[Die Nuwe Brandwag]
G.R. von Wielligh.
1 April 1859-9 Augustus 1932.
Weer is 'n man ons ontval wat sy lewe gestel het in diens van sy volk en sy taal. Die ‘Laaste stem uit die Genootskap van Regte Afrikaners’ is verstom. Geslagte kom en geslagte verdwyn met hulle ideale en strewe, maar die stryd en die werk van die geslag van Von Wielligh het die ideale van die nuwere generasie moontlik gemaak.
Hy was 'n stille in den lande, maar wat die taak deur sy medestryders met soveel praktiese idealisme aanvaar, voortgesit het, ook gedurende die lang jare toe die lig byna heeltemal uit sy oë verdwyn het. Jong Suid-Afrika staan vervuld met dankbare hulde en piëteit by die graf van hierdie eenvoudige stryder wat so onvermoeid, so belangeloos, so nederig sy lewe gewy het aan sy hoë ideaal. En die gedagte aan sy onwankelbare geloof in die hoogheid van hierdie ideaal, aan soveel wilskrag, aan soveel verknogtheid aan die onvervreemdbare erfenis en die volksaardige, sal 'n besieling bly.