Frederik van Eeden,
3 Mei 1860-16 Junie 1932.
Uitgeblus is hierdie lewe so ryk en so vrugbaar, na die felle brand van twee-en-sewentig jare.
Frederik van Eeden het heengegaan:
Daar waar het gaan der dagen niet meer bemerkt wordt, waar de eeuwen rondom staan als kaarsevlammen om 't altaar.
Hy was 'n groot idealis wat sy hele lewe rusteloos gesoek het na waarheid en reg, na die Lig. Sy diep-menslike ontroering by hierdie soeke het hy verwoord in skone kuns. Kuns was vir hom meer as die uitlewing van individualistiese skoonheidsdrang, dit het vir hom 'n hoë maatskaplike roeping gehad, dit moes vir hom gebore wees uit, gedra word deur die soeke na religieuse, etiese, sosiale waardes. Van Eeden se kuns word gedra deur hierdie idealisme.
As idealis en as kunstenaar het hy 'n veel-omstrede figuur geword. Eers die nageslagte sal, as die hartstogte bedaar het, kan skeiding maak tussen die verganklike en die ewige in sy kuns.
Van Eeden het ver buite die grense van sy klein land invloed uitgeoefen. Ook ons bedryf rou oor die dood van die kunstenaar van die stamverwante volk, wat ons soveel skoonheid gebring het. Ons gedenk met weemoedige piëteit aan die ridderlike voorvegter van die reg van die twee klein Republieke in die stryd teen die magtige vreemde oorheerser.