| |
| |
| |
Louis Trichardt se Trek oor die Drakensberg.
LOUIS Trichardt se Dagboek van die voorste Voortrek is sonder twyfel dié groot epos van ons geskiedenis, en Louis Trichardt's Trek across the Drakensberg, 'n verhandeling daaroor, van wyle mnr. Claude Fuller, bekende insektekundige, is van 'n groot deel van dié trek 'n welkome, simpatieke en nuttige geografies-topografiese verklaring.
Die boek is die dertiende uitgaaf van die ‘Van Riebeeck Society’, maar die eerste oor die geskiedenis van die Voortrek.
‘Doel van die Vereniging’, sê hulle konstitusie, ‘is die openbaarmaking van seldsame en waardevolle boeke, pamflette en dokumente wat handel oor die geskiedenis van Suid-Afrika’. Fuller se werk is geen van alle. Dit is naamlik 'n verhandeling - soos ek bereids gesê het: 'n geografies-topografiese verklaring van 'n gedeelte van dié trek, 'n waardevolle werk in sy soort, maar nie 'n historiese dokument nie. Die ‘Van Riebeeck Society’ gaan trouens op sy eie eienaardige manier te werk sonder om rekening te hou met die algemene reëls insake die openbaarmaking van historiese dokumente. Dit beneem sy publikasies in sommige gevalle alle waarde. Welke geskiedkundige wil 'n Engelse vertaling van Lichtenstein se reise raadpleeg, waarvan twee reusebundels uitgegee is? Wie wat 'n ernstige ondersoek van die geskiedenis beoog, sal daaraan dink om dié Vereniging se Engelse vertalings van Bergh en Schryver hul reisjoernale te lees? Of hulle Engelse vertaling van Hendrik Witbooi se Hollandse Dagboek? Of hulle Engelse weergawe van Mentzel se Nederlandse werk?
Publikasie van vertaalde bronnemateriaal is m.i. 'n totaal verkeerde opvatting van dié Vereniging se taak. Dit is grotendeels verkwiste energie, net soos Leibbrandt se belaglike vertaling van Van Riebeeck se Joernaal.
Dié Vereniging behandel Hollands trouens as vreemde taal. Die uitgewers verwaarloos tewens met verbasende reëlmatigheid die eerste algemene reëls, wat elders gewoonlik in ag geneem word, by die vermenigvuldiging van oorspronklike historiese materiaal. Die Leidsche Historiese Genootschap eis, b.v., die mees noukeurige opsporing en verklaring van die oorsprong en geskiedenis van so'n dokument, verklarende aantekeninge en 'n bladwyser vir plaas- sowel as persoonsname, terwyl vertaling eenvoudig belaglik geag word. Cory se uitgaaf van Owen se Dagboek, Mossop se vertalings van Bergh en
| |
| |
Schryver, en Botha se Wreck of the Grosvenor, sowel as die meeste ander uitgawes van hierdie Vereniging besit nie eens 'n bladwyser nie!
Fuller se werk staan op sigself. Dit is 'n oorspronklike bydrae tot, of aanvulling van, ons kennis oor die Trichardt-trek; en as hierdie simpatieke en bekwame Australiër geleef had om sy werk self te voltooi, sou dit seer seker een van die mooiste werke van die ‘Van Riebeeck Society’ geword het.
Fuller was entomoloog in diens van die Unie tot 1927, en is die jaar daarop digby Lourenço-Marques verongeluk. Toe hy sy werk oor die tsetse in Transvaal in voorbereiding had, en later ook, nadat hy op pensioen afgetree het en die teenswoordige werk sou begin, was hy dikwels met my in aanraking. Met sy wandeling op die wa-spoor van Louis Trichardt, het hy uitvoering gegee aan wat ek myself beloof had, maar nooit kon regkry nie, en by hom aanbeveel het nadat hy uit die Diens getree was. My eie aanduiding van Trichardt se bewegings was noodwendiglik maar 'n benadering; en die enigste manier om groter sekerheid daaroor te erlang was om op sy spoor te loop, en Trichardt se fonetiese weergawe van die naturelle-name en sy aanduiding van die topografie te vergelyk met die bestaande name en die voorkome van die veld. Ek het Fuller voorsien van 'n chronologiese lys van die name van plase en Kafferstamme, soos dit in die Dagboek voorkom, en hom aangeraai om sy ondersoek van die Olifantsrivier en Drakensberg te onderneem in dieselfde jaargety as Trichardt daarlangs gegaan het. In die Lydenburgse woon vandag nog verskeie mense, o.a. mnr. Steve Coetzee, en die sendelingseun, mnr. Bauling, aan wie teen die oostelike hange van die Berg ‘moete’ bekend is van Trichardt se sukkel-trek daaraf. Ten minste een van die sigbare tekens van die Trek skyn Fuller mis te geloop het, naamlik 'n sloot of enkele slote wat die Trekkers teen een van die skuintes gegraaf het vir die boonste wawiele teneinde die voertuig min of meer horisontaal te hou. My is gesê dat hierdie littekens van die moeilike beweging 'n jaar of tien gelede nog duidelik sigbaar was. Deur erosie was wat in 1837 net voortjies was, uitgekalf tot slote.
Fuller se grootste moeilikheid was dat hy geen Hollands kon lees nie. Daardeur het hy, sonder om dit te weet, in verskeie verkeerde gevolgtrekkings verval, veral wat Trichardt se beskrywing en my aantekeninge by die teks betref.
So heg hy, b.v., 'n besondere betekenis aan 'n hiaat van vier dae op bl. 339 van my uitgaaf, wat hy verklaar deur te dink dat Trichardt gedurende dié tyd siek was aan die koors. As hy die origineel ondersoek had, sou hy gesien het hoe daar om een of ander rede 'n bladsy uit die boek verwyder is - wat nie die minste bevreemding behoef te veroorsaak as mens vertroud is met die geskiedenis van die dokument se omswerwing nie.
| |
| |
DEURGANG TUSSEN TWEE ‘SALE’ IN LEGAGA LA PHALO. OP DIE AGTERGROND REGS HUTTE.
(Flitslig-foto.)
| |
| |
Ook spreek hy die mening uit dat Potgieter en Trichardt in 1836 in dieselfde rigting uitgegaan het om Van Rensburg te soek, terwyl die Duitse lesing van Bronkhorst se verhaal - die enigste wat my bekend is - daaromtrent geen twyfel oorlaat nie. Trichardt het op dié tog ternouernood aan dieselfde lot ontsnap as die ongelukkige Van Rensburgers, en wel in die nabyheid van die samevloeiing van die Motale- en Pafuri-riviere, terwyl Potgieter halfpad naar Inhambane gery het, noord van die Limpopo.
As die Afrikaanse uitgewer van Fuller se merkwaardige en verdienstelike werk minder bevooroordeeld en minder onwetend was as die Australiër, dan sou dit maklik gewees het om hierdie en verskeie ander vergissings te verbeter.
Ek voel dankbaar jeens Fuller vir die onbevange manier waarop hy hom aan ons geskiedenis teenoor gestel het en vir die toewyding en inspanning wat hy as betreklike vreemdeling hom getroos het vir die opklaring van 'n besonder aangrypende hoogtepunt in die weergalose tragiek van die Trichardt-trek. 'n Afrikaner had 't noueliks beter of met meer liefde en mensekennis kon doen. Ek hou my oortuig daarvan dat menigeen van ons, 'tsy uit naywer, gemis aan verbeelding, inherente kleinlikheid, vitterige verkeerdheid, of wat ook, nie in staat sou gewees het om 'n ondersoek soos dié van Fuller te volbring soos hy dit gedaan het nie.
Waaraan sou dit eintlik skeel? 'n Engelse seun van Kenya wat hom aan 'n aanverwante wetenskap, die argeologie, gegee het, dr. L.S.B. Leakey, het binne enkele jare van toegewyde arbeid 'n figuur geword van internasionale vermaardheid. 'n Engelse vrou, mej. Caton Thompson, word ná 'n paar weke van graafarbeid aangesien as vernaamste orakel oor die geheimenisse van die Zimbabwe. 'n Duitse geleerde, prof. Frobenius, kom ons die raaisels van ons land se pre-historiese kulture verklaar. 'n Hollander, dr. Bleek, is ons vernaamste autoriteit oor 'n vergane inboorlingtaal.
Is 't gebrek aan verbeeldingskrag? Is 't gevolg van die puur materialistiese, wat ons heeldag in die openbare lewe ingepomp word? Maar hoe dan? 'n Ander Duitser is die ontdekker van die Hoofriff se verlenging. 'n Israeliet word verslyt vir Transvaal se ‘mieliekoning’? Waar skeel dit aan?
Enfin, ons het 't oor die dankbare epiese grootheid van Louis Trichardt se Dagboek-verhaal. En ons oorsien vir 'n oomblik hierdie voorste Voortrek soos die dasarend van die Drakensberge en die vlakte hulle gevolg het:
Die Trichardt-gesin het honderd jaar gelede in Kafferland, op die Kaapkoloniese oostelike grens, geboer toe Retief, Maritz e.a. die Groot Trek begin organiseer het. Hulle sou ook trek, maar kon nie op die ander wag nie; en, na 'n afspraak met Potgieter in die suidelike deel van die teenswoordige Vrystaat, om mekaar êrens in die Noorde weer te tref, trek die
| |
| |
Trichardts, deur die Van Rensburgers versterk, ongehinderd deur die ongerepte wildheid van die Vrystaat, tot aan Vaalrivier. Toe lê een van Mziligazi se krygskrale regs voor hulle, bo aan Vaalrivier, by Bloukop, en 'n ander vooruit, waar Pretoria nou staan. Hulle het bymekaar gehou en tussen die twee deurgeglip, op die hoogte van Middelburg, ongeveer, langs Elandsrivier af, en naderhand meer naar die weste toe weggeslinger, by Pietersburg verby, tot onder Soutpansberg, wat sy naam waarskynlik van Trichardt ontvang het.
Die Van Rensburgers was mense wat hulle meer bepaald op die ivoorjag toegelê het; daarom was hulle ook meestentyds vooruit om die olifante die eerste by te kom. En toe die Trichardts in die somer van 1835 by die Soutpan uitkom, staan daar 'n klompie van Van Rensburg se beeste wat deur die tsetse gesteek was; maar die trek was hulle ver vooruit. Van die Soutpan het die Trichardts ooswaarts opgetrek, langs Soutpansberg, tot in die onmiddellike omgewing van die teenswoordige Louis-Trichardt. Daar het Potgieter die volgende jaar met 'n patrollie by hulle gekom, en hulle is in verskillende rigtings noordwaarts om die Van Rensburgers te probeer opspoor. Dié ongelukkige mense was toe al egter deur Zulu-kaffers om die lewe gebring, wat Trichardt vasgestel het deur die aanskouing van 'n stukkie spieëlglas en ander voorwerpe, in besit van die naturelle.
Potgieter het noord van die Limpopo omgedraai, en Trichardt het homself en sy mense deur 'n lis gered van dieselfde lot as die Van Rensburgers oorgekom het. In Trichardt se laer onder Soutpansberg het hy Potgieter weer aangetref, wat toe na sy terugkoms ook weer terug is naar die Vaalrivier, om sy laers aan te bring. Daar het hy afgekom op die eerste moorde van die Matabeles onder sy mense. Hy het hom vervolgens te Vegkop met sukses teen hulle verdedig, maar met verlies van al hulle vee en trekdiere, sodat hy geen voet kon versit nie en deur Maroko teruggehelp moes word. Daarop het gevolg die twee strafekspedisies teen Msiligazi in Marico, tot laat in 1837, terwyl Trichardt nog altoos onder Soutpansberg vir hom gewag het.
Deur die Buyse - basterdkinders van die bekende vlugteling, Coenraad de Buys - het Trichardt inmiddels verbinding gesoek en verkry met die Portugese in Delagoabaai. Hulle het hom twee Magwamba-soldate toegestuur as gidse; en teen die uitgaan van Augustus 1837 besluit hy om ‘naar de Fort’ te trek, aan die see, terwyl hulle alleen daar in die onbekende noorde was, en hulle tydings van die agterste mense van die mees onbestemde aard.
Hulle het suidwaarts teruggetrek tot op die hoogte ongeveer van die teenswoordige Pietersburg, toe in oostelike rigting, en langs die Olifantsrivier af wat hulle tot dertienkeer met waens en vee moes deurtrek om 'n begaanbare pad te kry tot onder die Drakensberge.
| |
| |
Die trek bestaan uit nege waens, en nege weerbare manne, en Trichardt se vee uit oor die 3,000 mofskape en by die 450 beeste, behalwe nog die vee van die ander, met 'n aantal ryperde en naturellebediendes. Onder die berg trek hulle weer in die tsetse in en kan na verskeie verkennings geen oorweg oor die berge vind nie. Uiteindelik ontdek die vroue van die trek 'n min of meer begaanbare koers. Hulle maak die lelikste plekke reg, en dit neem hulle twee maande en agtien dae, van 8 November 1837 tot 25 Januarie 1838, van die een kant van die Drakensberg tot aan die ander.
Dit is maande gewees van ongehoorde inspanning en ontbering, van skreiende mensewee en lyding. Om die berg aan die oostekant weer af te kom, moes hulle die waens se agterstelle afneem en dit op bome laat sleep; hulle moes slote maak vir die boonste wiele teen die ergste skuintes, en op een plek die waens uitmekaar haal en stuksgewyse van die kranse neerlaat.
Onder die berg strek die Laeveld sig voor hulle uit soos 'n landkaart - die Laeveld wat enige jare tevore van sy naturellebewoners ontdaan was deur die groot, teruggolwende Zulu-leiers, Soshangane, Songendaba, Xnaba en ander.
Hulle trek die Olifantsrivier 'n veertiende keer deur en stuur hul koers deur die teenswoordige Wildtuin, oor die Lebombo tot in Lourenço-Marques, waar hulle 13 April 1838 aankom.
Snel loop hiervandaan die tragedie van die trek naar sy end toe. 'n Paar dae na hulle aankoms, toe in Natal Retief twee maande vermoor was en die Vlugkommando net in die verslae laers terugkeer, sterf die ou skoolmeester van die trek, Daniel Pfeffer, eerste slagoffer van die koors. En so val die een na die ander weg, totdat daar van die ses-en-veertig blankes waaruit die trek bestaan het, nog maar ses-en-twintig kinders en vroumense oor was, wat uit Natal deur die Voortrekkers soheentoe afgehaal werd.
Met 'n van verdriet deurtrilde kreet, slaan Trichardt sy Dagboek dig toe sy vrou hom ontval, om dit nooit weer oop te maak nie. Vir wat na dié tyd gebeur het, is mens derhalwe op ander gegewens aangewys.
Kort na sy aankoms in die Baai het Louis Trichardt sy oudste seun, Karel, met 'n Portugese handelsvaartuig langs die Ooskus opgestuur, om te gaan soek naar 'n bewoonbare land vir hulle. Karel het op verskeie plekke langs die Ooskus aan wal gestap en die binneland ingetrek, tot aan die Zimbabwe en die Zambesi-waterval, wat hy 'n vyftien jaar voor Livingstone bereik het, en is noordwaarts langs die kus op, tot in Jibuti, op die kus van Abesinnië.
In April 1840 keer hy in Lourenço-Marques terug, om te ween op die grafte van sy vader en moeder, vrou en kinders en vrinde.
| |
| |
Die Portugese vind hy opgeskrik deur 'n gerug dat die Zulus weer aan kome is, net soos ses jaar tevore, toe hulle die fortbesetting genoodsaak had om skuiling te neem op een van die eilande. Pretorius had naamlik in Januarie 1840 sy derde kommando teen die Zulus in Natal onderneem, en Dingane was in April voortvlugtig, naby die Portugese grense.
Karel Trichardt is te voet uit Lourenço-Marques, langs die kus af, om hom weer met sy eie mense in Natal te verenig; en is onderweg getuie gewees van die dood van Dingane, onder die Swazi-asgaai van Sobpuza. Aan die Umlaas, suid van Durban, vervoeg hy hom na ses jaar by sy vriende en oorgeblewe familie. Hy is later weer getroud en het in 1842 opgetree as Boerekanonier teen die Engelse wat hulle teen Patatehoogte, of, soos hulle nou sê, die Berea by Durban, vasgekeer het. En toe die Engelse Natal afneem, het hy tesame met die meeste ander weggetrek naar Transvaal.
Uit Ohrigstad het hy 'n pad gemaak deur die Laeveld, naar Lourenço-Marques, om bevorderlik te wees aan die handel; en het van die Portugese verkry dat die grens vasgestel werd as die Lebombo, in plaas van die Drakensberg, soos hulle begeer het. Die oostelike deel van die pad wat hy aangelê het, loop deur die teenswoordige Nasionale Wildtuin en het onlangs van die Wildtuinraad die naam ontvang van ‘Trichardtspad’, in plaas van ‘Jock of the Bushveld Road’, soos 't was.
Siedaar in voëlvlug die geskiedenis van die Trichardt-trek.
Fuller het in die werk onder bespreking vasgestel waar die trek in November-Januarie 1837-38 oor Drakensberg gegaan het, en hoe hulle verder, aan die oostekant, deur die Laeveld getrek het tot in Lourenço-Marques.
Hy het dit met groot noukeurigheid en toewyding gedaan; maar, aangesien daar, soos te begrype is, geen spoor nagelaat werd nie, was hy aangewys slegs op die naturellename van riviere en berge, soos Trichardt dit weergee, en van dié se beskrywing van die topografie, wat baie skraal is. Geen wonder, dus, dat daar menige vergissing in voorkom wat mense met 'n noukeuriger terreinkennis maklik kan aanwys. Dit is die geval in die nabyheid van die Sandrivier, deur die Wildtuin. Miskien sal een en ander later in alle besonderhede aangedui word.
'n Interessante ontdekking van Fuller is gewees die bestaan van 'n fonteintjie, bo-op Drakensberg, wat vandag nog aan die naturelle bekend is as ‘Lebese’ (Lewies: Louis).
Die boek is voorsien van verskillende kaarte wat die land in voëlvlug laat sien, en van 'n indrukwekkende skets in kleure, van die oostelike hange van die Drakensberg, waar die trek af is. Buitendien bevat die werk enkele interessante portrette.
| |
| |
Geskiedenis,... nou ja, geskiedenis is dikwels 'n saaie lektuur soos dit soms geskryf word. Dit haal lank nie by die prikkel-literatuur wat teenswoordig so algemeen is nie. Mens moet 'n smaak daarvoor hê, net soos sommige mense het vir biltong in plaas van hasepeper of ganslewer. Maar as mens geroer kan word deur die verhaal van bowemenslike inspanning, van weergalose lyding en ontbering, en die gevare van wilde diere en ewe wilde natuurmense, as mens die siel besit om die noueliks begryplike lyding van duisende redelose diere te voel wat onder die hoede van ewe hulpelose mense in die hartjie van die somer deur die ongerepte Laeveld trek, waar die son genadeloos neerbrand en plasreëns die wêreld week en onbegaanbaar maak - as mens oog en oor het vir die mees intense menseleed en dierewee, dan is dit te vinde in die Dagboek van Louis Trichardt, 'n menslike dokument soos ons geen tweede besit nie.
En Claude Fuller, die Australiër, het veel gedaan om ons begrip daarvan te verhoog en te verdiep.
Fuller is in 1927 in diens getree van die Regering van Mozambiek en sou, volgens aanwysinge wat ek kon verstrek het, ook 'n ondersoek instel naar die begraafplek van die twintig lede van Trichardt se trek wat in Lourenço-Marques oorlede is, insluitende dié van die koene leier self, Louis Trichardt. Ek het ná Fuller se dood my eie ondersoek voltooi en vasgestel hoe daardie twintig witmense van die voorste Voortrek begrawe lê iets oos van die bestaande Goanese begraafplek, wat aan iederen aangewys word, gedeeltelik onder bewoonde huise en gedeeltelik onder die trem en straat, die ‘Avenida de Cinq Outubro’.
GUSTAV S. PRELLER.
|
|