Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1932(1932)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 147] [p. 147] Die Stryd. Gekerker in die kelder van die vlees Waar swart gestaltes uit die hoeke gluur En uitsluip in die aangewese uur, Wanneer die eng'lewagte van die gees Moet wyk, terwyl die magte van die Bees Die botoon voer en bose luste stuur, Te kragtig vir die vlees om te verduur - Gekerker treur ons oor wat ons moet wees! Maar in dié lied wat deur die eeue ween, Is daar een noot wat seëvierend sing: Die eenling en die ewige is een; Die vlam wat flikker in die kelderlug, Sal opskiet as die mure, steen vir steen, Omvergewerp word deur die siel wat vlug! Soos deur 'n lamp van melkwit porselein Die felle vlam gedempte strale sprei Wat rosig deur die wit omhulsel gly Om dof-sag deur die kamer heen te skyn; Soos deur die dieptes van 'n bloedrooi wyn Die fonkelende lig verdof verbrei, Omsluit deur newels wat sy glans verlei - So moet die gees deur vlees-omwindsels skryn. Die voël wat fladder as die dag lumier, Word vrygelaat deur dié wat hom bemin En skiet die blou se eindeloosheid in. Mag so die sleutel van die Groot Sipier Die gees in staat stel, as die vlees ontbind, Om self in selfloosheid terug te vind! [pagina 148] [p. 148] Ons struikel deur die lewensweë heen So blind, so onbewus van wat daar wag; Ons maak ons planne vir die nuwe dag - En kom 'n onverwagte wending teen; Dan volg daar tandeknersing en geween: Wie is dit wat oor al ons strewe lag? Moet dan 'n onverbiddelike mag Ons strewe steeds vervloek in plaas van seën? O dwaasheid van wat mense wysheid heet! Wie is ons om met eie maat te meet? Die selfgereëlde gang moet keer op keer Op ysterwette stuit voordat ons sien Dit neem meer as 'n leeftyd om te leer Dat vrede slegs bestaan vir dié wat dien. Vorige Volgende