| |
| |
| |
Oom Dawid se Meisiekind.
‘Môre Miegal. Hoe gaan dit nog?’
‘Môre Wiekus. Nee, goed dankie. En met jou?’
‘Ook nog goed, dankie Miegal. En met jou?’
‘Is jy nou skoon bedeksel, Wiekus van der Merwel? Wat makeer jou vandag weer? Jy is somar skoon bedeksel, weet jy.’
‘Aag Miegal, man, hoe kan jy nou vir my somar so staan en affronteer, hè?’
‘Ja, maar jy maak of jy mal is. Dis wat jy maak. Mens kan nie help om jou te affronteer nie. Hier kom ek by jou, ek sê: môre..., of nee wag, jy het eerste môre gesê. “Môre, Miegal”, sê jy vir my; en jy vra hoe gaan dit. En toe sê ek: goed dankie, en ek vra vir jou hoe dit gaan. En jy sê: goed dankie. En toe staan jy wragtiewaar weer vir my en vra hoe dit gaan. Dis toe die tweede keer. Nou, waar het jy al ooit sulke lawwigheid belewe, Wiekus van der Merwel?’
‘Maar jy raas ook altyd met 'n mens. Hoe weet jy nou virwat ek so snaaks praat? Ek het my maar net verspreek, Miegal. 'n Mens struikel met vier pote.... ek meen 'n perd struikel....’
‘Sien jy nou? Daar praat jy alweer deur jou nek, Wiekus. Jy moenie so laf wees nie. Dis lelik.’
Dan is Miegal voldaan. Hy trek die pand van sy rooi-verbleikte donkerblou baadjie effens in fatsoen. Dan frommel hy die eenkantse snorretjie so'n bietjie tussen die duim en die voorvinger. En Wiekus sien hom aan soos 'n brakkie wat vet gesteel het.
‘Aag tog, Miegal, hoe weet jy nou waarom ek so hartseer is? Jy drywe die spot met my.’
‘Ek doen dit g'n, maar ek wil sê dit is niks mooi nie. Ander mense sal vir jou lag en sê: “Wiekus van der Merwel is malkop”, dis wat hulle sal sê as hulle jou hoor.’
‘Maar dis darem ook nie die plan soos jy maak nie. My hart is baie seer vandag, Miegal.’
‘En jy hou maar aan met hartseer en hartseer. Watse hartseer is dit met jou?’
Miegal loer onder die breë rand van Wiekus se hoed in. Hy sien 'n diepte in die twee swemmende ogies wat daaronder glinster in hulle eie on- | |
| |
gekende wee. Dan vermolm die kors om sy eie hart, en dit word week. Daar is roering tussen siel en siel.
Miegal vat stadig aan Wiekus se mou. Daar is teerheid in die ruwe hand en mening in die wyse waarop hy sy maat aanstaar.
‘En is jou hart regtig seer, ou broer?’
‘Ja, my hart is regtig seer, ou broer.’
‘Baie seer?’
‘Baie seer. Dit voel of hy stukkend gebreek is, ou broer. My hart is stukkend.’
‘A, dis jou hart nè?’
‘Ja, dis my hart, Miegal.’
‘En hy is stukkend, nè?’
‘Ja, hy is stukkend, Miegal.’
‘Baie stukkend, nè?’
‘Ja, Miegal, baie stukkend.’
‘En waarvan?’
‘Somar.’
‘Sien? Daar is jy nou weer verkeerd. Ek vra hoekom is jou hart... Nee, eers vra ek wat jou makeer. En toe sê jy: jy is hartseer. Toe vra ek of hy baie seer is. En jy sê: ja, hy is stukkend. En toe vra ek waarvan hy seer is. En jy sê: somar. Dis mos nonsies. Somar het geen rede nie, en padda het geen vere nie. En dis die ding. En nou kan jy maar so rondstap met jou stukkende hart. En ek gaan nou weer huis-toe. Dè,... Whè,... Pè!’
‘Nou, wat makeer jou? Praat dan!’
‘Dis daardie meisiekind van oom Dawid,... a, Miegal, daardie meisiekind....’
‘Het sy jou uitgeskel?’
‘Nee! Nee, uitskel sal sy my nooit... Dis somar...’
‘Jy moenie weer begin met jou “somar” nie. Ek stap wragtie huis-toe en laat vir jou, jy wat Wiekus van der Merwel is, net so hier staan.’
‘Ag... Aag tog, Miegal.’ Hy gaan sit op die groot wortel van die wilkerboom langs die watertjie. En nou begin Miegal darem regtig te verstaan dat daardie mannetjie, soos hy vandag daar sit, nie somar niks makeer nie. Hy kan nie siek wees nie, of hy kan miskien siek wees. En sê nou hy is siek en hy gaan dood,... dan,... wat dan?
En nou trek Miegal sy broekspype effens op, so by sy knieë langs, want anders bars die broek se boom dalk oop as hy gaan sit. Dan gooi hy sy pruimpie weg. Hy kyk so 'n slag rond om te sien of daardie einste meisiekind nie dalk vir hulle dop hou nie. Maar hy sien geen sterfling nie, behalwe 'n
| |
| |
makouwyfie wat vinnig en waggelend aangehardloop kom om die weggegooide ietsie op te tel. Dan sien hy haar teleurgesteld omdraai en blaas-blaas wegstap na die kweekplek toe waar die ander makoue lê. Hy besef die gevoelens van die makouwyfie, en hy kan nie help om so effens te glimlag om haar onnoselheid nie.
Dan kom Wiekus weer in sy gedagtes in en beslaan die volle veld daarvan.
‘Ou broer, jy moenie so bedeksel wees nie. Vertel nou mooi vir my wat eintlik vir jou so hartseer gemaak het.’
‘Ek sê mos vir jou dat dit daardie meisiekind van oom Dawid is. Sy het,.... wag ek sal jou vertel wat sy gemaak het, Miegal.’ Wiekus skop sy bene lank uit voor hom. Die bedruktheid oor sy aangesig klaar nou effens op; daar huiwer miskien aangename herinneringe, miskien skone bespieëlinge in die toekoms in. Miegal verkeer in gespanne aandag.
‘Dit het so gekom, Miegal. Daardie meisiekind het mos nooit eintlik van my notiesie geneem nie... O nee, ek was somar altyd vuilgoed in haar twee oë. Maar nou vandat sy terug is van die,... die... hoe noem hulle nou weer daardie ding?’
‘Borringskool,’ help Miegal hom reg.
‘Nog reg,’ beaam Wiekus die woorde. ‘En... waar was ek nou weer?’
‘Jy het vertel hoe snaaks sy was, maar vandat sy van die borringskool afgekom het,.......’
‘Juistement. Daarvandaan is sy baie vriendeliker. Baiekeer gee sy vir my 'n stukkie koek of dinges.... en... droë vrugte. En dan doen ek natuurlik vir haar werkies. En nou sal ek jou alles vertel. Nou-die-dag het sy vir my gelag, baie mooi het sy gelag. En toe sê sy vir my: “Wiekus', sê sy, jy moet my tog help met 'n klein werkie. Dan sê ek jy is mooi.” Wragtie, Miegal, dis wat sy self vir my gesê het. En ek vra wat dit is. En sy sê ek moet vir haar 'n briefie gaan wegbring. En ek sê: top! En sy gee my die briefie. En raai wat.’
‘Wat?’
‘Sy gee vir my 'n stuk twak,... net so lank as,... hoe sal ek nou sê?’ Hy kyk 'n slag rond. ‘.... Net so lank as daardie stokkie wat daar naby die skroef lê, regtig man.’ En hy gooi met 'n stukkie perdemis na die stukkie hout. ‘En jy sal my nou nie glo nie, maar ek lieg nie vir jou nie, Miegal. Sy sê,... weet jy wat sê sy vir my?’
‘Wat?’
| |
| |
TONEEL IN NOORD-TRANSVAAL, II.
O. KLING
| |
| |
‘Sy sê: ek is darem die flukste jonkman wat sy nog ooit in haar lewe gesien het, dit sê sy. So op my woord van waarheid. Virwat sal ek nou vir jou staan en lieg?’
‘Wragtie?’
‘Man, loop vra haar self as jy dink ek staan vir jou en leuens aandra.’
‘Jy is parmantig, nè?’
‘Hoe is ek parmantig? Moenie my alweer staan en affronteer nie, Miegal.’
‘En toe?’
‘Toe gaan bring ek die briefie weg. Maar dis ver. En dis wat ek voetslaan en dis wat ek voetslaan. Dis naderhand donker. Maar dis wat ek maar voetslaan.’
‘En toe?’
‘En ek bring die briefie vir daardie skoolmeester,.... Mister Mal .... Mal....’
‘Mallérwie?’
‘Mallérwie?’
‘Dis net hy,... Mister Mallérwie... Nou ja, en ek lewer my briefie aan hom af. En hy sê: Dankie, Wiekus, sê hy. En ek sê: koet naait, en hier kom ek weer al met die grootpad en al met die grootpad. En die anderdagoggend staan ek die stal en skoonmaak. En raai wat?’
‘Wat?’
‘Toe ek my kom kry, toe staan daardie meisiekind mos mooitjies hier by my in die stal. En ek dog: staan dinge so? En sy vra vir my of ek die briefie afgelewer het. Toe sê ek: ja. En nou wil ek vir jou vertel...’
‘Wat?’
‘Toe gee sy vir my daar op die plek nog 'n stuk twak wat nog groter was as die ander stuk.’
‘Jy lieg!’
‘Nee, wragtiewaar. Gaan vra vir haar of ek staan en lieg. Toe, loop! Virwat sal ek lieg, hè Miegal?’
‘En hoekom maak dit jou dan hartseer?’
‘Aag toggie, Miegal. Moenie weer praat van daardie dinge nie. Laat ek jou eers alles klaar vertel. O, dit maak mysomar gedaan, daardie affêre. Dis 'n kwaai saak. Ek het so veel van haar gehou. Ek kan maar sê: dis of ek baie gek na daardie meisiekind van oom Dawid geword het. En.... waar was ek nou weer?... Die oggend in die stal, nè? Ja broer, en ek sien die meisiekind se oë blink somar soos 'n swart rinkals s'n, en haar tong wil ook net so maak soos 'n slang s'n. En dis of daar 'n groot fout êrens in die gras is. O, die meisiekind was somar lelik omgekrap, Miegal. En toe
| |
| |
gaan sy aan grens, somar hardop,.... traak haar toe net niks meer nie.’
‘En dis wat sy grens... Regtig?’
‘Dis wat sy aan grens gaan. En dis 'n ding wat ek net niks van hou nie. En toe sê ek vir haar sy moenie hier in my ore kom staan en blêr nie. As sy dan wil blêr, moet sy ander plek gaan. Haai, Miegal, maar dit moes ek nie gedoen het nie. Sy kyk my aan so deur haar trane. Dit lyk of sy wil doodgaan. En ek skrik. En ek staan nader na haar toe. En ek vra vir haar: “Wat het ek jou gemaak dat jy so moet staan en grens hier by my?” vra ek haar.’
‘En toe?’
‘Toe sê sy ek moet daardie aand na haar kamervenster toe kom, want sy het weer 'n werkie vir my. En ek dog: goed, ek verdien elke slag 'n stuk twak. Ek gee nie om nie, wat gee ek om? En, boeta, dit was mos die aand wat daardie jongkêrel van haar gewoonlik kom kuier. Hy kom altyd Saterdagaande vry na die meisiekind van oom Dawid.’
‘Watter jongkêrel is dit?’ vra Miegal haastig tussenin, en hy waai die vlieë weg wat alewig op sy ore gaan sit.
‘Jong, Miegal, dis ene klein Breidie,... Jiems Breidie. Maar somar 'n vrotsige vent, daardie Breidie. Weet jy wat?’
‘Wat?’
‘Hy sprie.’
‘Hy sprie? Dis dan so, nè? Hy sprie?’
‘En dis nie al nie... O, ek ken vir hom. Somar 'n parmantige buffel, hy. Nee, dan sê ek somar reguit: daardie Mallérwietjie is 'n honderdmaal beter kêrel, 'n man duisend.’
‘En wat lol sy dan met die Breidie-vent?’ vra Miegal, wat nou in die uiterste saligheid die verhaal van Wiekus sit en aanhoor sonder om 'n vin te verroer.
‘Wil,... hoe sal sê?... Daar is haar oumense. Hulle wil haar half dwing om met die vent te trou. Hulle is baie danig met hom. As hy hier kom, dan is dit: Mister Breidie voor en Mister Breidie na. Dan moet almal net bontstaan vir Mister Breidie. Dan moet ek sy vervlakste motorkar vir hom staan en was, Miegal. Ek moet dit doen soos 'n swart Kaffer. En wat sal ek daarvoor kry? Nie so veel as die swart van my vingernael nie, sê ek vir jou, Miegal.’ Hy lek 'n slag aan sy twee lippe wat aan die verweer en bars is van al die blootstelling. Dan vee hy met die rug van die regterhand oor daardie lelike pap mond van hom, en hy maak keel skoon om die vertellery te hervat.
‘En sien, wat ek toe verder wou vertel, Miegal, is eintlik dit: sy,... ek bedoel nou oom Dawid se meisiekind,... sy is nie danig met die Breidie nie.
| |
| |
En weet jy wat? Ek het gesien dat die oumense met haar raas oordat sy hom nie wil vat nie. Ja, jy kyk vir my so aan, maar ek lieg nie. Hulle raas met haar. En oom Dawid sê hy sal haar dwing en forseer om met die Breidie te trou.’
‘En wat de duiwel makeer die ou kêrel, Wiekus? Is hy dan skoon bedeksel?’
‘A, jy weet nie wat in daardie ou kêrel se harspan kriewel nie, Miegal. Ek weet. Ek is maar 'n arm kêrel vandag, wat moet werk soos 'n slaaf vir hulle. Maar ek weet.’ Hy slaan hom so hard op sy eie bors dat hy daarvan hik. Dan sit hy 'n vars pruimpie in en vervat weer.
‘Sien,’... Hy kyk 'n slag in die rondte of daar nie dalkies mense is wat hulle hoor nie. Dan skuiwe hy nader na Miegal toe. ‘Sien, daardie Mister Mallérwie het hier gekom en gekom en gekom. En toe het ek somar vir myself gesê: Wag, jy moet kyk, daardie skoolmeester gaan die draai maak. So sê ek somar in my enigheid, Miegal. En een aand het hulle opgesit, sy en die skoolmeester. Toe was dit koud. Ek wou somar verkluim. En my vingers het stokstyf gestaan toe ek klaar die perde voer gegee het en die kalwers in die hok geja het. Toe gaan ek voor die vuur sit,... jy weet mos, op daardie bankie langs die es. En die kombuis was donker. En toe sit sy en Mister Mallérwie in die eetkamer op die rusbank en vry. En naderhand gaan hulle na die oumense se kamer toe. Ek wonder toe wat nou aan die gang is. En ek staan, en ek sal maar sê, ek loer so effens in om te sien wat nou aan die gang is. Maar Miegal, moenie praat nie.’ Hy slaan die vriend op die knie met die plathand. Dan skop hy weer sy bene effens reguit en hervat die verhaal.
‘Oom Dawid het kwaad geword. Hy kom daar uit die slaapkamer uit, en hy wil somar vir Mister Mallérwie daar op die plek invlieë. Gits man, en ek skrik my somar byna dood. En die ouman gryp daardie meisiekind van hom en stamp haar in die kamer in. En toe jaag hy vir Mister Mallérwie soos 'n hond by die deur uit. Wragtie man, net soos 'n hond jaag hy hom weg. En hy sê vir hom hy moet nooit weer sy pote oor sy drumpel sit nie, Miegal man. En ek spring somar by die agterdeur uit. En dis wat ek laat vat na die buitekamer toe.’
‘En toe?’
‘En die meisiekind huil of sy vermoor word. En ek het haar so jammer gekry, Miegal man. Ag, ek het nie geweet wat ek moet doen vir haar nie. Toe gaan ek mooi, en weet jy wat maak ek? Die volgende oggend gaan ek na haar toe. Sy was in die melkkamer. En ek bring die melk in. En toe sê ek vir haar: “Askies my”, sê ek, “maar ek kry vir jou jammer. Die
| |
| |
oukêrel is darem baie verkeerd met 'n mens.” En toe sê sy dat hulle wou ouers vra, maar die oumense sê Mister Mallérwie is te arm en sy moet met Breidie trou. En ek sien sy dwing maar om aan grens te gaan, daardie meisiekind.’
‘En is dit nou daaroor wat jy hartseer is?’
‘Aag Miegal man, jy moenie altoos tussenin praat nie. Jy maak my ook somar weer verdrietig. Wat sal jy nou maak as jy so 'n mooi meisiemens so sien grens voor jou eie twee oë? Hè, wat sal jy maak?’
‘Ek sal maar vir haar sê sy moenie, en ek sal mooipraat met haar.’
‘Nou ja, en toe sê ek vir haar: sy moenie grens nie. En ek kry toe my eerste stuk twak, nie groot nie. Dit was somar so 'n pruimpie. Sy vat dit af van die oukêrel s'n.’
‘En nou is Breidie eintlik die man?’
‘Wag, laat ek klaar praat. En ek het 'n hele paar briefies gaan wegbring vir Mister Mallérwie. En een aand toe hoor ek snor, en ek kyk, en hier staan die motorkar voor die deur. En toe gaan ek daardie aand weer voor die vuur sit, ekke. En ek hoor maar hoe hulle gesels hier binnekant. Maar sy was nie daar nie. Dit was net die oukêrel en Breidie. En naderhand toe gaan dit net of hulle aan die rusiemaak is. O, gits man, en ek is maar bang vir rusie. En ek wil maar padgee. En toe staan ek op, en ek loer so effens in. Toe hoor ek hoe hulle praat. Breidie wil die meisiekind hê om mee te trou, en die oukêrel spring hiernatoe en soontoe en somar al die kante toe. Maar dis wat Breidie vir hom vaskeer. En hy staan die oukêrel en vermaak met geld. Hy is mos ryk, daardie Breidie, o ja, verduiwels ryk, hy. En hy vertel dat hy die oukêrel se geld nou op die plek wil hê, of so nie, sal hy hom gaan oorgee. Man, Miegal, dis darem laag en gemeen. En die oukêrel huil. Ja, hy huil naderhand somar. Toe dog ek: ek word mal daar in die kombuis. En Breidie sê vir hom dat hy hom heeltemal sal verrinneweer as hy nie die meisiekind kan kry om mee te trou nie. Maar as die oukêrel sy konsinte gee, dan sal hy die bewyse verbrand. Verbeel jou, Miegal man.’
‘Verduiwels, en wat maak hulle toe?’
‘En toe roep die oukêrel naderhand die meisiekind. En hier kom sy. Maar sy grens. Moenie praat nie. En hulle het lank gepraat. En ek het somar gaan slaap.’
‘En daarvandaan vry Breidie na haar?’
‘Gm.... Hy lyk 'n mooi bog. Daardie meisiekind is nie somar 'n aldagse hierjy wat vir haar met 'n blaas vol ertjies laat oploop jaag nie, o
| |
| |
nee. En toe kom Breidie weer een aand hier aangery. Dit was weer...’
‘Maar wat toe? Jy hou aan met Breidie wat kom en Breidie wat kom, en jy kry nooit klaar nie. Jy is bedeksel, Wiekus van der Merwel.’
‘Sien, daar raas jy alweer met my. En ek het nog nie eens klaar vertel nie, Miegal.’
‘Nou, kry dan klaar.’
‘En toe is Breidie daar. Maar ek het somar gesien daar is iets aan die gang, ekke. Die vorige aand was ek weer met 'n briefie na Mister Mallérwie toe. Dit was toe Saterdag. En daardie einste Vrydag het die skole hollidei gekry. En daardie agtermiddag toe Breidie se kar stilhou, toe was die meisiekind weer by my in die stal waar ek voer sny. En ek kyk vir haar so. En toe sy 'n slag gekyk het of alles nou veilig is, toe kom sy na my toe. En toe vertel sy my dat ek daardie aand moet wegkruip agter die kareebos voor haar venster. En goed. Ek het gaan wegkruip. En toe dit mooi laat was - dit was nadat die oukêrel boeke gevat het -, toe kom daar groot bogtery. Ek sien haar by die venster, maar sy is somar netjies aangetrek. Sy het 'n hoed opgehad. En toe staan ek bietjie nader. Ek dog dis weer 'n briefie wat ek moes wegbring. Maar toe sien ek hier staan Mister Mallérwie langs my. En ek skrik my somar lam. En toe vat hy haar weg. Ek het haar goed gehelp dra...’
‘Wragtie, Wiekus?’
‘Virwat sal ek nou lieg, hè?’ En Wiekus gooi sy pruimpie weg. ‘Toe gaan ons agter die kraal en langs die bloegomlaning af. En daar staan Mister Mallérwie se kar. En hulle twee klim in, en daar gaan hulle....’
‘Waarheen?’
‘Hoe sal ek nou weet? Maar wag, laat ek klaar vertel. En toe ek daar omraai, toe loop ek my byna vas in daardie Breidie in. En hy hardloop. En ek dog: nou gaan hy bogtery maak. En ek pak hom. Somar om sy lyf pak ek hom. En hy slaan my met die vuis. Maar ek was klaar en ek pleister hom met die toe vuis onder die ken, en daar lê die ta. Toe het ek hom huis-toe gedra en die oukêrel gaan wakker maak. Toe moes jy daar gewees het. Dit grens en dit raas en dit vloek. En die oukêrel skop vir Breidie mooi netjies net waar ek hom sou geskop het as dit ek was.’
Wiekus lag hardop, en Miegal lag dat sy oë water.
‘Dis te lekker,’ sê Miegal so onder trane deur.
‘En toe is Breidie weg, en hy is nou nog weg.’
‘En daardie meisiekind?’
| |
| |
‘Mister Mallérwie het vir my gesê ek moet vir die oukêrel sê hy moet solank die plaas verkoop en wag vir hulle. Hulle sal weer kom. Dan gaan hulle 'n ander plan maak.’
‘Dan gaan ek saam. Hulle sal weer 'n plaas koop naby die skool. Ek weet mos. En ek gaan weer by hulle bly.’
‘Maar dan hoef jy mos nie hartseer te wees nie.’
‘Aag Miegal man, ek is maar net hartseer omdat hulle so lank wegbly. Die plaas is al verkoop. En die oukêrel sit net en wag vir hulle. En hy is ook nie meer kwaad... Miegal, wie se motor is dit daardie?’ Hy stamp aan Miegal se arm.
‘Dis 'n vreemde motor. Ek weet g'n wie s'n dit is nie. Dis 'n splinternuwe.’
‘Miegal, maar dis mos... dis wragtiewaar Mister Mallérwie en daardie meisekind. Daar klim sy uit. Ja, wragtie. Miegal, dis hulle. Dis hulle. Dis hulle!’
DIRK MOSTERT.
|
|