| |
| |
| |
Oor Boeke.
C.M. van den Heever: Deining. J.L. van Schaik, Bpk., Pretoria.
Voor ek hierdie bundel gelees het, het 'n bedenking wat ek reeds vroeër uitgespreek het, hom weer sterk aan my opgedring: of hierdie vrugbaarheid van Van den Heever nie 'n gevaar sal blyk nie, of dit sy kuns nie ten goede sou gekom het as hy gewag het tot hy die oomblik van rustiger besinking, groter beheer oor die vorm en ryper selfkritiek sou bereik het nie. Nou ek ‘Deining’ gelees het, wil ek die digter my dankbaarheid betuig dat hy hierdie gedigte gepubliseer het. Daarmee het hy ons enkele suiwere gedigte geskenk en 'n bepaalde fase in die ontwikkeling van sy digterskap vasgelê, waardeur ons ook 'n beter insig in die wese daarvan kan kry. As geheel staan ‘Deining’ hoër as ‘Die Nuwe Boord’, maar dit verwesenlik nog nie die belofte wat in sy vroeëre bundel lê nie; wel versterk dit daardie belofte.
In ‘Deining’ gee die digter ons 'n aantal stemminge en innerlike belewinge. Wat die meeste van hierdie gedigte op subtiele wyse verbind, is die lewenstemming wat daarin tot uiting kom - hulle is gebore in dieselfde sfeer, 'n droomsfeer, 'n wêreld van gedempte lig en kleur, waarin die vae lyne en tinte vervloei. In hierdie yle wêreld van halflig en sagte glanslig verdroom die digter hom, en die uiterlike verskyninge kry 'n nuwe, vreemde betekenis, word openbaringe van die ewige misterieë van Skoonheid en Ewigheid, waaroor hy mymer.
O koele water van die spruit,
waarin ek sien hoe swart na agter
en in die stille dieptes, wyd,
kyk daar 'n mens my peinsend aan
Hierdie verband tussen die afsonderlike gedigte word aangegee deur die eerste en die laaste gedig. Die rustige deining en sagte ruising van die see, waaroor die meeue ‘skreeu hul lied, so skel, so wreed’, bring die digter tot die bede:
O branderruising diep en sag,
O koele bloute van die see,
neem nou 'n mens wat huiv'rend wag
vir eeuwig oor dié Deining mee.
En na die belewinge en sieninge van die ewige sluit hy:
Ek vrees nie meer die dood, en neem
die donker roeiers van die boot,
bo swartheid van die land,
want hierdie Deining bring
na verre kimme van die Dood.
Dit wil my voorkom of die beeld van hierdie gedigte geïnspireer is deur verse van Totius. In ‘As ek oor bleekverlate sand’ bid Totius:
O Ewig-troue Kindervrind!
O lei hul in die laaste nood
oor eew'ge deining van die dood.
en in ‘Daar is g'n Dood’ sing hy:
Wat lewe heet, is net die op en neer,
| |
| |
as ons klein skuitjie al maar daal en
en wat ons sterwe noem, is niks nie
as ons verdwyning op die gindse kim.
Van den Heever vertoon trouens 'n sekere verwantskap met die latere Totius van die meer persoonlike stemmingsliriek.
Reeds vroeër het ek na aanleiding van ‘Die Nuwe Boord’ opgemerk dat Van den Heever ‘nie is 'n digter met 'n sterk liriese aksent, wat storm of juig oor sy hartstogtelike begeertes of diepgevoelde smart nie. Sy poësie is nie 'n skrynende klag oor die teenstelling tussen ideaal en werklikheid, oor die botsing in eie siel nie.’ Dit blyk opnuut uit sy jongste bundel. Die digter wat vroeër reeds gesing het:
So fyn gevleg die tweelingsdraad
vas in ons wese droom en daad,
dat wie die daad se oorsprong kry,
begin maar by die mymery,
spreek nou sy siel toe:
Wees sterk, O siel, en vind nou
in die gemymer, want gestraal
van daardie ster waar daglig daal,
bring eensaamheid van lig-deur-
Geen hartstogtelike konflikte, geen hewig stuwende dadedrang kom hier tot uiting nie. En in hierdie ‘eensaamheid van lig-deurstroomde nag’ flits geen felle beelde, klink geen hewige musiek op nie. Die gestaltes en beelde is versluierd, die musiek gedempt. Die wilde bewoënheid van die volgende verse is hoë uitsondering:
die wind oor die wydheid, en 'n enkel
skeer laag oor die water met wilde geskreeu!
Net soos die angsvisioen:
Die hart verskrik in môre-ure
as somber-dreigend voor hom staan
die drake van die sonde, vure
reeds lang gedoof, in vlamme gaan.
Die musiek van hierdie verse is die sysagte wieg van die grassaad, die rustige deining van die see, waar branders plooi en val en vou sag oor die sand. Ons lewe hier in die droomverdronke skemering, waar
Die bosse sak weg in blouige lyn
teen die horison-halfmaan, 'n grougroen
kom skemer nou neer as die son sag
en die see se watervlak wemelend
en
Aan die verre kus, waar maanwit
met silwer-koele spoeling om die huis
Hierdie stemminge en sieninge wat dus meer gekenmerk word deur teerheid as deur hewigheid, het Van den Heever verwoord in heel suiwere verse wat ons die egtheid van sy digterskap en die intensiteit van sy ontroering toon. As verskuns staan hierdie bundel dan ook baie hoër as ‘Die Nuwe Boord’. Die vooruitgang in tegniek is verrassend. Tog versterk hierdie gedigte die belofte van sy vroeëre verse meer as wat hulle daardie belofte vervul. Die geestelike agtergrond, die diepere lewensstemming waaruit hierdie gedigte opgekom het en waardeur hulle in subtiele verband met mekaar staan, is iets unieks in ons jonger digkuns - in ons ouer digkuns tref ons dit alleen by Totius aan en, maar dan tog in 'n heeltemal ander sin, by Leipoldt. Daardeur is Van den Heever 'n belangwekkende verskyning in ons poësie, een van die langverwagte tekens van ver- | |
| |
dieping. Maar - om 'n geliefkoosde woord van Verwey te gebruik - die ‘Idee’ wat vir Van den Heever opdoem uit die tydelike in al sy vlugtige gestaltes en wisselende stemminge, het nog nie dié klaarheid, dié intensiteit bereik wat alle uiterlike verskynsele onbewus omskep tot die vergestalting, die ver-beelding daarvan, al die ontroeringe tot die belewing daarvan nie. Daardeur gebeur dit nog te dikwels dat die simboliek nie vanself opgroei uit sy gedig nie, dat die digter dit opsetlik van buite af daar in dra. Ek dink hier aan gedigte soos ‘Bloedrooi Papawer’, ‘Liefde en Droom’, ‘O Stilte van die Sterrenag’, wat ons, nieteenstaande die afsonderlike skoonhede van die onderdele, onbevredigd laat, omdat die een, die hele gedig deurhuiwerende en beheersende sentrale ontroering ontbreek of te swak is om die verse te laat uitgroei tot ongesogte simboliek. Hierdie gedigte lewe nog nie hulle eie, alles vergeestelikende lewe van binne uit nie. Daarnaas is daar egter gedigte wat dit, net soos die ontroerend suiwere ‘Die
wêreld is hier wyd omkrans’ in ‘Die Nuwe Boord’, wél doen. Ek dink hier, b.v., aan ‘Oor die Deining’, ‘O koele water van die spruit’, ‘Ontwaking uit die Droom’.
Graag sou ek die gedigte meer in besonderhede bespreek het, stil gestaan het by die wonderskone skildering van ‘Herfs in Holland’ of by ‘Attila's Dood’ en by tal van détail-skoonhede waaraan hierdie bundel so ryk is, ook by minder geslaagde gedigte soos ‘Voor die Nagwag van Rembrandt’. Ook kan invloed van moderne Nederlandse poësie, sowel op die vorm as op die gees, gekonstateer word. Maar die plaasruimte ontbreek.
‘Deining’ is 'n welkome aanwins vir ons digkuns - welkom om die skoonheid wat dit bring, meer nog om die groot belofte wat dit inhou. Ons is dankbaar vir hierdie digter wat te midde van die beslommeringe en kleinlikhede van die daaglikse lewe sy digterlike Droom belewe.
G. DEKKER.
| |
Pluksels: Verse deur dr. F.C.L. Bosman. H.A.U.M. v/h. J. Dusseau & Co., Kaapstad.
In verband met die saamvatting van sy verspreide gediggies in 'n bundel ontleen Bosman die volgende weinig digterlike beeld aan die voetbalwêreld: ‘As die grotes van die voetbalveld af is, mag die kleintjies opkom. Waar is die grotes op die oomblik op die veld van die Afrikaanse verskuns? 'n Verdwaalde loop miskien effentjies oor 'n hoekie daarvan; verdwyn dan net so skielik as wat hy gekom het. Des te meer baljaar die kleintjies op die veld.’ Dat daar so weinig bedrywigheid is op die gebied van ons digkuns, het vir Bosman daartoe gebring om ook iets by te dra in hierdie opsig, al laat hy duidelik deurskemer dat hy glad nie die waarde van sy werk oorskat nie.
As ons hierdie gedigte dan ook moet vergelyk met werk van teenswoordige Nederlandse digters, dan kan ons dit ondiep en swak van ekspressie noem, met die uitsondering van 'n gelukkige versreël hier en daar. Die digter se skeppingskrag is seker nie baie sterk nie, en verder as uiterlike waarneming kom hy selde, al sê hy op kalm beredeneerde wyse vir Kloos na:
Ek is 'n soeker na die Skoonheid wat
in inner- en in uiterlikheid straal...
As ons dus 'n streng maatstaf moes toepas, sou die oordeel ongunstig moet wees.
Maar vergelyk ons die digter se werk met baie gedigte wat teenswoordig by ons die lig sien, dan voel ons geneig om sagter te oordeel. By ons is dikwels dinge geprys wat op dieselfde peil staan as Bosman se werk en in ander gevalle miskien nog swakker is.
Die skrywer het sy bundel as volg verdeel: - (i) Kaapse Studentetyd; (ii) Hollandse Studentetyd; (iii) Uit jongere tyd; (iv) Bykomstige verse, waaronder 'n drietal in Engels.
Die meeste van hierdie gedigte het dan ook nog die gees van die studentetyd: 'n
| |
| |
dweperige oorgawe aan gevoelsdinge, 'n verafskuwing van die harde werklikheid van die lewe. In die latere gedigte merk ons 'n uitgroeiing uit hierdie sfeer en is die digter bly om in 'n eentonige lewe opgehef te word deur die lig van die skoonheid en liefde:
Daar is niks mooier as die liefde nie:
Deur hierdie prisma breek die bleekste
Lig van lewe tot 'n koninkryk
Van kleure, ryker as die son.
| |
Tria corda: Gedigte van T.J. Haarhoff. J.H. de Bussy, Pretoria, 1931.
In die Afrikaanse poësie was daar nog tot dusver 'n oorheersing van die suiwer nasionale motief. Ons digters het gesing van vroue- en kinderleed, van strydende burgers, van eie natuurskoonheid, van 'n selfbewuste volk wat strewe om iets te word, iets te wees. In die gedigte van F. van den Heever kry ons 'n verwyding van gesigsveld, omdat hierdie digter weer die bekoring van die lang vergete Germaanse volksverhuisingstyd voel, omdat hy hom nie laat afskrik deur die mitologiese godewêreld nie, wat ongelukkig sedert die Renaissance deur onoorspronklikes tot 'n blote letterkundige poppekastery verneder is. Digters soos Langenhoven en Visser het nou en dan skugter die blik na die ou klassieke wêreld gewerp, nie eintlik met die doel om dit te laat herlewe nie, maar om kernagtige of lieflike digterswoorde daaruit aan te haal om dan eie gevoelservaring, in die vorm van gedigte, in verband daarmee te bring.
Dit is die groot betekenis van Haarhoff se gedigte dat hy, 'n toegewyde klassikus, teruggaan na 'n wêreld van kalm, statiese skoonheid, en dat hy daardie wêreld, wat vir die grootste digters 'n bron van blywende besieling was, weer vir ons wil laat oplewe in al sy menslike mooiheid. Tereg kla hy in sy inleiding oor die vernietiging van daardie tere skoonheid deur skoolvosse, wat deur 'n oorywerige ontledingslus, deur gebrek aan eerbied vir 'n kunswerk se onaantasbare eenheid, haat ingeboesem het teen Grieks en Latyn en die gevoel gewek het asof die hele antieke wêreld dood soos 'n veelgeëerde, maar swartgerookte standbeeld is. Daardie wêreld het vir 'n Shelley, 'n Keats, 'n Kloos - al word hulle romantiese digters genoem! - 'n blywende vreugde verskaf; daar het hul verbeelding liefdevol verwyl en het hulle dié harmonie en vormverfyning gevind waarvoor daar nie meer veel tyd oorgebly het nie in die Wes-Europese kultuur en lewe met sy onbeheerste drang na die ewigwordende ‘nuwe’.
Haarhoff het 'n omvattende studie van die oudheid gemaak, en dit het hom tot die onvermydelike gevolgtrekking gevoer dat dit vir ons veel aan wysheid en aan skoonheid kan skenk, dat die werklik vrugbare digtersgees in die kern nasionaal kan bly, maar deur vryer uitsig, inenting van wat deur uiteindelike verdere groei verryking kan bring, 'n sterker kuns kan lewer: miskien internasional wat motief betref, maar nasionaal in uitwerking, in verbesondering. ‘Baie van ons digters,’ sê hy, ‘het die skoonheid van Suid-Afrika beskrywe; sommige ook dié van Europa, maar min is daar vandag wat die skoonheid van die antieke wêreld voel.’
Die gedigte in bogemelde bundel is dan ook deurtrek van die klassieke gees. Dit bestaan uit vertalings en oorspronklike werk. Opmerklik is wat die skrywer sê in verband met die maklike hantering van die daktiliese heksameter in Afrikaans, veral omdat dié taal soveel ligte woordjies en verkleinwoordjies besit. Om hierdie vertalings na waarde te skat, moet mens in staat wees om 'n sorgvuldige vergelyking met die oorspronklike te maak, om veral gevoelswaardes van woorde, klankplastiek en -simboliek te toets - iets waartoe ek nie in staat is nie, behalwe in die geval van gedigte wat uit Engels vertaal is.
Reëls wat egter besonder mooi vertaal
| |
| |
lyk, kom voor in gedigte soos in ‘Alma Venus’, ‘Carpe Diem’, ‘Die val van Troje’, ‘Hektor en Andromache’, e.a. In verband met Troje se vernieling word die volgende Homeriese beeld van Vergilius pragtig as volg vertaal: -
Soos op die bergtop 'n esboom
bejaard, as die staal hom gekap het,
Yw'rig deur boere gehak word
met byle wat blits tot vernieling:
Altoos dreig hy met blare
wat skud en met kruin wat daar
Tot hy deur wonde allengs
oormeester, nog eens op die laaste
Sug, en, geskeur van die heuwel,
val, en sy glorie ineenstort.
So kan meer aangehaal word wat getuig van 'n simpatieke, warm-aanvoelende inlewing in die oorspronklike taal.
Uit sy vertaling ‘Excalibur’ uit Tennyson se ‘Morte D'Arthur’ haal ek die volgende geslaagde reëls aan, wat getuig van fyn indringing in die rustige, die lieflike van die Engelse digter se vers: -
Maak weerlig in die skynsel van die
Dwarrel al vlammende welfvormig
skiet soos 'n ster wat in die noorde
Waar dobber-winter-eilande by nag
Bots met geraas van noordelike see.
So skitter-val die Swaard Excalibur:
Maar voor hy water aanraak, rys 'n
Wit, sy-omwonde, wonderbaar, mistiek,
En gryp hom by die hef en swaai hom
Driemaal, en trek hom onder in die
In sy oorspronklike gedigte toon Haarhoff dat hy 'n bespieëlende digter is. Wat hom veral besighou, is die wonder van ewige Lewe, wat in alles aanwesig is en tog so onvatbaar is, sku vir omskrywing wyk. Hy is die digter wat soek na alles wat fyn en edel is in omringende lewensverskynsels, en in die mens veral wil hy die skone harmonies-ontwikkelde persoonlikheid sien, wil hy as klassikus die gees bewonder wat bokant kleingeestigheid uitgegroei het, wat die dekadente, die verward-romantiese, die flikkergeleerde, die oppervlakkig-grootdoenerige haat, die gees wat deur stryd tot 'n rustige lewensaanvaarding gekom het en dit aristokraties in toepassing bring in die praktiese, nugtere lewe.
Swakhede in hierdie gedigte is die aanwesigheid van anglisismes, hier en daar 'n gebrek om die emosionele waarde van woorde aan te voel, en veral: in sommige gedigte het ons wel 'n belangwekkende gedagte, maar die gedagte is nie altyd mooi genoeg tot skoonheidsvorm gestileer nie.
Maar as ons hierdie kleinighede weglaat, dan moet ons warm die skrywer se strewe waardeer om vir ons die poorte van 'n haas vergete wêreld te ontsluit waar nie alleen beeldhouwerk in statigheid van lyn, in gedistingeerdheid van vorm ons oë verheug nie, maar 'n samelewing vertoon word van mense van gelyke beweginge soos ons.
C.M.V.D. HEEVER.
| |
Goethe und Schiller. Gedichte in Auswahl. (Saamgestel en van 'n inleiding en aantekeninge voorsien deur J.J. Dekker.) Nasionale Pers Beperk, Bloemfontein.
Daar bestaan reeds so baie bloemlesings uit die gedigte van Goethe en Schiller, bloemlesings met en sonder aantekeninge, dat die vraag hom aan ons opdring of daar ook nog aan hierdie bundel werklik 'n behoefte bestaan. Elkeen wat kennis dra van die ander bundels, sal die vraag sonder aarseling met ‘ja’ beantwoord, want van al die Goethe-Schiller-bloemlesings is hierdie een die enigste wat vanuit 'n Suid-Afrikaanse oogpunt ingelei, saamgestel en geannoteer is. Wie die vir
| |
| |
Duitse skole bedoelde bloemlesings ken, weet hoe die oorvloedige aantekeninge wat hulle bied, die leerling en student soms meer verwar as verlig; weet ook dat hulle dikwels die Afrikaanse leerling in die steek laat, omdat wat vir hom moeilik en onbegryplik is, vir die Duitse leerling vanself spreek en daarom geen verklaring in die aantekeninge nodig het nie. Daardie bloemlesings bied dus met die oog op ons Suid-Afrikaanse omstandighede aan die een kant te veel, aan die ander te weinig.
Daarom verwelkom ons van harte hierdie bloemlesing, wat dr. J.J. Dekker ‘vir die gebruik in Suidafrikaanse middelbare skole’ saamgestel het, maar wat ook met vrug in die eerste universiteitskursus en deur die algemene leser gebruik kan word.
Die grammatikale aantekeninge is kort en tersake, en hulle beoog niks meer en niks minder as teksverduideliking nie. Ek veronderstel dat gebruikers van die bundel eerder 'n bietjie meer as minder verklarings sal verwelkom. Die literêre aantekeninge bied nie alleen aan leerling en student nie maar veral ook aan die vakonderwyser kostelike informasie. So word, om maar iets te noem, die wese van die lied bespreek, die onderskeid tussen ‘Volkslied’ en ‘Kunstlied’, tussen ‘Romanze’ en ‘Ballade’ verduidelik; en by die afsonderlike gedigte word in die reël kortliks die omstandighede meegedeel waaronder hul ontstaan het. Eindelik word die aandag gevestig op stilistiese, ritmiese, e.a. eienaardighede.
Benewens kort biografiese sketse van Goethe en Schiller bied die inleiding 'n kritiese uiteensetting van die liriese digkuns in die algemeen, om dan oor te gaan tot die bespreking van die kenmerkende eienskappe van die digwerk van Goethe sowel as van Schiller. Wie die gedigte van die bloemlesing bestudeer met voortdurende raadpleging van die inleiding en die literêre aantekeninge, sal nie alleen met welgevalle merk dat sy insig in en waardering van die kuns van hierdie twee digtervorste baie verdiep word nie, hy sal tewens ontdek dat dit sy stylgevoel ontwikkel, sodat hy eindelik by die blote hoor van 'n gedig sal kan sê of dit van Goethe dan wel van Schiller afkomstig is.
Die keuse van die gedigte is besonder gelukkig getref. Miskien sal die een nog hierdie gedig van Goethe en 'n ander nog daardie gedig van Schiller wou opgeneem sien, maar ek glo dat niemand een enkele opgenome gedig weer verwyder sal wil sien nie, omdat dit tot die allerbeste behoort wat Goethe en Schiller gedig het.
By 'n moontlike tweede druk sou ek die volgende wenke in oorweging wil gee:
1) | Om die gedigte in Duitse letter te set, terwyl inleiding en aantekeninge in Romeinse letter bly. |
2) | Om die Duitse ß te handhaaf, ook in die gewone druk. |
H.G. SCHULZE.
| |
Volgende op die bundel ‘Oude en Nieuwe Zangen’, versamel deur M. van Woensel Kooy, het nou by dieselfde uitgewers, N.V.J.M. Bredée's U.M. te Rotterdam, 'n nuwe, maar soortgelyke versameling die lig gesien.
Die nuwe bundel, ‘Laudamus’, bestaan, soos die eersgen. versameling, uit 'n 105-tal liedere, van geestelike aard. Dit wyk in soverre af van die gebruiklike uitgawes van die soort, dat dit aan die hoogste artistieke eise voldoen. Die belangrike aantal bewerkings van J.S. Bach is op sigself genoeg om die bundel van uitstaande betekenis te maak.
Dit kan deur 'n koor meerstemmig of deur 'n vergadering eenstemmig met begeleiding uitgevoer word. Veral vir 'n koor wat bereid is om hul kragte in te span, sal hierdie bundel van groot waarde wees.
Die musiek-druk is duidelik en ruim (Bakskrif) en die formaat besonder handig. Geen christelike gesin en geen koor (christelik of neutraal) behoort daar sonder te wees nie.
| |
| |
REMBRANDT.
LAASTE SELFPORTRET, 1669.
| |
| |
By die firma de Bussy te Pretoria het verskyn ‘Lus en Lewe’, deur ‘'n Ou Doktor en 'n jong digter’.
Hierdie keurig uitgevoerde werkie voorsien in 'n behoefte. Dit bevat 31 liedere van verskillende aard, wat by uitstek geskik is vir studentekringe en, soos die saamstellers dit uitdruk, vir ander vrolike mense.
Die wysies is goed gekies, die woorde, van die hand van ‘Eitemal’, laat min te wense oor, terwyl die klavierparty deurgaans smaakvol bewerk is.
Dis opgedra aan alle Suid-Afrikaanse studente, en die hoop word uitgespreek dat hul nie alleen almal 'n eksemplaar sal koop nie maar bowenal die liedere sing. Dit is nie 'n stap in die regte rigting nie, dis 'n sprong.
Ek sou aanbeveel dat by 'n volgende oplaag die Toniek-Solfa met klein lettertjies bo die balk ingelas word. Dit sal vir baie die sing vergemaklik.
G. BON.
| |
Die Drie van der Walts. Toneelstuk in vier bedrywe vir tien here en twee dames, deur E.A. Schlengemann. (J.H. de Bussy, Pretoria, 1932.)
Die pragtige papier en die mooi letter van hierdie uitgawe besiel ons dadelik met lus om die boek vir louter ontspanning ter hand te neem en deur te lees; maar laat ons ook dadelik voel dat ons hier die gewyde gedenkteken het wat 'n Afrikaanse uitgewer opgerig het ter nagedagtenis van 'n veelbelowende, maar vroeggestorwe kunstenaar en kultuurleier.
‘Die Drie van der Walts’ is opgebou op die Comedy-of-errors-motief. Om in die guns van sy beminde se weerstrewige vader te kom, besluit Jan Potgieter om 'n vermomming aan te neem. Die toeval laat hom egter tot model vir sy vermomming die portret kies van Frederik van der Walt, wat ook op die toneel verskyn, sowel as sy tweelingbroer wat sprekend op hom lyk. Na 'n reeks amusante verwikkelinge kom alles natuurlik reg.
Die stuk sal ongetwyfeld verwelkom word nie alleen as 'n vermeerdering van ons al te geringe voorraad blyspele nie, maar as 'n blyspel wat ambisieuser van opset is as die meeste van die bestaandes en wat genoeg innerlike komiese krag besit om 'n gehoor te amuseer sonder om verspot of laag by die grond te wees.
Weliswaar is dit nog nie die wegwyser na hoër kuns ook op die gebied van die komiese, waarna ons uitsien in die Afrikaanse letterkunde nie. Daar ontbreek selfs nog die dieper siening van karakters en die dieper indring in die lewe wat ons al in 'n paar blyspelletjies van Leipoldt aantref. Daar is ook maar min te bespeur van die styginge en dalinge van gevoel wat so kenmerkend is van die ware dramatiese aanleg. En aan die ander kant is die positiewe foute van die eersteling goed verteenwoordig: swak motivering, te swak selfs vir 'n blyspel, misplaaste antiklimakse, onnodige herkouing van wat verby is, taalfoutjies, ens.
Maar die hoofdoel van 'n komedie is ten slotte om komies te wees, om te laat lag, en hierdie doel word stellig in ‘Die Drie van der Walts’ bereik. Dit krioel daarin van geestige gesegdes en komiese situasies. Luister maar na hierdie een:
Jan: Oom, ek... ek het gisteraand vir Annie 'n vraag gevra.
Van Draad: So? En wat het jy dan vir haar gevra?
Jan: Nee, Oom, niks - niks besonders nie. - Dit wil sê... ê... ek het
vir haar net gevra of sy my vrou wil word.
Ook die satire op die taalmengende Sofie Maaiburk en haar soort sal 'n goeie uitwerking hê op die lagspiere sowel as op ons kultuur; en die sentimentele mevrou Van der Walt is 'n dankbare rol om te speel.
| |
| |
By toneelgeselskappe wat aan hulle publiek 'n aand van onskuldige en hartlike vermaak wil verskaf, kan hierdie toneelstuk dus met vertroue aanbeveel word. Dit lewer geen groot toneelmoeilikhede op nie, en ons kan byna sê dat die sukses van die opvoering gewaarborg is deur die ruime voorsiening vir uiterlike handeling. Buitendien is daar toneeltjies waar die dialoog 'n werklik hoë peil bereik (veral blss. 80-83), toneeltjies wat ons met belangtselling sou laat uitsien het na die volgende toneelwerk van E.A. Schlengemann as die dood nie tussenbeide gekom het nie.
J.J. LE ROUX.
| |
Engelse kortverhale. Versamel deur prof. J.P.R. Wallis; vertaal deur J. Es. (No. V van ‘Die Kortverhaal’ onder Redaksie van dr. M.L. du Toit), J.H. de Bussy, Pretoria, 1932.
Die uitstaande kenmerk van hierdie jongste aflewering van ‘Die Kortverhaal’ is die inleiding wat werklik leersaam is en die gekose stukke op só 'n manier kenskets, dat dit die genot van die leser verhoog. ‘Die Kortverhaal’ handel oor elke moontlike stemming en dryfveer, en sy wisselinge en kombinasies is so oneindig soos die moontlikhede van die lewe self’, sê prof. Wallis, en vervolgens bied hy ons 'n keuse van Engelse kortverhale uit verskillende tydperke aan wat kan dien as verteenwoordigers van verskillende soorte styl en emosie. Hierdie metode werk so suggestief, dat die verlange na kennis aangaande die historiese verband en na 'n bibliografie wat ons in staat sal stel om ons verder in die werk van die gekose skrywers te verdiep, onwillekeurig by ons oprys. Jammer dat hy dit nie ook nog maar daarby gegee het nie!
In hulle verskeidenheid bly die stukke verwante individue met sterk sprekende persoonlike trekke. Hulle boei en ontroer en verskaf ware genot wat ons verlangend na die volgende een laat gryp sodra een klaar gelees is.
Jammer, duisendmaal jammer, dat hierdie genot deurlopend onderbreek moet word deur slegte vertaling! Dit begin al by die begin, want die heel eerste stuk vertel vir ons die geskiedenis van mevrou Veal, ‘'n ongehude dame van omtrent dertig jaar’. In hierdie verhaal moet ons, volgens die inleiding, ‘die egalige toon van die eenvoudige man, die verteller’ opvang, maar in die vertaling word hierdie verteller lomp, gewronge, geforseerd in sy uitinge. Tussen hakies, hoekom word die ondertitel waarvan met soveel waardering in die inleiding gewaag word, nie ook bokant die stuk self geplaas nie?
Erger nog, die vertalings skiet nie alleen te kort in die weergee van stemminge nie, maar is dikwels ook beslis onbeholpe of foutief. Lesende soos die deursneeleser, d.w.s. om genot te skep uit die boek, en dus sonder die oorspronklike naas die Afrikaanse teks, moes ek my dikwels afvra wat beteken dit en wat beteken dat nou eintlik? Wat beteken ‘uiteindelike verfyndheid’ op bls. 7? Wat beteken, ‘Sy was nie vir meer als vier uur voor haar dood by haar verstand nie’ (bls. 19)? Wat beteken, ‘'n dik, breë matras, waarvan die bestanddeel deur die val en die fraiing verberg word’ (bls. 38)? Wat beteken, ‘My eie self is meer oordek’ (bls. 67)? Wat: ‘ek is diskresie vanself’ (bls. 53)? Wat is ‘'n mishaende omstandigheid’ (bls. 61); ‘duidende woorde’ (bls. 53); ens., ens.? Vir 'n oomblik het ek vurig verlang na 'n bibliografie wat my in staat sou stel om die raaisel van die ‘kaalgekookte eier’ (bls. 88) deur middel van die Engels op te los.
Onder die talryke Anglisismes kom bokke van die volgende stoffasie voor: -
‘Mag wees’ (bls. 10) vir ‘moontlik’;
‘'n bietjie opregte uit-en-uit lae soort gedobbel’ (bls. 25);
‘K. verneder homself in die stof voor S.’ (bls. 46);
| |
| |
‘Hy begin homself roer’ (bls. 58);
‘O, spraaksame een’ (bls. 48);
‘Twintig-of-so klein stemmetjies’ (bls. 56);
‘In daardie onbeholpe houding lyk die handelaar soveel saagsel’ (bls. 57);
‘'n Minuut later is hy terug’ (bls. 90);
‘Dit was nie tot ek die kornet 'n rukkie geblaas het nie’ (bls. 96);
‘So arm as wat ek hoop om ooit te wees’ (bls. 121);
‘Ten eerste, myself’ (= ek) (bls. 128);
‘dat die tyd sinds gekom het’ (bls. 149).
Ons is nie verwend op die gebied van vertaling nie. As ons in 'n staatsdokument 'n paar bladsye behoorlike Afrikaans agter mekaar kry, is ons moontlik al dankbaar, selfs al ruik ons nog die geur van die woordeboek daarin. Maar in literêre werk is ons daar nie eens dankbaar voor nie, dinge soos die bostaande kan ons eenvoudig nie daarin duld nie.
J.J. LE ROUX.
| |
Die Rooi Rotte, deur C. Louis Leipoldt, Nasionale Pers, Kaapstad. 229 bladsye.
Vier van hierdie verhale, nl. ‘Die Rooi Rotte’, ‘Renosterbosas’, ‘Die Klipspringerhare van Tant Kato’ en ‘Kattekruie’ behoort tot die spookgenre, soos ons dié reeds leer ken het uit Leipoldt se vorige bundels: ‘Waar Spoke Speel’ en ‘Wat agter lê’. Die spanning word bereik deur 'n bo-natuurlike element waarvoor die leser deur sy eie verbeeldingskrag 'n soort oplossing moet soek. Die skrywer is daarop uit om deur die skildering van 'n reeks pakkende besonderhede ‘'n indruk van gespanne angs en kriewelrige nuuskierigheid (te) wek’, soos hy in die voorrede van ‘Waar Spoke Speel’ verklaar. Maar verder as dié angsspanning het Leipoldt dit ook in hierdie bundel nie gebring nie. Ons waardeer die psigo-patologiese deskundigheid van die skrywer, en bewonder die ratsheid waarmee hy die angswekkende verskynsels in die raamwerk van die verhaal inlas, maar moet tog konstateer dat Leipoldt tot dusverre tevrede gewees het om op lughartige wyse te koketteer met die okkultisme. Dit sal verblydend wees as hy in 'n volgende werk dieper wil indring in hierdie geheimsinnige gebied, waarvan hy blykbaar soveel hou.
Op sy beste is Leipoldt in hierdie bundel in die dorpsverhaal: ‘Die Koei van die Weduwee Priem’, waarin hy met speelse geestigheid 'n geskilletjie tussen 'n lankmoedige Engelse predikant en 'n opvlieënde weduwee behandel. Die vertoornde dominee neem die koei, wat elke Sondag sy dienste kom stoor, persoonlik skut-toe, en die bitsige weduwee sorg vir allerlei spektakels langs die pad. Besonder goed is die slot waar die boetvaardige tante ewe sagmoedig die dominee 'n kommetjie sult van die oorlede koei kom aanbied. Sy wat so'n virtuose op die gebied van die vloekkuns was, voel tog dat sy in haar woede miskien effens die grens van die betaamlike oorskry het:
‘Om ekskuus te vra, Eerwaarde, is nou nie eintlik my gewoonte nie, Eerwaarde. Ek is maar, Eerwaarde, soos Eerwaarde weet, 'n vrou wat reguit praat, en as ek iets gesê het, Eerwaarde, laaste Sondag, Eerwaarde, toe ons altwee kwaad opmekaar was, Eerw...’
Hoe jammer dat ons letterkunde nog so arm is aan verhale waarin die eenvoudige dorpslewe met al sy verskillende tipes geskilder word.
Voortreflik het Leipoldt in ‘Oorblyfsels’ 'n stokou Hottentotse egpaar geteken met hul ondankbare kroos. Regina gésel hul sonder genade: ‘Glo vir my, vuur en swawel, dit sal julle geniet hiernamaals, en ek en Hiskia sal met die harp in die hand sit en sing by die kristalrivier onder die Heiland se troon. En julle moenie dink dat ek die liewe Heer sal vra om Hom oor julle skepsels te ontferm nie, moenie glo nie. Ek sal Hom die waarheid, die hele waarheid sê, en as Hy ook wil toegee, sal
| |
| |
ek sê: “Nee, asseblief seur, laat die vuilgoed maar braai”.’ Ons het weinig skrywers wat met sulke verrassende egtheid die kleurling-mentaliteit kan weergee. Regina gaan te werk met listige oorleg, want sy exploiteer die godsdienssin, bygeloof en gierigheid van haar kinders en klein-kinders met soveel sukses dat sy op haar oudag in weelde vertroetel word. Die geheim van die Kimberleyse diamante word eers na haar dood ontsluier, en dan blyk dat die fabelagtige skat niks anders as waardelose kristalletjies was nie! Ons geniet hierdie eenvoudige intrige waarin die lokasie-atmosfeer so uitstekend aangedui word veel meer as die kunstig-bedagte verskrikkinge van die ‘kriewelrige, rooiharige rotte’ wat ons volgens 'n bekende formule moet bang maak.
Vryheid,
19 September, 1932.
P.C. SCHOONEES.
| |
Ilja Ehrenburg: De droomfabriek. Geaut. Vert. uit het Russisch door J.C. van Wageningen. Utrecht. W. De Haan, 261 pp.
Ehrenburg is 'n skrywer wat dinge nooit half doen nie. Hy het hom (in ‘Het Leven der Auto's’) voorgeneem om 'n aanval op die moderne snelheids-manie te doen, en dit het 'n veroordeling geword van die masjine, wat dreig om i.p.v. die Dienaar die Meester van die Mens te word. Hy het hom voorgeneem om in ‘De Droomfabriek’ 'n aanval te doen op die minder mooie kant van die bioskoop, en dit het 'n vernietigende uiteensetting geword van die Trustwese wat die bioskoop beheers. Deurdat Ehrenburg sterk gekant is teen alles wat Kapitaal of Kapitalisme kan genoem word, is die aanval dikwels wel 'n bietjie oordrewe, en aangesien die skrywer reguit slaan en al sy krag agter sy houe sit, is dit geen wonder dat daar baie in die boek is waarteen die meer gematigde leser oombliklik in verset kom.
Ek vermoed dat ‘De Droomfabriek’ bedoel is as 'n aanval op die bioskoop as kuns. Assulks kan ons die boek as 'n mislukking bestempel. Want in sy geesdrif om die kapitalistiese beheersers van die bioskoop-bedryf in Amerika en Europa aan te val, het Ehrenburg langsamerhand heeltemaal afgedwaal van die bioskoop self en beland hy so diep in die finansiële modder, dat hy niks anders kan sien nie. Dikwels is sy aanvalle op Zukor, Fox, Hugenberg en Nathan 'n bietjie kleingeestig, te sterk getint deur die politieke bril waardeur die skrywer alles besien: en dan kom 'n mens se eerlikheidsgevoel in verset. Dikwels ook slaan Ehrenburg, waar hy aan die estétiese beginsels van die rolprent tip, hopeloos die bal mis. Maar wat maak dit? Hier is 'n boek waarin 'n kant van die rolprentbedryf aangeraak word waarvan die publiek oor die algemeen te min weet - omdat dit die here Zukor en Kie. nie pas dat ons daarvan op hoogte sal wees nie. Juis daarom is Ehrenburg se boek van waarde.
Vir Ehrenburg het 'n bioskoop-magnaat geen enkele goeie emosie nie - en wie sal bewys dat hy verkeerd is? Sonder genade stel hy hier die knoeierye aan die kaak wat verborge lê agter die groei van maatskappye soos Paramount, Fox, Metro-Meyer-Goldwyn, Pathé-Nathan, Ufa. Sonder genade hamer hy gereeld daarop dat onder die leuse van ‘opvoedkunde’ niks skuil as die jag na geld, nie net genoeg geld om lekker te lewe nie, maar na miljoene en nogmaals miljoene. Meedoënloos toon hy hoe die miljoene-jagters hulle deur niks of niemand laat keer nie. En dit alles word gedoen in 'n styl, só bytend en só sterk in sy ironie, dat jy jou jou dikwels teen jou beter wete in laat wegsleep. Op sy gevaarlikste is Ehrenburg egter as hy kwasi-sentimenteel word. Dan kan jy maar weet dat hy 'n ekstra-harde aanval op sy slagoffers voorberei.
Alles in aanmerking geneem, is dit 'n boek wat elke intelligente persoon met
| |
| |
enige belangstelling vir die rolprent, behoort te lees. Dit is 'n werk wat, juis deur sy polemiese styl, prikkel tot dink en tot diskusseer. Dis 'n boek wat 'n mens nie gou kan vergeet nie. En die skrywer se kennis is 'n ware myn van betroubare inligtings oor sy onderwerp.
H. ROMPEL.
| |
Jan Steen. Roman door C.J. Kelk. ‘De Spieghel’, Amsterdam. - ‘Het Kompas’, Mechelen.
Elders in hierdie uitgawe het ek reeds gewys op die heersende mode om ‘skilderromans’ te skrywe en melding gemaak van die werke van De Vries en Van Loon, waarin Rembrandt, en van Timmermans, waarin Breugel die held is. Tans weer 'n roman oor Jan Steen.
Jan Steen, ten onregte veral bekend om sy ‘choquante’ skilderinge van losbandigheid en ruwe dronkemanspartye. Ook hy het 'n belangrike deel bygedra tot die roem van die Nederlandse skilderskool van die sewentiende een. Temidde van die ryk verskeidenheid van kunstenaarfigure neem hy 'n heel afsonderlike plek in. Hy laat dink aan Bredero, maar in sy werk kom nie die dramatiek, die tragiek van dié dramaturg tot uiting nie. Hy verskil ook wesenlik van die realis Brouwer, wie se kuns 'n smartlike lewensbieg is, die verbeelding van sy ontsetting oor die vrugteloos bekampte demone van die hartstogte; ook van die ‘op de kentering der tijden’ staande Vlaamse realis Breugel met sy skrynende humor. Tog is Steen se realisme nie slegs 'n vreugde oor die skone glans van die dinge, nie slegs 'n reeks gevoelige stillewens soos in groot mate die geval is met die kuns van sy leermeesters die Van Ostades nie.
Steen is die epiese kunstenaar wat met psigologiese insig en fyn ironie die wêreld en die mensdom uitbeeld. Hy is geen wêreld-hervormende idealis nie, hy aksepteer daardie dwase mensheid soos hy dit sien, ruk dit egter laggende die masker af; sy werk is 'n nuwe ‘lof der sotheid’. Sinies is hy nie, al skilder hy so graag en so geestig die dwaashede waartoe die mens kom deur sy swakhede, wat hy sien as so innig-, so ewig-menslik. Trouens daarvoor het hy ook veel te veel oog gehad vir die fyn psigologiese spel wat hom afspeel in die intieme huislike sfeer. Dink slegs aan sy skildering van die kinders wat met die kat speel, aan sy ‘Sint Nikolaasavond’, sy ‘Kindergebed aan tafel’, sy dokters by die minnesieke meisies. Bowendien deel Steen self veel te sterk die lewenslus wat hy so onnavolgbaar uitbeeld. Wie kon 'n paar oë laat glinster van pure lewenslus soos hy dit kon doen? En hierdie psigoloog vir wie die skerp gesiene tipes openbaringe word van die algemene, die ewigmenslike, só sterk, dat sy kuns iets universeels kry, is hartstogtelike skilder, wat besiel is met die drang om die werklikheid, wat hy so goed gesien het, en die geestelike waarheid wat hy daaruit verwerf het, weer te gee in lyn en kleur. Hy beskik oor 'n styl, 'n kleurgevoeligheid wat altyd sal bly verras en boei. Só geweldig was hierdie rasskilder se drang om te getuig van die skoonheid, dat hy by sy dood op drie-envyftigjarige leeftyd meer as vyfhonderd skilderye nagelaat het - en 'n skildery van Jan Steen is geen vlugtig gepenseelde impressie nie!
Steen moet die gawe om die geneugten des levens te geniet in ruime mate besit het. Dit straal ons teë uit sy kuns. Maar juis daardie kuns toon ons dat hy uitgestyg het bo louter lewensgenieting. Die tradisie het van hom egter 'n vermaaklike losbol gemaak, en Van Houbraken het in die agtiende een hierdie opvatting help bestendig en trou tal van anekdotes opgeteken wat dit sou illustreer.
Kelk het ons beroemde anekdote van die ganse wat Steen op die mark sou gaan haal het om die deur sy vrou verlangde lewe in die brouery te bring, gelukkig bespaar. Sy Steen is ook geen losbol nie, maar tog wel baie verwant aan wyle Pal- | |
| |
lieter. Hy is 'n gemoedelike, trouhartige mens met 'n onverwoesbare werklus en ruim bedeeld met die gawe om die vettigheid van die aarde te geniet - veral in die vorm waarin sy vader, die deftige, welvarende Leidse brouer, dit die mensdom gelewer het! Hy is 'n uiters beminlike mens en het sy twee vroue, wat die onnadenkende en daarom altyd in finansiële moeilikhede verkerende groot kind so dapper tersyde gestaan het, trou liefgehad. Maar van 'n innerlike konflik merk ons niks nie. Sy diepere sielelewe waaruit sy kuns moet ontstaan het, word ons nie uitgebeeld nie. Ons hoor slegs dat hy die natuur liefhet, graag die mense, veral lolmakende boere en fuiftipes, bespied en skilder.
Van 'n innerlike ontwikkelingsgang merk ons ook niks nie. Ek weet wel dat die kunshistorici self hierdie ontwikkelingsgang nie kan vasstel nie. Maar kan 'n mens sonder innerlike stryd en sonder ontwikkelingsgang ons boei as ‘held’ van 'n roman? Hoe rekbaar die begrip roman ook mag wees, die wesenskenmerk van hierdie kunsvorm is tog dat dit epiesdramaties van karakter is. Daar moet tog 'n botsing wees wat openbaring van diepste menslikheid word. En dít ontbreek geheel en al in Kelk se boek, wat dan ook beslis geen aanspraak kan maak op die naam ‘roman’ nie. Dit het slegs die aangename, simpatieke verhaal gebly van iemand wat 'n belangrike persoon nader geken het in sy persoonlike lewe maar van sy sielelewe niks afweet nie.
Tog is dit 'n simpatieke boek, in 'n onderhoudende trant geskrywe, met menige skilderagtige toneeltjie en 'n aantal beminnenswaardige, waaronder egter geen enkele forse, tipes. Die vinding van die ontstaan van die beroemde skildery ‘De Kippenhof’ is aardig. Ook kry ons tal van kleurige, soms nogal ondeuende, skilderytjies uit die sewentiende-eeuse volkslewe. Hierin veral lê die verdienste en die bekoring van die boek.
G. DEKKER.
| |
De gebroeders Karamazow, door F.M. Dostojefski. Onverkorte vertaling uit het Russisch van Dr. A. Kosloff. Van Holkema en Warendorf's U.M., Amsterdam.
Hierdie laaste roman van Dostojewski het in 1880, 'n jaar voor sy dood verskyn. Tien jaar vroeër skryf hy aan Maikof oor 'n grootse ontwerp van 'n roman in vyf dele, waarvan die gemeenskaplike titel sou wees: ‘Die lewe van 'n groot sondaar’. ‘Die hodfvraag wat al die dele sal verenig, is dieselfde waarmee ek my my hele lewe gekwel het: die bestaan van God.’
‘De Gebroeders Karamazow’, wat hieruit onstaan het, is 'n tipiese Dostojewskiroman, die werk van die kunstenaar wat gesê het: ‘Ek hou onuitspreeklik baie van die realisme in die kuns, die realisme wat as 't ware aan die fantastiese nader... wat die groot massa baiemaal fantasties en ongewoon noem, vorm vir my partykeer die kort begrip van alle waarheid’ Geen behaaglike tekening van oëskoon nie, geen uitvoerige beskrywing van wat die sigself folterende kunstenaar walg nie, maar 'n vergeestelikte, 'n alles vergeestelikende siening van die fantastiese werklikheid wat sentreer in die siel van die deur duistere hartstogte bewoë, met verskriklike impulsiviteit handelende, volgens demoniese kasuïstiek redenerende, deur felle intuïsie plotseling tot ontsettende waarheidsbesef komende mens. Hulle is byna almal slaapwandelaars-deur-die-lewe, hierdie karakters, wat ronddwaal in die benoude droom van die lewe waarvan hulle een of twee keer die diepere sin met ontsetting beleef. Dit is die ‘werklikheid’ van hierdie boek. Die wêreld van die Karamazows, die verwaarloosde seuns van 'n liefdelose vader en brutale, siniese wellusteling. Hulle besit ‘de breede natuur van de Karamazows die twee afgronden bevatten kan: één vol oneindige idealen, die boven ons is, en de andere, de afgrond van het laagste van het lage, die onder ons is.’
| |
| |
Daar is Dmitri wat sy vader se bandeloosheid oorgeërf het en 'n lewe van uitspattinge lei. As die katastrofe kom, sien ons diep in sy siel die ideële wat in hom leef; hy verlang na boete, na die kruis. Sy onverwoesbare lewensdrang bly, en kort voordat hy veroordeel word vir 'n moord wat hy nie gepleeg het nie, sê hy: ‘Wat is lijden? Ik ben niet bang voor lijden, hoe groot en diep het ook is... Ik voel zoo'n levenslust en kracht in me, dat ik alle lijden kan overwinnen. Alleen moet je ieder oogenblik tegen jezelf zeggen: “Ik besta”. En duizenden martelingen moeten me laten voelen, dat ik besta.’
Daar is Iwan, met sy morbide fantasie, en besield met die passie van die alles ‘verneinende’ intellek, met die demon van die kasuïstiek. Sy lewensbeskouing het hy weergegee in sy fantasie van ‘Die Groot-Inkwisiteur’. As Jesus na vyftien eeue weer verskyn op aarde, verwyt die grys Jesuïet Hom dat Hy die leuen wat die Kerk gedurende agt eeue opgebou het om die mens gelukkig te maak, weer wil vernietig, en hy dreig om Hom op die brandstapel te bring:
De oude had gewild, dat Hij hem iets antwoorden zou, ook al was het iets bitters of verschrikkelijks geweest. Maar plotseling naderde Hij den oude en gaf hem zacht een kus op zijn bloedeloozen, negentigjarigen mond. Dat was het eenige antwoord. De oude schrikt op, er trilt iets in de hoeken van zijn mond; hij gaat naar de deur, opent ze en zegt tot Hem: ‘Ga heen, en kom nooit terug... nooit meer... nooit... nooit!’ En hij laat Hem uit in de donkere straten der stad. De Gevangene gaat heen.
- En de oude? (vra Aljosja).
- De kus brandt in zijn hart, maar de grijsaard blijft bij zijn overtuiging.
- En samen met hem, jij ook, riep Aljosja bitter uit. Iwan lachte.
Daar is die vrome Aljosja, die kinderlike, onselfsugtige, met sy intuïtiewe insig in sy meer ingewikkelde medemense. Daar is die epileptikus Smerdjakow, met sy lakeie-aard, sy sluheid. Hy is die moordenaar. Daar is nog die ideale Christen Starets Zosima en die vrouefigure, Katherina, Iwanowna wat só hartstogtelik is, dat sy nie meer weet of sy Dmitri haat of lief het nie. En agter al hierdie figure, agter die hallusinasie-gebeure van hierdie roman doem Dostojewski op met sy soeke na God, sy geloof in die Russiese volk. -
Hierdie roman besit al die grootse eienskappe van Dostojewski se kuns: die gawe om van die begin af die gelade atmosfeer te skep, die karakters se ‘unheimliche’ voorgevoel van die komende katastrofe, die intens dramatiese dialoog wat ons plotseling plaas voor die diepste afgronde van die mensesiel, die ondraaglike spanning van die siel wat die mens daartoe bring om sy verborge passie uit te fluister. En ook in hierdie roman speel die felle noodlotsgebeure hom in 'n kort tyd af.
Maar ‘De Gebroeders Karamazow’ besit ook die artistieke gebreke van Dostojewski se romans, in groter mate nog as die ander meesterwerke ‘Die Idioot’ en ‘Skuld en Boete’. Die lang uitweidinge werk storend en vermoeiend - dit ontaard tot anargie. By tal van die skerp psigologiese analieses voel ons die waarheid van 'n opmerking van Merejowski:
In Dostojewski se romans is daar plekke waarin sy eienaardighede as kunstenaar hulle die sterkste weerspieël en waarby dit, soos by die afsonderlike gedigte van Goethe en tekeninge van Leonardo da Vinci, moeilik is om uit te maak of dit kuns of wetenskap is. In elk geval is dit nòg kuns nòg suiwere wetenskap. Hier is die noukeurigheid van die wete verbonde met die heldersiendheid van die skeppe. Dis 'n nuwe verbinding, wat die
| |
| |
grootste kunstenaars en geleerdes al vooruit gevoel het en waarvoor nog geen naam bestaan nie.
Maar daardeur mis hierdie werk die felle konsentrasie van ‘Skuld en Boete’.
Vir almal in ons land wat belang stel in Dostojewski se kuns sal hierdie vertaling in vlotte Nederlands 'n welkome aanwins wees, veral waar die uitgewers die amper ongelooflike prestasie gelewer het om die lywige werk in die handel te bring vir die luttele bedrag van vyf sjielings. Dis 'n groot verbetering op hulle vroeëre uiterlik sleg versorgde uitgawe van 'n verkorte vertaling na die Frans deur Anna van Gogh-Kaulbach.
G. DEKKER.
| |
Nine van der Schaaf. De uitvinder. Em. Querido's U.M., Amsterdam.
In 'n simpatieke prospektus vind Albert Verwey in die feit dat die uitgawe van hierdie werk ongeveer saamval met die skryfster se vyftigste verjaarsdag ‘een gerechtvaardigde aanleiding om van haar en haar arbeid iets meer en vertrouwelijkers te zeggen dan anders de gewoonte is’. Hoewel haar verdienste as digteres (vgl. hiervoor Verwey se pragtige analiese van 'n paar van haar verse in sy ‘Ritme en Metrum’) en as prosaskryfster algemeen erken word, is sy blykbaar tog nie 'n skryfster wat groot opgang maak nie. Te oordele na ‘De Uitvinder’ is dit ook te verklaar. Hierdie werk spreek nie tot die verbeeldingskrag van die groot menigte nie. Verwey se karakteristiek gee die gees daarvan uitmuntend weer: ‘Doch van den beginne af was het duidelijk dat zij een dichteres en droomster was... De uitdrukking droomster moet men evenwel niet misverstaan. Haar droomen hadden niets vaags of onzekers: zij waren de uitdrukking van een sterke en oorspronkelijke geest en van een scherpe blik op de menschen en hun hartstochten’. Dis 'n koele, hartstoglose analiese van 'n nie juis interessante karakter, Anko Wilkes, en sy stemminge. Deur taaie volharding werk hy hom op van 'n arme wees wat die genadebrood van 'n inisiatieflose, arme Friese boer eet, tot 'n bekwame skeikundige vorser. Hoewel hy behoefte het aan liefde en ook steeds 'n ander voorwerp van bewondering vind, is hy in hierdie sake te passief, te onbeholpe; hy besit geen hartstog nie en nog minder die gawe om uiting te gee aan sy gevoelens - tot hy 'n kalme, emosielose geluk vind. Nine van der Schaaf herinner in haar koele ontleding wel aan Marcellus Emants, maar sy is nie so sinies en meedoënloos nie. Hoewel sy geen naturalis is nie, is haar kuns tog in sommige opsigte verwant aan die gryse stemmingsketse en novelles van die Nederlandse naturaliste, van wie sy, wat haar styl betref, egter sterk verskil: by haar nie die subjektiewe, die geraffineerde strewe na
afsonderlike stylskoonhede van die impressioniste nie. Sy staan hierin nader aan Emants, maar haar styl mis sy kroniekagtige droogheid, sy retoriek en skerpsinnige serebrale vergelykinge. Verwey het haar kuns ook in hierdie opsig goed geteken: ‘(Dit werk) is in de eerste plaats bewonderenswaardig om zijn stijl. Als men zien wil hoe onze taal behoort geschreven te worden: zuiver en eenvoudig, klaar en gevoelig, vol werkelijkheid in haar schakeeringen en altyd evenwichtig in haar volzinnen, dan kan men het hier gewaar worden.’
Juis daarom sal die haastige leser wat soek na hewige detail-skoonhede of spannende momente in die sielelewe, hierdie boek mat vind en oor die werklike skoonheid heen lees.
G. DEKKER.
| |
| |
REMBRANDT.
FAMILIEGROEP. † 1669.
| |
| |
| |
Nuus van die uitgewers.
DIE NASIONALE PERS BPK. berei 'n praguitgawe voor van LANGENHOVEN se werke in 12 dele in kunsleerband. Meer as veertig werke sal hierin opgeneem word. Die reeks sal alleen verkrygbaar wees deur intekening, en die oplaag sal voorloping tot duisend beperk wees. Na verskyning van die eerste deel sal daar elke twee maande 'n deel verskyn. Die reeks kos £5.10.0, of by vooruitbetaling £5.
By die firma J.H. DE BUSSY, Pretoria, is ter perse Dr. S.P. ENGELBRECHT: THOMAS FRANCOIS BURGERS, 'N LEWENSBESKRYWING. Hierdie werk is ryk gedokumenteerd en berus op 'n studie van wat die argiewe van Pretoria en ander plekke oor die tydperk besit, veral van die Burgerspapiere. Die skrywer probeer 'n beeld gee van Burgers as student, as predikant en as politikus en gaan in sy strewe om die rol te skets wat Burgers daarin gespeel het, uitvoerig in op die kerklike en politieke toestande en gebeurtenisse van sy tyd. In menige opsig verskil Dr. Engelbrecht sterk van die algemeen gehuldigde opvattinge omtrent die persone en gebeurtenisse van hierdie tyd.
|
|