Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1932
(1932)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 191]
| |
Ahasveros en die Kind.
| |
[pagina 192]
| |
toe. Sonder om sy hand van die put se klip weg te neem en sonder om met 'n enkele blik op te kyk, eet hy gulsig soos 'n dier uit die vrou se hande. Mense uit die naburige dorp wat die verskyning agternagehardloop het, kom daarby en bring die tyding wat aan hulle weer deur inwoners van ander dorpe oorgebring is, dat die sonderlinge vreemdeling niemand anders is nie as Ahasveros, die Ewige Jood, wat hom, toe Jesus destyds met Sy kruis voor sy huis inmekaar gesak het, tevergeefs laat vra het om vir Hom die kruis 'n ent die berg uit te dra. Deur die hemel vervloek, moet hy nou in 'n ewige drang as rustelose swerwer sy voete oor die weë van die aarde beweeg. Die vrou wat vir die man voedsel gegee het, hef by hierdie berig haar arm op om hom te beskerm, want sy dink dat almal die man woedend sal stormloop en hom sal slaan. Maar almal bly nou verskrik staan en kyk met groot medelye na die man. Die kinders staan in stomme eerbied en dring teen mekaar. Toe begin die man, in plaas van te dank, te skreeu, met 'n donker en gebroke stem wat nie in sy mond nie, maar in die een of ander holte van sy geweldige liggaam skyn voortgebring te word. Daar hy van die oertyd af alle lande van die aarde deurgeswerf het, praat hy seker ook alle tale. ‘Trap!’ roep hy. ‘Ek wil alleen wees, vervloekte mensegespuis!’ Maar onderwyl hy met sy hele liggaam aan die put vasklou, beur sy betowerde voete met geweld vorentoe om te loop. En hulle is sterker as sy arms. In vreemde verweer teen die onsigbare vyand moet hy tog sy hande van die klip losmaak, moet hy hom tog oor die straat voortbeweeg. Sy hande bly langs sy voete op die grond. Hulle gryp na elke klip om daaraan vas te hou. Eindelik bereik die man 'n jong boom wat nog aan 'n paal vasgemaak is. Onderwyl hy daaraan vashou, stap sy voete aan. Die boom breek. ‘Bring yster!’ roep die vrou en loop na die smidswinkel, kom met 'n sterk en lang ketting terug en draai dit om sy bene. Maar die bene, wat aanstap, verbreek die ketting asof dit uit strooiringe saamgevoeg is. ‘Ek wil uitrus, slaap, eenmaal slaap!’ skreeu die man soos 'n sterwende dier, onderwyl sy oë in sy kop ronddraai. Hy strek sy vuiste wild na die hemel uit asof hy aan die blou uitspansel en die wit wolke wil vasklou. 'n Paar manne gryp mekaar se hande en keer hom. Maar hy trek hulle met hom saam. Die manne bind hom met die veelvoudig gevlegte ketting vas aan 'n kar met twee osse wat juis daar staan. Maar die man sleur ook kar en osse saam. Hulle maak 'n sterk houthut voor hom oop en meen om hom so in te sluit. Maar die muur buig vir sy voortbewegingsdrang en breek uitmekaar: agter hom val die hele hut inmekaar. Nou loop die mense kerk-toe, lui die klokke, bid ten hemel om só miskien die vloek te breek. Maar met ontsettende verwensinge teen die mense om hom, teen die ganse mensdom, teen die hemel self, kruip die harige gestalte meer as wat hy loop, | |
[pagina 193]
| |
daar vandaan, steeds afwerend en tog vinnig voortgesleur. 'n Lang spoor bly van die hoewe in die gras agter asof 'n oerdier daaroor geloop het. Eindelik sterf die geskreeu weg, die opgeskopte stof sak agter die bosse neer. Maar 'n klein meisie, wie se blou oë uit haar wit gesiggie kyk en wie se beentjies teerder is as die arms van ander kinders, sluip van die mense weg, agter die huise verby, en begin in die oop veld te hardloop tot sy die man inhaal. In plaas van die manne gryp sy nou sonder skroom na sy hand om hom daarmee vas te hou. Hy kyk op haar neer en stoot die klein handjie weg. Die kind bly langs hom loop. Hy slaan met sy stok na haar. Sy bly 'n oomblik staan en is dan reeds weer by hom. Telkens wanneer hy omkyk, gaan staan sy; telkens wanneer hy verder gaan, kom sy agter hom aan. Hy gooi haar met 'n klip en raak haar op die voorhoof. Sy bly hom desnietemin volg. Hy vlug in 'n bos en loop gejaagder as wat hy gedwing is. Sy aarsel nie en breek met haar klein kaal voetjies net so vinnig deur die takke soos hy. Wanneer sy hom vanweë die baie bome 'n keer nie meer kan sien nie, luister sy na die geruis van die takke. Hy stap so suutjies as hy met sy swaar hoewe maar kan. Maar steeds is sy weer daar. Hy gryp tenslotte na haar, terwyl die skuim van woede wat op sy mond kom, haar gesiggie nat maak. Maar toe sy ook nou nog onverskrokke na hom opkyk, dink hy dat hy makliker met kalme woorde van haar sal ontslae raak. ‘Wat wil jy hê?’ vra hy. ‘Ek ken 'n lied,’ sê sy met 'n stem wat soos 'n vrolike silwerklok klink onderwyl sy steeds na hom opkyk en 'n blos haar hele gesiggie oortrek. ‘Dit sing ek as my broertjie moet gaan slaap. Dit wil ek vir jou, arme man, sing.’ Hy slinger haar van hom weg, teen 'n boom. Sy lê bedwelmd, met toe oë. Hy vlug die bos uit en versteek hom agter 'n randjie. Toe hy hom reeds veilig waan en 'n hele ruk later alleen met 'n vae gevoel nog eenmaal omdraai, sien hy die kind van die rantjies af agter hom aan kom. Spoedig is sy weer by hom. 'n Bloedspoor bly agter haar kaal voetjies lê. Maar sy slaan daarop geen ag nie, loop verder, val, staan weer op. As hy nouliks merkbaar sy kop na haar toe draai, slaan sy ook reeds haar oë op en straal van hoop. Eindelik, egter, toe dit nag geword het en sy al dikwels op 'n boom of 'n hooimied afgekom het, in die gedagte dat dit die man is, sak sy inmekaar, dog nie ver van hom af nie. Sy wend haar laaste kragte aan om met haar handjies sy hare te gryp. Die hare waaraan sy in haar val trek, veroorsaak hom pyn. In rasende woede lig hy sy voet op om die kind te vertrap. Maar tot sy verbasing en skrik ontdek die man plotseling dat sy voete stilstaan. Die twee swak handjies wat in sy hare vasklou, het, asof die hemel erbarme met hulle het, meer krag ontvang as manne, ketting, kar en osse voorheen: sy voete staan stil. Ook in hulle staan dit stil. In die man se hele liggaam en in sy voorhoof staan dit stil. Daar heers, soos na martelende | |
[pagina *25]
| |
TIPIESE ‘HUT’ IN LEGAGA LA PHALO.
(Flitslig-foto.) | |
[pagina 194]
| |
rumoer, 'n salige rus. Hy lig ondersoekend sy voete op, maar hulle stap nie verder nie; swaar hang hulle en val weer op die grond neer. Bewend van hoop asof van koue, gaan sit hy langs die kind, beskou en voel die klein handjies waarin die hemel hierdie geheimsinnige krag gegee het, strek sy bene uit, probeer nog 'n maal, jubel dit dan uit van vreugde. En wat al die verdriet nie vermag het nie, dit bring die blydskap tot stand. Iets in hom wat koud en hard gewees het, begin te brand en te gloei, sodat hy dink dat daar vuur en rook uit sy mond moet slaan. Hy maak sy mond wyd oop, trek die naglug in, en koel so die brand in hom totdat daarbinne slegs nog 'n strelende son is en tot hy dink dat die strale daarvan nou deur sy bors moet breek en die veld rondom hom met goue lig moet oorstraal. Hy lê die kind te ruste in sy skoot. Sy, nog bevrees dat sy hom uit haar handjies sal verloor, laat sy hare nie los nie, maar die greep van die vingertjies word langsamerhand tot 'n liefkosing. Dan, haar koppie agteroor en die ogies selfs al toe, asof sy in haar moeder se skoot lê, begin sy haar slaapliedjie sing. Haar stem klink nou in die wye nag soos die gelui van 'n verlate kapelklokkie wat die saligheid vir homself besit. Die man stoot sy bors uit asof dit 'n berg is en asof daar 'n geweldige krag voor nodig is om die berg so hoog op te stoot; dan val hy in slaap. En nog onder die sing val ook die dogtertjie se ogies toe. Toe die kind die volgende oggend haar ogies weer oopmaak, verwonderd opkyk en dan dadelik opspring, is die vreemde man nie meer daar nie. Slegs 'n reusagtige oeroue boomstomp, wat gister nie daar gestaan het nie, staan nou daar, deur mos- en klimop heeltemaal oorgroei. In sy vertakte wortels het sy gelê. Daar kom mense en hulle bring die kind na haar moeder terug. J.J. DEKKER. |
|