie uitgaan van die geskeidenheid tussen kenner en gekende, subjek en objek, ken die Russiese filosofie hierdie geskeidenheid nie. Hier is die eenheid die eerste en oorspronklikste. Hier staan die mens nie afgesonderd van die res van die syn as heer of koning van die skepping op wie hy van buite af inwerk in sy kennis of sy doen nie, maar die mens voel homself as een met die heelal, saam met alle ander kreature omslote van een en dieselfde lewende werklikheid. Alles wat bestaan, is gewortel in die een volle syn, gedra van dieselfde werklikheid. Een allesomvattende band sluit alles in, een lewe deurdring alles. Ons is almal deel van een groot eenheid, verbind deur een groot metafisiese samehang, een gemeenskaplike oorsprong. Nêrens bestaan daar volstrekte geskeidenheid nie. Die eenheid is die primêre. Geskeidenheid is iets sekundêrs en onwesenliks, en oral roep dit na sy opheffing. Met die dinge buite my is ek nie verbind omdat ek hulle waarneem of hulle ken nie; dis nie hierdie ideële band wat ons met hulle saamvleg nie: die band wat alles verbind, is die lewe, die gedra-wees in een en dieselfde werklikheid.
Voeg hier net by die gedagte dat hierdie allesomspannende eenheid 'n goddelike eenheid is, en ons het dadelik die tipiese Russiese mistiek - 'n mistiek wat realisme tegelykertyd is, of sal ons sê 'n realisme wat tegelykertyd sterk misties gekleurd is? Die deur en deur godsdienstige Rus kan die heelal nie anders dan as 'n goddelike geheel sien nie - 'n geheel waarin die mens sowel mens as deel van God is en hom gedurig in God beweeg. Die wêreld waarin die Rus lewe, is nie die ontsielde wêreld van sake en feitlikhede van die weste nie, maar hier is alles deurdring van 'n goddelike lewe, omswewe van 'n goddelike alomteenwoordigheid, vervul met 'n ewige godsgeheim. Die wêreld is feitlik een groot tempel Gods waarin alles reeds die stempel van die ewigheid dra. ‘Alles is 'n geheim’, so lui dit by een van die persone van Dostojefski, ‘in alles is 'n Godsgeheim. In elke boom, in elke stoffie is dieselfde geheim opgesluit. Of daar 'n klein voëltjie sing en of die sterre in die nag aan die hemel flonker, alles is een en dieselfde geheim’. En verder lees ons: ‘Stil is alles, die lug is helder. Die grassies groei. Groei maar grassies van God; 'n voëltjie sing. Sing maar voëltjie van God. 'n Kindjie skreeu in die arms van 'n vrou - God sy met jou, klein mensie.... En tog was dit my asof ek dit vir die eerste keer in my lewe so opgeneem het... en dat die wêreld 'n geheim is, maak dit nog skoner; vreeslik is dit vir die hart
| |
| |
en wonderlik, en hierdie vrees word vir die mensehart tot vreugde: Alles is in U, God, en ook ek is in U - dus neem my.’
Vergelyk hierdie woorde met die volgende uitlating van die Indiese Krischna, en ons sien meteens die verwantskap van die Russiese mistiek met die panteïstiese liefdesmistiek van die Verre-Ooste: ‘Ek is die wolke wat oor die hemel heen sweef. Ek is die vonk wat uit die vuurklip spat. Ek is die lig wat vanuit elke ster straal. Ek is die asem van elke lewende wese. Alles wat is, is vervulling van die liefde, want ek is alles wat leef. Ek is lewe en liefde, ek is liefde en lewe, en niks is wat buite my sou wees nie. Ek is die oor wat verneem, ek is die oog wat sien, ek is die hart wat in die bors klop. Alle liefde in die mens - deur my word dit verwek.’
Dis te begryp dat, wanneer alles een godsgeheim is waarin selfs die mens ook beslote is, godsdiens dan nie meer 'n uitgaan van die siel na 'n verhewe, buitestaande, absolute wese kan wees nie, maar 'n proses van verinnerliking, van asketiese terugkeer van die siel tot sy diepste innerlike self om daar in harmonie met die Oneindige die eenheid van die enkeling en die Absolute bewus te word.
Wanneer die menslike siel deel van die goddelike al-eenheid is, dan kan hierdie siel ook nie as 'n klein, nietige atoom opgevat word nie. Nee, die mensesiel, as deel van die heelal, is oneindig groot. Dit is onmeetlik wyd, onpeilbaar diep. In sy afgronde beroer die ewige en die tydelike mekaar. In sy dieptes ontmoet God en Satan, hemel en hel. Die afgronde van die siel is soos die afgronde van die nag en (in die woord van die digter Tjutschef) ‘die mens is in sy wêreld versonke soos in 'n afgrond sonder perke’.
So verstaan ons dan ook die hartstogtelike indring van die Russiese skrywers tot in die diepste skuilhoeke van die siel. In geen ander letterkunde vind ons so'n afdaal tot in die fynste besonderhede, so'n uitvoerige, soms byna weersinwekkende beskrywing van elke beweging en beroering van die siel nie. Die beste voorbeeld hiervan is sekerlik Skuld en Boete van Dostojefski, wat as roman ongeëwenaard is wat betref subtiele ontleding en vertolking van wat in die binneste dieptes van die mens kan omgaan.
Die religiositeit van die Rus en sy sug na die absolute bring noodwendig met hom mee 'n relativering van alle waardes, 'n verwerping van alle betreklikhede. Niks het hier waarde op homself nie, maar alles is alleen waardevol in betrekking tot die absolute. Hieruit volg 'n radikalisme wat hom uit in 'n afkeer van alles wat nie eg en waar is nie. Die Rus wil alles of niks. Alle middelmatighede verafsku en verfoei hy. 'n Liberalisme verdra hy nie. Oral word altyd die allerlaaste waarde gesoek, en alles wat daarmee nie te verenig is nie, eenvoudig verwerp. Gevolg hiervan is 'n bittere onverdraagsaamheid teenoor ander meninge, 'n fanatiese bestryding van wat met sy ver- | |
| |
langens en ideë nie strook nie. Onkeerbaar kan hy soms word as dit geld die bevegting van die vreemde en die bevordering van die eie. Mateloos is hy in sy haat en mateloos in sy liefde. Altyd neig hy tot die uiterstes, neig hy daartoe om alle grense te vergeet en hom waansinnig in die diepste afgronde te stort. Net soos die steppe waarin hy tuis is, so is die siel van die Rus grenseloos en oewerloos. Uit sy eeue-lange slaap kon alleen 'n radikale teorie soos die Bolsjevistiese hom opwek en hom tot die uiterstes drywe. ‘Word iemand van ons Katoliek,’ sê Dostojefski, ‘dan word hy ongetwyfeld niks minder as Jesuïet nie en daarby nog die swartste van almal. Word hy ateïs, dan sal hy verlang dat die geloof in God, waar nodig, met geweld uitgeroei sal word.’
Die negatiewe sy van hierdie radikalisme is die bekende Russiese nihilisme, die neiging om alles te ontken, te verwerp, te vernietig, maar nie terwille van die ontkenning, die verwerping, die vernietiging self nie, maar om agter die so ontkende, verwerpte, vernietigde die absolute self te soek. Hierdie nihilisme, wat sy spore oral in die Russiese geskrifte nalaat, uit hom in 'n afkeer van alle kuns, alle wetenskap, alle kultuur, ja selfs in 'n afkeer van God. Tolstoi se haat teen die beskawing is algemeen bekend. Bakuin verkondig 'n revolusie wat alles sal vernietig. Terwyl Kirsanof verklaar: ‘Vir ons bestaan daar geen gesag nie’, beweer Basorof: ‘Ons dade word bepaal deur wat vir ons nuttig lyk, en nou lyk dit vir ons nuttig om alles te ontken.’ (In die Weste ken ons ook 'n vorm van hierdie nihilisme; dink maar net aan Nietzsche se leer van die ‘Umwertung aller Werte’ of aan die woorde van Mefisto: ‘Denn alles was besteht, ist wert, daß es zugrunde geht’.)
Hierdie nihilisme mag egter geensins as iets bloot negatiefs beskou word nie. Dis geensins ongeloof nie, maar eerder geloof in die ongeloof. Selfs wat vir ons lyk na die uiterste ongeloof, kan vir die Rus 'n vorm van godsdiens wees. Die betreklike word deur die nihilis vernietig en ontken terwille van die absolute. Die bestaande en empiriese word geskeur, omdat 'n absolute daaragter vermoed word.
Uit sy gevoel van verankering in die absolute kan ons ook die Russiese standpunt teenoor lyding verstaan. Min volke het so'n diepe eerbied vir, ja feitlik so 'n hunkere en verlange na lyding as die Russiese volk. Die eeue-lange onderdrukking het hom gewoon gemaak aan die leed en hom daarin iets universeels, iets misterieus-goddeliks leer sien. Sy geloof in die goddelikheid van die heelal het hom die leed laat begryp as deel van die verlossings- en heilsplan van die skepping. So gewoon het hierdie volk aan die lyding geraak dat dit nooit volkome gelukkig kan wees nie, tensy in sy geluk ook leed vervat is. ‘Ek glo,’ sê Dostojefski, ‘dat die vernaamste en oorspronklikste behoefte van die Russiese volk is om te ly, ewig en onversadiglik, oral en in alles. Hierdie snakke na leed het hy, skyn dit my, altyd in hom gehad. As 'n leeddraende
| |
| |
stroom deurtrek dit sy hele geskiedenis, en weliswaar nie in die vorm van uiterlike ongeluk en verskillende beproewinge nie, maar veeleer ontspring sy bron aan die lewende hart van die volk. Selfs in die geluk van die Rus, van die enkeling sowel as van die hele volk, is beslis 'n gedeelte leed - anders sou sy geluk nie volmaak wees nie’.
Maar pyn en smart is vir hierdie volk heeltemaal iets anders as vir die Westerling. Vir die Rus is lyding geensins 'n lewensvreemde, van buite af na die mens komende boosheid nie; nog minder is dit straf vir begane sonde. Lyding is self 'n wesenlike deel van die heelal, ingewortel in die allesomvattende lewensgeheel, as 'n heilige, heilbringende, louterende, versoenende mag. Mens sal die toekomstige geluk, so word geglo, wel deur leed vir hom moet win; met nuwe lyding sal dit moet betaal word. Deur lyding word alles versoen.
Die besef van die goddelikheid van die leed, van die tragiese as wesenlike deel van die wêreldplan, stem die siel tot 'n diepe gevoel van eie nietigheid en tot deemoed - 'n deemoed wat nie soos dié van die Weste gemeng is met 'n gevoel van trots op eie nederigheid nie, maar 'n deemoed wat spruit uit 'n magtige besef van die geweldige spanninge in die heelal, die innige en onafwendbare vervlegting van die lot van die mens met die ganse wêreldverloop, en die geloof in die goddelike leiding in alles. ‘God sal Rusland red’, so lees ons in Gebroeders Karamasoff, ‘want indien die volk ook verdorwe is en hulle van die skande van sonde nie kan losmaak nie, weet die eenvoudige tog dat God sy sonde vervloek en dat hy sleg handel wanneer hy sondig - sodat ons volk, ondanks alles, onwankelbaar aan die waarheid glo, God aanbid en oor sy sonde ween.... Uit die volk sal die redding kom, uit sy geloof en uit sy deemoed... Die volk is nie kruipend nie, trots die twee eeue slawerny wat dit onder die Tartare deurgemaak het. Vry is dit in sy uiterlik en gedrag, vry is dit sonder om iemand daardeur te beledig. En nooit is ons volk wraaksugtig of benydend nie.... God sal Sy kinders red, want groot is Rusland in sy deemoed’.
Wanneer lyding 'n goddelike misterie is wat louterend en versoenend werk, dan is alle verset teen, en bestryding van, lyding ook dwaas en verkeerd. Veeleer pas dit die mens om hom deemoedig en geduldig aan alle teëspoed en beproewinge te onderwerp, wetende dat die uiteindelike verlossing uit, ja deur, lyding sal kom. Wat vir lyding geld, geld ook ten opsigte van die sedelik-bose. Die leer van Laotse, Boeddha en Gandhi om die Bose nie te weerstaan nie en nooit geweld te gebruik nie, het ook in Rusland groot invloed gehad. In Tolstoi vind ons die vernaamste verkondiger hiervan. ‘Om die kwaad nie met kwaad te vergeld nie - dit is die sekerste middel tot verlossing nie alleen nie, maar ook tot oorwinning oor wat bose dinge verrig,’ is die grondstelling van sy etiek. Ook beskou hy dit as een van die skoonste trekke van die Rus- | |
| |
siese volk en een van die beste bewyse dat hierdie volk die meeste van alle volke met die ware Christendom deurdring is, dat dit ‘die gebod van die liefde’ ken, naamlik om die bose nie met geweld te weerstaan nie. ‘Die Russiese volk het met betrekking tot geweld altyd 'n ander stelling ingeneem as die ander Europese volke. Nooit het dit 'n stryd teen die geweld aangebind nie; dit het selfs nooit aan so'n stryd deelgeneem nie en kon gevolglik nooit op dié wyse besoedel word nie. Dit het die geweld as 'n euwel beskou wat 'n mens moet vermy. Die meeste Russe het altyd liewer gewelddade geduld as om hulle te weerstaan of om aan hulle deel te neem. Hulle het hul dus altyd onderwerp....’
In al sy dade moet die mens hom laat lei deur die wet van die liefde - die liefde wat nie net die hoogste goeie en die hoogste skone is nie, maar wat ook die hoogste, volkomenste manifestasie van die absolute, wat Gold self is. ‘Die wese van alle syn kan nie anders gevoel en verstaan word nie dan as liefde... die siel is 'n emanasie van hierdie syn wat hom in sy ontwikkeling as menselewe daarstel’. ‘Die Liefde’, verder, ‘is die strewe van mensesiele na vereniging en die daaruit spruitende verhouding tot mekaar. Dit (die liefde) stel die hoogste en enigste wet van die lewe daar’. ‘Die wet van die menslike lewe is die wet van liefde’.
Nou verbind met hierdie liefdesetiek staan die Russiese opvatting van die gebondenheid van alle mense aanmekaar. Die samelewing word hier nie opgevat as 'n meganiese samestelling van aparte losstaande individue nie, maar as 'n organiese geheel waarvan iedere enkeling 'n deel uitmaak. Die ‘ons’ is logies voor die ‘ek’. Die ‘ons’ bestaan ook nie uit 'n boel ‘ekke’ nie, maar die ‘ekke’ ontstaan uit die ‘ons’ soos die dele uit 'n organiese geheel. Die gemeenskap, en nie die enkeling nie, is die logies vroeëre en meerdere. Alle mense is innig met mekaar verbonde en vervlogte deur 'n eenheid wat nie van 'n toevallige empiriese aard is nie, maar van metafisiese oorsprong is. Algar is deel van een en dieselfde absolute wese, een en dieselfde allesdeurdringende goddelike lewe. Hierdie samehang van alle mense bring noodwendig met hom mee 'n deelgenootskap aan die universele lyding en die universele skuld. Niemand kan sy hande in onskuld was wat betref die dade van 'n ander nie. Algar is in groter of kleiner mate skuldig aan die lyding of die boosheid van 'n ander. In Die Gebroeders Karamasoff lees ons: ‘Vergeet bo alles nie dat u niemand se regter kan wees nie. Niemand op aarde kan 'n oordeel oor 'n misdadiger vel voordat hy ingesien het dat hy net so'n misdadiger is as die een wat voor hom staan en dat hy aan die misdaad van die een wat voor hom staan, meer as almal skuldig is nie.’
Ten slotte wil ek net wys op 'n ander bekende karaktertrek van die Russe, naamlik hulle geloof in hulle eie hoë roeping as volk. Dis veral Tolstoi, Dos- | |
| |
tojefski en Solofjef wat, in hulle afsku van die Westerse kultuur, glo dat die Russiese volk weens sy godsdienstige aanleg, veral, geroepe is om 'n nuwe boodskap aan die wêreld te bring en dat die wêreld slegs deur Rusland gered en vervolmaak kan word. Die ‘ewiges Proselytenmachenwollen’ van die Russe, waarvan Nötzel praat, is 'n gevolg van hierdie geloof. Veral is die Russiese volk geroepe om die eenheid en broederskap van alle nasies te bewerkstellig. ‘Want waar sou anders die krag van die Russiese volksgees lê’, vra Dostojefski, ‘tensy in sy strewe na universaliteit en almenslikheid?’ Dan vervolg hy: ‘Ons bestemming is die beliggaming van die eenheidsidee op aarde, en wel nie een wat deur die swaard verower word nie, maar deur die mag van broederlike liefde. Die toekomstige Rusland sal dit as sy geweldige taak sien om die Europese teenstellinge in hom te vervolmaak en te versoen om so miskien die laaste woord van die groot algemene harmonie van broederlike samestemming van alle volke volgens die evangeliese wet van Christus uit te spreek’. Arm is hierdie land voorwaar, maar nogtans het dit 'n boodskap, 'n sending. ‘Mag hierdie land ook arm wees, Christus deurtrek ons arm land in bedelaarsgestalte.’
En ongetwyfeld het die ou Rusland vir die Weste 'n boodskap. Hierdie Westerse beskawing, met sy materialisme en sy tegniek, met sy volkome oorgawe aan die wêreld van dinge en feitlikhede, kan met vrug hom verdiep in die gees van die ou Rusland met sy godsdienssin, sy mistiek, sy deemoed en sy liefde. Hier vind ons nie die eensydig aardgebonde mens nie, ook nie die mens wat hom volkome aan wêreldontvlugtende mistiese in-sigself-versonkenheid prysgee nie. Realisme en mistiek word hier gemeng, die godsgeheim in die bestaande gesoek, die geloof aan God, mens en natuur gekweek en verkondig. Die ewige word gesoek en gevind, en wel in die teenswoordige en bestaande. Die Russiese mens aanskou, volgens Massaryk, die waarlik synde reeds in hierdie lewe.
N. DIEDERICHS.
|
|