Die Voortrekkers-Gedenkteken vir 1938.
'n Volk put sy inspirasie uit sy verlede. Daar is etlike maniere waardeur die kennis van die verlede aan 'n volk meegedeel kan word. Die hoofbronne waardeur ons die verlede te wete kan kom, is deur vertellinge, deur boekekennis en monumente. Vertellinge is dikwels onbetroubaar, boeke is vir 'n groot deel van die volk onbereikbaar. Dog 'n monument spreek tot die siel van elke landseun en dogter. Dit vertel aan die besoeker uit die vreemde dat hy voor die heiligdom van 'n ander volk staan. Hy voel dat hy hier te doen het met 'n volk wat 'n verlede en 'n ideaal vir die toekoms het, want monumente spreek van lyding, van heldemoed, van opoffering, van verguising, van idealisme en vertroue in die toekoms.
'n Land sonder monumente is soos 'n huis sonder die portrette van die voorgeslag. Die band met die verlede is gebreek. Die toekoms word sonder enige inspirasie tegemoet gegaan. Daar is niks om trots op te wees nie, en eerlang begin 'n minderwaardigheidsgevoel ontwikkel wat lei tot aanbidding en verheerliking van die grootheid van die vreemde, want die mensesiel soek altyd iets om te verheerlik.
Die aanskoning en relikwieë uit 'n lydenstyd, die aanhoor van die vaderlandse Volkslied, die luister na die wapperklank van die volksvlag laat die bloed vinniger pols en bring 'n heerlike, onbeskryflike gevoel wat die siel verwarm, trots en ywerig maak.
'n Volk moet sy geskiedenis in beeld vaslê, in onverganklike rots en brons wat die eene sal trotseer. Dis ondenkbaar dat so'n aanskoulike voorstelling van die verlede die jeug nie sal inspireer tot dade van offervaardigheid, en nie innerlike grootheid sal aankweek nie. Dis ons plig en ons voorreg om vir die minderbevoorregtes die geskiedenis van die verlede te verduidelik in woorde wat net vir een uitleg vatbaar is. Dis die dank wat ons die voorgeslag vir hul onkreukbare trou bring.
Die Afrikaanse nasie het twee beroemde tydperke in hulle volksbestaan t.w. die Voortrek en die Vryheidsoorloë. Die jongste tydperk sal ons aan 'n latere nageslag oorlaat wat daardie volksopofferinge en die indiwiduele kordaatstukke van helde en martelare in 'n volksgedenkteken kan verewig.
Op ons rus tans die plig om die eerste tydperk in klip en brons te verewig. Byna 100 jaar het verloop, en gevoelens van vooroordeel het in dié tydsruimte weggedein, sodat slegs groot dade en persone soos onwankelbare rotse uitsteek. Dis uit hulle wat ons ons inspirasie vir die onbekende weë van die toekoms wil gaan put. Dog soos dit met al die volkere gaan, is daar slegs 'n deel van die volk wat die bakens raak kan sien, en om te voorkom dat die origes sonder aanstuurplek sal lewe, of die verkeerde weë sal opgaan, moet ons nou die monument bou wat die hele Voortrek sal omvat.
Die Voortrek was 'n unieke daad, die Geus- en Hugenoot-voorvadere waardig. By die vryheidsdrang, wat die dryfveer van die Trekkers was, het wreedaardige moorde en roemryke veldtogte gekom, en sodoende luister en grootheid by die daad gevoeg. Hoeveel kleiner en onbeduidender sou die Groot Trek nie gewees het nie sonder taferele soos dié van Bloukrans, Bloedrivier, Vegkop, en soos manne soos Retief, Maritz, Celliers, Dirkie Uys, e.a.