Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1932(1932)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 71] [p. 71] In die Karroo. 1. Droogte. Die hitte sprei sy wasem oor die grond En laat die rantjies sidder in die blou; Daar ver hang huise, in die lug gebou; Hier by my in die koelte hyg die hond. Soos kerse flikker-dans die bome rond Daar waar die vlakte verder nog ontvou; Die diep-gebarste aarde is in die rou: Swart wortels bind haar oopgevlekte wond. Die besie stuur uit die kareedoringbos Eentonig soet sy loflied na die son; Die seeroog-sprinkaan, in sy rooi gedos, Sit roerloos op die boonste melkbostak En staar die sonverblinde wêreld in Waar wit geraamtes uitbleik op die vlak. 2. Reen. Die hitte broei nog oor die dorre vlak; Maar in die verte kom 'n wolkie uit. Die noordewind begin meteens te fluit, En gaan weer lê. 'n Sware stilte sak Op alles neer terwyl die wolke pak Soos donker dromme: dof kom die geluid Van donderslae, en die weerlig spuit Sy vuurstraal uit die digte wolkedak. Die eerste druppels plof nou loodswaar neer Soos koeëls deur ongesiene hand gevuur; Die dowwe donderslag kraak keer op keer, En met 'n sissing wat die boer kan hoor, Daar waar hy angstig na die uitkoms tuur, Trek nou die reëngordyn die vlakte oor. [pagina *6] [p. *6] CORNELIS JACOB LANGENHOVEN. [pagina 72] [p. 72] 3. Na die reen. Ruik van gedrenkte grond in die Karroo! Uit die deurweekte aarde styg 'n geur So fris soos dié van blomme in hul fleur: Dit fluister van die gras wat gou hierbo Sy groen tapyt gaan sprei oor die Karroo. Geen dorre vlak stel nou die oog teleur, Want kyk, die wonderwerk het al gebeur - So gou dat selfs die boer dit skaars kan glo: Die boesmangras staan nou weer in die saad, En kwaggakweek rank welig langs die vlei; Die gannabos moes lank tevrede bly Met vaal, maar dra nou pronkerig sy groen. Rumoerig roep die vlakpatrys sy maat, Want silwer blink die boesmangras se saad. I.D. DU PLESSIS. Vorige Volgende