| |
| |
| |
Proewe uit die Bantoe-Folklore.
Spreekwoorde van die Transvaalse Basotho.
IN ‘Die Nuwe Brandwag’ I:4 is 'n paar staaltjies van Bantoe-spreekwoorde gegee uit Ronga en Tswana, in II: 2 is gewys op die ritmiese en sinsparallelisme wat in dergelike spreekwoorde voorkom. Die spreekwoorde wat hier volg, almal uit Transvaalse Sotho, lig die in die vorige artikels gegewe stof iets vollediger toe, en gee 'n ruimer blik op die aard en gehalte, so nie op die omvang nie, van die spreekwoordeskat wat 'n tipiese Bantoetaal besit. Hulle is opsetlik nie uitgesoek nie, maar voor die vuis weg opgeneem - hulle is dus nie van die beste nie, ook nie van die slegste nie, maar suiwer tipies. Ek meen dat ek die belangstellendes juis deur hierdie ongewildheid van keuse 'n diens doen.
Die originele kom almal voor in twee of meer uit vier versamelings wat ek tot my beskikking het, twee gepubliseerde, nl. (a) onder die hoof Diêma tsa Bô-Tata-weso in die Padisô-Serie Leesboeke I, II en III van die Berlynse Sending, geskrywe of ten minste geredigeer deur Ds. P.E. Schwellnus, (b) Sotho-Sprichwörter van Ds. G. Kuhn in die Zeitschrift für Eingeborenen-Sprachen, XX: 1-3; en twee ongepubliseerdes, (c) Diêma tsa BaSotho van S. Matsiê, Oefeningshulp vir Transvaalse Sotho in die Departement Bantoeïstiek, Universiteit van Pretoria, (d) my eie versameling Transvaalse Sothospreekwoorde. Ek het opsetlik spreekwoorde gekies wat in minstens twee van hierdie versamelings voorkom. In gevalle waar variante van dieselfde spreekwoord bestaan, het ek van die reeds gepubliseerde variante gesiteer.
Die gedronge en ook andersins moeilike taal van die spreekwoorde, en die eienaardige gedagtegang en vir die Europeër vreemde atmosfeer van die lewe en denkwyse van die BaSotho wat daarin voorkom, maak 'n blote vertaling van die spreekwoorde van min waarde, en eis amper sonder uitsondering uitleg van en kommentaar op wat bedoel word. Buitendien is dit ook nodig om te weet nie net wat die spreekwoord bedui nie, maar ook hoe dit deur die BaSotho self verstaan en toegepas word. Ek het my bes gedoen om by elke spreekwoord, buiten die oerteks en min of meer letterlike vertaling, ook die nodige uitleg, kommentaar en toepassing te gee. Hierby het ek profyt getrek van Kuhn se vertalings en kommentaar by sommige van die spreekwoorde, en van Matsiê se ophelderings, wat hy apart as Dihlathollô tsa Diêma
| |
| |
tsa BaSotho uitgewerk het, sowel as hier en daar van Plaatje se uitleg en parallelle in sy Sechuana Proverbs. Ek mag hier die feit aanstip dat daar dikwels verskil van opinie bestaan, onder die BaSotho sowel as onder die verskillende versamelaars van hulle spreekwoorde, oor die uitleg en toepassing van sommige van die spreekwoorde, ook van die wat nie anders as dialekties varieer nie: waar daar nog teksvariante bestaan, is die verskil van opinie nog groter. Dit maak die taak van verklaring nie makliker nie. Ek wil dus 'n beroep doen op belangstellendes wat miskien 'n ander verklaring of toepassing as wat ek gegee het, teëkom, om te onthou dat quot homines, tot sententiae.
| |
1. Sefata-mollô se a iphatêla.
Hy wat in die vuur krap, krap vir homself. |
Mens krap in die vuur om warmte daaruit te kry. Maar dit doen mens nie vir ander nie, maar vir homself. |
Mens doen nie 'n ding suiwer belangeloos nie. Agter elke handeling sit 'n selfsugtige dryfveer. |
| |
2. Mothsaba-pula o thsabêla matlobotlobong.
Hy wat van die reent vlug, vlug in die plasreent. |
Mens ontsnap aan kleiner moeilikhede, maar kom in groter. |
‘Van die reent in die drup.’ |
| |
3. Mmetsa-phudufudu xa a apare sexahlana.
Hy wat 'n steenbok beslinger, trek nie 'n pasgebreide vel aan nie. |
Om wild te beslinger, b.v. met 'n knopkierie, moet die jagter taamlik naby kom. 'n Pasgebreide vel sou deur die jagter se liggaamsbewegings ritsel en hom verraai. Hy moet dus maar die lekker warmte van die vel ontbeer om sy doel te bereik. |
Om 'n doel te bereik, moet mens hom daarvoor behoorlik uitrus, en hom desnoods ongemak getroos. Mens kan nie twee teenstrydige dinge tegelyk doen nie. |
| |
4. Pala-xa-bedi e phala pala-xa-ngwe.
Tweemaal-faal oortref eenmaal-faal. |
Dis beter om herhaalde pogings aan te wend, al faal mens elke keer, as om maar net eenmaal te probeer en dan maar op te gee. |
Mens moenie te gou tou opgooi nie. |
| |
| |
| |
5. Sekhukhuni se bônwa ké sebataladi.
Die bekruiper word gesien deur die beloerder. |
Die bekruiper, wat homself voortbeweeg, word gesien deur die beloerder wat stilletjies êrens verskuil lê. |
‘Baas bo baas’. |
| |
6. Moeng xa a bone kxwedi.
Die gas kyk nie na die maan nie. |
Die maan gee aan of daar reent gaan kom of nie, of daar oeste sal wees of nie, of daar kos sal wees of nie. Die gasheer kyk angstig na die maan, die gas hoef hom niks te bekommer nie. |
Onverantwoordelik maak onbesorg. |
| |
7. Sebata xe se tennwe ké molete, se o tsêna ka moraxo.
As die gat te nou is vir die wilde dier, gaan hy agteruit in. |
As die gat te nou is om vooruit in te gaan in sy vlug, sal hy desnoods agteruit ingaan. |
‘Nood breek wet.’ |
| |
8. Mmatla-seromô o senya sa xaxwe.
Hy wat iets besonder moois wil hê, verniel sy eie eiendom. |
Oordrewe begeerte na 'n besonder mooi ding laat mens sy eie besit onderskat; of ook laat dit mens te veel van sy eiendom weggee om in besit te raak daarvan. |
Mens koop 'n begeerde ding maklik te duur. |
| |
9. Phatana-hlakolwa xa e ônalele mohlakodi.
'n Stok wat gesteel is, raak nie onbruikbaar vir die dief nie. |
Iemand wat 'n stok steel, sal hom nie so lank gebruik totdat hy verslyt (onbruikbaar) is nie. |
‘Gestolen goed gedijt niet.’ |
| |
10. Maropeng xo a boêlwa, xò sa boelwe ké teng.
Na ruïnes word teruggekeer; waar nie na teruggekeer word nie, is die moederlyf.
(a) | Mens kan wel nie na die moederlyf terugkeer nie, maar (die ruiïnes van) sy ou tuiste kan hy nog altyd kom besoek. |
| |
(b) | Mens kan wel die ou tuiste besoek, maar nie na die moederlyf terugkeer nie. |
|
| |
| |
|
REMBRANDT.
SELFPORTRET, 1659.
|
|
| |
| |
(a) | Daar is maar een opsig waarin mens nie kan verander nie, in alle ander opsigte kan mens verander. |
(b) | Mens kan hom probeer verander soveel soos hy wil, in een opsig verander hy nooit nie. |
|
| |
11. Kxanu, O re'ng O namêla seolo? Bohubedu O bo tsere kae?
Meerkat, wat klim jy op die miershoop? Waar het jy die rooi (kleur) vandaan gekry? |
Die meerkat klim op die miershoop en spog, en vergeet dat hy die rooi kleur waaroor hy spog, van sy ouers oorgeërf het. |
Word gebruik as iemand spog oor een van sy eienskappe of besittings wat hy aan sy ouers te danke het. |
| |
12. 'Mpya tse pedi xa di palelwe ké sebata.
Twee honde word nie deur één dier baasgeraak nie. |
Eendrag maak mag. |
| |
13. Pitsa ya maanô xa e apee xa-bedi.
Die pot van verstand kook nie tweemaal nie. |
'n Verstandige pot wat eenmaal gekook het, en die hitte en ongemak van die vuur deurstaan het, doen dit nie 'n tweede keer nie. |
'n Verstandige mens kan nie tweemaal bedrieg word nie. |
| |
14. Yà sika le e xaraxo, e tl'o xara le yôna.
Die wat omgaan met wat steel, sal self ook steel. |
Mens leer gou die gewoontes aan van diegenes met wie hy omgaan. |
| |
15. 'Tsobe xe le sa fse, le na le setlang se setalá.
Wanneer die stomp nie brand nie, is dit dat hy groen takkies het. |
Die stomp mag nog so dood en droog lyk: as hy nie brand nie, is daar êrens groen takkies te vinde. |
Elke ding het 'n rede, hoe verskole ook. |
| |
16. 'Hodu la kxale la hwa lè swere tsela.
Die dief van oudsher is dood op die ingeslae weg. |
Mens kan nie die natuur van die dief verander nie. Hy gaan dood op die pad wat hy ingeslaan het. |
‘Wie zoo leeft, die zoo sterft.’ |
| |
| |
| |
17. Nkô-kxolo xo dupa xa e tsebe.
Die groot neus kan nie ruik nie. |
Die BaSotho glo dat iemand met 'n klein neusie 'n fyner reukvermoë het as mense met groot neuse. Die groot neus lyk asof hy wonderlik goed kan ruik - inderdaad is dit nie so nie. |
Skyn bedrieg. |
| |
18. Moleta-ngwedi o leta lefsifsi.
Hy wat na die maan uitkyk, kyk uit na die duisternis. |
Hoe langer mens op die maan wag, hoe meer neem hy af, hoe meer duisternis kom daar. |
Uitstel is altyd verkeerd. |
| |
19. Mariri a tau a ka ntle, a motho a ka teng.
Die maanhare van die leeu is buitekant, die van 'n mens is binnekant. |
Die maanhare van die leeu is verskriklik, maar jy kan hulle sien, hulle is aan die buitekant; die mens se maanhare (sy verstand, slimheid) is binnekant hom, en is dus nog verskrikliker. |
Wag jou vir die verskole mag van jou teenstander. |
| |
20. Lehu re hwile la pitsana, la sexwana le a rokwa.
Ons het die dood van die pot gesterwe, die van die drinkkalbas kan gelas word. |
Wanneer die pot doodgaan (in stukke breek), is daar niks meer aan te doen nie; wanneer die drinkkalbas stukkend is, kan hy nog aanmekaar gelas word (b.v. met koperdraad). |
Word gebruik wanneer mense 'n onherstelbare verlies gely het wat te groot is om reggemaak te word. |
| |
21. Motsomi xe a sa bolaye, maroka a mabe xa a tsene.
Wanneer die jagter nie doodmaak nie, gaan hy nie in die moeilike struikgewas in nie. |
Om wild dood te maak, moet mens somtyds in moeilike, digte struikgewas ingaan. Het mens dit nie gedoen nie, kry mens die wild nie. |
Gebrek aan resultaat beteken gebrek aan poging. |
| |
22. Sexokxo xodimo se ya ka bolepu.
Die spinnekop gaan na boontoe deur middel van die spinnerak. |
Om 'n taak te kan volbring, moet mens die nodige middele tot sy beskikking hê. (Word gebruik as iemand gelas word om iets te doen, en kos wil hê voor hy aan die werk gaan.) |
G.P. LESTRADE.
|
|