| |
| |
| |
Proewe uit die Bantoe-Folklore.
In 'n vorige reeks artikels (Iets omtrent die volksoorlewerings van die Suid-Afrikaanse Bantoe, ‘Die Nuwe Brandwag’, I: 1, 2, 4; II: 2, 3, 4) is 'n poging gemaak om die verskillende kategorieë van die Bantoe-folklore aan te gee, en om elke kategorie van toeligtende staaltjies te vergesel. By gebrek aan plaasruimte moes daardie staaltjies klein van getal en omvang wees, en kon dus maar 'n oombliklike, verbygaande en taamlik vage idee gee van inhoud en vorm van die behandelde materiaal. Sedert die verskyning van die reeks is deur verskeie belangstellendes die wens geopper om meer en langer voorbeelde van die Bantoe-folklore in Afrikaans te sien, en die reeks wat deur die volgende artikel ingelei word, probeer om ten minste gedeeltelik aan daardie wens te voldoen.
Die Afrikaanse vertalings van Bantoe-tekste wat hier volg, is almal deur die bewerker regstreeks uit die originele taal van die oorspronklike gemaak, ook in die paar gevalle waar reeds vertalings in ander tale voorhande was. Die oorspronklike Bantoe-idioom is, sover as moontlik, behou om die kleur van die origineel weer te gee, ook waar dit somtyds 'n minder-idiomaties klinkende Afrikaanse weergawe beteken het.
ENIGE SPROKIES VAN DIE TRANSVAALSE BASOTHO.
| |
(a) Originele (SeSotho) in Padisho III (Berlynse Sending).
1. Hoekom die Bobbejane ‘Goga’ skree.
TOE die bobbejane vind dat hulle deur die leeus geplaag word, het hulle bymekaar gekom en 'n plan gemaak. Hulle kom ooreen en draai 'n lang draad en rol dit op in die vorm van 'n krans. Toe kom hulle en begin 'n stryery met die leeus en sê: ‘Hierdie draad van ons, as julle daaraan trek, sal nie op 'n end kom nie.’ Die leeus het die saak smalend opgeneem, en het begin om aan die draad te trek. Toe hulle 'n entjie met die draad weggetrek het, het die leeus met groot stem gesê: ‘Hy's klaar.’ Die Bobbejane hier op die koppie sê: ‘Gôga!’ (d.w.s. trek.) Die leeus trek weg met die draad, en gaan ver vorentoe staan en sê: ‘Hy's klaar.’ Die bobbejane duskant skree: ‘Gôga!’ (trek.) Hoewel die draad al lank op 'n end was, het die bobbejane, as hulle die leeus van ver af hoor sê: ‘Hy's klaar’, altyd maar weer teruggeskree: ‘Gôga!’ Die leeus het heeltemal ondertoe verdwyn, daar by Phalaborwa, met hulle: ‘Hy's klaar’, die bobbejane het maar altyddeur bly skree: ‘Gôga! Gôga! Gôga!’ En vandag sê hulle nog so.
| |
| |
(‘gôga’, uitgespreek min of meer soos ‘gogga’ in Afrikaans, maar met lang i.p.v. kort ô, beteken ‘trek’, en boots tegelykertyd die geskree van die bobbejane na. Die woord wat ons hier as ‘krans’ vertaal het, lui ‘kgare’, en beteken 'n rol draad of doek, in die vorm van 'n ring, wat vrouens op hulle hoofde sit om laste op te dra. ‘Phalaborwa’ is die landstreek rondom Leydsdorp, en staan by die BaSotho bekend vir sy rykdom aan leeus.)
| |
2. Haas meet hom met leeu.
Leeu het met Haas gepraat en gesê: ‘Kyk, as jy die kêrel gewaar wat mense die eland noem, kom dan en laat vir my stilletjies weet.’ Haas kom toe vir Eland opsoek en sê: ‘Kyk, meneer, ek laat vir jou stilletjies weet: Leeu soek vir jou!’ Eland sê: ‘Ek verstaan.’
Eland sê toe vir Rooibok: ‘Kyk, as jy vir die ou man sien wat sê hy soek vir my, sê dan vir hom hy sal my nooit vang nie.’ Rooibok kom en sê dit vir Leeu. Leeu sê: ‘Dan is hy deur Haas ingelig; dis hy wat ek daarop uitgestuur het.’ Van toe af het Leeu rondgeloop met die idee om Haas te kry en vir hom dood te maak.
Toe gebeur dit op 'n seker dag dat Leeu vir Haas aan slaap vind. Hy staan op die punt om hom in sy slaap te oorval, toe skiet Haas tussen Leeu se pote deur, kom van agter uit, en vlug en keer hom sy rug toe.
Nou gebeur dit op 'n seker dag dat Leeu vir Haas sien verskyn, wat nie geweet het dat Leeu daar was nie. Hy kon nie vlug nie - dus kom hy maar nader. Leeu sê: ‘Waar kom jy vandaan, jou beetnemer van 'n kêrel?’ Haas sê: ‘Ag nee, Heer; ek het gehoor hulle sê U bou 'n huis, en ek was van plan om vir U, Heer, te kom help die huis bou.’ Toe sê Leeu: ‘Nou ja, dis goed. Klim op die huis, dat ons die strooidak maak.’ Haas sê: ‘Nee, Heer, klim U op! U is mos die grootste: ek sal binne in die huis wees: ek is mos die kleinste.’ Leeu sê: ‘Jy's reg.’ En hy klim op n sit daar bo op die huis.
Toe hulle nou met die strooidak besig is, hang Leeu se stert af in die huis. Haas vat toe 'n breë riem en bind Leeu se stert daarmee vas. Leeu sê: ‘Kêrel, wat werskaf jy aan my? Ek kry maar aanhoudend seer.’ Haas sê: ‘Nee, Koning, ek haal maar net die luise van U af.’ Maar toe Haas sien dat hy vir Leeu vasgebind het en die knoop goed aangetrek het, sê hy: ‘Heer, mag ek van die vleis eet wat daar is?’ Leeu sê: ‘Jy mag - maar eet die maer vleis! Moenie van die vet vleis eet nie.’ Toe eet Haas dan. En Leeu kyk na hom en sê: ‘Wat eet jy van die vet vleis?’ Haas sê: ‘Ja, ek doen dit.’ Leeu spring heftig op, gly uit en val, en bly hang aan sy stert. Toe maak Haas vir hom dood, stroop hom sy vel af en gebruik dit as kombers.
| |
| |
| |
3. Die leeuvel.
Toe gaan Haas weg met die leeuvel om. Hy kom en vind die bobbejane by hulle stat - hulle het net bier gekook. Toe hy verskyn, skrik die bobbejane en sê bewend: ‘Dis Leeu. Hy het hier gekom om een van ons dood te maak.’ Hulle groet die Koning, kry bier en gee dit vir hom, en hy drink. Toe sê hulle: ‘Heer, hierdie bier is bestem vir die mense wat ons kom help werk in ons lande.’ Haas sê: ‘Gaan julle nou saam weg om te ploeg; as julle terugkom, sal ek nog hier wees.’
Toe die bobbejane hulle op die pad kom, sê 'n jong bobbejaanwyfie: ‘Ek het die saad vergeet.’ 'n Seker mannetjie sê toe: ‘Bly maar; ek sal die saad gaan haal.’ Toe daardie mannetjie die ingang van die voorhof binnegaan, met die plan om na die hutjie te gaan waar die saad bewaar word, vind hy vir Haas, wat die leeuvel uitgetrek het en dit in die son uitgesprei het. En die mannetjie-bobbejaan is hoogs verwonder, en draai gou om en kom vertel vir die mansmense van sy stat, en sê: ‘Daardie ding is Haas: dis nie Leeu nie. Ek het hom ontdek met die vel uitgetrek, besig om die luise daarvan af te haal.’ En die mansmense trek vinnig daar weg, en sê: ‘Kom, ons gaan vir hom doodmaak.’ Toe Haas hulle swaar stappe hoor aankom, klim hy op die heining, spring weg by die agterhof en is skoonveld. Die leeuvel laat hy lê. Die bobbejane sit hom op die hiele; toe kom hy by 'n boom met 'n groot holte daarin, en hy gaan daarbinne. Hy kom weer uit en sien dat hulle hom nog soek; toe vlug hy weer weg en gaan in 'n pan in, waar hy hom eers in die modder ronddraai en toe gaan sit. Die bobbejane vind hom toe hy daar sit, en sê: ‘Jy wat uit die modder kom, het jy nie 'n hasie gesien wat hier verbygekom het nie?’ Haas sê: ‘Hy is nou net-net hier verby, julle kon amper nog sy stof gesien het.’ Die bobbejane is weg; maar hulle keer terug huis-toe: hulle was uitoorlê.
Maar die koning van die bobbejaanvolk het daardie leeuvel gevat en dit aangetrek, en op jag uitgegaan. Hy kom toe by Tier wat vir Koedoe doodgemaak het. Toe brul hy met groot brulle, wat net klink soos dié van Leeu, en Tier vlug en laat vir Koedoe agterbly. Bobbejaan gaan toe en roep die mans van sy stat, en hulle kom en dra die vleis van Koedoe weg.
Op 'n ander dag het Tier vir Klipbok doodgemaak, en daardie bobbejaan-mannetjie verskyn weer met sy leeuvel aan: hy brul met die groot gebrul wat net so was soos dié van Leeu; Tier vlug weer en laat vir Klipbok agter, en die bobbejaan-mannetjie neem vir Klipbok op sy rug en is weg daarmee huis-toe.
Op 'n seker dag sien Tier 'n paar jong bobbejaantjies speel, en vat een van die bobbejaantjies en sê: ‘Waar woon tog daardie leeu van julle wat my so pla? As jy my sê, dan sal ek jou nie doodmaak nie.’ Die bobbejaantjie sê: ‘Heer, nie 'n leeu nie: dit is ons koning met 'n leeuvel aan. Tog, Heer,
| |
| |
wanneer ek U dit nou vertel het, moenie vir my gedaan maak deur hierdie dinge aan my mense te vertel nie; die koning sal seker vir my doodmaak.’ Tier sê: ‘Loop, ek verstaan goed.’
Toe het die koning van die bobbejane uitgegaan op jag. Tier sien vir hom en sê: ‘Daar's die kêrel!’ en loer op hom. Toe hy al onwetend verbygaan, vertrouende op sy vel met die mane, toe vat Tier vir hom aan en druk hom af na die grond. Die bobbejaan bid om genade, en sê: ‘Koning, hou op: ek sal U die hele saak vertel.’ Tier sê: ‘Waarmee gaan jy jou gebed om genade ondersteun?’ Die bobbejaan sê: ‘Heer, laat ons gaan, ek sal vir U die pad wys, ek sal vir U toon waarmee ek my gebed ondersteun.’ Toe gaan hulle weg vandaar, na 'n plek waar daar moshwana-doringbome was.
Daar sê Bobbejaan: ‘Gaan in hier in die gat, en sit stil: ek gaan in hierdie moshwana-boom klim.’ Tier sê: ‘Trek uit daardie vel, jy sal nie met hom aan opklim nie.’ Bobbejaan trek hom uit, Tier vat hom en vou hom op en sit hom onder die moshwana-boom. Toe sê Bobbejaan, terwyl hy in die moshwana-boom klim: ‘Ek sal die moshwana-vrugte afskud, en as die rooibokke kom, vat dan een daarvan.’ Toe skud hy. Die rooibokke kom om die moshwana-vrugte te eet; toe neem Tier één sprong en vat een van hulle en maak hom dood. Toe klim Bobbejaan af en sê: ‘Dit is my paaigeskenk, Heer!’ Tier sê: ‘Nee wragtie, jy het gepaai!’
Bobbejaan sê toe: ‘Hoe lyk dit, Heer, sal U my tog nie die leeuvel gee nie? Ek maak my lewe daarmee; ek maak die mense bang; as ek aankom, dink hulle dis Leeu.’ En Tier sê: ‘Vat maar; ek doen tog niks daarmee nie; ek maak my lewe deur my eie lyf: ek lewe nie deur 'n ander se vel nie.’ En Bobbejaan bedank hom en gaan weg met die leeuvel.
(‘Paaigeskenk’: die woord wat so vertaal is, lui in die origineel ‘seloba’ - d.w.s. eerbewys aan 'n kaptein. So'n eerbewys bestaan uit een of ander geskenk, wat kan ten doel hê om die kaptein eer te bewys en niks meer nie, maar ook om hom te vlei, om van hom 'n guns te verkry, om hom in 'n goeie luim te kry, desnoods om hom om te koop. Die bobbejaan ‘ondersteun sy gebed’ met hierdie geskenk.)
| |
(b) Originele (SeSotho) in Puku ya boraro (Christian Literature Depot).
1. Haas en skilpad.
Op 'n seker oggend ontmoet Haas weer vir Skilpad. Haas het met 'n swart hart rondgeloop omdat hy deur Skilpad uitoorlê was. Nou kom hy te voorskyn met 'n plan wat hy uitgedink het.
Toe hy vir Skilpad sien, sê hy: ‘Laat ons 'n gat grawe en vuur daarin maak. Een van ons sal ingaan sodat ons kan sien wie van ons sal verbrand.’ Hulle grawe toe 'n gat; en toe dit klaar was, sê Haas vir Skilpad: ‘Gaan jy
| |
| |
eerste in!’ Skilpad het tjoepstil gebly, omdat hy 'n uitweg gesoek het; toe sê hy: ‘Dis goed.’ En hy gaan in; en Haas gaan weg om hout te soek om vuur mee te maak. Toe hy weg was, graaf Skilpad 'n klein gaatjie uit aan die sykant van die groot gat - een waar hy by kon uitkom. Toe Haas met die brandhout terugkom, was die klein gaatjie al klaar.
Toe sit Haas die brandhout in die gat en maak vuur, en gaan op 'n afstand staan en kyk hoe die rook met die knetter van die vuur opstyg. Toe hy die vuurvlamme sien, gaan hy weg huis-toe, vol blydskap. Skilpad, egter, toe die vuur aangemaak word, het ingegaan in die klein gaatjie wat hy gegrawe het, en het toe uitgekom en weggevlug huis-toe en homself daar weggesteek. Die volgende dag keer hy terug na die gaatjie en bedek homself heeltemaal met as. Net toe hy klaar is met homself so te bedek, kom Haas, krap die as om en gooi dit uit. Toe hy onderkant kom, vind hy vir Skilpad plat op die bodem. Hy roep uit en sê: ‘Skilpad, ek eet jou op!’ Maar Skilpad sê: ‘Jy sal nie eers so ver kom om dit te probeer nie!’ Haas was sterk verwonderd toe hy sien dat Skilpad nog lewe, en verbrand? - verbrand was hy niks nie!
Skilpad kom uit die gat uit en sê vir Haas: ‘Nou gaan jy in - maar ons moet 'n ander gat grawe.’ Hulle grawe 'n nuwe gat; en toe dit klaar was, gaan Haas in. Skilpad gaan weg om brandhout te soek, en Haas bly agter en probeer 'n plan maak - maar hy kon nie. Toe Skilpad belas terugkom, maak hy die gat vol hout, steek die vuur aan en gaan weg. Die volgende oggend kom hy weer, gaan by die gat staan en roep: ‘Haas, ek gaan vir jou opeet!’ Doodstil.... ‘Haas, ek gaan vir jou opeet!’ Doodstil....
Toe gaan hy in, krap die as om, en vind vir Haas dood en klaar gebraai. Hy het hom heeltemal opge-eet. Hy kom uit die gat uit en loop en loop, en vind toe 'n miershoop, waar hy opklim. Toe haal hy sy horing uit en begin sy liedjie te speel, wat sê:
| |
2. Skilpad en spinnekop.
Terwyl Skilpad nog besig is om op sy horinkie te blaas, val die reent. Toe Blits Skilpad se horing hoor, kom hy af en sê vir Skilpad: ‘Jy bespeel jou horing nie goed nie. Bring hier, dan sal ek vir jou laat hoor!’ Skilpad gee toe vir hom al sy horings; en terwyl hy na hom luister hoe hy speel, sê Blits: ‘Waar sal jy my sien met die horings van Skilpad hulle?’ En hy is weg met hulle, bo in die wolke.
| |
| |
Skilpad bly verwonderd agter en sê: ‘Wat sal ek maak?’ Hy klim af van die miershoop waar hy opgeklim het, en gaan weg. Op sy pad tref hy vir Spinnekop, en sy sê vir hom: ‘Wel, hoe is dit met jou, Skilpad?’ Skilpad antwoord en sê: ‘Blits het met my horings weggeloop.’ Toe vra Skilpad vir Spinnekop om hom te help met 'n spinnerak vir hom te maak, sodat hy daarmee op kon klim wolke-toe. Skilpad en Spinnekop wewe toe 'n spinnerak. Spinnekop vlieg daarmee die hoogte in en kom in die wolke, daar ver in die ruimte. Skilpad klim op met die spinnerak en ook hy kom in die wolke, en vind vir Spinnekop en vir Blits saamsit in die voorhof.
Blits sê vir Skilpad: ‘Môre, vriend! Gaan sit en rus uit!’ Toe gaan Blits rond in sy stat om iets te soek om te eet. Hy bring 'n bees uit en slag dit vir hulle. Hy gee vir hulle lekker kos om te eet en drank om te drink. Toe Skilpad nou geëet en gedrink het, oorval hom groot vaak, en hy gaan slaap. Spinnekop word moeg van wag op Skilpad, gaan weer af met die spinnerak, gaan weg en skeur die rak deur. Toe Skilpad wakker word en merk dat Spinnekop weg is, sê hy: ‘Waar is Spinnekop?’ En Blits sê: ‘Sy is weg.’ Toe Skilpad ondertoe kyk, sien hy dat die spinnerak nie meer daar is nie, en sê: ‘Wat sal ek doen?’ Maar omdat hy 'n listige kêrel was, het hy 'n lis uitgedink. Toe daarna roep hy vir Blits. Blits kom, en Skilpad sê: ‘Gee my 'n droë vel.’ Blits bring toe 'n droë vel uit. Toe sê Skilpad: ‘Maak my daarin vas en rol my dan af onder toe; wanneer jy sien dat ek op die punt staan om te val, roep dan met 'n groot stem en sê: “Spinnekop, vang hierdie vleis met jou hande!”’ Spinnekop sê: ‘Dis vleis kom!’ en begin haar twee hande bymekaar te sit, en die bondel val in haar hande in. Toe sy dit oopmaak, vind sy vir Skilpad. Skilpad het niks gepraat nie, sy staan op en is weg. Spinnekop is ook weg, baie kwaad.
| |
3. Die koning van die voels.
Die voëls van die hele wêreld het eenslag 'n groot volksvergadering bymekaar geroep. Die vergadering het as doel gehad om 'n koning te kies. Toe kom hulle ooreen dat diegene wat 'n seker hoë wolk deurboor, koning sal wees.
Toe hulle begin vlieg, kruip die klein tang-tang-voëltjie onder Adelaar se vlerk. Adelaar is 'n dier wat baie hoog vlieg. Toe hy nou amper op die punt staan om die wolk te deurboor, kom Tang-tang uit sy vlerk uit en deurboor die wolk voor hom. Toe die voëls weer onder op die grond kom en vra deur watter voël die wolk deurboor is, verneem hulle dis Tang-tang. Tang-tang is 'n klein voëltjie, baie kleiner as die ander. Toe hulle hoor dat Tang-tang koning sal wees, was hulle ontevrede, en hulle ontevredenheid was
| |
| |
gebaseer op die feit dat Tang-tang nie koning behoort te wees nie om sy kleinheid. Toe het al die voëls vir Tang-tang weggeja, en hy het in Muis se gat gekruip.
Toe sê hulle: ‘Wie is hy wat groot oë het?’ Die antwoord was: ‘Uil.’ Die order het toe uitgegaan dat Uil agter moes bly en die gat oppas. Hulle gaan toe weg om delfstokke te kap. Uil bly agter en slaap. Toe hulle terugkom, vind hulle Tang-tang is skoonveld. Hulle gooi die skuld op Uil. En toe hy sien dat hulle hom wil doodmaak, vlug hy weg in die holte van 'n boom. Toe die voëls nou sien dat Uil ontvlug het, besluit hulle dat, as hulle hom sien vlieg, hy doodgemaak sal word. Van daardie dag af vlieg Uil nie meer in die dag rond nie.
G.P. LESTRADE.
|
|