Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1932(1932)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 202] [p. 202] Man, Vrou, Dood. Man: Die lente bloesem oor die sagte land, kyk hierdie blomme tros op tros, die wit olyfgroen nou bedek teen skurwe stamme. Oor klamfris gras daar sprei 'n blink fontein sy reënboogsid'rings sirkelend omhoog, en in die teerblou lug skuim wolke sku die purper van die berge oor en blink die vreug uit sonnebekers ingeskink. O Lewe, meer as alles min ek jou, jy wat hier ewig skep, wat weer vergruis en tog weer heel; jy wat die drang in ons laat gloei om iets te kan behou van alles wat in jou duisende vorme leef, verkwyn. Kom laat ons oor die groenheid dwaal, daar bly vir elke hart net skoonheid oor om wild te drink - want O wie kan die sonnevreug vernietig van my droom-vermooide jeug? Vrou: En tog ek huiwer; kyk hoe sag die son deur dungetakte bome aars'lend sink, hoedat hul donker-swart die kim belyn en netnou sal gaan wegvloei in die rou. Meer as die Lewe, meer as alles min ek jou, O Man, maar donker in my hart staan stoete voorgevoelens en 'n vrees beskadu my om hier alleen te wees. Maar nee! Laat ons in hierdie oomblik drink diep uit die bron van liefde; blomme lok en in die koelte droom die stroom se lied, die aarde skep en lag die hemel teen! En tog! Iets wink ons na die kimlig heen. [pagina 203] [p. 203] Man: Die vrees is ydel. Ken jy hierdie lied? O die blou van die see, O die groen van die land, O die hemel se reinheid daar bo! Wie kan dan geliefde - O gee my jou hand - aan die Dood, aan die donkerte glo? O die skoonheid van nagte, van die dageraad, van jou siel, van jou liggaam, die hou ek vir ewig, en selfs die dood se gelaat skei my nimmer van jou! Vrou: O! Man: Waarom dié vrees? Vrou: Kyk na die Weste waar die donker kim rys uit die see, kyk, daardie donker boot en kyk, wie nader! Hy is donker-groot! O nimmer sal ons skei! O Aarde, hou hom tog vir ewig hier by my en jou! Man: Ek sien dan niks. Waarom dié vrees? Dood: Ek is die veel-gehate; immer wink ek aan die verre kim en tog wie kyk ooit na die skadu van my donker boot? Waar luid die laggies huppel en wellus die bloed bekoor, daar huiwer steeds my boot se skaduwee. Ek is die kind van donker Aarde, ek bly steeds naby jul en almal vlug vir my. My stem is in die wind, my voetstap in die see se sand, my lewe sing die golwe, my wese ween in die musiek, ek is die skadu van die nag se duisternis. Ek bewe in die sterre, mense sug: hoe gou het tog die skoonheid heengevlug! Waar sag die maanskyn in die kuile slaap, waar net gefluister word, waar angste huis, daar hoor hul bang-ontsteld my bootgeruis. Die aarde skep, ek is die kind wat erwe; [pagina 204] [p. 204] ek is die pelgrim wat vir ewig swerwe langs wind-bewoonde heuwels, langs die vlei waar mym'rend donker stoete wag vir my. Oor lang wit paaie lê my donker spoor, in seegeruis sal jy my roepstem hoor. Kom, Man! Vrou: O Dood! O Dood! Hier is 'n grysaard in ons dorp wat wag op jou; neem hom, maar laat my man hier bly. O harde Dood! Neem my dan tog maar mee! O! Daar gaan die boot, 'n donker see lê voor, O Aarde, Dood, wie sal my smart dan hoor?... Man: Ek word hier wakker waar die strande wyd langs eindelose duineheuwels lê. Hoe het die aardse skoonheid so vernewel? Waar is die land van liefde, hemelblou? O donker roeier met jou donker boot, is dit die wye stilte van die Dood? Ek hoor haar stem nog verweg wenend sing, was alles dan maar net herinnering? C.M. VAN DEN HEEVER. Vorige Volgende