ook eenmaal te hoor. Gedurende die Oorlog het hy, soos 'n Fichte 'n honderd jaar gelede, op verskeie geleenthede, tuis en aan die front, toesprake gehou. Want al was hy liberaal in die beste politieke sin van die woord en geen kruipende howeling en aanbidder van Wilhelm II nie, tog was hy vaderlander in merg en been.
Daar is vandag geen enkele gebied van die klassieke waarop Wilamowitz sy stempel nie afgedruk het nie. Nog op tagtigjarige leeftyd is hy, op uitnodiging van Mussolini se Regering, na Noord-Afrika om vakkundige oordeel uit te spreek oor die opgrawings in Cyrene. Soms was dit mode om hom in alle werke aan te haal, soms, weer, veral in geallieerde lande ná die Oorlog, om op pseudowetenskaplike wyse teen die Pruis te polemiseer. Feit bly egter dat min probleme op die gebied van die Griekse lettere, wysbegeerte, geskiedenis, archaeologie, godsdiens nie stelling voor of teen Wilamowitz uitlok nie. Die gepubliseerde lys van boeke en artikels uit sy pen vorm 'n boek van 100 paginas. Sy produktiviteit ná 1914 op byna sewentigjarige ouderdom, op 'n leeftyd waanneer die ink sowel as die lewensap van gewone geleerdes al lankal opgedroog het, is ongeëwenaard, veral waar die studie en navorsing van die klassieke 'n enorme geheue, 'n thesaurus omnium rerum, vereis.
Onder ander het daar kort op mekaar verskyn Aeschylus, twee dele, Die Ilias und Homer, Platon, twee dele, Die hellenistische Dichtung, twee dele, Pindarus, en nog kort voor sy dood, die eerste deel van Glaube der Hellenen. Handboeke en sistematiese werke wat as opgaardamme dien vir navorsingskennis van afgelope eeue, was vreemd aan die vulkaniese genialiteit van 'n Wilamowitz. Eenkeer het hy hom tog laat oorhaal om in een trek 'n skets van die Griekse letterkunde vir die Kultur der Gegenwart te skryf. Dit het 'n selfstandige werk van 600 gewone bladsye geword en strek van Homerus tot Julianus (360 n. Chr.). Dit is egter so verskillend van die gewone handboek met sy quisquiliae, so pregnant van probleme en nuwe gesigspunte, dat dit eendag nog met 'n volledige kommentaar sal moet uitgegee word. Waar ander geleerdes slegs as gedweë dienaars van die Muse die wetenskap verkondig en voortgeplant het, daar was in die geval van Wilamowitz Apollo, die god van openbaring en inspirasie, self aan die woord. Menige nota in sy werke bevat meer intuïtiewe waarheid en handwysing as dik dele van ander.
Soos sy werke was ook sy voorlesings. Die student wat gemeen het om 'n sistematiese versameling van feite oor een of ander onderwerp by hom te gaan afskryf, het teleurgesteld sy klas verlaat. Wilamowitz se standpunt was dat 'n lesing nie daartoe bestemd was om die student dooie kennis in te tregter nie - daarvoor is daar handboeke in die biblioteke: die voorlesing moet die student laat dink en in hom die lus verwek om self na te vors. Sy lesings het gevolglik gehandel oor onderwerpe en probleme waarin hy juis self navorsend