(f) | Distriks-, Provinsiale of Uniale beurse aan belowende kunskragte. |
(g) | Ander punte wat van belang geag word. |
Ons het hierbo net enkele puntjies genoem wat kan lei tot 'n vrugbare bespreking op die Konferensie. Maar die plan is nie om net te praat nie; ons wil oorgaan tot die daad, al is dit dan voorlopig nog die kleine, nederige, voorbereidende aanvangsdaad. Daarom wil ons van alle belangstellende Kunswedstryd- en ander vereniginge verteenwoordigers hê by die beraadslaging en by die opstel van ons konstitusie.
Moenie depressie pleit nie. Medeafrikaners, ons kan ryk wees in ons armoede. Ryk in die besit van 'n hart, wat die goeie vir ons volk en vaderland hartstogtelik wil. Ryk in geestesgoedere wat ons van ons Vadere geërf het, maar nog ryker in die kultuurbesittings wat ons self in die sweet van ons aanskyn verwerf.
Kultuur is karakter. En die Interprovinsiale Kunswedstryde is die aangewese middel om Afrikaners erfgename, waaragtige besitters van hulle eie kultuur te maak. Dan eers is hulle bestand teen gedurig wisselende tydsomstandighede.
Dis 'n moeilike taak wat ons nou aanpak; maar vir die Voortrekkerseun en -dogter wat hartstogtelik wil, bestaan die onmoontlike alleen in die drome van die papbroek.
Met hierdie woorde uit die hart verwelkom ons U by voorbaat reeds op die Bloemfonteinse Konferensie van 19 Desember 1932.
Bus 3686,
Johannesburg.
I.M. LOMBARD, Sekr. F.A.K.