| |
| |
| |
Semietiese Invloede op Westerse Kuns.
(Slot.)
WANNEER die Nederlandse straatjeug sing: ‘Sara, je rok zakt af’, ens., soos dit 'n halwe eeu gelede mode was, sal mens nie lig daaraan dink dat inspirasie vir hierdie sielsverheffende teks gekom het van die Arabiere nie. Tog is dit so, al was dit indirek. Die woorde is deur 'n onbekende volksdigter gemaak op die melodie van 'n mars uit die opera ‘Boccaccio’, van die Dalmatiese kapelmeester Suppé. Dat Boccaccio die nodige beroemdheid verwerf het om vir Suppé te besiel is vernaamlik die gevolg van sy ‘Decamerone’. Moderne navorsers het vasgestel dat heelwat stof daarin afkomstig is uit Arabiese bronne. Siedaar die konneksie!
Of die bedoelde navorsers gelyk het weet ek, as on-deskundige, nie. Op die gebied van filologie en letterkunde sowel as die van geneeskuns het die een geslag die gewoonte om te wil omvergooi wat deur sy voorganger ‘vasgestel’ is. Die invloede wat in hierdie paar artiekels bedoel word kry mens soms onverwags, maar dan ontbreek hul party keer juis waar jy hul sou loop soek het. Dit sou interessant wees om aan die betoog iets vas te knoop oor die invloed van die Arabesk op Europese illustrasie sowel as ander sierkuns (in die musiek het dit ook navolging gevind). Helaas beweer die geleerdes dat Arabiere nie daarvoor verantwoordelik is nie, netsomin as Moses vir mosaiek. En dis gevaarlik om vir 'n nasie soos die Arabiese iets te wil aanvryf wat hy altemit nie graag sien nie; as gevolg van die vorentoe stoot van vier nuwe koninkryke in die sfeer Arabië-Mesopotamië is daardie mense hul nasionale bewussyn op pynlike manier verskerp!
Vakmanne sou met meer sekerheid kon skryf oor die invloed van Arabiese bou-styl; indien hierdie artiekel hom moet gaan besighou met die posiesie van die boog (spitsboog e.a.), in vergelyking met die Griekse driehoek, sal daar g'n plek meer oorbly vir noemenswaardige ander opmerkings nie. Langs die Middellandse See het variasies van die Arabiese bou-orde hul ingeburger, wat saamhang met die smaak van die inwoners sowel as die klimaat e.a. omstandighede. In hoe ver die Gotiese styl daarvan afstam is 'n kwessie waaroor die menings uiteenloop; 'n kenner van die geskiedenis van die Gote verseker my dat die besonder afwyking van die algemene Goties, gebesig deur die Ridders van die Duitse Orde (aan die Oossee) sonder twyfel beinvloed is deur Saraseense modelle.
| |
| |
In die algemeen vertoon nòg die woningbou nòg die styl van kerke, paleise en ander groot geboue in Europa of Amerika noemenswaardige tekens van Oosterse invloed. As uitsondering is hierbo al 'n aantal lande genoem. Waarskynlik mag ons Rusland daarby voeg; die eienaardige vorm van sy koepels moet tog seker in Asië gesoek word. Of dit meer Tartaars of Semieties is moet die manne van die vak maar uitmaak. Die Jode het lankal g'n eie bou-styl gehad nie. Hul Sinagoges is meesal in 'n baster-Arabiese styl.
Die invloed van Arabiere op die Westerse letterkunde as gevolg van die Spaanse okkupasie is in die twede artiekel behandel. Afgesien daarvan verdien nog een faktor vermelding, n.l. die versameling sprokies bekend onder die naam ‘Duisend-en-een-Nag’. Die legende oor hul ontstaan is deur die Russiese komponis Rimsky-Korsakov besing in sy toondig Sjeherazade, maar van baie groter invloed was hul op die literariese toon van Europa. Dis minder bekend dat hul eers 'n goeie tweehonderd jaar gelede daar versprei is en wel deur 'n Franse vertaling. Die weelderige fantasie wat in verskeie van die vertellings tot uiting kom moes wel inwerk op die meer nugter vertelkuns van Westerse digters. Orientaliste het hul al 'n hele paar eeue geken voor hul vertaal is, want in die vyftiende eeu is hul in die Arabiese teks oorgebring uit Egipte na Europa.
Dit skyn egter of hul oorspronklik versamel is in Persië. Volgens mense wat dit behoor te weet is daar drie samestellende dele: die grappige sprokies is werklik Arabies; die wat bowenatuurlike gebeurtenisse beskryf kom uit Brits-Indië; die van sentimentele geaardheid is eintlik Persies. Indien dit so is, kan die Semietiese deel van die invloed op Westerse kuns maar gering wees. Die Perse behoor mos by die Indo-Kaukasiese volke, al het hul seker wel semietiese bymengsels. Grappigheid is nie 'n kenmerk van Westerse sprokies nie. Dis die bowenatuurlike in die ‘Duisend-en-een-Nag’ wat in Europa die fantasie opgewek het. By die gebroeders Grimm speel dit 'n groot rol, dog hulle was miskien ook maar net die letterkundige vorm-gewers aan wat lankal in die Duitse volksmond gelewe het. Andersen is meer gevoelig. Musäus is by uitnemendheid humoris, selfs waar hy (soos in sy ‘Rübezahl’) die bowenatuurlike 'n plek gun. Die voortdurende skildering in skril kleure van sowel rykdom as armoed, van grootheid van karakter en gemeenheid, ellende en lus, in die 1001 Nag kan op die duur nie akkordeer met die Westerse temperament nie. Die tragi-komiese gevare waarin sy helde kom deur gewaagde liefdes-awenture hang saam met die harem-stelsel en kon derhalwe nouliks inslaan in N.-Europa. S.-Europa het heelwat daarvan oorgeneem, omdat in Latynse lande tot vandag toe baie meer neiging tot daardie stelsel bestaan as b.v. in Engeland of Holland.
* * *
| |
| |
S. CALDECOTT:
STUDIEKOP.
| |
| |
Dit word tyd om te kom op die tak van kuns waarin Semietiese persoonlikhede, amper uitsluitend van Joodse afkoms, van besonder groot gewig was, nl. die musiek. Dit was lank gewoonte om ons toonkuns te beskou as 'n bloeisel van die menslike gees waarin die Ooste part nog deel gehad het. Van die ou musiek is amper niks aan ons oorgelewer nie. Ofskoon een en ander bekend is omtrent Griekse liedere, is tot kort gelede algemeen verklaar dat die oorsprong van al wat ons besit nie baie verder teruggaan as die Renaissance-tydperk nie.
Vandag is daar kenners wat daar anders oor dink. Dr. Hadow, die talentvol, goed ingeligte en elegante skrywer van ‘Studies in Modern Music’, sê in sy kort begrip van musiekgeskiedenis dat ‘die invloed van ou-Joodse musiek op vreemde manier onderskat is’.
Die Jode, voeg hy daar by, het ‘altoos spesiale aanleg vir musiek getoon. Die Ou Testament is vol bewyse van die liefde vir musiek.’
Weliswaar wys hy daarop dat daar in Bybelse dae g'n harmonie bestaan het nie. In elk geval was egter ‘Joodse musiek vèr voor by die van ander volke in die ou wêreld.’ Die ou kerksange van die priesters in die Christelike kerk, sê hy: ‘waarop ons bestaande gewyde musiek tot groot hoogte gegrond is, het waarskynlik van Joodse bronne gekom.’
Die gebrek aan verfyning en beskawing, wat die eerste duisend jaar n. Ch. in Europa gekenmerk 't, het egter ontwikkeling vertraag. Hieronymus bv. verklaar dat ‘'n Christelike jongedogter nie moet weet wat 'n lier of 'n fluit is nie.’ En hy was maar net een stem onder die baie wat elke spoor van lieflikheid - 'n eienskap waarin musiek uitmunt - wou doodtrap. Intussen het die Arabiere tot die huidige dag hul nalatenskap op musiek-gebied in Spanje. Wie op 'n somer-aand na die platdak klim in Sevilla en die s.g. Flamenco-sang, met sy kurktrekker-agtige wendings, hoor opgaan in stadige melankolie, sal hom nie tweemaal afvra of dit Asiatiese tone is nie. Dit is verwant met die volksang wat b.v. in Turkye nog bestaan en wat knap deur Tschaikowsky verwerk is in die Arabiese Dans van sy Casse-Noisette - baie meer karakteristiek as Grieg instaat was om dit in Anitra's Dans te doen.
Terloops sy hier vermeld dat Flamenco, snaaks genoeg, beteken Vlaams! Die Arabiese volksang het daardie naam gekry omdat tydens die Spaans-Nederlandse oorloë die aristokratiese Spanjaarde alles op veragtende toon Flamenco genoem het wat minderwaardig was of tot die volksklas behoor het. Die verwantskap van Flamenco-musiek met die oorspronklike Joodse kom nog hier en daar uit in bestaande Sinagoge-sang, spesiaal in die s.g. Sjalsjeleth-figuur, wat baie seldsaam gebesig word in die liturgie.
As gevolg van oorsake, in die twede artiekel al genoem, het Jode in Europa eeue lank g'n regstreekse invloed op die musiek van Germane of
| |
| |
Latyne kon oefen nie. Die eerste groot Joodse musikus is Salomon Rossi van Mantua, 'n eeu voor Bach. Van hom besit ons o.m. 'n melodie op Adon Olam (die verheerliking van Gods majesteit, elke dag in die sinagoge gesing) wat heeltemal reg doen aan die verhewe eenvoud van die woorde. Of die skool van Bach en Händel beïnvloed is deur Rossi c.s. lê in die duister. Wat Bach betref is dit nie onwaarskynlik nie. Hoe groot en origineel hy al was, het hy deeglike studie gemaak van ouer meesters, soos blyk uit die passate waar hy aansluit by die Italiane en die, musikaal met hul verwante, Belge (Orlando di Lasso, van Okeghem, ens.). Rossi se betekenis blyk uit die feit dat die Paryse musiek-mogol Vincent d'Indy, wie se anti-Semietisme op die voorgrond tree, 'n uitgawe van sy werke besorg het.
Na Rossi kom daar 'n lang, lang gaping. Daar was komponiste van sinagoge-musiek, maar hul het die wêreld om hul heen nie geraak nie. Die meeste kerklike wysies, vandag deur die Jode gebruik, is uit die agtiende eeu en Joods-Duits. In die verband van hierdie artiekels pas hul netsomin as 'n seker groep moderne Joodse digters en skrywers. Onder laasgenoemdes is knap kunstenaars soos Bialik (van wie se werk dr. Gemser verdienstelike vertalings verskaf het vir ‘Brandwag’-lesers), maar in die mate waarin hul spesifiek-Joods bly, staan hul buitekant die sfeer van Westerse kuns. Wat ook hul verdienste mag wees, is hul nie groot genoeg om deur vertalings uit Hebreeus of Jiddiesj tot 'n krag te word by ander volke nie. Die Jewish Encyclopaedia sê, veels te sterk generaliserend: ‘Modern Jewish art no longer bears the specific character of the Jewish genius. It must be classified among the various nations to which the Jewish artists belong.’
Dit slaan seker op die meeste van die figure, genoem in die twee vorige artiekels sowel as die wat hieronder nog vermeld word. Dié verwyt kan egter Bialik, Smolenskin en verskeie ander wat uit Rusland stam nie tref nie; juis daarom val hul buitekant die kader van hierdie kort studie. Dikwels word geredeneer dat die Jodedom eintlik nog g'n kans gehad het sinds die Verstrooiing nie; dat dit eers sal kan toon wat dit vermag sodra dit weer 'n eie kern besit. Die begin daarvoor is gemaak in Jerusalem deur die Zioniste met hul Universiteit. Ek sal my egter nie in gissings of voorwaardelike voorspellings verdiep nie, dog liewer terugkom op wat werklik deur Jode op musiekgebied gepresteer is.
* * *
Dit is opmerklik dat dit Frankryk en Duitsland is wat daarby uitblink, maar vreemd is dit nie, met die oog op daardie twee lande hul posiesie in die musieklewe. Wel is dit eienaardig dat Italië, die musiek-land by uitnemendheid, so min in aanmerking kom by oorweging van die Joodse element. Frankryk en Duitsland het altwee te doen met ‘Meyerbeer’ (J.L. Beer), gebore in
| |
| |
Berlyn, 1791. Sy loopbaan het veral gelê in Parys. Hy behoor tot die Franse skool, maar meer as eens het hy opgetree in Berlyn, waar hy bv. Wagner se ‘Rienzi’ opgevoer het, toe die komponis van ‘Toekoms-musiek’ nog elke bietjie steun en aanmoediging wat hy gekry het goed kon gebruik.
Meyerbeer se bekendste opera, ‘Die Hugenote’, staan vandag nog op die lys van werke wat gespeel word en seker van die waaruit sangers dikwels afsonderlike stukke gee. Hy het in sy tyd die musieklewe van die Franse hoofstad beheers, veral as kapelmeester. Volgens die oordeel van ons geslag het hy nòg die uitbundige roem van sy eie dae, en kort daarna, nòg die spot van Heine en sommige moderne musiekvrinde verdien. Hy het sy werk tot seker hoogte ver-italiaans en veral populariteit gesoek. Sy eie ideale is daaraan opgeoffer, want hy het beter geweet. Hy het dit egter nie gedoen om geld te maak nie. Hy was ryk en het eerder fondse bygepas, net maar om byval te vind, want daarop was hy versot.
Vir hom geld wat op 'n hele paar Joodse komponiste van toepassing is. Hy word dikwels sleg gemaak omdat sy musiek nie in die verste verte kan haal by die grootse werke van Beethoven, Bach, Brahms, of self Mozart, Schubert en Haydn nie. Daar is egter by die publiek 'n begryplike vraag na ligtere musiek. Hoekom moet ons dan komponiste wat dit skryf veroordeel? Ons wil nie heeldag Vondel of Milton lees nie; ons kan nie altoos bruin brood en kreefteslaai verteer nie. Daar moet afwisseling en ligte kos wees. Meyerbeer het meer as 'n halwe eeu lank vir honderdduisende skouburg-besoekers in al die beskaafde lande bekoor. Hy het nie net ander musisi nie maar kunstenaars van elke soort voortgehelp in sy tyd. Wat teen hom moet tel is dat Schumann hom baie fel veroordeel het.
'n Tydgenoot was Halévy, geb. in Parys 1799. Hy het jonk al die groot musiekprys gewen en op staatskoste 'n studie-tyd in Rome deurgemaak. Sy styl was suiwerder as die van Meyerbeer; sy ‘La Juive’ (‘Die Jodin’) het lank gewedywer met die meesgeliefde musiek van die opera-repertoire. Hy het met sukses nog baie ander werke gekomponeer, maar dié het taamlik uitgesterf. Terwyl Meyerbeer die Protestante verheerlik in sy werk, en Katolieke kerkmusiek komponeer, wil Halévy soveel moontlik nasionaal-Joods en tegelyk Frans wees.
Van heeltemal ander formaat, ofskoon nie in die eerste rang nie, was Felix Mendelssohn-Bartholdy, geb. 1809 in Hamburg as kleinseun van die wysgeer Moses Mendelssohn. Dis seker oorbodig om hier baie oor hom te sê. Alger wat belangstel in musiek ken sy werk. Hy was buitengewoon knap as pianis, maar het sy spore verdien as kapelmeester en komponis. Behalwe wat betref gesondheid was sy kort lewe, as Christelik opgevoede rykman-seun, heeltemal gelukkig. Hom is dan ook die swaar lyding en teen- | |
| |
spoed, waardeur aangrypende kuns bevorder word, bespaar. Sy meeste werk is effens oppervlakkig en kleurig, terwyl dit diepte mis. Tog het sy liedere, met en sonder woorde, nie sonder rede opgang gemaak nie. Hoef sy ‘Gruß wohin ich geh' und schaue’ (gesing op die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod van 1931) agter te staan by Mozart se ‘Veilchen’, wat beskou word as die begin van die eg-Duitse lied, na Italiaanse oorheersing? Sy orrel-komposiesies word nog altoos gereken onder die meesterwerke. Sy ‘Somernagsdroom’-oeverture is 'n merkwaardige skepping vir 'n seun van sewentien. Sy simfonieë kan seker naas die van sy vrind Schumann geplaas word.
Sy grootste verdienste was die stoot, deur hom gegee aan waardering van Bach, Beethoven, Schubert, Mozart en die klassieke in die algemeen. Ons is geneig om te vergeet (indien ons dit al wis) dat daardie meesters 'n eeu gelede gladnie die erkenning gehad het wat die nageslag vir hul gee nie. Mendelssohn se optrede in Leipzig sowel as in Berlyn en elders is van die grootste betekenis in die ontwikkeling van Duitse musiek.
* * *
Mendelssohn was nie Wagner se vyand nie; Wagner was Mendelssohn s'n. Sy ‘Das Judentum in der Musik’ is 'n skeld-pamflet sonder regtige redenering, gerig veral teen Meyerbeer en Mendelssohn. Die opienies is so uiters, dat niemand hul ernstig opvat nie. In sy volgeling en skoonseun H.S. Chamberlain het hy 'n bekwamere, hoewel baie sterk bevooroordeelde, propagandis teen al wat Semieties is gevind. Wagner word deur sommige skrywers beskou as half-Joods, omdat sy moeder, lankal voor haar man se dood, baie bevrind was met die toneelspeler Geyer, met wie sy naderhand getroud is. Geyer was van Joodse afkoms, maar self Christen, as hy op kerklike gebied iets was. Teenswoordig word min geloof geheg aan die bewering oor Wagner se Joodse bloed. Sy uiterlik, sy liefde vir opskik, sy lawaaierige en by voorkeur allegoriese kuns is egter meer Semieties as Germaans. Vir die eerste opvoering van sy mees Christelike opera, ‘Parsifal’, het hy 'n Joodse kapelmeester (Hermann Levi) nodig gekry. Volgens outoriteite is die Wagneriaanse leitmotiv al voorafgegaan deur dieselfde idee in die sinagoge. Bepaalde wysies dien daar om die karakter van verskillende feesdae aan te duit stoflike vreugde by die oesfees, somber plegtigheid op die Groot Versoendag, ens.
* * *
'n Baas op sy eie gebied was J. Offenbach, geb. in Keulen, 1819, maar behorende tot die Franse skool. Lank was hy skouburg-bestuurder en hy het die toneel-eise goed geken. Hy is die skepper van die moderne opera-bouffe. Sy ‘Orpheus’ bv. is 'n klugspel ,terwyl die van Gluck 'n waardige inhoud het. Offenbach se stukke het enorme opgang gemaak. Sy meesterwerk is die melodieuse tower-opera ‘Contes d'Hoffmann’, gebaseer op die gees wat
| |
| |
CAPITOL TEATER (African Theatres), PRETORIA.
GEDEELTE VAN FOYER.
| |
| |
spreek uit die vertellings van die eksentrieke Duitse skrywer, wat tegelyk tekenaar en musikus was. Die opera is lank verwaarloos en het eers in die afgelope kwart-eeu groot waardering gevind. Die bekende ‘Barcarolle’ (gondellied) is, in weerwil van strik musikale minderwaardigheid, onweerstaanbaar.
'n Veel groter komponis was G. Bizet (A.C. Leopold), geb. in 1838. Hy het Halévy se skoonseun geword. In teenstelling met Meyerbeer s'n was sy kuns opreg, maar op die leeftyd van 37 is hy dood, afgemat en ontgoël deur miskenning. Ook sonder sy suite ‘L'Arlésienne’ e.a. goeie komposiesies sou hy wêreldberoemd geword het deur ‘Carmen’, die populêrste opera op die lys. Dit is 'n waardige aanvulling van die skitterende talent waarmee Franse skrywers die pikareske kant van die lewe in Spanje behandel het (Le Sage, Mérimée, e.a.). Die musiek is karakteristiek, vol gloed, om beurte tragies en opwekkend. Onderkant die beste van Mozart en Wagner se operas, maar naas Weber, Nicolai en Smetana, staan hierdie merkwaardige stuk; ons vergewe Bizet dat hy die wêreld onder die indruk gebring het dat ‘Toreador’ 'n Spaanse woord is (dit moes torero gewees het)!
Vyftien jaar voor Bizet se dood is in Boheme gebore Gustav Mahler, na Mendelssohn die vernaamste Joodse musikus wat ooit gelewe het. Hy het as kapelmeester uitstekende dienste bewys in Praag, Leipzig, Boedapest, Wenen en elders. Met 'n erns en dryfkrag wat nie alger kon verdra nie het hy perfeksie van spel geëis, sowel as van al wat behoor tot die uitvoering van operas. Hy was tot groot hoogte 'n volgeling van Wagner. Die menings oor sy komposiesies loop sterk uiteen. Mengelberg, wat seker een van die drie grootste lewende kapelmeesters is, laat hul soveel moontlik speel. Dr. A. Neisser, een van sy biografe, is vol geesdrif oor die diepsinnigheid en oorweldigende krag van sy hoofwerke. Ander vername kritisie, soos Romain Rolland, daarenteen praat met geringagting oor hom, selfs wat betref sy dirigeer van bekende Beethoven-werke. Net soos Berlioz stel Mahler onredelike eise aan die geldmiddele van orkeste en aan die arm ore van die publiek deur die kolossale besetting wat sy partituur vra. In sommige van sy simfonieë het hy Beethoven se ‘Negende’ nageboots, deur sang daarby in te lyf. Indien 'n volslae leek 'n mening mag gee, sou ek sê dat dit nie 'n stap voorwaarts is nie. Brahms altans kom in sy orkes-stukke klaar sonder vox humana. Tog was Mahler een van die groot musiek-figure in sy tyd. Hy het Katoliek geword en is in 1911 dood.
Tal van Joodse sangers, sangeresse, solo-pianiste en violiste het in die negentiende sowel as ons eie eeu geskitter. 'n Eeu gelede is Anton Rubinstein in Rusland gebore. Hy was 'n besonder knap pianis; ook sy komposiesies, veral liedere, het behaag. Voor hom was Kalkbrenner, die pianis.
| |
| |
Rubinstein se tydgenoot was J. Joachim, die Hongaarse Jood. Hy het baie goedgemaak van wat bederf is deur die rubato-maniere van ander Joodse virtuose. In Berlyn, Engeland en elders is nou kort die eeufees van sy geboorte luisterryk gevier. Die welluidendheid en streng klassieke eerlikheid van sy viool- en alt-spel het spreekwoordelik geword. Hy was die vrind van Brahms en Schumann, 'n groot vertolker van Beethoven en Bach, stigter van die Joachim-kwartet (wat nog bestaan), oom en geestelike vader van die susters Jelly d'Aranyi en Adila Fachiri, wat sy werk voortsit. Tussen die Joachimiete en aanhangers van die temperamentvol Belg Ysaye was lank naywer. Die nageslag kan daar maar net op een manier oor dink.
Twintig jaar gelede het die Hollands-Joodse sangeres J. Culp haar triomfe gevier met Duitse liedere. Kort gelede is Max Bruch (komponis van die diep godsdienstige, orals gewilde, tjello-solo Kol Nidrei) dood, so ook Moszkowski ,geb. in Breslau, wat as man van ligtere, bevallige musiek lank 'n liefling in die konsertsaal was. In ons dae is die kapelmeesters B. Walter en F. Weingaertner nog beroemd. 'n Trappie laer staan die Engels-Joodse dirigent ‘Landon Ronald’ ('n pseudoniem). Onder hedendaagse Joodse komponiste tree die Fransman Milhaud en die Amerikaanse Switser E. Bloch op die voorgrond. Milhaud behoor tot die baie modern rigting wat, na mens hoop, spoedig sal vergaan. Bloch is waarskynlik bestem om 'n blywende reputasie te verwerf.
'n Halwe eeu oud is I. Strawinsky, geb. naby Petersburg, wat 'n totaal nuwe mode op die gebied van balletmusiek geskep het. Hy was al 'n musikale anargis, lank voor die bolsjewisme uitgebreek het in sy land. In die laaste tyd gaan hy oor tot neo-klassisisme. Hy het op sy gewete dat hy jazz en ragtime aangemoedig het. Verskeie Amerikaans-Joodse komponiste werk daaraan mee, o.a. Gershwin met sy ‘Rhapsody in Blue’, vir klavier en orkes, wat meer as eenmaal gespeel is in die Kaap. Die mees betekenende hedendaagse Joodse komponis is A. Schoenberg, wat in Wenen woon. Hy het pragtige werke gekomponeer, maar ook wanklank-verheerlikings wat selfs vir die strafste moderniste afskrik.
Ravel en wyle St. Saëns word somtyds gereken onder die Joodse komponiste, maar ten onregte. Ook sonder hulle was die Semietiese invloed op musiek aansienlik. Amper jaar op jaar kom daar virtuose by: Heifetz, Moiseiwitsch, Friedman en die seun Menuhin, wat selfs in die moelik beweeglike Holland 'n gunstige indruk gemaak het deur die rypheid en volheid van sy vioolspel. In Suid-Afrika goed bekend is die Cherniavskys en M. Hambourg. Eersgenoemdes is nouliks te reken as ernstige kunstenaars, behalwe die oudste broer, wat violis is. Hambourg is die geweldenaar van die toetse. Dit het een voordeel, nl. dat sy spel nie so laf musiekdoosagtig klink op die grammofoon
| |
| |
as klavierspel dikwels doen nie. In Amerika word Aaron Copland genoem onder die veelbelowende, jonge komponiste.
* * *
Wie om hom heen kyk gewaar in amper elke rigting Joodse invloede op kuns en artistieke ambagte. In die ou dae al was Jode goudsmede in Venetië. Hul was altoos, en is nou nog, kenners van edelgesteentes sowel as diamantslypers. Joodse poëte het Herder daartoe gebring om te skryf oor die Gees van Joodse Digkuns. Byron het sy ‘Hebrew Melodies’ gedig. Die Wandelende Jood, sinnebild vir die hele ras, is gebesig in romans. Shakespeare se ‘Shylock’ is onsterflik. Een van die beste vertalers van Kontinentale werke in Engels was 'n Hollands-Portugese Jood, Teixeira de Mattos. Op die Amerikaanse Vryheidsmonument by Nu-York staan 'n gedig gebeitel van die Joodse digteres Emma Lazarus. Die, in Holland gebore, Engelse romanskrywer Maarten Maartens (J.M.W.v.d. Poorten Schwartz) was die seun van 'n bekeerde Jood. As uitgewers van musiek en literatuur het Jode heelwat gedoen. Die hedendaagse lettere is amper ondenkbaar sonder die spore wat die sielkunde van S. Freud - seun van 'n Russiese Jood, maar opgevoed in Wenen - agtergelaat het.
En by ons? Sarah Millin het haar 'n groot leserskring verwerf sowel in die Unie as in Engeland en Amerika, al is haar kleurling-figure nie juis wondere van realisme nie. Die skilderes Irma Stern (mevr. dr. Prinz), is gebore in Schweizer-Reneke. Sy het groot sukses by modern-gesindes in Europa en Suid-Afrika. Sy het seker ons skilderkuns geïinfluenseer, al mag die menings uiteenloop oor die wenslikheid van haar metode. Meer gematig, maar met haar verwant, is Meyerowitz en Eva Meyerowitz, van die Kaapstadse Skool vir Toegepaste Kuns. ‘Brandwag’-lesers het al daarmee kennis gemaak. 'n Mongoolse trek lê in hul houtsny-, beeldhou- e.a. werk. Dit is m.i. nie wenslik dat dit by ons sal posvat nie. Meer universeel en deur die kritiek hoogs gunstig beoordeel is die skeppings van Kottler, die beeldhouer wat nou in Londen woon en ook in die ‘Nuwe Brandwag’ behandel is. Deur middel van die bioskoop, helaas, kom ons heeldag in aanraking met die verskriklike kreasies van Amerikaans-Joodse regisseurs.
Van huis uit is die Jode (wat deur hul aard verreweg die vernaamste Semietiese faktor geword het in Europa) Puriteine, nieteenstaande die romantiese neiging in hul ras. Of hul nou skuld het aan die puritanisme wat, soos 'n verstywende ademtog, kort-kort kunsuitings belemmer in Amerika, Engeland, Holland, sou 'n goeie onderwerp vir debatsverenigings uitmaak. Minder meningsverskil is moontlik oor die verderflike artistieke invloed van die hoogstendensieuse en meganistiese tekenkuns in Rusland, soos teenswoordig hoofsaaklik beoefen deur Joodse propaganda-beunhase. Maar orals het Jode 'n,
| |
| |
vandag onnaspeurbare, element in kuns gebring, al eeue lank, deur gemengde huwelike sowel as massa-bekerings. Veral in Spanje, Frankryk en Duitsland het dit gebeur.
Die skadu-sy van hul aanwesigheid is hierbo nie weggesyfer nie. Dat daar ook 'n ander sy is blyk bv. uit woorde van prof. R. Casimir in sy Spinozahoofstuk:
‘Misschien heeft geen land zoo dankbaar te zijn voor de aan Joden verleende gastvrijheid als Nederland. Dezen hebben..... op het gebied der dicht-, toneel- en schilderkunst uitgeblonken.’
Wie iets in teenoorgestelde sin, van resente datum, verlang kan Spengler se verhandeling oor Pythagoras, Mahomed en Cromwell (‘Untergang des Abendlandes’) daarop naslaan. Die kwessie bly tot groot hoogte 'n saak van opvatting. Daar is plek vir meer as een - mits ons maar die vernaamste feite ken en sodoende die reg kry om 'n oordeel te vel.
N. LEVI.
Kaapstad.
|
|