Maar terwyl jy my 'n paar van my herinneringe vra, gaan ek jou 'n eienaardige ondervinding vertel wat ek hier 'n tiental jare gelede beleef het.
Ek het soos nou in die huis van ou Mevrou Lafon gewoon, en een van my beste vriende, Louis Bernet, wat nou die roeisport met sy ydele genoegens en sy vrye lewe vaarwel gesê het om lid te word van die Raad van Staat, het hom in die dorpie C... gevestig, twee myl laer af. Ons het daagliks die aandete saam gebruik, partykeer by hom, partykeer by by.
Een aand kom ek heeltemal alleen en taamlik vermoeid terug en beweeg my groot boot, 'n ‘océan’ van twaalf voet wat ek altyd snags gebruik het, met moeite voort. Naby die klompie riete daar anderkant, omtrent tweehonderd meter voor die spoorwegbrug, hou ek toe 'n oomblikkie stil om asem te skep. Die weer was skitterend; die maan skyn helder, die rivier blink, die lug was stil en sag. Dié rus was vir my te verleidelik. Ek dink by myself dat 'n pyp in daardie omgewing heerlik sou smaak. Die daad volg die gedagte; ek gryp my anker en gooi dit in die rivier.
Die boot gaan saam met die stroom sover as die ketting dit toelaat en lê toe stil. Ek gaan agterin sit op my skaapvel so gemaklik as ek kan. 'n Mens hoor niks nie, niks: net so nou en dan verbeel ek my dat ek 'n ligte, amper onmerkbare kabbeling van die water teen die wal hoor, en ek merk klompies hoër riete op wat verbasingwekkende gestaltes aanneem en kort rukkies skyn te beweeg.
Die rivier is volmaak rustig, maar ek voel my aangegrepe deur die buitengewone stilte wat my omring. Al die diere, die paddas, daardie nagtelike sangers van die vleie, swyg. Skielik kwaak aan my regterkant, by my, 'n padda. Ek gril - die dier swyg; verder hoor ek niks nie, en ek besluit om 'n bietjie te bly rook vir afleiding. En tog, hoewel ek bekend gestaan het as 'n strawwe pyproker, ek kon nie. Na die tweede trek word ek naar, en ek hou op. Ek begin neurie; die klank van my stem klink vir my aaklig. Ek gaan lê nou op die boom van die boot en kyk na die lug. 'n Rukkie bly ek rustig, maar gou-gou laat die ligte beweginge van die boot my onrustig voel. Dit voel vir my of die boot so geweldig swaai dat dit beurtelings die twee oewers van die rivier raak. Toe is dit vir my of 'n wese of 'n onsigbare mag die boot stadig na die bodem van die water trek en dit dan weer oplig, om dit weer te laat val. Ek word heen en weer geslinger soos in 'n storm; ek hoor geluide om my heen; met 'n sprong is ek op my bene: die water skitter. Alles is rustig.
Ek begryp toe dat my senuwees 'n bietjie van streek is, en ek besluit om weg te gaan. Ek trek aan die ketting; die boot begin beweeg, toe voel ek weerstand, ek trek sterker, die anker kom nie: dit het vasgehaak aan iets onder in die water, en ek kan dit nie optrek nie. Ek begin weer trek, maar