| |
| |
| |
Geheime van 'n Ceylonse Kissie.
DEMMIT!’
Eindelik na 'n derde poging draai die sleutel in die slot, en Rita staan binne in die voorportaaltjie van die kamerwoning waarin sy en haar enigste suster gedurende die afgelope vier jaar saam huis gehou het. Somaar by die intree gewaar sy dadelik daardie gevreesde atmosfeer van kille verlatenheid. Was dit omdat sy hierdie gevoel van eensaamheid te wagte gewees het, dat dit haar nou so oorweldigend beetpak? Sy het dit mos geweet.... vooraf gevrees. En hoe kon dit dan anders gewees het? Hoe kan twee susters - nee meer, want sy was mos maar altyd meer 'n moeder as 'n suster vir Annamarie - soveel jare saam leef en dan skielik geskei word sonder dat die agtergeblewene eensaam en hartseer moet voel? Wel, dis die beste om maar dadelik te gaan slaap en sodoende haar eensaamheid en verlange so gou moontlik in die slaap te smoor; en as liggaamlike moegheid die slaap kan meebring, sal sy seker nie lank sukkel om dié vergetelheid te bereik nie.
In haar slaapkamertjie gekom, staan Rita enige oomblikke voor haar spieël om die nuwe toilet wat sy spesiaal vir Annamarie se troue gekry het, weer vir die hoeveelste maal te bewonder. Ja, Elizabeth was reg, hierdie appelgroen rok en breë randhoed pas haar uitstekend goed - laat haar somaar 'n tien jaar jonger lyk. Sy glimlag haar ewebeeld in die spieël effens skamper toe. H - m - m, tien jaar jonger! Dit sou sy graag wou glo. As 'n vroumens al vyf-en-dertig jaar oud is, dan glo sy alte graag dat sy nog op 'n vyf-en-twintigjarige nooientjie lyk, al sê die spieël vir haar dat daardie komplimentjies van haar vriende somaar maar heuning om die mond gesmeer is - diplomatiese mooi woordjies om 'n feestelike geleentheid des te meer gesellig en vrolik te maak. Of was dié vleiery maar net bedoel om haar te troos oor die verlies van haar enigste sustertjie, of... of... as troos by die bittere gedagte dat sy, Rita, nou vergoed op die bakoond sit, terwyl haar jonger suster al die heerlikhede en voorregte van 'n gelukkige huwelik gaan aanvaar? Aag wat! wat traak dit haar of ander haar bejammer oor haar oujongnooienskap - of hul glo dat sy jaloers is oor haar suster se huweliksgeluk. So lank soos sy en Annamarie net weet dat geen die minste greintjie jaloesie ooit hul soete kameraadskap kan bewolk nie. Ja, al was daar nooit enige uiterlike vertoning van liefde tussen hulle twee nie, nogtans was albei bewus van die hegte band van innige liefde en volkome vertroue wat daar tussen hulle bestaan het. Sedert die dag, al byna sestien jaar gelede, toe haar moeder op haar sterfbed vir klein Annamarie aan die sorg van Rita toevertrou het,
| |
| |
het die liefde tussen die twee susters steeds aangewas. En nou.... nou staan Rita stoksielalleen in die lewe, want Michael het mos vir Annamarie van haar kom wegneem.... daar ver weg na Pretoria toe. Nee!.... nee!.... nee! Sy is vasbeslote om haar nie vanaand aan sulke martelende herinneringe oor te gee nie; veel verstandiger om haar gedagtes besig te hou met die gebeurtenisse van vanmiddag - die hele trouery van voor af te deurleef. Ja, alles het regtigwaar baie goed afgeloop.
En so, al mymerend oor die gebeurde van die afgelope vyf of ses uur, begin Rita haar te ontklee. Met haar kamerkleed oor haar naghemp aan, stap sy na die popkombuisie om vir haar 'n koppie tee te maak. Nou besef sy eers dat die nare holte hier in haar binneste miskien gedeeltelik aan honger toe te skryf is. Alhoewel die Botha's by wie sy die aandete gaan nuttig het, vir haar 'n heerlike maal voorgesit het, kon sy slegs daaraan peusel, daar sy nog te opgewonde was om 'n ordentlike maaltyd te kan eet. Nou val dit haar eers by dat sy die hele liewe dag lank nie eenmaal rustig geëet het nie. Met ontbyt en middagete was sy en Annamarie albei te opgewonde en te besig om hul aan kos te steur. Selfs by die resepsie in die koffiehuis kon sy nouliks eet. Ja nee, waarlik waar, een stukkie bruidskoek en 'n kelkie wyn was al wat sy vanmiddag oor haar lippe gehad het.
Onderwyl die water in die elektriese ketel aan die kook is, stap Rita rond - somaar uit pure gewoonte - om te kyk of al die vensters op knip is. In Annamarie se slaapkamer staan sy 'n oomblik stil, met haar hand op die knop van die deur. 'n Vlaag van hewige verlange bedreig haar en bring 'n swelling in haar keel. Haar blik beland op Annamarie se afgeslete en verbleikte vaalblou pantoffels, en die welbekende reuk van Annamarie se poeier bring die aanwesigheid van die pasvertrokke bruidjie nog pynlik skerp tot Rita terug. Skielik gewaar sy daar op die spieëltafel - nou so aaklig leeg en kaal - 'n brief aan haarself geadresseer in Annamarie se handskrif. Net 'n sweem van 'n glimlag bewe om een mondhoekie onderwyl Rita met die brief na haar eie kamer terugstap. Sittende op haar bed, skeur sy die brief langsaam oop en begin lees, met onmiskenbare aandoening op haar moeë gelaatstrekke geteken:
‘Allerliefste Sus, - Nou kan ek vir jou al die dinge sê wat ek nie gistraand of vanmôre kon uitkry nie - al die duisend dankies wat ek so graag wou gesê het, maar wat hul nie in woorde wou laat uitdruk nie. Rita, ek kan nooit vir jou genoeg dankie sê vir alles wat ek aan jou verskuldig is nie. Selfs Michael kan nie eens begryp wat jy alles vir my gewees het en gedoen het nie, alhoewel hy met my saamstem dat daar nie nog so 'n dierbare Ousus soos jy in die hele wêreld is nie. Ek weet goed genoeg, Rita, dat jy nie van hierdie soort sentimentele uitbarstings hou nie, en miskien is dit daarom dat ek nooit my ware gevoelens aan jou kon openbaar nie. Ons is nou eenmaal anders.
| |
| |
geskape, Sus. Ek sal seker maar altyd die emosionele gevoelsmens bly, terwyl jy prakties aangelê is. Maar met al jou gesonde verstand en streng beteuelde selfbeheersing klop daar darem soveel warme menseliefde, simpatie en onselfsugtige bedagsaamheid in jou siel, dat ek jou altyd vurig bewonder het, van my kindsjare af, Rita. As ek maar min uiting gegee het aan dié bewondering en liefde, dan was dit maar net uit vrees dat jy my as belaglik emosioneel sou beskou het. Maar vanaand, my laaste aand saam met jou in ons eie huisie, voel ek onkeerbaar daartoe gedwonge om uiting te gee aan die bruisende gevoelens wat my beetpak by die gedagte aan môre se skeiding, en die geweldige verandering wat môre in my lewe plaasvind. Dis alles so.... so vreemd en geweldig. Ek wonder soms of ander meisies op die vooraand van hul troue ook sulke gemengde gevoelens van hartseer en blydskap belewe. Maar, liewe Sussie, ek wil jou nie nou lastig val met my onstuimige gewaarwordinge nie. Ek wil jou van ganser harte bedank vir alles - die onbeskryflik vele - wat jy altyd vir my gedoen het. Ek sal nooit jou liefde en goedheid kan vergeet nie, Rita. Soos ek hier sit, dink ek nou aan al die honderde maniere waarop jy my bederf het - ja, bederf het tot in die grond. Hoe jy in die winteraande, as ek en Michael êrens heen gaan, my warmwatersak in my bed gesit het, hoeveel honderde male jy my kouse gestop het onderwyl ek rondgejakker het, hoe jy Sondae vir my ontbyt in die bed aangedra het, hoe jy my in die afgelope paar maande gehelp het om my bruidsuitrusting agtermekaar te kry. Ag, daar is te veel van hierdie soort voorbeelde van jou onselfsugtige liefde vir 'n onwaardige sustertjie. Maar Ritalief, as dankbare liefde enige vergoeding kan wees vir sulke wonderlike onselfsugtigheid en moederlike besorgdheid, dan skenk ek jou al die vergoeding waartoe my hart in staat is. En nogmaals verseker ek jou, Sussie, dat, solank ek en Michael 'n dak oor ons
koppe het, daar altyd 'n warme welkoms vir jou in ons huis sal wees. As jy een dag nie meer wil of kan werk nie, dan kom woon jy by ons in Pretoria, nè, Rita? Dis 'n plegtige belofte, hoor. Ag, Sus, jy kan nooit begryp hoe gelukkig ek voel by die gedagte dat jy en Michael so goed met mekaar klaarkom nie. Maar dit kan ook nie anders nie, want julle twee is dan die allerliefste en verdraagsaamste twee mense in die wêreld. Ek het al verskeie male vir Michael gesê, as hy net vyf jaar ouer gewees het, sou jy vir hom 'n veel beter vrou uitgemaak het as ek, want jy besit al die deugde van 'n ideale vrou en moeder. Vergeef my, Rita, vir hierdie hartstogtelike uitbarsting vanaand. Maar ek kon nie in woorde uiting gee aan al my dankbaarheid, liefde en hartseer op die vooraand van ons skeiding nie, en tog kon ek ook nie somaarso weggaan sonder om vir jou te laat weet hoe diep ek die skeuring voel en hoe innig ek jou liefdevolle besorgdheid en hulp op prys stel nie.
God seën jou, Rita, en maak jou altyd gelukkig soos jy verdien te wees.
Jou innig dankbare,
Annamarie.’
| |
| |
Trane wat maar nie hul koers oor haar wange kan vind nie, swel groot in haar niks meer siende oë, nou stip op die tapyt gerig. Enige oomblikke sit sy so, dan staan sy dromerig traag op en begin die swart-en-wit kissie op haar spieëltafel te ontsluit. Dis 'n kunstig vervaardigde kissie wat haar vader as krygsgevangene meer as dertig jaar gelede in Ceylon van ystervarkpenne en ebbehout gemaak het. Dit was een van haar moeder se kostelikste besittinge gewees en ten alle tye 'n bron van die grootste bewondering en nuuskierigheid vir die twee dogtertjies. Toe Rita na haar moeder se dood dié kissie geërf het, het sy weer op haar beurt al haar heiligste besittinge daarin gebêre.
Dis al minstens twee jaar sedert die Ceylonse kissie laas geopen is - dus styg daaruit nou 'n sterk geur van naftaliene op. Die inhoud van die kissie bestaan hoofsaaklik uit ou briewe waarvan sommige al geel verouder het. Rita dra die kissie na haar bed en gaan sit daarnaas. Droomverlore begin sy nou te snuffel onder die stukke van die lang verlede. 'n Medaljon met die portrette van twee babetjies daarin, 'n vergeelde wolmussie, onhandig gebrei met baie gate waar steke van die breinaald afgegly het - Rita se eerste stukkie breiwerk, bedoel vir die boetietjie wat maar net drie weke gelewe het -, 'n dansprogram, 'n ouderwetse goue borsspeld met ‘Marguerite’ in skynpêreltjies vervaardig en nog 'n silwerborsspeld met twee harte langs mekaar; op een hart staan die woord ‘Mizpah’, met klimopblare omsoom, en op die ander, in byna onleesbaar klein drukskrif, staan geskryf: ‘The Lord watch between thee and me when we are absent from another’. Verder is daar 'n breë trouring waarvan die rande al skerp afgeslyt is, en 'n goue verloofring waarop twee hartjies pryk - elkeen met 'n diamant in die middel. Binne in beide ringe is die name van Benjamin en Maria gegraveer.
Onder die menigte briewe soek Rita een uit wat in 'n verslete koevert is. Die adres is in 'n breë manshandskrif, en die brief is al byna deurgeslyt in al sy voue. Met oë bevang met soete heugnisdrome, lees Rita die kort briefie:
‘Lieve Rita, - Ek wil eers in Engels skryf, maar nee, ek sal (of is dit wil?) lievers Afrikaans skryf. Toe ek Engels skryf ek sê te veel so ek wil maar Afrikaans skryf. Rita jy moet my vergeef toe ek lyk ondankbaar vir alles dat jy het gedoen om my te help met my Afrikaans. Ek kannie verklaar alles nie. Vir ons altwee dit is beter dat ek nie verklaar nie - nie alles sê nie wat ek wil sê vir jou. Ek wil net nou vir jou sê baie, baie dankie vir al jou goedheid en help. Ek kannie genoeg sê dankie dat jy my so baie het gehelp met my Afrikaans. In my hart ek sal jou altyd hou as 'n soet herinnering, en ek sal ewig wees baie dankbaar vir alles dat jy het vir my gedoen. Dis nie alleen
| |
| |
vir jou goeie Afrikaans lesse maar ook vir die geluk en sonskyn dat jy het vir my gegee dat ek sal altyd vir jou so baie dankbaar wees, lieve Rita.
Dit is swaar te vra om nie meer vir my te kom Afrikaans lesse gee. Maar dis beter so. Ek dink jy sal verstaan.
Altyd jou dankbaar vriend,
David Yeats.’
Stappie vir stappie herwandel Rita nou in verbeelding die stowwerige ou paadjies van 'n lang geslote droompaleis.... stappie vir stappie van die voorportaal af tot agter uit. Duidelik herleef daardie eerste ontmoeting voor haar gees. David Yeats se vrou het Rita genooi om by hulle dié middag te kom tee drink, want Patsy, hul oudste kind, was in Rita se klas op skool. Die Ierse leerlingetjie het so 'n vurige bewondering vir haar nuwe onderwyseres gekoester, dat sy haar moeder beweeg het om die juffrou na hul huis uit te nooi. Daar dit 'n Saterdagnamiddag was, het meneer Yeats met teetyd by die dames in die tuin kom aansluit. En so het die ontmoeting dan geskied. Die gesprek het oor Afrikaans geloop, en al gou het Rita beloof om meneer Yeats een aand per week te kom help met sy wanhopige pogings om die Afrikaanse taal meester te raak. Aangesien die losieshuis waar Rita geloseer het, 'n lang ent van die Yeatse se huis geleë was, het meneer Yeats haar altyd per motor gaan haal en ná die les weer huistoe gebring.
Die gesprekke wat moes dien as mondelinge taaloefening, was in die begin heeltemaal onpersoonlik - meestal oor gebeurtenisse aan die koerante ontleen. Later het die konversasies oor Ierland en oor meneer Yeats se jongdae in Cork gegaan, en toe oor boeke en ingewikkelde lewensprobleme. En, soos te verwagte, is die gesprekke nie juis altyd in Afrikaans gevoer nie, want wanneer die onderwerp te moeilik en ingewikkeld begin raak, het die leerling oorgeslaan in sy eie taal. Dan was die onderwyseres ook so diep geïnteresseerd in die musikale Ierse uitspraak, die heldere denkbeelde en hoë idealisme van haar buitengewoon breed ontwikkelde leerling, dat sy die eintlike doel van hul samekoms skoon vergeet het. Hierdie Afrikaanse lesse, wat in meneer Yeats se studeerkamer plaasgevind het, het dan ook mettertyd uitgerek tot twee of twee en 'n half uur. As mevrou Yeats die aand tuis was, het hul saam met haar ná die les 'n koppie koffie in die eetkamer gaan nuttig voordat Rita huistoe gaan. Maar mevrou Yeats was meestal saans uit om êrens te gaan brug speel. By dié geleenthede het meneer Yeats en Rita op pad na haar losieshuis in 'n restaurant gaan koffie drink.
Stadigaan het Rita begin besef dat mevrou Yeats maar bra min belang in haar huis of haar gesin stel. Sy was 'n buitengewoon mooi vrou met besonder goeie smaak insake kleredrag. Die toegewendheid van haar ouers en later weer van haar man het veel daartoe bygedra om die uithuisigheid en
| |
| |
aangebore selfsug van hierdie plesierliefhebster steeds te laat toeneem. Dikwels het Rita gewonder of dit uit pure belangeloosheid of somaar om vredeswil was dat David Yeats sy vrou se pronksug en uithuisigheid so verdraagsaam gedoë het.
Mettertyd het daar ook 'n ander besef by Rita posgevat: en hoe dieper dié waarheid tot haar bewussyn deurgedring het, des te meer het dit haar gekwel. En tog was dié kwelling ook nie sonder soetheid nie. Soms het sy haarself verwyt dat sy nie gou genoeg die loop van sake gekeer het nie. En tog.... hoe kon sy daarvoor dat hulle twee, wat sulke ooreenstemmende belange, soveel eenderse ideale en so 'n diepe weersydse bewondering vir mekaar gekoester het, eindelik tot weersydse liefde moes ontwaak? Dit was juis omdat David Yeats se onwrikbare eergevoel belet het dat hy deur woord of daad sy liefde aan haar sou openbaar, dat Rita hom des te meer bemin en bewonder het. Had hy op een of ander manier getrag om uiting te gee aan sy minnegloed, dan sou sy natuurlik teruggedeins het. Haar instinkmatige gevoel van onveiligheid sou haar dan van hom laat wegbly het; maar dis juis haar volkome vertroue in David se selfbeheersing wat haar daartoe in staat gestel het om voort te gaan met die weeklikse lesse selfs nadat die ontwaking gekom het. So het soet-sure maande van marteling hul gedurig gekwel, en tog het beide elke week vurig uitgesien na hierdie vrywillige selfpyniging.
Toe kom die dansparty. Dit was om haar broer se verloofskap te vier dat mevrou Yeats die dansparty gegee het. Rita was ook genooi. Met sy kensketsende hoflikheid het David Yeats om die beurt met elkeen van die dames gedans. Toe dit by Rita se beurt kom, was dit toevallig.... of miskien was dit met opset... 'n wals wat gespeel word - nogal die Blou Donou. Die romantiese melodie van Strauss, die ritmiese beweging van twee goedgepaarde dansgeselle wat die ouderwetse walspas uitnemend beoefen en die eerste omhelsing van twee bemindes in wie die liefdegloed alte lank gesmoor is, het alles meegewerk om die moeilik-verkropte hartstogte tot so 'n hoogtepunt te laat styg, dat alle bewustheid van die werklikheid totaal in die niet versink het. In daardie salige sewe of agt minute het hul oë mekaar net eenmaal ontmoet - net vir 'n sekonde ontmoet - maar dit was ook genoeg. Toe David na die dans 'n wandeling deur die tuin voorstel, het sy nog 'n minuut geaarsel. Eindelik sê sy nee dankie, sy wou liewers 'n koeldrank in die eetkamer gaan nuttig. Onderwyl hul deur die gang na die eetkamer stap, druk David haar arm waarderend en fluister hees-stamelend: ‘Thank you, little lassie... You are wonderful. Rita.... You have saved us nobly.’
Dit was die enigste keer dat hy haar ooit op haar voornaam genoem het, maar jare daarna het daardie langgerekte Ierse uitspraak van ‘Rita’ nog
| |
| |
in haar ore weerklink, en honderde male het sy daardie drie sinnetjies in die stilte van haar droomwêreld oor en oor herhaal.
Twee dae later het sy hierdie briefie van David ontvang. Met die eerste geleentheid het sy gesollisiteer na 'n betrekking in 'n ander stad. Maar selfs die honderde myle wat daarna tussen hul gelê het, kon nie die hartseer en verlange gou stil nie. O nee, dit het baie jare gekos om... nee, nie te vergeet nie, want daar is herinnerings waarvan die wortels so diep in die weefsel van die bewustheid vasgegroei is, dat hulle ewig onuitroeibaar bly... om normale sielevrede te herwin.
Vyf jaar later is Rita verloof geraak aan Koos Joubert. Maar die hoë etiese maatstaf wat David haar gestel het en waarna sy nou onwillekeurig alle mans meet, was te hoog vir Koos. Dié jong prokureur kon nie voldoen aan haar eise soos David Yeats daaraan voldoen het nie. En die uitslag van hul verloofskap was net dat daar 'n pak minnebriewe, met 'n groen lintjie vasgebind, by die ander kostelike besittinge in die Ceylonse kissie beland het.
Rita begin dromerig die groen lintjie om die minnebriewe los te maak. Skielik dring 'n sissende geluid hom aan haar aandag op. Pylsnel skiet sy orent, gooi die pak briewe op die bed neer en vlieg die kamer uit. In die popkombuisie begroet 'n rookwolk haar. Nadat sy die elektriese verbinding van die ketel ontskakel het, bekyk sy die uitgebrande ketel en die geskroeide tafellaken berouvol.
‘Demmit!!... Nou toe nou, Rita Conradie! Dit het jy nou van al jou sentimentele dromery,’ prewel sy ergerlik onderwyl sy die tafel begin ontruim.
LULU BREWIS.
Kaapstad,
September 1932.
|
|