Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1932
(1932)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 160]
| |
Vaak.DIS nag. Varka, die klein kinderoppassertjie, 'n dogtertjie van dertien jaar, wieg die kindjie heen en weer, terwyl sy met 'n stem skaars hoorbaar sing: ‘Slaap maar, kindjie, slaap maar,
Ek sing vir jou 'n liedjie.’
'n Klein lampie met 'n groen kap brand voor die kruisbeeld; daar is 'n tou gespan van die een hoek van die kamer na die ander waaraan kinderkleertjies en 'n groot swart broek hang. Die lampie gooi 'n groot kol groen lig op die plafon, en die kinderkleertjies en die broek werp lang skaduwees op die verwarmer-stofie, op die wiegie en op Varka. - - - As die lampie begin te flikker, dan lyk dit of die groen ligkol en die skaduwees begin te lewe en deur die wind in beweging gebring word. Dis bedompig. Daar is 'n reuk soos van kool en van 'n skoenmakerswinkel. Die kindjie huil. 'n Lang tyd is hy nou al byna hees gehuil en moeg; maar hy hou maar nog aan asof daar nooit 'n end aan sal kom nie. En Varka is vaak. Dis of haar ooglede aan mekaar vasgegom is, haar kop knik kort-kort vooroor, haar nek is seer. Sy kon nie haar ooglede of haar lippe meer roer nie; haar gesig voel verdroog en soos van hout, en haar kop voel of dit nie groter as 'n speld s'n is nie. ‘Slaap maar, kindjie, slaap maar,’ neurie sy, ‘ek kook vir kindjie kossies.’ 'n Kriekie begin kriek in die stofie. In die aangrensende kamer kan sy haar baas en sy handlanger-klerk, Afanasy, hoor snork. - - - Die wiegie kraak klaend; Varka sluimer in - en alles vloei saam tot daardie strelende musiek van die nag waarna dit so soet is om te luister as 'n mens in die bed lê. Nou is daardie musiek slegs gevaarlik; want dit verlok haar om te slaap; en as Varka, die Vader bewaar haar!, aan die slaap raak, slaan haar baas en sy vrou haar by die dood. Die lampie flikker. Die groen ligkol en die skaduwees kom in beweging; hulle dring hulleself aan Varka se half-ope, slaperige oë op, en in haar sluimerende brein vorm hulle tot vliesige droombeelde. Sy sien donkerswart wolke deur die lug jaag; hulle skreeu soos die kindjie. Dan waai die wind weer, die wolke verdwyn, en Varka sien 'n lang, breë, modderige pad waarlangs talle en talle van waens ry, terwyl voetgangers, knapsak op die rug, voortsukkel | |
[pagina 161]
| |
deur die modder - hulle skaduwees beweeg vorentoe en agteruit; aan beide kante van die pad kan sy bosse beken deur die koue misbanke heen. Opeens val al die mense met hulle knapsakke en hulle skaduwees op die grond in die modderpad neer. ‘Waarom is dit?’ vra Varka. ‘Om te slaap, te slaap!’ kom hulle antwoord. En hulle raak vas aan die slaap, slaap heerlik, onderwyl die kraaie en die spreeus op die telegraafpale sit, skreeu soos die baba en probeer om hulle wakker te maak. ‘Slaap maar, kindjie, slaap maar;
Ek sing vir jou 'n liedjie’,
neurie Varka, en bevind haar nou in 'n bedompige ou hutjie. Haar oorlede vader, Jefim Stepanov, rol op die vloer rond; sy kan hom nie sien nie maar hoor hom kerm en rondrol van pyn. ‘Sy maag het gebars,’ soos hy sê; die pyne is só geweldig, dat hy nie 'n enkele woord kan uitkry nie en slegs met moeite asemhaal terwyl sy tande klapper soos die geratel van 'n trommel: ‘Oe - oe - o - o - o - o - oe’. Haar moeder, Pelageya, het na die baas se huis toe gehardloop om te gaan sê dat Jefim aan't sterwe is; sy is lankal weg en behoort al terug te kom. Varka lê op die vuurherd en hoor haar vader se gekerm. Dan hoor sy 'n kar voor die deur stilhou; dit is die jong dokter van die dorp wat by hulle baas kuier. Hy kom in; Varka kan hom nie sien nie, want dis donker in die hutjie, maar sy kan hom hoor hoes en werskaf by die deur. ‘Steek op die kers’, sê hy. ‘Oe - oe - oooe’, kom die gekerm van Jefim. Pelageya soek by die vuurherd rond na die gebreekte pot waar die vuurhoutjies in is. 'n Minuut gaan só verby sonder dat iemand praat. Die dokter voel in sy sakke en trek 'n vuurhoutjie. ‘Net 'n oomblik, 'n oomblik,’ sê Pelageya. Sy hardloop die hutjie uit en kom binnekort met 'n kort entjie kers terug. Daar is 'n rooi gloed op Jefim se wange, sy oë glinster, en sy blik is wonderlik deurdringend asof hy dwars deur die ou hutjie en die dokter sien. ‘Kom, kom’, sê die dokter, terwyl hy by hom buk, ‘wat is dit alles hier gaande?’ ‘Ahaa! is jy lankal só?’ ‘Wat? - - - Ek sterwe, U edele, my uur is daar - - - ek mag nie meer onder die lewendes bly nie.’ ‘Onsin, man! Ons sal jou regmaak.’ ‘Soos u goed dink, U edele; ons dank u van harte; alleenlik ons verstaan - - - Die dood het gekom; dit is nou maar eenmaal só.’ | |
[pagina 162]
| |
Die dokter ondersoek hom 'n kwartier lank, en toe hy klaar is, sê hy: ‘Ek kan niks doen vir hom nie. Julle moet hom na die hospitaal bring; hy moet geopereer word. Gaan dadelik... julle moet gaan! Dis al laat; teen die tyd dat julle daar kom, sal hulle almal al slaap in die hospitaal; maar dit maak nie saak nie, ek sal julle 'n briefie gee. Verstaan julle nou?’ ‘Maar, my liewe meneer, waarmee sal ons gaan?’ val Pelageya in. ‘Ons het nie 'n perd nie.’ ‘Toemaar, toemaar, ek sal julle baas vra om julle 'n perd te gee.’ Die dokter gaan weg; die kersie brand uit, en weer is daar die gesteun - oe - oe - oooe. 'n Halfuur later hou daar weer 'n kar voor die deur stil; dis die kar wat die baas gestuur het om Jefim na die hospitaal te bring. Hy maak gou klaar en gaan. - - - Maar nou is dit weer 'n pragtige sonnige môre. Pelageya is nie tuis nie; sy is weg na die hospitaal om uit te vind wat met Jefim aangaan. Erens huil daar 'n kindjie, en Varka hoor iemand met haar eie stem sing: ‘Slapies maar, my kindjie;
Ek sing vir jou 'n liedjie.’
Pelageya kom terug; sy maak die kruisteken en fluister: ‘Hulle het in die nag nog alles reggemaak, maar teen die môre het hy sy gees aan God gegee. - - - Mag die koninkryk van God syne wees en ewigdurende vrede. - - - Hulle sê dit was te laat - - - ons moes hom eerder gebring het -’ Varka gaan tot by die modderpad en huil daar, maar meteens slaan iemand haar só hard teen haar kop dat sy haar voorkop teen 'n beukeboom stamp. Sy maak haar oë oop, en voor haar staan haar baas, die skoenmaker. ‘Wat maak jy, jou ellendige smeerlap?’ bulder hy dit uit. ‘Die kind huil, en jy sit jou waarlik en slaap!’ Hy gee haar nog 'n taai klap om die ore; sy skud net haar kop en begin maar weer te wieg en haar liedjie te neurie. Die groen ligkol, die skaduwees van die broek en van die babakleertjies beweeg op en neer, knik haar toe en neem gou-gou haar brein weer in beslag. Weer sien sy die grootpad vol modder. Die mense met die knapsakke en hulle skaduwees is weer vas aan die slaap. Sy kyk na hulle en word oorval deur 'n vurige verlange om ook te slaap. O, hoe heerlik sou sy tog nie slaap nie! Maar haar moeder, Pelageya, loop langs haar en maak haar haastig. Hulle gaan albei dorp-toe om werk te soek. ‘'n Aalmoes, om Christus wil,’ smeek haar moeder by al die mense wat hulle teëkom. ‘Betoon ons tog die Ewige Genade, goedhartige mense!’ ‘Gee die kind hier,’ antwoord 'n bekende stem. ‘Gee hier die kind,’ herhaal dieselfde stem, maar hierdie keer harder en gestrenger. ‘Slaap jy tog nie, jou ellendige meisiekind?’ | |
[pagina 163]
| |
Varka spring orent, kyk rond en sien wat gaande is: daar is geen grootpad, geen Pelageya, geen mense wat hulle teëkom nie, daar is slegs haar juffrou wat gekom het om die kindjie te versorg en nou daar in die middel van die kamer staan. Onderwyl die groot, gesette vrou die kindjie versorg, staan Varka haar en aanstaar en wag totdat dit klaar is. En buite begin dit al ligdag word, die skaduwees en die groen ligkol begin dowwer word; dit sal aanstons dag wees. ‘Dé, vat hom,’ beveel die vrou terwyl sy haar klere weer regmaak, ‘hy huil. Hy moet bepaald gestoor wees.’ Varka neem die baba, sit hom in die mandjie en begin maar weer te wieg. Die groen ligkol en die skaduwees verdwyn stadigaan, en nou is daar niks om haar brein in 'n warreling te bring nie. Maar sy is eens so vaak, verskriklik vaak! Varka rus met haar kop op die kant van die mandjie en wieg haar hele lyf saam om haar vaak te probeer oormeester, maar haar ooglede bly aan mekaar vasgelym en haar kop voel groot. ‘Varka, maak op die vuur,’ skreeu haar baas uit die ander kamer. Dus is dit tyd om op te staan en te begin werk. Varka laat die kindjie alleen en hardloop na die skuurtjie om houtjies te gaan haal. Sy is bly; as 'n mens op is en aan die gang, dan voel jy nie so vaak as wanneer jy so stil moet sit nie. Sy bring die hout, maak die vuur en voel tegelykertyd dat haar houtgesig weer begin soepel word en haar gedagtes helderder. ‘Varka, maak die samovarGa naar voetnoot1) warm,’ laat haar juffrou hoor. Varka breek die houtjies fyn, maar sy het nog skaars die vuur in die samovar aan die gang toe sy alweer 'n nuwe bevel kry: ‘Varka, maak skoon die baas se skoene!’ Sy gaan plat op die vloer sit, poets die skoene en dink hoe heerlik dit sou wees om haar kop in een van die groot skoene te steek en 'n bietjie lekker daarin te slaap... En meteens word die skoen groter en groter en groter totdat dit die hele kamer vul; Varka laat die borseltjie val en skrik meteens weer orent; sy rek haar oë wyd oop en probeer om reg na die goed te kyk sodat hulle nie moet groter word en begin beweeg voor haar oë nie. ‘Varka, was af die stoepies! Ek skaam my regtig dat ons klandisie hulle só moet sien!’ Varka was die stoepies af, vee die kamers uit, stof af, maak nog 'n slag die vuur op en hardloop dan na die winkel. Daar het sy haar hande vol; nie een ledige oomblikkie vir haar nie. Maar niks is swaarder as om op een plek stil te staan in die kombuis en aartappels skil | |
[pagina *20]
| |
REMBRANDT. SELFPORTRET, † 1666.
SELFPORTRET, † 1668.
| |
[pagina 164]
| |
nie. Haar kop begin hang, die aartappels begin voor haar oë ronddans, die mes val uit haar hande, terwyl haar vet kwaai juffrou met opgestroopte moue in die kombuis rondloop en só hard praat dat Varka se ore eintlik daarvan tuit. Wat nog die bitterste is, is om by die ete te bedien, te was, te lap en stop; daar kom oomblikke wanneer sy lus voel om somar op die grond neer te val en te slaap in weerwil van alles. Die dag gaan om. Sy sien die skemering toesak en druk haar vingers teen haar slape, wat voel of hulle van hout gemaak is, en glimlag, sy weet nie waarom nie. Die skemerlig troetel haar oë wat skaars wil oopbly, en belowe haar soete slaap aanstons. Teen die aand kom daar besoekers. ‘Varka, maak warm die samovar!’ lui haar juffrou se bevel weer. Die samovar is maar 'n ou kleintjie, en voordat die mense almal tee gedrink het, moet sy dit vyf keer agtereen warmmaak. Nadat die tee klaar gedrink is, staan Varka 'n uur lank op dieselfde plek stil, bekyk die mense en voer die bevele uit. ‘Varka, hardloop gou en gaan koop drie bottels bier!’ Sy spring weg en hardloop so vinnig as haar twee bene haar kan dra om haar vaak te probeer verdrywe. ‘Varka, bring vodka!Ga naar voetnoot1) Varka, waar's die kurketrekker? Varka, maak skoon die vis!’ Maar nou eindelik en ten laaste is die besoekers weg, die ligte word doodgemaak, en die baas en die juffrou gaan slaap. ‘Varka, wieg die baba!’ kom nog die laaste opdrag. Die kriekie begin weer kriek in die stofie; die groen ligkol op die plafon en die skaduwees van die broek en van die kinderkleertjies dring hulleself weer op Varka se half-geslote oë en maak haar brein newelagtig. ‘Slaap maar, kindjie, slaap maar:
Ek sing vir jou 'n liedjie!’,
neurie sy weer. Die baba skreeu maar deur en is al uitgeput van al die skreeu. Weer sien Varka die modderpad, die mense met die knapsakke, haar moeder Pelageya, haar vader Jefim. Sy verstaan alles, sy herken hulle almal, maar in haar half-wakende, half-slapende toestand kan sy nie agterkom watter krag haar dan vashou nie - 'n krag wat haar hande-viervoet vasbind, wat haar neerdruk en haar verhinder om te lewe. Sy kyk rond, sy soek wat daardie krag dan is, sodat sy dit mag ontvlug, maar kan dit nie vind nie. Sy maak 'n laaste poging, moeg tot die dood toe, rek haar oë wyd oop, kyk na die flikkerende groen kol. - - - Sy luister, sy hoor die baba skreeu - - sy | |
[pagina 165]
| |
het die vyand wat haar nie wil laat lewe nie - - - - Die vyand is die baba. Sy lag. Dit lyk haar ongelooflik dat sy so'n eenvoudige dingetjie nie eerder kon raaksien nie. Die groen ligkol, die skaduwees en die kriekie lyk of hulle saamlag en hulle verwonder. Die hallusinasie neem beslag van haar brein. Sy spring op, glimlag, knip haar oë en loop vinnig op en neer in die kamer. Die gedagte dat sy weldra sal ontslae wees van die baba wat haar vasbind, maak haar bly. - - - Maak die kind dood en dan - - - slaap, slaap, slaap - - - Sy lag, knik met haar kop, wys met haar vinger na die groen kol lig, gaan voetjie-vir-voetjie na die wiegie en buk oor die baba. Nadat sy hom verwurg het, gaan sy dadelik op die vloer lê, laggende van blydskap dat sy nou kan slaap, en binne enkele minute slaap sy so vas soos die dode hier langs haar.
geoutoriseerde vertaling deur C. MOSTERT na die Engels van Mrs. Garnett, Chatto and Windus, London. ANTON TCHEKOV, |
|