gaan ons om skerp draaie, amper, en tog net nie vas in 'n ander gondel nie, terwyl die een gondelier die ander met eienaardige roep aanspreek. Tussen ou, heel ou huise van drie, vier, vyf verdiepings waarvan die fondamente met laag water groen en slymerig uitsteek en die onderste gedeeltes van die houtdeure in alle moontlike stadiums van verrotting skyn te wees. Groen, glibberige treedjies, houtpale wat hoog bokant die water uitsteek en topswaar lyk vanweë die wegvreting van die onderste deel. Mens voel jy kan party van hul met jou hande laat omknak. Maar wat bly staan, is hulle!
Al ligter en ligter word dit, gou sal ons die netwerk van nou gragte vergoed vaarwel sê en in die Groot Kanaal wees, aan die oewer waarvan die stasie lê. Die nou waterstraatjies van Venesië met hul ou, hoë huise weerskant is skilderagtig, romanties om te aanskou, maar ongelukkig kan dit nie slegs by aanskou bly nie, hul moet teen wil en dank ook geruik word. Alles in aanmerking geneem, is hul wonderlik skoon, want wat ook al in ou tye mag gebeur het, hedendaags mag niks uit die huise in hul gegooi word nie. Maar die eienaardige ruik van verrotting is darem orals te bespeur - ten minste deur die vreemdelinge wie se reukorgane nog nie die kans gehad het om daaraan gewend te raak nie.
Klein getraliede balkonnetjies is aan die buitekant van die vensters, en tussen die tralies loer blomme in potjies. Wasgoed hang in rye van venster tot venster, en selfs die mees verslete kledingstukke word nog sorgvuldig silwerskoon gewas. Aan party balkonnetjies hang ronde mandjies wat later in die dag aan lang toue afgelaat word in die gondels en dan, gevul met groente en vrugte, weer opgehys word. Hierdie prakties-gerieflike metode word ook in ander Italiaanse stede nagevolg, waar die strate soos ons strate lyk. Maar sulke soort strate is in Venesië nie volop nie. Dit bly maar kanale en nogmaals kanale.....
Ons is in die Groot Kanaal, en die motorbote wat in Venesië die plaas beklee van trems, busse en teksies en ewe gereeld loop as twee eersgenoemdes, skiet reeds verby en laat statige gondels op- en neerwip. ‘Een agter die ander, nooit twee langs mekaar nie,’ is die verkeersregulasie in Venesië, en die waterpolisie in klein motorbootjies hou alles en almal dop.
Stadig maar seker peil ons oor die tans silwergrou waters stasie-toe - vinnig, as mens reken dat twee passasiers met bagasie of vier sonder bagasie deur een gondelier met een lang roeispaan moet vervoer word. Hy staan agter in die boot en front na die rigting waarin hy gaan. Sy roeislae is kort en hy beur vorentoe - 'n hele kuns in die oë van diegene wat iets van roeikuns afweet. Daar is meer ou mans as jonges onder die gondeliers, of miskien is dit 'n werk wat hul vinnig laat verouder. Die dag tevore, op die Groot Kanaal, het ons 'n gondel gepasseer waarin 'n paar jongkêrels gesit het en hul het