weldig, dat hy sy oë selfs met die hand daaroor nie kan oopmaak nie en ook hy maar verplig is om die orkaan die rug te keer. Hy probeer voor die perd hurk, maar word begrawe; staan op - en die rukwinde hol die sand onder sy voete uit, stoot hom met perd en al aan.
Toe die wind die nag eindelik bedaar, is die pad doodgewaai. Alleen 'n Vaalpens wat dit nou regkry en koers hou Boesmansput-toe. Maar Rooi Hans gaan deurdruk. Dit moet. Hy is mos geen groentjie wat al in die rondte gaan ry nie. Hy weet mos om sy oë op voorwerpe te vestig en daarop af te peil.
Skaars 'n uur of die perd is flou. Slaan help ook nie meer nie. Rooi Hans haal die saal af, gooi dit weg en ja die perd voor hom aan. Oor 'n reeks duine sukkel dit; oor twee reekse. Oor die een reeks na die ander, en altyd lê daar nog 'n reeks voor. Naderhand wil die perd nie meer nie. Rooi Hans vloek en laat die dier agter.
Die sand bewe van die hitte. Die barsies in sy lippe word al hoe dieper. Daar kom bloed uit. Die taaiigheid in sy mond gaan oor in 'n droë brand. Sy tong is dik geswel; dwing om aan die verhemelte te kleef.
Om soveel panne te sien lê en nie tot die water te kan genaak nie, is om 'n man mal te maak. Nou kan hy darem regtig nie meer nie. Nou moet hy rus, sy oë 'n ruk toemaak dat die opgeefsel nie so die spot met hom dryf nie.
In dorsdelirium lê hy nou op sy maag langs Vaalrivier en drink dat hy nie meer kan nie, slaap hy onder die skaduryke bome. By die gedagte aan die twee klippies wat hy vandag van die jong ‘gekoop’ het, kom daar 'n glimlag oor die gebarste lippe. Maar dit verander dadelik. Hy merk onraad; steek die klippies in sy mond. Hy wil die goedjies insluk, maar sy tong is al in die pad. 'n Reus van 'n polisieagent het hom aan die keel beet - probeer die klippies uitwurg.
'n Draaijakkals wat in die donker langs hom skree, laat die slaper orend spring. Die grenspolisie! flits dit deur sy verstoorde brein, en die droë tak voor hom word meteens 'n groot hand wat na hom gryp. Hy skreeu aaklig - vlug blindelings oor die sand.
Maar met die daglig skep Rooi Hans moed. Hy het mos vannag vinnig geloop. Boesmansput kan nie meer ver wees nie. Hy is netnou, netnou by die water. Hier bo van die duin af sal 'n man die put seker al kan sien...... Hy sukkel teen die duinreeks uit - sien die saal wat hy gister weggegooi het, anderkant op die sand lê.
Dié agtermiddag kruip daar 'n man 'n entjie hoër op handeviervoete oor dieselfde duinreeks, rol anderkant af en gaan vir die hoeveelste maal waansinnig met sy hande in die sand aan grawe en water soek. Vir die aasvoëls wat al hoe laer oor hom heen sweef, is die einde nie meer ver nie.