Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1932
(1932)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 124]
| |
Twee ‘Rembrandt-Romans.’Ga naar voetnoot1)
Liefde, oneindig, onvermoede,
Die uit gouden eenzaamheid
Warm en levend wil verbloeden
Tot het schoon dat geen benijdt.
Uw leven is niet in de duistre bladen
Van 't oude boek dat somt Uw sombre
dagen.
Boutens.
ONS lewe weer in 'n tyd van heldeverering. Dit blyk uit die werke van 'n Merejowski, 'n Maurois, 'n Emil Ludwig, 'n Romain Rolland, wat die lewe en ideale uitbeeld van heroë in die geesteslewe soos Leonardo da Vinci, Shelley, Goethe, Michel Angelo, Beethoven, Tolstoi. Ook in die Dietse literatuur kom hierdie romantiek duidelik tot uiting. Dat die Nederlanders en die Vlaminge veral hulle groot skilders as hulle helde vereer, is begryplik - dis veral in die skilderkuns dat hulle genie hom deur die eeue heen geopenbaar het. In Vlaandere het Timmermans vir Breugel ‘geroken uit (zijn) werken’, in Nederland het C.J. Kelk vir Jan Steen tot die held van 'n roman gemaak, en Antoon Coolen droom oor 'n roman oor Jeroen Bosch die naturalis van die angsvisioene. Dat by die heersende mode die geheimsinnige, tragiese figuur van die vors van die Nederlandse skilders die verbeeldingskrag sou prikkel, was dus wel te verwagte. En verlede jaar het daar dan ook twee romans verskyn wat die mens Rembrandt vir ons wil laat herlewe. Die eerste is van Theun de Vries, 'n jong Nederlandse digter en prosaïs. De Vries het 'n taak op hom geneem waarvoor hy nie in die verste verte opgewasse is nie. En ek moes die werk 'n tweede keer lees om my wrewelige gevoel oor soveel vermetelheid om so'n taak op sig te neem, te oorwin en die goeie in hierdie boek te kan waardeer. De Vries gee ons bladsye mooi prosa en skrywe 'n suiwer, suggestiewe styl. Ook gee hy ons aangrypende oomblikke uit Rembrandt se sielelewe. Dis opmerklik dat juis die laaste hoof- | |
[pagina 125]
| |
stukke so goed geslaag is. Sy uitbeelding van die gebroke, kindse Rembrandt is van 'n ontroerende patos, en die slothoofstukkie van die sterwende skilder wat verlaas uit sy gelukkige herinneringsbeelde waarin hede en verlede en toekoms in mekaar vervloei, sy heerlike idille van die huweliksgeluk skep, sal seker geen leser ooit vergeet nie. Só sou ons ons die groot Eensame se dood almal graag gedroom het. Hierdie slot vergoed veel. Mooi is ook die verbeelding van Rembrandt se liefdesdroom met Saskia en later van sy minnegeluk met Hendrickje. Ook wys ek nog op dramatiese tonele soos die onverwagte verskyning van Rembrandt in die verkooplokaal van die gebroeders Danckerts, wat hom so grof bedrieg het. Die opduik van die sinistere figuur van die sluwe geldwolf Van Ludig in die skemering van die stille sneeulandskap is treffend simbolies van die noodlot wat de sorgelose Rembrandt sal oorval; pragtig is die trotse gebaar waarmee die kunstenaar die kleinlike woekeraar die deur wys. Ook gee De Vries ons telkens mooi stemmings-landskappe. Maar die heros Rembrandt, wat sy lewensgeluk uitgejuig het, sy tragiek verswyg het, sy mistieke belewinge van die Absolute uitgefluister het in sy kuns, 'n Mens soos die mensheid slegs enkele kere in duisend jare voortbring, het De Vries nie uitgebeeld nie. En die skrywer se bespiegelinge oor Rembrandt en sy kuns, en Rembrandt se eie mymeringe of opmerkinge, wat slegs dié van die outeur bly, is magtelose poginge, om hierdie gebrek te vergoed. Die leser vra hom ook al gou af of die titel van die boek nie moes gewees het ‘Titus van Rijn’ of ‘Die Gesin van Rijn’ nie. Titus neem net soveel die aandag in beslag as sy vader. Dit was wél binne die bereik van die outeur se talent om 'n suggestiewe uitbeelding te gee van die troebele sinnekwellinge van Rembrandt se jonggestorwe enigste seun, wat ons so goed ken uit die hele reeks portrette wat sy vader van hom geskilder het. Hierdeur, en deur die beskrywing van Filips de Koninck se homoseksuele liefde vir die digter-skilder en medeleerling van Rembrandt, Heiman Dullaert, met sy vroulike skoonheid, heers daar 'n swoel-sinnelike toon in die boek, wat stuitend is - nie omdat Rembrandt, die meulenaarseun, nie self ook momente van grofmaar gesond-sinnelike drang gehad het nie, maar omdat ons van die kunstenaar wat die roeping voel om ons hierdie wêreldgenie te teken, verwag dat sy verbeelding deur iets hoërs geprikkel word as deur die moontlike perverse drange of dekadensie van byfigure. Hierdie moderne lus tot verdieping in die seksuele laat 'n gevoel van besoedeling na. * * *
Die tweede roman is van die Nederlandse Amerikaner Hendrik van Loon. Dit is oorspronklik in Engels geskryf en het tans in 'n Nederlandse vertaling in praguitgawe verskyn. Ons weet dat die skrywer van ‘De geschiedenis der | |
[pagina 126]
| |
Mensheid’ en ‘Amerika’ magtige onderwerpe aandurf. Ook ‘Het Leven en de Tijd van Rembrandt van Rijn’ is 'n grootse onderneming. In hierdie lywige werk van byna agthonderd bladsye groot-kwarto-formaat gee Van Loon 'n breë skildering van die sewentiende-eeuse Amsterdam, die brandpunt van die beskaafde wêreld. Hy het 'n romantiese siening van daardie tyd met sy geweldige lewensdrang en onbegrensde moontlikhede. Die vinding van sy verhaal is verrassend oorspronklik. Die skrywer fingeer 'n oorgrootvader in die negende graad, Joannis van Loon, Doctor Medicinae en Chirurgijnsmeester, wat deur Rembrandt ingeroep is toe sy vrou Saskia die eerste ernstige simptome vertoon het van die verraderlike siekte wat haar kort daarna in die graf gebring het. Hy bly Rembrandt se huisarts en vriend tot die Meester se dood. Die sielige begrafnis, met die lugubere humor van die dronk doodgrawers en die ou Vondel se opmerking ‘Vreemd, heel vreemd, hij stierf hier in deze stad en ik wist zelfs niet, dat hij nog leefde!’, gryp hom so aan, dat hy Huygens se uitnodiging aanneem om 'n tydjie op Sorghvliet deur te kom bring om op verhaal te kom. Hier ontmoet hy Spinoza, wat hom die raad gee: ‘Schrijf het op en zet het op die manier van U af, voor dat gij er heelemaal gek van wordt.’ En nou skryf hy sy herinneringe vanaf sy kennismaking met Rembrandt - dis hierdie herinneringe wat sy ‘achter-achter-klein-zoon in den negenden graad’, Hendrik Willem van Loon, uitgee. Ons kry hierin 'n breed opgesette skildering van hierdie grootse eeu in sy verskillende aspekte. Ons maak kennis met belangrike figure soos Huygens, Spinoza, Descartes, die Bickers, VondelGa naar voetnoot1), Rabbi Mennaseh, Johan de Witt. Die Chirurgijn het 'n drietal hoogs romantiese figure as vriende: 'n Fransman, die skatryke Baron de la Tremouille, die scepticus wat in vrywillige ballingskap lewe en al sy tyd wy aan die bereken van logaritmes, die Turk Selim, seun van 'n grootvisier van die oorwinnaar van Bagdad, Murad IV, en wat na Amsterdam gekom het om Homeros in Arabies te vertaal, en die Portugese Jood Bernardo Mendoza Soeyra, wat aan die Spaanse inkwisisie ontkom het, later in opdrag van die Israelitiese gemeenskap in Amsterdam na Amerika gaan om die tien verlore stamme te soek, en daar bly, om as 'n opperhoof van die Mohikane te sterf. Dit klink alles hiperromanties - vir die leser is hierdie romantiek oortuigend omdat dit in ooreenstemming is met Van Loon se siening van die groot dadedrang en romantiese gees van die eeu. Sou die rede waarom hierdie boek in Nederland tot nog toe vrywel doodgeswyg is, gesoek moet word in Van Loon se onverbloemde kri- | |
[pagina 127]
| |
tiek op die Hollandse sjaggeraarsgees, op die fanatieke bekrompenheid en skynheiligheid? Die ou Chirurgijn is 'n onvermoeide praatvaar, maar as hy oor hierdie onderwerpe begin - en wanneer het hy dit daar nié oor nie! - is hy onuitputlik. Die kortsigtigheid van die Amsterdamse kooplui wat alleen op onmiddelike winsbejag uit is en daardeur Holland se plek as eerste seemoondheid en Amerika verspeel, die middeleeuse fanatieke bekrompenheid teenoor die mediese wetenskap, die Oranjes, behalwe Willem die Swyger, ontlok hom voortdurend kritiek. Maar as hy oor die godsdienstige bekrompenheid en heerssug, oor die skynheiligheid en onverdraagsaamheid gaande raak, kan hy nie meer ophou nie. En al die ander figure wat hieroor begin, en trouens almal sy taal praat, is net so onuitputlik. Die grondtoon van die materialistiese lewensbeskouing van hierdie chirurgijn, wat origens hoë ideale het en sy hele fortuin op die spel sit en ook tydelik verloor terwille van sy ondersoekinge om 'n bedwelmingsmiddel te vind om operasies pynloos te kan verrig, vind ons in die les van sy neef Desiderius Erasmus: ‘Wanneer gij den mensch te ernstig neemt zult gij òf Uw gevoel voor humor verliezen òf vroom worden, en in beide gevallen is het beter dood te zijn.’ Hy het gelukkig uiteindelik daarin geslaag om een Christen te vind ‘dien ik niet alleen kon bewonderen, maar dien ik zelfs kon achten’, 'n Jesuiete-sendeling onder die Rooihuide, maar hierdie man kon ook alleen die Christendom in praktyk bring deurdat sy meerderes hom daar in die verafgeleë geweste nie kon kontroleer nie! Van Loon gee hierdie uitvoerige kritiek en breë skildering van die skadusydes om die tragiek des te beter te laat voel van die genie wat met hierdie selfsug en fanatieke bekrompenheid in botsing kom. Die waardige Chirurgijn sê dan ook: ‘Ik wensch een zuiver beeld te geven van den achtergrond, waartegen die betreurenswaardige gebeurtenissen plaats grepen, die ik van plan ben naar voren te brengen.’ Maar ons het hier, net soos in die geval van De Vries se uitbeelding van die sinnelike, maar weer te doen met ‘der Herren eigner Geist’! Sonder vir 'n oomblik te wil beweer dat al die gebreke waarop Van Loon só die nadruk lê, dat hy seker wel die helfte van sy boek daaraan wy, nie aanwesig was in daardie eeu nie, vra ek my tog af in watter eeu en onder watter volk die genie daar nie mee in botsing kom nie! Temidde van hierdie kleurige wêreld leef die wêreldgenie ‘(die) trachtte het vraagstuk van het Licht der eeuwigheid te reduceeren tot een paar streepen chromaatgeel en sneeuwwit, wat al het andere doet vergeten.’ Van Loon begin sy lewensverhaal as Rembrandt se tyd van verdieping begin (1641), De Vries se verhaal begin nog tien jaar later, by die aanvang van sy mees grootse skeppingstyd. Van Loon gee ons 'n simpatieke en oortuigende beeld van Rembrandt. In die omslagtige titel van hierdie sogenaamde persoonlike herinneringe word | |
[pagina 128]
| |
Rembrandt genoem: ‘Schilder en Etser van eenige bekendheid die leefde en werkte (wat in zijn geval hetzelfde was)’. So het die skrywer hom gesien: as 'n mens wat amper uitsluitlik skilder was. Daarom beeld hy hom ook nie uit as die hartstogtelike minnaar nie. Inteendeel, hy glo Saskia as sy sê: ‘Hij heeft zijn werk en in zijn vrijen tijd heeft hij mij en dan kleedt hij me aan... en dan wordt ik een deel van zijn werk’. En direk na Saskia se begrafnis laat hy Rembrandt, nog met sy begrafnisklere en sy swart handskoene aan, ‘heel de wereld om zich heen vergetende’, skilder aan ‘een portret van Saskia, zooals zij er had uitgezien den dag, toen hij haar trouwde’. Dis juis hierdie uitsluitend opgaan in sy werk wat hom alle dinge van die praktiese lewe laat verwaarloos en vergeet, roekeloos geld laat uitgee om die vir sy kuns so begeerde skatte te besit; dit laat hom die mees dwase finansiële transaksies aanvang om tog maar tydelik ontslae te raak van sy lastige skuldeisers wat hom so in sy werk stoor. Hierdeur bly hy ook so lank die slagoffer van die histeriese, heerssugtige Geertje Dirks - as die dokter die saak wil aanroer, is hy so bang om uit sy werksfeer geruk te word, dat hy sy troue vriend in sy geprikkeldheid afsnou en hom nie eers behoorlik groet nie as hy afskeid kom neem voor sy lang reis. Maar terwyl Van Loon in Amerika is, raak Rembrandt se sake al hoe meer verward, en eindelik roep hy die eers versmade hulp in met die roerende briefie: ‘Ik wenschte, dat u naar huis wilde komen. Ik heb uw hulp en uw vriendschap erg hard nodig.’ Deur hierdie trekke het Van Loon daarin geslaag om 'n lewendige mens te skep, wat onbegrepe en eensaam leef tussen sy medemense, met wie hy in tragiese konflik kom. Maar die dieper Mens vermoed hy slegs, hy ken hom nie, en hy beeld hom nie uit nie. As Rembrandt die Chirurgijn skielik voor ‘Die Nagwag’ plaas: ‘als eenvoudig dokter en gewoon Hollander kon (ik) slechts één woord zeggen: “Verdomme!” Rembrandt, die zich niet veel aan uitingen van genegenheid te buiten ging, sloeg daarop beide armen om mij heen en riep uit: “Prachtig! nu weet ik tenminste, dat één mensch begrepen heeft, wat ik wilde uitdrukken!”’ Hierdie sitaat tipeer die hele boek en Van Loon se houding teenoor Rembrandt. Hy sien in sy held 'n miskende genie wat hy instinktief bewonder, maar tot die innerlik van daardie genie se sielelewe het hy nie deurgedring nie. Daarom wou hy die tragiek wat hy hier gevoel het, verklaar uit die botsing met 'n bekrompe, sjaggerende mensdom wat vir onbegrepe ideale slegs hoon en haat gehad het. Daartoe in staat gestel deur 'n lewendige verbeeldingskrag, het Van Loon wat ons weet van Rembrandt se tyd en van sy lewe omgeskep tot 'n breë, uitvoerige verhaal. 'n Eie interpretasie van die verskynsel Rembrandt gebaseer op 'n diep inlewe in sy kuns, het hy ons nie gegee nie. En sy roman is 'n interessante boek, 'n in baie opsigte simpatieke boek, 'n ‘kranige’ boek, met heelwat bravoure, dis geen kunswerk wat 'n diep lewensopenbaring geword het, 'n insig in die wonder Rembrandt gee nie. | |
[pagina 129]
| |
'n Rembrandt, 'n Shakespeare is geen ‘helde’ vir 'n ‘roman’ nie. 'n Groot biograaf mag ons 'n mooi lewenskets skrywe waarin hy verband probeer bring tussen die lewe en die kuns van die kunstenaar, en hy kan ons daardeur mooi insigte gee in die sielelewe van die kunstenaar - maar 'n roman, dit wil sê 'n werk waarin daardie kunstenaar sy diepste lewe weer opnuut leef! En dit waar hy dit nog steeds fel en direk voor ons doen in sy eie onverganklike skeppinge! Nee, die sleutel tot die geheim Rembrandt sal elkeen vir hom self moet soek in sy kuns, daardie mees grootse en dramatiese bieg wat nog ooit 'n sterweling in lyn en kleur en lig gegee het. Boutens se verse is vir my die beste kritiek op hierdie twee ‘romans’: Uw leven is niet in de duistre bladen
Van 't oude boek dat somt uw sombre dagen.
Die tragiek van Rembrandt kan nie verklaar word deur die smarte en die skipbreuk van sy lewe nie. Die dood van Saskia en haar kinders, van Hendrickje, die droewige onttakeling, die verlies van al die oëskoon, al die pragvolle kunsskatte wat hom so dierbaar, so onmisbaar was, die smaad en veragting van die laaste jare, - dit alles het hom diep aangegryp, maar dit was nie die oorsaak van sy tragiek nie. Daardie oorsaak het geskuil in sy siel - dit is die tweespalt wat alle groot kunstenaars so fel belewe, die teenstelling tussen Droom en Werklikheid; sy werklike lewe is wat sig afgespeel het in die eensaamheid van sy siel. Rembrandt was voorbestemd om die groot Eensame te word, om alleen te worstel met die ewige probleem, wat hy gesien het as die probleem van die Lig. Hoe roerend die verhaal van sy lewe ook mag wees, ons moet oppas om dit nie te sien in die lig van ons kleinmenslike ideale en stryd, en die held Rembrandt, wat 'n veel grootser stryd gestry het, te verdrink in ons patos nie. Want hy het nie ondergegaan in daardie stryd nie. Watter bomenslike werkkrag, watter tomelose drang om langs eie weë volgens die soevereine vryheid van sy genie alle probleme van sy kuns te oorwin, oor die weerbarstige stoflike, wat hy so hartstogtelik liefgehad het, te seëvier. Hy bly altyd die Hollander, die realis. Sy uitgangspunt is die realiteit, die aardse, maar hy bly nie staan by die aardse nie, hy voel daaragter brand die vuur van die geestelike. Rembrandt is 'n mistiese realis, het Van Deyssel gesê. En daardie brand gloor van binne uit, deurlig die stoflike, dis nie 'n glans wat dit van buite af omvloei nie. Rembrandt maak die dinge nooit ‘mooi’ nie, hy ken geen esteties mooi of lelik nie - hy sien tot in die hart van die dinge, ontworstel die diepere sin daaraan. Dit word vanself die skoonheid wat dit van binne uit deurgloei. Hierdie waarheid, hierdie diep-geestelike siening het Rembrandt verwerf deur 'n lewe van werk en worsteling, van ongelooflike konsentrasie. Alles het | |
[pagina 130]
| |
hy dienstig gemaak aan sy doel, alles het hy aangegryp om sy artistieke uitdrukkingsmiddele te verfyn en te verhewig. Ook die vondste van ander meesters het hy versmelt tot sy eie styl. Hierdie lang leerskool en lang worsteling vind ons weerspieël in sy kuns, veral in sy portrette, met name in sy selfportrette. Sy eerste werke toon hom as die minnaar van die uiterlike skoonheid, waarvan hy met verliefde blik die glansinge bespied: die streling van die lig oor ferweel en satyn, oor die blanke huid van sy deur hom met oorlade prag getooide Saskia, die retoriek van barok-dramatiese gebarespel. Die smaak van die meulenaarseun is hier soms nog nie alte fyn nie. Hierdie periode kulmineer in die simfonie van lig en kleur ‘Die Nagwag’, die dithyrambe van sy vreugde aan die skone lig. (1642.) Dis kos hom sy populariteit. Daarna kom die verdieping in eie sielerykdom. Wel bly sy liefde vir prag en praal, maar sy smaak is meer gekuis. Hy kry nou minder opdragte en is nou vry om langs eie weë te soek - die stof word nou meer self uitdrukkingsmiddel, ondergaan nie slegs die skoonheid van buite af nie. Hoe duidelik word hierdie verdieping openbaar as ons die selfportret van 1634, die vroulike portret van 1639 (volgens Valentiner van Saskia) en die heerlike portret van Hendrickje Stoffels (ongeveer 1652) na mekaar beskou. Langsaam maar seker kom die katastrofe, en in 1656 word hy bankroet verklaar en al sy besittinge in beslag geneem. Dis juis in hierdie jare dat sy vorstelikste selfportrette ontstaan. Watter koninklike bewustheid van innerlike krag spreek daaruit. ‘Every inch a king’ roep Bredius uit as hy voor een van hierdie afbeeldinge staan van die bankroete meulenaarseun in sy verslete werksjas, wat hom tot koningsmantel word. Dit is geen psigologiese portrette meer nie, dit is belewinge van die absolute, die Universele. Maar innerlik woed die worsteling al hewiger. Watter diep afgronde van vertwyfeling openbaar die selfportret van die laaste jaar voor sy dood. Maar hy seëvier en droom sy skone idilles van menslike geluk en huweliksvreugde, ‘Die Joodse Bruidjie’ (Titus en Margaretha van Loo) en ‘Familiegroep’, om kort voor sy dood nog die serene geluk te laat verruis van sy laaste selfportret, die heerlike slotakkoord van sy lewenssimfonie waarin al die stryd en worsteling opgelos is tot skone harmonie. G. DEKKER.
Noot van die Redaksie: Tot ons spyt het daar 'n drukfout ingesluip in enkele onderskrifte onder die reproduksies wat dien om hierdie studie te illustreer: die leser sal wel begryp dat die † 'n setfout is vir die plus-minus-teken! |
|