kry ons growwe realisme, maar tog blyk ook uit dieselfde werk, met sy breë opset, watter sterk mensskeppingskrag daar in hierdie skrywer, met sy matelose Oosterse fantasie, geskuil het. 'n Hele wêreld van lewende mense, met hul hewige hartstogte, hul twiste en dierlike buitensporigheid, ets hy in ons verbeelding, maar meestal oorstroom deur sy romantiese gevoel, sy drang na 'n wêreld wat verder weglê as die nugtere allerdaagse.
Na hierdie werk het daar nog 'n hele reeks gevolg, waarvan ons noem ‘De Oude Wereld, het land van Zarathustra’; ‘Simson, de Godgewijde’; ‘Simson, Ontreddering’, ens. Sy verbeelding het toe hy ouer geword het, teruggegaan na die Ooste, hy het 'n intensiewe studie van die geskiedenis van daardie wêreld gemaak en met sy skeppende verbeeldingskrag probeer om dié vergane lewe weer op te bou. Sy kyk op die lewe was groots; hy wou graag die kragtige, die geweldige op die voorgrond bring. As ons die slot van ‘Simson, de Godgewijde’ lees, dan besef ons dadelik watter krag daar van sy uitbeelding uitgaan, hoe ons meegevoer word deur die ekstatiese van sy siening.
Verskillend is daar oor Querido se werk geoordeel. Naas die onregverdige mening wat ons in die oppervlakkige geskiedenis van die Nederlandse Letterkunde van Greshoff en De Vries kry, is daar weer die byna grenselose verheerliking van bewonderaars wat vir Querido die grootste prosaskrywer noem wat Nederland nog gehad het. Maar op sy gebreke is deur goeie kritici ook gewys: sy te bloemryke styl, sy oordrewe woordkoppelinge - ‘die woordopstapelingen en woordopstoppingen maken zijn werk tot een haast onverteerbare lectuur; daar komt nog bij de erfenis van Tachtig, die decenniënlang onze schrijvers verleidde om de woorden uit elkaar te trekken of in elkaar te duwen, woordkoppelingen te maken als lintwormen of woorden in elkaar te draaien als worsten’. Verder kan nog genoem word sy gebrek aan gevoel vir verhouding.
Maar dat hy brokstukke meesterlike prosa geskrywe het, blywende gestaltes geteken het, staan vas, en ons lees tog liewer sy werk, hoe vermoeiend dit soms is, as die afgemete ‘realisme’ van sommige gevierde skrywers, wie se handig geboude romans getuig van soveel ‘beheersing’.
C.M. VAN DEN HEEVER.