kleure in alle besonderhede vasgehou. Ook enkele van sy vroeëre landskappe is in hierdie gees geskilder (vergelyk toneel in Duitsland). Aan die ander kant streef Kling in sy Afrikaanse landskappe al lank nie meer daarna om 'n vlugtige indruk vas te hou nie. Hulle is poginge om 'n sterk weergawe te gee van die essensiële van die landskap in lyn en kleur. Alle bykomstige, toevallige elemente is weggelaat, en die tipiese landskap is met sekere hand uitgewerk.
Vanaf sy koms in Suid-Afrika het Kling hom veral in die laeveldse landskap verdiep. Sy eerste twee reise was na die Lydenburgse. Trikop, Olifantsrivier, die Mafefe-lokasie aan die Gemenerivier, Buffelsvlei, Olifantshoek, Marone, dit is 'n aantal plekke waar hy geskilder het. 'n Mens merk in sy skilderye veral die diepte van die landskap op wat so tipies is van Suid-Afrika. (Vergelyk toneel in Noord-Transvaal I). Tipies is ook sy doringbome en sy aloëes. (Vergelyk toneel in Noord-Transvaal II), veral die vuurkrag van die kleur van die aloëe-blom.
Daar is kunstenaars wat meer expressionisties in die vorm, ander wat egter meer expressionisties in die kleur is. Kling is seker in die eerste plek 'n expressionis van die kleur. Onvergelyklik is die roesbruin van sy berge, die vaal-geel van sy vlakte, die ligte wynrooi van sy akkers. Op bewonderenswaardige wyse slaag hy daarin om die kleurnuanse van verskillende bome en bosse te tref, en hy tower tere ligweerkaatsinge op die hange van die berge. (Vergelyk toneel in Noord-Transvaal II).
Daarby val nog 'n ander verskynsel op. Ek het al daarop gewys dat impressionistiese en expressionistiese neiginge naas mekaar voorkom in Kling se werk. So kom twee ander trekke, wat egter meer temperamentele verskynsele is, naas mekaar voor. Daar is 'n opgeruimde en 'n sombere Kling. Die meeste van sy Afrikaanse skilderye skyn 'n somber stemming te vertolk. Daar lê oor sy landskappe 'n swaarmoedigheid wat slegs hier en daar effens opgevrolik word deur die blyheid van 'n pragtige aloëe, van 'n bonte akker, van die wonder-rooi van 'n stuk grond, van 'n kaktus-blom of deur die figure van 'n paar Kaffers of hoenders wat met 'n sterke sin vir humor geteken is. Slegs in 'n paar werke is swaarmoedigheid en lewensblyheid in ewewig (vergelyk toneel in Noord-Transvaal III). Sy skilderye kan egter ook van 'n opbruisende lewensvreugde wees. Dit toon sy Duitse lentelandskap (vergelyk toneel in Duitsland) waar hy onwillekeurig gebruik gemaak het van Segantini se mosaïek-tegniek om die ongebroke ligkrag van ongemengde kleure te bereik. Ook is die meeste van sy blommestillewens uiting van sy lewensvreugde.
Kling is op die oomblik weer op 'n reis na die Laeveld. Mag hy ons binnekort met 'n mooi tentoonstelling verras.
P. SKAWRAN.