Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1931
(1931)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 201]
| |
Die Grettir-Saga.Ga naar voetnoot1)LETTERKUNDE wat in ons land, ook in vertalings so goed as onbekend is, is die Oud-Noorse letterkunde.Ga naar voetnoot2) Tog is hierdie kuns van die ou Yslanders een van die kostelikste bydraes tot die literatuur van Wes-Europa gedurende die Middeleeue. Naas die heerlike liedere van die Edda, wat sowel in digterlike gloed as in stylgevoel onoortroffe is in die middeleeuse letterkunde, maak veral die sagas die roem uit van die Oud-Noorse literatuur. Onder hierdie meesterstukke van vertelkuns is die Grettir-saga een van die mooiste en die mees geliefde. Om hierdie saga goed te kan beoordeel en tenvolle te kan geniet, is dit nodig om iets meer te weet van die samelewing waarvan dit die produk is en die publiek waarvoor dit bedoel was, want hierdie twee faktore het die vorm van hierdie kuns en ook grotendeels die wese daarvan bepaal. Gedurende die laaste kwart van die negende eeu n.C. het Harald Blondhaar die tallose klein hoofmanne wat die verskillende geslagte en stamme in Noorweë geregeer het, aan hom onderwerp en sodoende koning van die hele land geword. Die hoofmanne wat hulle nie aan hom wou onderwerp nie, het weswaarts gevlug oor die see na Faroër, die Orkadiese en Shetlandse eilande en Skotland en van daaruit hulle berugte seerowerstogte onderneem. Harald het hulle egter ook hier agtervolg totdat 'n deel van hulle die wyk geneem het na die eiland Ysland, waar hulle 'n nuwe samelewing gestig het wat op dieselfde lees geskoei was as die Noorweegse voor Harald se veroweringspolitiek. Die indiwidu het hier geleef in die famielieverband; in daardie famielie is die gesag gehandhaaf deur 'n sterk ontwikkelde regsgevoel. Bo en buite die famielies of geslagte was daar oorspronklik geen gesag nie; elke geslag moes sy reg handhaaf teen die ander geslagte. In 930 is 'n geregshof ingestel wat regspraak uitgeoefen het oor alle sake in die hele land en wat saamgestel was uit alle vrye manne van Ysland. Hierdie regsprekende vergadering het ook 'n seker regskode as leiddraad gehad en 'n regsadviseur wat daardie wette geken het en die ‘wetman’ genoem is. Maar die Alding, soos hierdie samekoms | |
[pagina 202]
| |
genoem is, het geen gewapende mag tot sy beskikking gehad om sy uitsprake en vonnisse tot uitvoer te bring nie, sodat die bloedverwante en vriende van 'n beskuldigde die vonnis kragteloos kon maak of selfs die uitspraak kon verhinder. Dat onder hierdie omstandighede roof en doodslag aan die orde van die dag was, is begryplik. Wat die toestand vererger het, was dat elke doodslag 'n bloedvete in die lewe geroep het: die famielie van die gedode was dit aan sy eer verskuldig om die doodslag te wreek deur een van die doder se nabestaandes te dood, deur weergeeld van hulle te verkryGa naar voetnoot1), of deur die saak voor die Ding te bring. Die strawwe wat die Ding opgelê het, was geldboetes of verbanning, verbanning uit 'n seker deel van die land of uit die hele land, vir 'n tyd of lewenslank. Ons sou in plaas van die woord verbanning ook ‘voëlvryverklaring’ kan gebruik. As die voëlvryverklaarde se vriende invloedryk genoeg was (maar dit was gewoonlik nie die geval nie, want dan sou hulle die vonnis op die Ding verhinder het!), dan het hy onder hulle beskerming bly lewe; anders het hy kalm na Noorweë gegaan, waar hy ongemolesteerd kon woon, en sy verlede was nie die minste belemmering vir sy nuwe loopbaan daar nie. Was hy egter ook reeds uit Noorweë verban, soos die geval met Grettir was by sy twede verbanning uit Ysland, dan het die straf hom baie swaar getref; dan moes hy in die wildernisse en eensaamheid omswerwe en van die hand in die tand lewe en het elke oomblik in lewensgevaar verkeer, omdat enigeen hom straffeloos mog dood. Sulke voëlvryverklaardes is baie tekenend ook ‘bosmanne’ genoem, na hulle verblyfplek. Die bewoners van Ysland was 'n bevolking van boere en het verspreid gewoon; gedurende die lang en koue winteraande, veral teen Kersmis ,het hulle bymekaar gekom en die tyd veraangenaam deur verhale van famielievetes en doodslag; maar by hierdie romantiese stof het ander verhale gekom waarin hulle nog meer belang gestel het: die geskiedenis van hulle roemryke voorvaders, wat die oorweldiger getrotseer het en liewer na Ysland gevlug het as om sy slawe te word. Bowendien was die bewoners van hierdie land met sy sombere natuur, waar die elemente hulle woeste spel speel, waar die storms loei en die son maande lank agter die kim wegbly, sterk bygelowig, deurhuiwer van die vrees vir die geheimsinnige en bonatuurlike. Wel was hulle ten tyde van Grettir reeds gekersten, maar hierdie Christene het baaiemaal nog 'n heidense siel gehad, vol angs vir voortekens en bose geeste. Uit hierdie voedingsbodem het die sagas ontstaan en uitdrukking gegee aan die gees van daardie samelewing. Ons moet die sagas egter nie sonder meer gaan vergelyk met ons romankuns nie: die sagaskrywer het hom nie | |
[pagina 203]
| |
slegs ten doel gestel om aangenaam te vermaak of sy lewensgevoel onbewus gestalte gegee in die uitbeelding van die dade en sielelewe van gefingeerde of historiese persone nie, nee, die sagaskrywer is in die eerste plek geskiedskrywer wat die geskiedenis van die lewe en dade van die helde van die verlede en van groot nasionale gebeurtenisse so getrou moontlik moes weergee. Ook die onbekende skrywer van die Grettir-saga was so'n geskiedskrywer. Daarom gee hy eers so'n lang genealogiese inleiding: sy lesers (en veral die hoorders van die verhale waaruit hy sy werk saamgestel het) was immers veral geïnteresseerd in die afkoms van die helde, van watter dapper nedersetter wat nie wou swig vir die tiran Harald nie, hy 'n afstammeling was, watter grond daardie eerste nedersetter in besit geneem het. En telkens wanneer 'n nuwe karakter van betekenis in die verhaal vir die eerste keer optree, word ons uitvoerig sy afkoms en die streek van sy herkoms meegedeel. Dat daar spookstories in die geskiedenis voorkom, doen niks af aan die skrywer se strewe na waarheid nie, want hy het immers self vas geglo aan spoke! Die Grettir-saga is ± 1250 geskrywe en is 'n biografie van die om sy moed en krag vermaarde held Grettir, wat van 996 tot 1031 geleef het. Die bronne wat die skrywer tot sy beskikking gehad het, was die tallose mondelinge verhale wat omtrent hierdie volksheld in omloop was. Later afskrywers het die oorspronklike saga-skrywer se verhaal ontsier deur daar op eie houtjie allerlei episodes en stories uit die mondelinge tradiesie in te las sonder enige besef van artistieke eenheid of psigologiese waarheid. Alleen hierdie verknoeide vorm van die saga is ons oorgelewer in handskrifte wat uit die vyftiende eeu dateer. Gelukkig is dit moontlik om die egte en die onegte te skei en die oorspronklike sage terug te vind. Ons bespreking gaan oor hierdie van interpolasies gesuiwerde vorm van die verhaal. Die skrywer het die ryk en verwarrende stof wat om die figuur van Grettir bestaan het, krieties gesif en in sy verhaal slegs opgeneem wat hy as geloofwaardig beskou het; dit blyk duidelik uit die feit dat hy tal van episodes en trekke wat later interpolators in sy werk ingevoeg het en wat hy self seker ook geken het, uitgelaat het. By die beoordeling van wat waar was en wat nie waar was nie in die tallose verhale van die mondelinge tradiesie, is die historikus veral gelei deur die kunstenaar wat deur sy goeie smaak en sy strenge selfbeheersing, maar veral deur sy psigologiese insig, alles verwerp het wat oorbodig of onwaar was. Die woorde waarmee hy hoofstuk LXVII sluit, is tekenend vir sy kuns-opvatting: ‘baie ander dinge het hierdie jaar voorgeval wat niks met ons saga te doen het nie.’ Hier kry ons 'n kykie in die werkwyse van hierdie kunstenaar. Die geheim van die kuns van hierdie onbekende biograaf skuil hierin dat hy sy ryke stof, al die episodes en gebeurtenisse, die baiemaal teenstrydige oorleweringe omgeskep het tot 'n psigologiese | |
[pagina 204]
| |
roman. Elke feit of gebeurtenis wat hy vertel, het direk of indirek te doen met die karaktertekening van Grettir. Alles wat van geen waarde is by daardie karaktertekening, wat geen betrekking het op Grettir se sielelewe nie of wat strydig is met sy karakter soos deur die skrywer gekonsipieer, verwerp hy. Om 'n voorbeeld te gee: die Glamr-episode het hy van 'n gewone spookstorie omgeskep tot die sentrale, psigologiese gebeurtenis van die boek, 'n gebeurtenis wat sielkundig gemotiveer is deur Grettir se vrees vir die bonatuurlike en wat ook die groot kentering bring in sy lewe. 'n Later interpolator het 'n swak variant van dieselfde motief ingevoeg (die Bardardal-episode), maar die oorspronklike skrywer van die saga het hierdie twede geveg met 'n spook verwerp, omdat dit nie in organiese verband kon gebring word met die verhaal, met die sielkundige ontwikkelingsgang wat hy wou skets nie.
Dis dan ook deur sy intuïtiewe psigologiese insig en sy selfbeheersing as kunstenaar, waardeur hy hom streng daartoe bepaal om uit die chaotiese tradiesie alleen te vertel wat nodig en sielkundig waar is, dat hierdie biograaf ons so'n suggestiewe tekening van Grettir se karakter kon gee. Want hoe groot sy vertelkuns ook al mag wees, dis nie die uiterlike gebeurtenisse en avonture nie, maar die ontwikkeling van Grettir se karakter wat die belangstelling gaande hou. Pragtig word daardie ontwikkelingsgang ons geteken: Eers 'n paar hoofstukke om ons die moedswillige kwaaijong te skets. Dan die doodslag van Skeggi, waarvoor Grettir drie jaar uit Ysland verban word. Die volgende hoofstukke vertel van die heldedade in Noorweë van die tans mangeworde Grettir: sy oopbreek van die graf van Kárr en die gevegte met die berserkers en die beer. Dan dood hy agtereenvolgens Bjorn, wat hom so getart het, en Bjorn se broers Hjarrandi en Gunnarr, wat probeer om hom om die lewe te bring. Hy moet Noorweë weer verlaat. Na sy terugkeer in Ysland oorwen hy die spook Glámr, en hiermee kom die keerpunt in sy lewe. Die vloek wat die sterwende Glámr oor hom uitspreek, maak so'n hewige indruk op die diep bygelowige Grettir dat hy van nou af bang is vir die donker. Die verbranding van die seuns van Thórir, wat hy onwetend veroorsaak, besorg hom sy verbanning uit Noorweë en sy voëlvryverklaring in Ysland. Nou is hy gedoem tot rondswerf in die eensame wildernisse, hy wat so bang is vir die donker. As hy teen beter wete in tog ander ballinge toelaat om by hom te woon, blyk hulle gehuurde sluipmoordenaars. Wat 'n donker wolk rus daar op die laaste jare, met die amper eentonige, maar daarom juis so treffende, refrein dat Grettir dit nie meer in die eensaamheid kan uithou nie deur sy vrees vir die donker, vriende en bloedverwante opsoek maar telkens weer weggestuur word terug na die eensaamheid. Dan kom die laaste geveg en sy dood op ‘Die eiland van die eensame Rotse’. Hierdie laaste hoofstuk is van 'n aangrypende krag. | |
[pagina 205]
| |
Sober maar treffend word Grettir se karakter ons geteken. As hy nog maar 'n kind is, is hy reeds ‘baie onhandelbaar, iemand van min woorde, onvriendelik en veglustig in woord en daad’. Hy is baie agterdogtig van aard en besit 'n onfeilbare intuïesie om vyandelike bedoelings te gis. Gewoonlik verskans hy hom agter 'n nukkerige stilswye en reageer op sy omgewing met spaarsaamlik geuite, bytend-ironiese gesegdes, maar kan dan weer, wanneer hy getart word, skielik hewig geprikkel raak en in bandelose toorn bloedige dade van ruwe geweld pleeg. Tog skuil daar onder sy ruwe uiterlik en agter sy aggressiewe houding 'n goeie hart en is hy steeds bereid om sy hulp aan te bied. Die tragiese ironie van sy lewe is juis dat hy die vloek van Glámr op hom laai deur 'n dapper, onselfsugtige daad, en dat hierdie vloek in werking tree deur sy verbanning wat oor hom uitgespreek is om 'n daad wat hy onwetend gepleeg het terwyl hy ten koste van baie inspanning sy reisgenote gehelp het. Telkens as Grettir 'n daad van geweld en bloedvergieting pleeg, is sy slagoffers die aanleiding en die hoofskuldiges. Juis hierdeur word hy 'n tragiese figuur, 'n held met deugde en gebreke wat deur die Noodlot (en hierdie Noodlot openbaar hom veral in sy karakter!) meedoënloos ten val gebring word. Grettir is 'n fatalis. ‘Wie kan weet hoe dit sal wees as die end daar sal wees?’ is die fatalistiesberustende gedagte wat hom beheers. Die tragiese ironie word nog verhoog deur sy onfeilbare voorgevoel van naderende onheil. As hy die versoek van die kooplui om vuur te haal inwillig, waarsku daardie voorgevoel hom en... hy begaan onwetend die brandstigting wat die vloek van Glámr in werking sal bring. As die ou towerheks haar bose mag begin uitoefen, voel hy dit dadelik en gooi die betowerde boomstam terug in die see. Skrynend werk ook die uitlatings van ander mense wat besef dat Grettir 'n ongeluksman is. Koning Oláfr is oortuig van die moontlikheid dat hy onskuldig is, maar hy sê: ‘Jy kan nie by my bly nie - die geluk is veels te veel teen jou.... As ooit 'n man vir die ongeluk gebore is, dan is dit jy in die eertse plek.’ Ook sy moeder, sy broer Thorsteinn en sy vriende is sterk deurdronge van hierdie besef. Tereg het prof. Boer dan ook as motto voor sy uitgawe van die saga die woorde gekies: ‘Sitt er hvárt, gaefr eda gervigleikr’: geluk en dapperheid is twee verskillende dinge. Hier en daar bereik die verhaal hoogtepunte van ontroerende patos. Ek wys slegs op Grettir se heimlike besoek aan sy moeder en haar roerende klag (hoofstuk XLVII). Wat 'n patos tril daar ook nie in die laaste afskeidswoorde van sy moeder Asdis nie: ‘Nou gaan julle, my twee seuns, weg, en julle sal saam 'n droewige dood sterwe. Niemand kan ontkom aan die lot wat hom voorbeskik is nie. Ek sal geen een van julle twee weersien nie; mag een en dieselfde lot julle te beurt val. Ek weet nie watter veiligheid julle in Drangey soek nie, maar julle sal daar | |
[pagina 206]
| |
begrawe word; en baie sal julle die verblyf daar misgun. Pas goed op vir verraad; tog sal julle deur wapens getref word. Ek het wonderlike dinge gedroom. Wees op julle hoede teen toordery, want min dinge is sterker.’ En toe sy dit gesê het, huil sy baie.
Toe sê Grettir: ‘Moenie huil nie, Moeder! Dit sal gesê word dat jy seuns gehad het en nie dogters nie, as ons met wapens aangeval word. Leef gelukkig, en vaarwel!’
Dis onmoontlik om die so beheerste maar amper snikkende ontroering van hierdie roekelose woestaard by die laaste afskeid van sy wenende moeder deur 'n vertaling weer te gee soos dit tril in die Oud-Noorse woorde: ‘Grát thu eigi, módir.’ Ook wys ek op die vloek van Glámr: ‘Maar van nou af sal verbanning en stryd jou deel wees, en al jou dade sal jou tot ongeluk strek, en jou skutsengel sal jou verlaat. Jy sal voëlvry verklaar word, en jy sal altyd alleen in die eensaamheid lewe. En hierdie vloek lê ek op jou, dat hierdie oë van my altyd voor jou sal staan. En dit sal vir jou swaar wees om altyd alleen te wees, en dit sal jou langsaam na die dood sleep.’ Hoe teer is die toneeltjie tussen die sterk Grettir en sy swak broer wat belowe om later sy dood te wreek (hoofstuk XLI). Aangrypend is ook die laaste hoofstukke, met die vloek van die towenares en die heldedood van Illugi. Die vernaamste byfigure is met liefde geteken: die Spartaanse moeder Asdis, wat haar seuns een na die ander verloor, Illugi en sy groot verering vir en toewyding aan sy broer, Thorsteinn Oorlogskip en so baie trou helpers wat Grettir nooit in die steek gelaat het nie. Geestig teken die skrywer ook meer komiese tiepes, wat hy in gebaar en woord lewendig voor ons plaas: Glaumr, die kletser wat ook so kan kla en brom; Gisli die snoewer met sy windmakerlawaai, Thórir Rooibaard met sy sluheid.
Die skrywer van die Grettir-saga is 'n meesterverteller. In gemoedelike geselstrant, sonder enige strewe na woordkuns, sonder enige mooidoenery, vertel hy ons op lewendige manier sy verhaal, waarvan die komposiesie by nader studie groot bewondering afdwing - ook in hierdie opsig is hy 'n groot kunstenaar. Hy gebruik die eenvoudige idiomatiese spreektaal, vol verrassende, pittige spreekwoorde en volksaardige wendinge. Spreekwoorde soos ‘Die glas is nog nie uitgedrink nie, al is hy volgeskink’, ‘Bier is 'n ander man’, tekenende uitdrukkings soos ‘Glaumr swyg asof hy onder water gehou word’ gee lewe en kleur en die gawe van geestige uitbeelding aan die styl. Hoe geestig en tekenend is ook byname soos dié van Asmundr Langhaar, Skeggi Korthand, Thorbjorn Oskrag, Thorbjorn Trapsoetjies, Thórir Rooibaard. | |
[pagina 207]
| |
Telkens slaan hy heel natuurlik en spontaan oor van die indirekte in die direkte rede; die dialoog is meesterlik deur die natuurlike vlotheid, die dramatiese krag en die psigologiese openbaringsgawe. Veral Grettir leer ons ken uit sy spaarsaamlik geuite woorde.
Die skrywer is ook 'n realis, wat die eenvoudige werklikheid van die alledaagse lewe met liefdevolle aandag opgemerk en geken het. Watter duidelike voorstelling kan ons ons nie maak van die hele boerelewe in Ysland, van die seevaart, van die lewe van die voëlvryverklaardes nie. Hoe rys die beeld van daardie volk van lang vervloë dae voor ons op, met al sy sedes en gewoontes, sy godsdiens, sy feeste en drinkgelae, sy wrede bloedvergieting en sy regspraak. Die triomf van hierdie realisme word bereik in die geveg met Glámr, met die sober uitbeelding van die hewig gesiene werklikheid wat van simboliese, ekspressionistiese krag word en waarvan 'n ongelooflike suggestie van die spookatmosfeer uitgaan. Hierdie Glámr-verhaal is waarskynlik oorspronklik 'n maanmiete, en die demoniese werking van die fel maanlig vind ons nog terug in die beskrywing van die verskriklike worsteling van Grettir met die spook: ‘Dit was helder maanlig buite; af en toe het daar wolke verby die maan getrek. Op dieselfde oomblik dat Glámr val, kom die maan agter 'n wolk uit en Glámr kyk skerp op daarna. Grettir het self vertel dat dit aanblik daarvan die enigste was wat hom ooit laat skrik het. Toe het alles bymekaar, sy vermoeidheid en die gesig van Glámr se rollende oë, hom so oorweldig dat hy nie eers die krag gehad het om sy swaard te trek nie en hy tussen lewe en dood gelê het..’ Hier het ons een van die mooiste voorbeelde van hoe die sagaskrywer die ou verhaal psigologies geïnterpreteer het met 'n groot dramatiese krag en diepte. Pragtig is ook die manier waarop hy deur allerlei klein trekkies die bonatuurlike suggereer: Glámr word, as hy nog in sy mensgedaante optree, as volg beskrywe: ‘Hierdie man was baie groot en het 'n wonderlike gesig gehad, met groot grys oë en vaal hare soos 'n wolf s'n. Thórhallr het 'n bietjie snaakserig begin voel toe hy hierdie man sien.’ En dadelik daarop vind Thórhallr die perde wat hy gesoek het. As Glámr op die noodlottige Kersaand hom nie aan die vaste gesteur het nie maar brutaal en dreigend sy kos geëis het en na die maaltyd uitstap, ‘het sy asem sleg geruik’, 'n eienskap van bose geeste.
Die sagaskrywer is geen woordkunstenaar nie; hy vertel soos 'n eenvoudige man wat van kuns nie veel afweet nie sou vertel. In sy styl soek hy nie na sierlike wendinge nie, hy herhaal dikwels in een en dieselfde sin dieselfde woord, partykeer selfs meer as een keer; sy styl maak selfs op die verwende moderne leser wat gewoond is aan die moderne prosa waarop Flaubert sy onmiskenbare stempel afgedruk het, baiemaal 'n onbeholpe indruk. | |
[pagina 208]
| |
Waar die styl egter so voortreflik beantwoord aan sy doel, kan ons dit nie onbeholpe noem nie, wel: kunsteloos, argeloos, gemoedelik.
Al hierdie eienskappe maak die Grettir-saga as psigologiese skepping en as vertelkuns tot 'n meesterwerk. En ek meen dat hierdie verhaal by uitstek aangename en interessante lektuur kan wees vir ons plattelandslesers, wat deur die gemoedelike, lewendige verteltrant geboei sal word en in die lewenswyse, die sedes en gewoontes van 'n ander boerevolk van lang vervloë dae, in sy humoristiese en gemoedelike lewenskyk, sy geestige mensekennis, menige punt van aanraking sal vind. |
|