'n Brief oor Letterkundige Kritiek.
Rome, Mei, 1931.
Beste Reinhard, hardnekkige ou filosoof!
Nee, dit sal nie help dat jy met die logika van Aristoteles my kom bestorm en praat van sy ‘Universele’ in die poësie nie! As jy hier kon sit in die tuine van die Monte Pincio en sien hoe mooi die sonlig oor die Ewige Stad val en die skaduwees verleng van die Sabynse heuwels en straal tot op die verre kruin van Horatius se Soracte, sou jy ook nie lus hê nie! Jy sou jou oorgee aan die bekoring wat somarso in die atmosfeer hier ronddwaal. Maar ek kan nie jou uitdaging onbeantwoord laat verbygaan nie - dus, ‘de lendenen omgord...’
Om mee te begin, die sewentiende eeu het vir Aristoteles, soos vir Seneca, Euripides, Epikouros, en baie ander, heeltemal misverstaan. Die drie dramatiese Eenhede, soos destyds uitgelê, is nie in sy Poetica te vinde nie, en jy weet hoe sy idee van Mimesis, nabootsing, verdraai is. Waar hy sê dat Poësie die Universele soek, bedoel hy ook nie (soos jy skyn te dink) 'n koue abstraksie nie, maar dat die dele van die stuk 'n eenheid moet vorm - nie soos die dele van 'n motor 'n eenheid vorm nie, maar soos die lede van 'n perd. Eén, deurstromende, organiese lewe moet daar wees. Tussen die dele moet jy 'n noodsaaklike of 'n waarskynlike verband kan nagaan.
Maar let op: die verband is nie net logies nie; dit is ook nie noodsaaklik logies nie. (Ja, oubaas, logika kan selfs 'n vloek in die lewe word!) Dit is eerder psigologies en esteties. En hier het Aristoteles, met sy wetenskaplike brein, moontlik te veel die klem op die logiese element gelê. Die reaksie teen so'n sienswyse het ons al genoegsaam in die loop van die letterkundige kritiek gesien. Tog is daar nog steeds mense wat dieselfde fout maak. Jy onthou mos vir dr. Knop, die Hollander wat saam met ons aan boord was, en hoe hy daardie rigting verdedig het. Elke reël moes logies ontleed word, en as dit kortkom, is dit nie poësie nie. En as jy weet hoe hy hom vasgeloop het met daardie passasie waarvan ons die skrywer se naam agterweë gehou het.
Ja, 'n dorre logiese verband kan baie misleidend wees wanneer jy dit as enigste maatstaf gebruik. Jy weet van die kêrel wat die verse van Tennyson gelees het:
And every moment one is born,