Cornelis Jacob Langenhoven.
12 Augustus 1873-15 Julie 1932.
Jou gees leef, tot in verre dae
'n Spoorslag vir die nageslag.
Langenhoven is heengegaan. Hy het ‘daardie laaste skuld betaal’, Suid-Afrika se geliefde volkskrywer, die idealis met sy nobele besef van sy roeping teenoor die minder bevoorregtes van sy volk wat verstoke was van geestelike voedsel, die didaktikus met sy pittige spreuke vol gekristalliseerde volkswysheid, sy sprankelende vernuf en geestigheid, sy groot liefde vir die eie taal wat hy so deurvoel en so suiwer gebruik het, en vir die volkskarakter wat hy so goed geken het, sy jaloerse bestryding van alle vreemde invloede wat die suiwerheid daarvan kan aantas, sy geniale satire op onvrugbare geleerdheid en pedanterie, die lirikus met sy teer-romantiese weemoedsmymeringe, sy momente waarin liefde of verontwaardiging hom tot 'n groot prosakunstenaar gemaak het - en agter al die individualistiese grillighede, die gemoedelike spot en skerp satire, agter die besielde erns, staan Langenhoven die humoris, met sy besef van die betreklike van al die dinge, die menslike van al ons swakhede en gebreke, wat sy vergewende glimlag daaroor laat gaan.
Ons voel weemoedig, maar ons treur nie, want ons gedenk dankbaar aan die erfenis wat hy ons nalaat in sy kuns en in 'n Jong-Suid-Afrika tot wie se bewuswoording en opvoeding hy soveel bygedra het.