| |
| |
| |
'n Vrou en 'n Glasie Wyn.
EK het hom op die trein ontmoet. En ek het dadelik ‘Oom’ vir hom gesê; - hy het so gelyk asof dit alleen die regte ding is. Alhoewel ek my in die ouer dele van die Kolonie al meermale vasgeloop het met manne wat dié goeie, ou beleefde aanspreekvorm nie meer reg waardeer nie. Maar hy het daarvan gehou (of miskien het hy van my gehou), want na 'n kort rukkie het hy my in die rede geval: ‘Sê dan maar gerus: Oom Hannes.’ Hyself het my daarna pal ‘Meester’ genoem - terwyl ek in my hele lewe net eenmaal drie maande lank skoolmeester was (vir Latyn), net nadat ek by die eerste poging vir die B.A. in Latyn gesak het.
In dié dae moes ek op regeringswerk nogal taamlik rondreis, en meestal was die kondukteurs baie gaaf en het my alleen laat ry, want ek het dikwels op die trein aan my verslae en korrespondensie getik. Daardie môre was ek bly om weer alleen te wees; want ofskoon ek dié dag nie eintlik wou werk nie, was die uiteindelike mikpunt van die reis van so 'n aard dat ek liewer ongestoord met my eie gedagtes wou wees.
Maar toe ek, net eer die trein sou vertrek, in die deur staan en uitkyk, klim Oom Hannes baie haastig op, en vra sy kruier of hy weet waar die kondukteur is: ‘Want ek het nie kans gehad om my plek te bespreek nie.’ Daar het so'n gevoel van opgeruimdheid en waardigheid van die oubaas uitgestroom dat ek sonder 'n tweede gedagte sê: ‘As Oom 'n plek soek, kom ry saam met my, want ek is alleen.’
Dit is met treingeselskap 'n eienaardige ding. Terwyl ek dikwels, miskien die meeste kere, met my medereisigers die hele dag lank nie 'n regte gesprek aanknoop nie, kry jy af en toe 'n reisgenoot met wie jy binne 'n uur so gesellig en vertroulik praat soos maar heel selde in die daaglikse lewe selfs met die mense van jou eie lewenskring. Miskien kan daardeur so 'n merkwaardige hartlikheid en vrymoedigheid tussen julle ontstaan omdat daar geen bygedagtes is nie, geen vrees om misverstaan te word of dat julle woorde verkeerd oorvertel sal word nie.
Ek mag wel sê dat ek goed kan luister - bygesê, as dit nie kletspraatjies is nie. En Oom Hannes het weer daarvan gehou om te gesels en om sy mening uit te spreek. Hy het (wat bietjie 'n Boere-karaktertrek is) die neiging gehad om met so 'n rapsie prekerigheid betreklik persoonlike oortuigings as algemene beginsels te verkondig. Maar daar het by die oubaas
| |
| |
iets daaragter gesit:: rype lewenswysheid, skrandere oordeel en veral egte menslikheid.
Na wat hy so vertel het, het hy glo maar min skool gehad. Maar vir hom was dit waarskynlik 'n voordeel gewees dat hy nooit een van die Engelse ‘standards’ van die ou Kaapse skoolstelsel gemaak het nie. Sy natuurlike verstand en aanleg het toe tog hulle kans gekry. Ek is seker dat hy my binne die eerste vyf minute deurgekyk het; en ek het geëerd gevoel toe hy na 'n rukkie uit sy sakboekie 'n portretjie van sy drie seuntjies uithaal om dit vir my te wys, en ene van sy veertienjarige dogtertjie wat in die Pêrel op skool was.
Die meisie, kon ek eerlik aan hom sê, het belowe om regtig 'n mooi nooi te word. ‘Ja,’ antwoord hy, ‘sy lyk na haar ma. En as sy word soos haar ma, dan kan sy waarlik dankbaar wees.’ En toe vertel hy dat hy vanoggend baie haastig, alhoewel sy besigheid nog nie klaar was nie, die terugreis begin het, want môre is dit hulle troudag. Vyftien jaar is hulle dan getroud, maar nog nie eenkeer was hy op dié dag weg gewees van die plaas en die vrou en kinders nie.
‘Maar,’ vra ek, ‘terwyl Oom Hannes 'n man lyk wat baie familievas is, hoekom dan die oudste dogtertjie so ver weggestuur?’
‘Dit sal ek jou vertel,’ antwoord hy op daardie effens lersame toon wat ek toe al by hom opgemerk het, ‘en dit kan vir jo moontlik ook nuttig wees. - Ek en die vrou (ons was albei redelik bejaard toe ons getroud is) was in ons jong jare, sy op haar manier en ek weer anders, die slagoffers gewees van ons ouers. En as daar een ding is wat ek glo - kyk maar hoe maak 'n dieremoeder! -, dan is dit dat die jongmense na vorentoe, na die toekoms moet kyk, nie agteruit nie. Baie van die sogenaamde kinderpligte wat hulle van praat, is maar meeste selfsugtigheid. Ek hoop ons kinders sal altyd lief wees vir ons. Maar ek gaan hulle nie met 'n ketting van plig vasbind aan ons nie. En ons kan hulle tog maar so 'n entjie op die pad van die toekoms help; hoe eerder hulle bietjie selfstandigheid leer, hoe beter vir hulle. As ek selfsugtig is, hou ek die kind by die huis; uit liefde stuur ek haar verder weg - en na 'n goeie skool.’
Hier wou ek darem nie goedsmoeds instem nie. Maar hy maak my stil: ‘Meester, jy verstaan daar niks van nie; al kan ek sien dat jy 'n veel geleerder man is as ek. Luister na my.
My kinderjare was maar droewig gewees. Ek was baie allenig, en my ouma het streng opgepas dat ek nie eens met die hotnotjies op die plaas mag speel nie. My moeder (ek kan dit vandag maar vertel, want die arme vroutjie is jonk dood, 'n paar jaar later) het haar man en haar seuntjie verlaat. Ek kan omtrent so drie jaar gewees het. Toe ek self ouer geword het,
| |
| |
kon ek dit amper verstaan - as ek terugdink aan my vader se geaardheid; ja, en miskien meer nog as ek dink aan sy moeder, wat altyd in die huis gewoon het en alles regeer het. My duidelikste herinnering aan hierdie ouma is van haar skerp stem en haar ewige: “Moenie, Hannes!”
Van my moeder onthou ek niks meer nie. Ek het nooit 'n portret van haar gesien nie. Ou mense het my later vertel dat sy baie jonk en baie mooi was toe sy getroud is met my vader. As ek ooit, soos dit 'n kind se geaardheid mos is, bietjie uitgelate en plesierig geword het (God weet dit het nie baie gebeur nie), dan het Ouma my vermaan om tog nie te word soos my ma nie.
Ons het nooit by ons bure gekom nie. Pa het hom heeltemaal teruggetrek nadat sy vrou, soos die Boere sê, “hom weggegooi het”. Ek is ook nie na 'n dorpskool gestuur nie, en ek het baie mensesku groot geword. Jong mense het ek glad nie geken nie en vir 'n vroumens was ek jarelank bepaald bang. Ja kan dit verstaan, na al die bitter woorde oor vroulike valsheid waarmee Pa my volgeprop het - en ook na my eie lyding onder Ouma, die enigste vrou wat ek geken het eer ek groot was.
Ek was sewentien toe Ouma dood is en drie-en-twintig toe my vader dood is. Die plaas het ek geërwe, maar vir my was dit nooit 'n ware thuiste gewees nie. En met die eerste val van vere, kort voor die Negentig, het Pa so agteruitgeboer dat die skulde by sy dood byna soveel was soos die waarde van die vasgoed. So het ek maar verkoop, en die geluk gehad dat ek 'n paar honderd pond darem nog uitgekry het.
En toe word ek met my kapitaaltjie spekulateur, dom en onervare soos ek was. Maar ek was goed bewus van my eie onkunde en ek het gebruik gemaak van enige geleentheid om iets te leer. Die mense was ook beter as wat ek verwag het, en ek het die meeste kere 'n verdienstetjie gemaak. My meeste handel was met muile en volstruise, later ook met plase. So stadigaan het my kapitaal vermeerder. Ek was baie suinig, ek het nie maats gemaak en ek het nie gedrink nie.
Met eensaamheid het ek mos groot geword. Later het ek in 'n stil losieshuis 'n vaste kamer gehuur; maar ek het byna altyd rondgery. My enigste eie goed, behalwe die geldjies in die bank, was my kar en perde en my klere. Of ek moet nog bysê: 'n klomp kieries. Dit was van my kindsdae af 'n gier van my gewees: ek het kafferkieries gehad, kieries met snaakse gesigte as knop, mooi uitgesnyde kieries; maar my eintlike liefhebbery was gewone stewige kieries van ons eie land se houtsoorte, veral kieries wat lekker swaar voel in jou hand.
Toe ek trou, het ek 'n taamlike som in die bank gehad. Met die vrou se erfgeld daarby, koop ons toe 'n eerste-klas plaas, wat in dié dae darem baie
| |
| |
verwaarloos was. Maar nou kan jy kom kyk na my boerdery! En vandag weet ek wat 'n man se eie huis is; en 'n plaas wat hy self gemaak het. My hoop is dat van my kinders en kindskinders nog daar sal woon.
Die lewe het vir my en die vroutjie op die end darem nog baie mooi uitgedraai. Maar vyftien jaar lank, vandat sy 'n halwe kind nog was, moes sy twee siek oumense oppas. En dit, Meester, mag ouers van hulle kind nie eis nie - sekerlik nie as hulle 'n bietjie geld het nie.
Ek en sy het in ons eie testament 'n taamlike som opsy gesit, as dit ooit mag nodig wees (wat ek nie hoop nie) dat ons op ons oudag moet opgepas word, om daarmee 'n goeie verpleegster te kry. Die prokureur het gesê soiets hoort nie in 'n testament nie, maar ek het gesê, sit dit in. My dogter, of 'n seun se vrou, gaan nie dag en nag die slaaf van 'n bekwaalde ou mens wees nie. Daarvoor het ek gesorg.’
* * *
Oom Hannes en ek het toe nie verder oor hierdie kwessie getwis nie; en vir 'n uur het ek broederlik met sy opvattings ingestem en met genot na sy gesprekke geluister. Maar amper het daar weer deur een van sy eiesinnige beginsel-stokperdjies onenigheid gekom toe die bediener van die eetwa na twaalfuur die middagete kom aansê het.
'n Moederlike gasvrou by wie ek die vorige dag thuis gewees het, het vir my 'n mandjie met lekker kos ingepak: koue varkvleis, 'n jong makou wat douvoordag dié môre gebraai was, met aardappelslaai, 'n fles met paweeperskes, en boerebrood. En ek het Oom Hannes maklik oorgehaal om liewer my gas te wees as om die taai beesvleis en watergroentetjies in die eetwa te gaan monster. Ewe geesdriftig sê hy: ‘Dis goed, Meester! En ek het hier net die regte bottel wyn om by daardie boerekos te drink. Eie produk. Maar al sê ek dit self, jy sal in geen hotel en by geen drankhandelaar in Suid-Afrika so 'n wyn te kope kry nie.’
Nou is ek wel nie 'n afskaffer nie, maar tog meen ek dat dit vir 'n nasie nog beter is om glad nie te drink nie as om matig te drink, en dat dit ons opgevoede mense betaam om dus maar liewer die strenger voorbeeld te gee. En ek mag bysê (wat ek aan Oom Hannes natuurlik nie vertel het nie) dat volgens my ondervinding ou boere van sy soort byna altyd 'n wyn het wat glad nie die rypheid en die karakter besit nie wat wel te vinde is in hulle gedagtes en gesprekke.
Maar toe ek my gesonde beginsel uitspreek en hom vra om die wyn maar liewers nie oop te maak nie, toe het hy amper beledigend vir my gesê: ‘Meestertjie, jy is 'n slim man, maar jy moet nog meer van die lewe sien.’ En toe ek hom herinner dat hy flussies self sy sukses gedeeltelik daaraan toegeskryf het dat hy nie drink nie, toe lag hy: ‘Ek wil self my vriende uitsoek,
| |
| |
en waar en met wie ek 'n glasie wyn drink. Dis wat ek gemeen het. En het jy nooit gehoor wat President Kruger, toe hy kort na die Transvaalse Vryheidsoorlog in Holland was en toe party vername afskaffers hom wou oorhaal om op 'n groot afskafferskongres te praat, vir hulle geantwoord het nie?’
‘Paul Kruger?’ vra ek; want ek was nog onder sy presidentskap gebore.
‘Ja, hy. Hy het geweier; want hy gaan nie met hulle saam nie. En verbaas vra die voorsitter of so 'n Godvresende man soos hy dan vir drankgebruik is. En toe sê die President vir hom: ‘Ek glo aan matigheid, en ek gebruik self byna nooit drank nie. Julle sê ons moet die versoeking wegneem. Maar julle sal moet toegee dat, as daar geen vrouens was nie, dan sou daar ook geen hoereerdery wees nie. En tog sou nie een van julle aanbeveel om al die meisiekinders dood te maak om die versoeking weg te neem nie.’
‘En kyk, Meester,’ gaan Oom Hannes toe baie hartelik vort, ‘juis vandag wil ek so graag met jou 'n glasie drink. Toe jy my flus uitnooi om jou padkos met jou te deel, toe het my gedagte teruggegaan na 'n groot dag in my lewe, miskien die grootste. Dit was ook in die trein; ek was op pad na Robertson, op besigheid, want die Robertsonse boere het toe baie voëls gekoop. Dit was al donker, en die trein was 'n paar ure laat. By my was 'n waardige ou man uit Goudini - sy naam het my ongelukkig ontgaan - en hy kla toe dat hy deur dié versuim sonder sy aandete is. Want dié dae was daar nog nie eetwaens nie. En toe haal ek my padkos uit en deel dit met hom, net soos jy nou maak. Maar hy het 'n bottel wyn by hom gehad, goeie wyn, byna so goed soos myne; en van dié moes ek toe saamdrink. Ek hou mos nie van die Boland se suur, vrank wyne nie. Wyn en koffie moet net so 'n effentjiese soetigheidjie hê, maar nie soveel dat dit die natuurlike smaak doodmaak nie.’
Ek het intussen die tafel gedek. En Oom Hannes vra: ‘Luister jy? Jy moet nou mooi hoor. Want daardie glasie wyn of twee - ons het saam skaars die halwe bottel klaargemaak - het my hele lewe verander, en mooi en gelukkig gemaak. Daardeur het ek die beste vrou gekry wat 'n man kan begeer, al is hy hoe keurig. Dis snaaks, nè? En ek daardie dae nogal 'n verharde oujongkêrel wat, jy kan maar sê, al met een been in sy veertigste jaar gestaan het.
Vanaand sal dit precies vyftien jaar wees. Verstaan jy nou, Meester, want ons twee het goeie vriende geword, dat ek hartseer - nee, kwaad - sal wees as jy nie 'n glasie saam wil drink nie?
Jy kyk verbaas na my. Jy onthou seker dat ek netnou gesê het dat ek môre vyftien jaar getroud sal wees? - Ek was getroud binne sestien uur nadat ek my vrou die eerste keer gesien het!’
| |
| |
Terwyl Oom Hannes sukkel om die prop uit te trek, kyk hy so 'n bietjie huiwerig na my. ‘Is jy getroud, Meester?’
En toe moes ek maar beken: ‘Dis eienaardig dat Oom Hannes vra. Ek is eintlik nou op pad - want ek is net môre nog op diens - na dié een wat ek hoop wat my vrou sal word. As sy ja wil sê.’
‘Meestertjie! My beste wense!’ en 'n linkerhand van 'n dertig pond val op my skouer, terwyl die ander my eie regterhand soos 'n skroef vasdruk. ‘Nou is daar te meer rede; maar ons sal suiniger drink, want die helfte van hierdie bottel moet ons vir jou bêre. - Hoe oud is jy, Meester? - Vier-en-dertig, sê jy? Ek dog so. Jy lyk my ook nie een van die haastiges nie. Vir ons soort wat bedenklik is, gee 'n glasie wyn - maar dit moet goeie wees! - net daardie vrymoedige koerasie waarmee 'n man na 'n vrou moet gaan.’ En hy nooi my daar en dan uit om 'n deel van die wittebroodsdae by hulle op die plaas te kom deurbring. ‘Ek sal julle self op die stasie kom haal, met 'n paar blink swart perde.’
* * *
Oom Hannes het toe rustig en smaaklik klaar geëet; net eenmaal, met 'n knipogie, op my aanstaande se gesondheid gedrink. Toe die bottel amper half was, druk hy die prop sorgvuldig in en oorhandig dit met waardigheid aan my. En toe vee hy netjies sy vingers aan sy sakdoek af en vervat meteens:
‘Ek het jou vertel dat die trein daardie aand laat was. Dit was naby elfuur toe ons op Robertson aankom. Daar was net een cab-ryer by die stasie, en sy kar was al vol. Ek gee toe net my koffer aan hom om af te laai op die stoep van 'n losieshuis waar ek gereëld thuisgegaan het. Want dit was so 'n lekker aand in Oktobermaand om die entjie maar te stap, en ek het die dorp mos baie goed geken.
Daar was so 'n paar vlieswolkies in die lug en 'n dynserige maan in die weste. Ek kon die wyn nog so effentjies in my bloed voel, en my swaar ou kierie uit gevlamde olienhoutpit swaai so lekker in my hand. My hart was vol vrolikheid en naasteliefde, en ek het gevoel asof ek die wêreld kon versit. Daar was nie 'n siel op straat nie, want bioskope en koffiehuise en elektriese lig was daar toe nog nie. Ek kon deur donker stille strate stap en, soos my gewoonte is wanneer ek baie tevrede voel, so suutjies in my baard sing.
Skielik gewaar ek dat ek so ingedagte te ver geloop het en een straat onderkant die losieshuis is. Ek wou net deur 'n systraat terugdraai, toe ek sien dat in die huis voor my 'n deur oopgaan, sodat die helder lamplig uit die gang op die straat skyn, en 'n vroumens haastig op die stoep uitkom. Ek wis toevallig dat dit 'n huis was waar twee ou mense, Oom Simon en Tant Eva
| |
| |
Molhuys, gewoon het, wat al jare bedlêerig was en deur hulle enigste oujongnooi-dogter opgepas word. Maar ek het die mense nie geken nie.
Ek staan toe stil en hoor 'n angstige stem: “Meneer, kan u my asseblief help?”
Meester, daar is stemme, veral van 'n vrou, wat my hart somaar week kan maak. Ek hou nie van daardie fyn, hoë stemme wat die meeste vroumense vir hulle aangeleer het nie. Maar hier was 'n stem, al het dit so benoud geroep, wat diep en stil was - soos wanneer jy in die nag langs 'n rivier sit en paling vang en luister na die water wat suutjies tussen die palmiete deurstroom.
Ek stap toe dadelik nader en vra of ek 'n dokter moet haal. -
“Nee, sê sy, die polisie.”
“Maar woon Oom Simon Molhuys dan nie hier nie?”
“My ouers is al sewe maande dood, kort namekaar,” antwoord die dame, “en ek woon nou alleen hier. So 'n rukkie gelede het ek by die deur van die ringmuur, wat taamlik hoog is, 'n verdagte geluid gehoor. Ek het toe in die donker kombuis gestaan en deur die venster gekyk; en net 'n minuut gelede het hulle die slot gebreek, en ek sien twee volk inkom. Hulle is toe reguit na die hoek waar die vaarkhok staan. Ek is seker hulle wil die vark steel. Sal Meneer nie gou die polisie roep nie, asseblief!”
Goeie wyn maak 'n man edelmoedig, Meester. Ek voel toe somaar ek moet help dat dié versukkelde ou mensie nie haar hokvarkie verloor nie. En as ek eers die polisie moet gaan soek, dan het die vark al lankal spoorloos weggeraak in die lokasie. Ek presenteer toe dadelik aan ek sal die diewe self gaan vang. Sy moet my net die pad deur die huis wys, dat ek hulle van dié kant kan oorrompel.
“Meneer, sê sy, ek het nie tyd gehad om my behoorlik aan te trek nie. Laat ek net gou die lamp uit die gang wegneem en in die eetkamer sit; dan sal ek die gang se agterdeur oopmaak sodat Meneer die maanskyn in die agterplaas kan sien.”
Toe bring sy my na die agterstoep, waar daar 'n groot druiweprieel tot onderkant die stoep was. Ek kon net 'n hoë wit muur in die dowwe lig sien, maar sy wys toe na die regterhandse hoek, omtrent dertig of veertig tree weg, waar 'n groot lukwartboom sy skaduwee gooi.
Ek het nie eens gedink of dit astrante skepsels mag wees nie. Ek vat net my goeie ou kierie so 'n span van onder en stap nader. “Haai, wat soek julle, skelms, daar?” roep ek. En hier staan so 'n groot swart Masbieker voor my, met 'n lang mes wat blink in die maanskyn, en dreig: “Duusman, as jy nie gou weggaan nie, sny ek jou keel ook af.” Maar toe swaai ek my kierie en klits hom net bokant sy linkeroor dat hy neerslaan soos 'n boom. En
| |
| |
eer die ander jong, wat gekniel het by die vark, mooi orent was, kry hy ook 'n raps op sy peperkorrels dat sy knieë somaar slap onder hom wegswik.
Ek skud aan hulle, maar hulle roer nie en kreun nie eens nie. En terwyl ek so saggies sing in my baard asof niks gebeur het nie, stap ek na die agterstoep terug.
Die oujongnooi het effens nader gekom en staan net onder die stoep, waar die agterplaas met ronde klippe gestraat was. Angstig fluister sy: “O Meneer! Wat het gebeur?”
“Hulle lê daar; nou sal ek die polisie maar roep.”
“Dood?” hyg sy byna.
En soos 'n gek sê ek eers: “Ek wens hulle is.” Maar terwyl ek nog verder praat en haar gerusstel, hoor ek net 'n benoude stemmetjie: “En ek voor die hof!” En daar sien ek hoe sy half blindweg gryp na een van die prieelpilare en flou wil word.
Ek kon haar tog nie op die klippe laat val nie; en ek spring nader en gryp haar om haar middel. En sy, sy kan nog net haar arms om my nek slaan - en daar is sy weg!
Maar, man, glo vir my, toe voel dit of ek kan flou word!’
* * *
Daar bly Oom Hannes skielik stil en kyk my vorsend en streng aan, glo of ek met eerbiedigheid luister. Maar hy was blykbaar tevrede met sy toehoorder. Byna boos vaar hy uit: ‘Julle, jongkêrels, wat beginne vry, en dans, en noointjies vashou eer julle droog is agter julle ore! Wat kan julle daarvan verstaan hoe 'n uitgegroeide gesonde sterk mansmens voel as hy vir die eerste maal in sy lewe 'n nooi in sy arms hou - en dit ene wat die moeite werd is? Met net so'n paar sagte, syerige goedjies aan haar liggaam.
Meester! Een oomblik het dit vir my gevoel my hart wil gaan staan.
Jy lag. Maar ek wonder my wat jy sou gesê het as jy daar gestaan het in die nag onder 'n vreemde prieel, met 'n onbekende vroumens in jou arms.
Ek het haar toe maar die huis ingedra, na die eetkamer, waar die lamp se lig onder by die drumpel deurskyn; want ek dog daar sal seker 'n rusbank wees waar ek haar kan neersit, om dan maar by bure 'n vroumens se hulp in te roep. Maar toe ek in die lig kom, toe begin sy somaar weer wakker word. So 'n bietjie haastig los sy haar arms, druk my half weg, en staan op haar eie voete.
Sy het so 'n soort mantel van fyn sy met wye moue, donkerrooi met wit en geel blomme, aangehad. Soiets had ek nog nooit gesien nie. Later het ek gehoor hulle noem dit kimono, en dat sy dit vir haar in die Kaap gekoop het, 'n paar maande tevore, toe haar dokter gesê het sy moet 'n ruk wegkom
| |
| |
uit Robertson ná al die harde jare, en 'n bietjie vakansie hou.
Sy trek dié ding dig om haar en staan daar so verleë soos 'n dogtertjie. Man, en toe sien ek dat sy met haar lang swart vlegsels en bruin oë so waarlik 'n baie aansienlike nooi is. Niks van die uitgedroogde, suurpruimoujongnooi wat ek vir my voorgestel het nie. Ten minste, dat sy nie uitgedroog is nie, het ek al gevoel.
Dit het alles natuurlik net 'n oomblikkie geduur. So 'n bietjie haastig en skamerig - want wegja kon sy my tog nie - bedank sy my en vra ek moet nou liewers die polisie roep.
Ek kyk toe net vas in haar oë en sê: “Juffrou, jy behoort nie so alleen te woon nie. Jy het 'n man nodig om jou op te pas. Sluit nou jou deure toe en gaan slaap.”
* * *
Na 'n rukkie het ek twee konstabels in die hande gekry, 'n jonge en 'n ouerige een; en ek het hulle somaar 'n stootwaentjie in 'n winkelagterplaas laat kommandeer. Die twee volk het nog precies so gelê soos ek hulle laat staan het; die Masbieker het net so effens gesteun.
Die konstabels wou eers by die juffrou aanklop om 'n verklaring van haar te kry. Maar toe sê ek: “Kyk, die twee wat daar lê, het die dame molesteer. En dis wat ek met hulle gemaak het. Ek gaan ook nie toelaat dat julle haar vannag lastig val nie.” Die jongere wou hom vererg, maar die oue (hy het 'n streep op sy mou gehad) het gelag. Toe het ek hulle gehelp om die twee diewe op die waentjie te laai; en so is hulle met hulle bedwelmde prisoniers vort na die polisiestasie en ek na my losieshuis.
Dit het lank geduur eer ek aan die slaap geraak het, en ek is toe die anderdagmôre bietjie laat op. Eers het ek toe na die magistraat gegaan om self met hom te praat dat die dame nie as getuie gedagvaar moet word nie. Hy het gereken dit sal moontlik wees, want hy het toe al gehoor dat die twee volk, nadat hulle bygekom het, ewe mak self beken het dat hulle die vark geslag het.
Baie tevrede stap ek toe weg. En al is ek baie geheg aan 'n ou hoed, toe koop ek vir my 'n mooi nuwe grys hoed en 'n donkerblou das, met sulke wit spikkeltjies soos op 'n tarentaal se vere.
Dit kan so tien, half-elf gewees het - ek onthou dit nie so precies nie - toe ek weer voor die huis staan waar ek die vorige aand die merkwaardige ontmoeting gehad het. Die voordeur het oopgestaan, maar niemand het uitgekom toe ek klop nie. Toe stap ek maar weer deur die gang na die agterstoep. En daar in die koelte sien ek haar, met haar ou meid en die tuinjong, besig om die vark behoorlik te bewerk. Dit was vir my regtig mooi dat sy so 'n flukse huisvrou was, en nog meer dat sy by dié soort werk so skoon
| |
| |
en netjies lyk. Want aan 'n vrou wat slonserig is by haar huiswerk, het ek die ewige renons. Sy het 'n blou kombuisvoorskoot aangehad, maar daaronder 'n mooi dienlike linnerok met oop hals, en haar noue was tot oor die elmboog opgestroop.
Toe sy voetstappe hoor, kyk sy skielik om. En ek sien dat haar donker hare, in die kolle waar die son op speel, soos rooikoper blink; en haar fyn, gladde vel is so wit soos melk. Net toe sy my herken, begin sy te bloos; en langsaam sprei die rooi verder en verder uit, tot op haar skouers en hals, sover as ek kon sien. Sy sit somaar die mes agter haar neer en kyk ook nie weer om na haar bediendes nie, maar stap - sonder haastigheid, sonder om my aan te kyk - na die gangdeur; dig aan my verby. Sy het geen woord gesê of teken gegee nie. Maar toe voel ek dat ek haar nou na die eetkamer moet volg.
Ek was nie haastig nie; en toe ek in die eetkamer kom, lê die voorskoot agter haar, en sy staan met haar rug teen die groot ou geelhouttafel, en links en regs hou haar hande die blad vas. Dit het my eintlik hartseer gemaak om te dink hoe sy dag vir dag aan daardie lang tafel moedersielallenig moes aansit. Sy was glad nie tingerig nie; en sy was al oor die dertig; maar in daardie reusagtige outyse eetkamer het sy soos 'n verlore kindjie gelyk.
Met my hoed in die linkerhand en die kierie in my regterhand staan ek en wag op wat sy sou sê. Dit was 'n plesier om te luister na haar sagte stem (en tog elke woordjie so duidelik) wat my so mooi bedank vir die dapper hulp - dit was haar woorde - in die nag.
En skielik is sy angstig: dink ek dat sy nog as getuie voor die magistraat sal moet verskyn? “Ek het amper nie geslaap nie, Meneer. Prokureurs kan mos sulke onbeskaamde en onnodige dinge vir 'n mens vra. As Meneer getuienis aflê, hoef u mos niks te vertel wat... wat nie met die diewe iets te doen het nie.”
Ek hou my ewe ernstig. “As ek onder eed staan, sal ek alles moet beantwoord.” Maar toe kry ek haar jammer: “Miskien vra hulle nie verder as waar ek die diewe bewusteloos laat lê het nie.”
Toe kyk sy my met haar groot oë baie ernstig aan. “As dit 'n jong man gewees het, gisteraand,” sê sy suutjies, “dan sou ek my doodgeskaam het.”
So 'n bietjie kortaf gee ek toe antwoord: “'n Ou man is ek nie, en getroud is ek nie - en was dit ook nog nooit gewees nie.” En toe bloos sy weer, veel erger as tevore, dat ek eintlik in my enigheid gewonder het of dit tot op haar arms te sien sou wees. En sy laat haar kop sak en maak haar gesig met haar hande toe.
Maar daardie woord van “jong man” het my gehinder; en sonder dat ek eintlik dink wat ek doen, draai ek effens opsy om in die groot spieël bo die
| |
| |
skoorsteenmantel, reg voor my, my postuur te beskou. Want my netjies geknipte baard, net soos nou, dra ek al van my ag-en-twingtigste jaar af; en ek het my altyd verbeel dat ek darem nie 'n onaansienlike kêrel is nie. Terwyl ek so kyk, om nou eerlik te oordeel oor my eie voorkomste, sien ek skielik in die spieël dat sy haar ook so half gedraai het en dat haar hande nie meer die gesig heeltemaal bedek nie, maar dat sy tussen haar vingers deur na my loer.
“Wag,” dog ek; en ek sit mooi versigtig my hoed en stok op die tafel neer; en ek gaan voor haar staan en vat haar hande saggies voor haar gesig weg. “So? En jy het gemeen dat ek jou vasgehou het soos 'n ou vader sy dogtertjie?” Toe sit ek my arm om haar middel, en trek haar nader en nader, totdat sy (haar kop het net by my skouer gekom) op die puntjies van haar tone staan.
“Kan jy voel,” vra ek haar, “of dit 'n ou man is wat jou in sy arms hou; of 'n man wat weet wat hy wil hê? En wat jou kan beskerm teen die ongeregtigheid van die wêreld.”
Sy wou, uit-asem, nog effentjies protesteer: “Maar, Meneer!...”
“Hannes”, sê ek, “dis my naam.”
“Hannes,” sê sy. En skielik slaan sy haar arms om my nek soos die vorige aand toe sy flou geval het.
Man, kêrel! toe dog ek eerlik my hart staan stil!
* * *
Na 'n rukkie sê ek vir haar: “Ek het eintlik gekom om te vra wat jou naam is; jou volle doopname en waar en wanneer jy gebore is. Dan sal ek somaar na die kantoor stap en 'n speciale liksens kry vir ons om te trou. Daarna sal ek met die predikant gaan praat. Ek dink half-drie sal 'n goeie tyd wees.”
Sy kyk my ewe verskrik aan: “Maar, Meneer!”
“Hannes,” sê ek.
“Hannes”, sê sy. “Dis onmoontlik. Dit is te haastig.”
“Haastig?” En ek voel toe so lus om haar bietjie te pla. “Die saak teen die varkslagters kan goed moontlik môre al voorkom. As jy vandag trou met my, dan is ek die hoof van die huis, en dis genoeg as ek in die hof verskyn. En as so 'n prokureurtjie effens buitekant sy paadjie durf te vra, dan sal ek sy mond toemaak. Maar... as jy nie vandag trou nie, dan sal jy moet gaan. En jy, of ek, sal maar mooi alles haarfyn moet vertel.”
“Ook wat ek aangehad het gisteraand toe ek om hulp gaan roep het?” vra sy benoud.
“Onder eed? Wat sal ons anders kan maak!” bevestig ek.
“En dat,.... dat....?”
| |
| |
“Ja,” sê ek, “dit ook.” En toe bly sy stil.
Miskien was dit gaar nie nodig gewees nie. Eintlik het ek oor die rokke-kwessie die grootste moeilikheid verwag; alhoewel ek my getroos het: daar is darem groot winkels op Robertson, en met geld en mooi-praat sal daar wel voor die agtermiddag 'n deftige troutabberd verskaf kan word. Maar dit was nou juis geen swarigheid nie; want toe sy daardie keer 'n maand vakansie gehou het in die Kaap, toe het sy nie net daardie ligsinnige rooi sy-manteltjie gekoop - die een waar ek haar die eerste in gesien het nie -, maar ook ander mooi goedjies. Dit was die arme ou dogter se eerste vryheid gewees, haar eerste kans om mooi dinge te koop wat sy begeer. En toe sy weer op Robertson was, toe had sy nie eens die moed om haar nuwe rokkies voor die mense te dra nie.
Daar was ene by, so 'n swart-en-witte, wat net die regte ding vir haar sou wees om in te trou.
* * *
Die bankmeester, 'n ou bekende van my, en die koster, wat ek nie van Adam af geken het nie, sou ons trougetuies wees. Hoe die nuus gevlie het, weet ek nie; die mense het miskien nog meer belangstelling en liefde vir hulle medemense gehad as deesdae. Maar die halwe dorp was by die kerk, en verskeie boere uit die nabyheid, met hulle vrouens en dogters, het ook gekom.
'n Mooier bruid as Annie het dié kerk seker nog nie gesien nie. Toe sy in daardie deftige tabberd binnestap, het almal hulle oë oopgereek. Die vrouens het niks gesê nie. Maar van die getroude mans het heelparty vir my kom sê dat Robertson se mansmense glo met blindheid geslaan moes gewees het dat hulle geeneen kon raakgesien het nie dat Annie Molhuys die blom was van al die mooi nooiens wat op dié dorp so goed aard.
* * *
Meester, jy sal begryp het dat ek van 'n mooi vrou baie dink, maar veel meer nog van 'n goeie vrou. Maar nou verstaan jy ook waarom ek teen 'n fatsoenlike glasie wyn glad geen kwaad wil hoor nie. As daardie liewe ou man (wie se naam ek ongelukkig vergeet het) op daardie aand, vyftien jaar gelede, my nie 'n glasie wyn saam laat drink het nie, dan was ek nie die gelukkige en voorspoedige man wat ek vandag is nie. Ek sou my mos nooit in daardie bataljie begewe het nie. Dan was ek seker nou al 'n nare ou nukkerige ou-jongkêrel gewees - as die een of ander geslepe tierwyfie my nie straks later in haar kloue gekry het nie.’
Maart 1932.
J.F.W. GROSSKOPF.
|
|