'n Aantal oorspronklike skilderye deur Emily Hobhouse van afgebrande kerke, vernielde plase, konsentrasiekamp-kerkhowe, ens., is eweneens van besondere betekenis. Elkeen van hierdie skilderstukke openbaar 'n taamlike mate van kuns en is 'n sprekende weergawe van die toestande soos dit haar getref het. Agter op elkeen het sy eiehandig die geskiedenis daarvan geskryf.
'n Paar potloodtekeninge van laers, loopgrawe, burgers in die skanse, verskillende tipes van burgers, ens., deur Frans David Oerder (van wie daar onlangs 'n lewensbeskrywing in Die Nuwe Brandwag verskyn het) te velde gedoen, is van die kosbaarste skatte in die Oorlogsmuseum. Die wyse waarop hierdie tekeninge die perspektief van die laers, die burgers in rustende houding in die skanse en loopgrawe en die verskillende tipes van burgers weergee, is skitterend. Geen foto kan ooit die uitgebeelde karaktertrekke, die groot laer van genl. Piet Cronjé, die loopgrawe by Magersfontein, ens., so wesenlik weergee nie.
Verskeie ou ‘Bluebacks’ (£1-, £5- en £10-note van die Suid-Afrikaanse Republiek), 'n pondnoot gedruk op gewone skryfboekpapier (waarin die burgers glo nie te veel vertroue gehad het nie), en 'n goue pond te velde by Pelgrimsrust geslaan, niet 'n gekeperde rand en die woorde ‘een pond’ aan die een kant en die letters ‘Z.A.R.’ aan die ander, bied 'n baie realistiese lesing aan oor die papierbasis en terugkeer tot die goudstandaard.
Genl. Hertzog se velhoed wat hy te velde gedra het, genl. De Wet se saal, velbroek, twee sambokke en tondeldoos, 'n knipmes van genl. De la Rey, die hoedband en twee sakboekies van komdt. Scheepers en nog verskeie stukke van ander Boere-generaals, -kommandante en -offisiere is almal stukke wat sal dien om die herinnering aan hierdie oorlogshelde weer by ons op te roep. Die paar laarse wat dertig jaar saam met 'n gesneuwelde burger in sy graf aan die voet van die rantjies by Magersfontein gerus het, die horlosie wat in die onderbaadjiesak van 'n gesneuwelde burger te pletter geskiet is en die talle van ander voorwerpe van burgers sal dien om die nagedagtenis van die onverskrokke vegsmanne onder die nuwe geslagte te laat voortleef.
Dan is daar die koerantjies en tydskrifte, soos De Strever, 'n Christelike weekblad wat op Ceylon gedruk en uitgegee is ('n portret van die redaksie en drukkerspersoneel van die blad hang ook in die museum), en De Krijgsgevangene (The Captive), tweetalige nuusblaadjies wat onder dieselfde naam op Ceylon sowel as op St. Helena gedruk en uitgegee is. Die wyse waarop die blaadjies die tegnise moeilikhede oorwin het, getuig van die Afrikaner se vindingrykheid. De Strever is gedruk met 'n ou Eagle-handpersie wat die krygsgevangenes van die Singalese gekoop het. Verskeie baie interessante artikels kom in die blaadjies voor, en onder die advertensies vind ons b.v. dié van sulke bekende persone soos mnr. R.A.T. van der Merwe, tans L.V. vir