| |
| |
| |
Die Nuwe Brandwag
Tydskrif vir Kuns en Lettere
DEEL 3. No. IV. PRETORIA. NOVEMBER 1931
| |
S. Calecott, Sy Persoon en Sy Werk.
TOE ek die plan gevat het om 'n opstel oor die werk van Caldecott te skrywe, het ek een Sondagagtermiddag op besoek gegaan by mevrou Caldecott in Wynberg. In haar huis hang 'n groot getal van sy werke, en alles wat 'n skrywer aan materiaal vir 'n opstel verder nodig het, het ek daar gekry.
Vroeër het ek slegs weinig van sy werk in Kaapstad gesien, die skilder het ek nooit ontmoet nie; dubbel dankbaar moet ons dus wees dat hyself dikwels sy denkbeelde oor kuns aan die papier toevertrou het, in die vorm van kort opstelle in ‘The South African Nation’. Die opstelle gee ons naas die mondelinge inligtings van sy vrou altans enige vergoeding vir die onbekendheid met sy persoon.
Robuus van gestalte en gesondheid was hy nie. Toe die toestand op die oorlogsfront in Frankryk in 1918 kritiek geword het, het hy opnuut diens geneem, hierdie keer in die Franse leër. Reeds toe het hy weens sy swak gesondheid g'n aktiewe diens gedoen nie, maar hy was werksaam as tolk tussen die Franse en die Engelse. Dat hy hom tog vir die diens aangemeld het, bewys sy impulsiewe temperament.
Gebore in Kimberley in 1886, het hy vir sy vorming in 1912 na Parys gekom, en by die Ecole des Beaux-Arts het hy gewerk in die atelier van Gabriel Ferrier, wat hy jare later nog liefdevol gedenk. Die tyd in Parys, onderbreek deur 'n kort verblyf in München, het sy kuns en sy hele persoonlikheid gevorm. Sy geestelike verskyning dra sterk die stempel van 'n moderne mens. Nie net sy kuns het hy beoefen nie, hy het gestudeer, en veral die letterkunde het sy liefde gehad. Die Franse filosoof en skrywer, Anatole France, het hy bewonder as Europa se grootste lewende seun. En self was hy 'n goeie stilis.
| |
| |
In 1923 eers keer hy na Suid-Afrika terug en gaan na Johannesburg, waar hom egter 'n teleurstelling wag: hy vind daar geen kunslewe, geen opwekkende milieu nie, hy voel hom eensaam en verlang na Europa. Ontnugter deur die geestelike armoede van Suid-Afrika se grootste stad, keer hy dit die rug toe; hy besef dat sy offer te groot sal wees as hy daar bly, gewoond as hy is aan die verfynde spanning van gees en gevoel waarin hy in Parys jarelank geleef het. Reeds maak hy die plan om met sy moeder die land van sy geboorte, wellig vir goed, te verlaat, maar gelukkig leer hy in Kaapstad sy toekomstige vrou ken, en die spoedig volgende huwelik het hom hier gehou.
Met oortuiging en geesdrif gaan hy hom nou wy aan 'n nuwe taak: die behoud van die Suid-Afrikaanse natuur in haar ongerepte skoonheid. Sy ywer vir die stigting van natuurparke, wildtuine, word die passie van sy lewe. Dit is geensins 'n breuk nie: dit is 'n ombuiging van sy aktiwiteit, 'n aanpassing aan die omstandighede. Want daardie arbeid is, netsoos sy intellektuele verdieping in probleme van kuns en lewe, ook weer 'n aanvulling van sy artistieke roeping. Hy het op sy togte en sy kampeer in die Bosveld diep besef watter skatte vir die toekomstige geslagte van kunstenaars daar bewaar gaan word in die wildtuine. Hyself het daar talryke studies gemaak, sommige baie vlugtig, ander meer uitvoerig, maar almal raak en gevoelig. Sy beweeglike temperament het hom gou in kontak gebring met die aparte skoonheid van die diere en mense in 'n omgewing wat reeds die primitiewe jagters geken het.
Sy produksie hier is nie te omvangryk nie: ongeveer 'n vyf-en-dertig skilderye, naas 'n aansienlike aantal tekeninge. Reeds in December 1929 het die dood hom weggeneem na 'n lang lyding.
* * *
In sy lang studiejare in Parys het Caldecott 'n sorgvuldige tegniese kundigheid ontwikkel, die basis vir alle kuns. Vir 'n tydlank het hy hom die meeste aangetrokke gevoel tot die Parnassiens, baie vooruitstrewende artieste, onder wie Picasso; en nog in Suid-Afrika het hy vol warme bewondering oor hulle en hul roeping geskrywe: ‘Bewus of onbewus is hierdie mense, wat deur 'n God afgesonder is van hulle medemense, besig om die denkvorme van die toekoms te ontwikkel, wat die lewe en die gevoelens sal vorm van die kinders van al die miljoene van die wêreld van vandag. Hy wat hulle wêreld binnekom, sal daar 'n siele-skoonheid vind wat die besit is van diégene wat die vreugde ken om te ly vir daardie werklikheid wat nou nog net 'n droom is.’ Maar sy weg het hom reeds in Parys teruggevoer na die impressioniste, soos die ‘Revue Moderne’ kort voor sy vertrek in 'n waarderende opstel opgemerk het.
| |
| |
Nou is daar moderne skilders en skrywers oor kuns wat die impressionisme as 'n oorwonne kunssoort beskou, en wat selfs nie aarsel om dit as dilettantisme te bestempel nie. Caldecott self het 'n afsku gehad van die indeling van die kuns in allerlei rigtings, en ongetwyfeld sou hy vir so'n vernietigende oordeel oor sy eie ‘kunsstyl’ slegs 'n glimlag oor gehad het. Sy wagwoord, vir die beskouing van elke kunswerk, was: ‘Soek die kunstenaar’, soek net altoos na 'n kontak wat die kunswerk teweegbring tussen jou, die beskouer, en die maker. Dit is, in hierdie lig beskou, dan ook onregverdig om die soort kunswerke waaruit die karakter van die maker nie besonder sterk spreek nie, as swak van oortuiging te bestempel. Die impressionistiese kunstenaar se bedoeling is juis: dat ons saam met hom die indruk ondergaan en deurleef wat hyself gehad het toe hy sy werk geskilder het. Hy wil homself nie opdring nie, hy is tevrede met 'n beskeie rol.
Hierdie houding spreek duidelik uit die eerste afgebeelde stuk, die portret van 'n jong vrou, nog in Parys geskilder. Dit is 'n fyn en gevoelig met kryt getekende kop, en rondom die gesig is met teer kleure, grys en bleekgeel en olyfgroen, 'n stemming aangebring, 'n mistieke, dromerige stemming. Daar is g'n duidelike motief te onerskei nie; links bo lyk dit of 'n slank wit voël met uitgestrekte vlerke vlieg, aan die linkerkant kan 'n mens meen om 'n vreemde plantegroei te bespeur; lenige bladranke lyk die wange te omstrengel, maar dit alles is onwerklik, slegs bestaande in 'n droom. Die vrouegesig self het 'n starende, dromerig-afwesige uitdrukking; die irreële van sy omlysting is daarmee volmaak in ooreenstemming. Tog is hierdie stuk nog nie so suiwer impressionisties soos die werke wat hy naderhand hier gemaak het nie. Die kop vertolk baie van die lewensgevoel van die kunstenaar self, 'n verlange, 'n mymering rondom 'n ideaal.
In Suid-Afrika het die skilder hom meer spontaan oorgegee aan die skoonheid wat hom getref het. Heel moontlik was dit die herontdekking van die ou vertroude skoonheid wat hom so'n nuwe frisheid gegee het. Daarby dink ek mag die werk van Wenning, wat hy baie bewonder het, iets daarmee te doen gehad het om hom met volle oortuiging te laat terugkeer na die natuur. Deur 'n vergelyking met Wenning se werk blyk egter dat Caldecott dieper speur en verder strewe. Soos ook by sy groot Franse en Hollandse voorgangers word daar deur hom gesoek na abstrakte dinge, na die lewe van vorme en kleure, soos dit tril en tintel in die lig. Terwyl Wenning hom meer bepaal by die plastiese uitbeelding van landskap en stillewe, en veral dus die stof wil uitdruk en voelbaar maak, trag Caldecott juis om die onstoflike van lig en lug in eerste instansie op sy doeke te kry. Laat ons byvoorbeeld kyk na die reproduksie van die straat in Kaapstad, wat ter ere van die besoek van die prins van Wallis met vlae van allerlei kleurpatrone versier is. Uitdruklik
| |
| |
wil ek weer opmerk dat die kundigheid wat hier die penseel gevoer het, groot is. Die leek besef ternouernood hoeveel studie en hernude opmerksaamheid daar nodig gwees het voor 'n motorkar met so min lyne en kleure gegee kan word. Wat die arties egter wou gegee het, en ook werklik gee, is die spel van chaotiese kleurvlekke en ligglimpe wat die straat opvul. Die ry voertuie op die voorgrond regs staan daar net om die volle lig te temper en om 'n nuwe kleureskema te laat ontstaan. Die hoë wit gebou in die ry gewels regs is allesbehalwe naturalisties gegee, dit werk bloot as 'n ligkolom wat oprys by die gewemel van voertuie daaronder. Die skilder kyk vanuit 'n verhewe standpunt op die gedoente benede hom. Die Prins is al weg al, die vlaetooi is enigsins doelloos bo die toevallig verspreide motors, maar die lig speel daar in die straat netso onverstoorbaar soos voorheen. Dis nie die mense met hulle eienaardige, dikwels leë geesdrif, wat hom hier belang inboesem nie: dis net die vrye lug en lig. Enkele verstrooide figure, onbewus van die groter prag wat daar nou te sien is, beweeg daar in die straat. Daar is dus niks van romantiek te bespeur nie, niks van sentimentaliteit; die impressionis soek sy krag en sy waarheid in selfbeperking: tot lig en kleur. Hy eis van sy medium, die verf, nie meer as wat dit kan gee nie, maar terselfdertyd verfyn hy die twee-eenheid van lig en kleur soveel hy kan, dring hy deur tot sy ware wese.
Caldecott self wou dit die mense laat verstaan dat daar in 'n kunswerk iets meer moet wees as net 'n afbeelding. In een van sy opstelle noem hy die kopieer van die natuur, van wat 'n mens sien, 'n laagstaande en nodelose poging om 'n aspek van die natuur te dupliseer. Daarby kom dan nog dat allerlei motiewe wat opsigself niks met kuns te doen het nie, somtyds 'n groot rol speel by die keus en die behandeling van die onderwerp. Ironies laat hy 'n verdediger van hierdie soort motiewe aan die woord: ‘Die roeping van 'n kunstenaar is om die roem van sy land te vermeerder. So verstaan jou landgenote dit ook. As jy hulle ondersteuning wil kry, en 'n werklik nasionale skilder wil word, dan moet jy Tafelberg as 'n agtergrond op jou skildery sit, en sorg dat dit hoër lyk as wat dit werklik is. Jy sal sodoende jou landgenote, wat hierdie berg tereg as hulle nasionale roem beskou, vlei. Ook sal dit vanpas wees om historiese tonele te skilder, veral sulkes waarin die wit seksie van jou landgenote besig is om te veg met die ander.’
Dergelike uitinge, trouens sy opstelle in die algemeen, wys daarop dat Caldecott hom gereeld rekenskap gegee het van wat hy moes doen. Hy het, ook met sy verstand, daarna gestrewe om 'n ware arties te wees, en niks anders nie. Hierdie verstandelike werksaamheid by kunstenaars word dikwels onderskat; die mense meen dit is net die gevoel, die intuïesie, wat 'n kunswerk skep, maar niks is minder waar nie. Caldecott het blykbaar gesien dat dit in Suid-Afrika nog meer nodig is as in ouer kultuurlande om daarop te
| |
| |
wys. Alweer hanteer hy die wapen van die ironie: ‘Die Boesmans van die Kalahari en sommige van my tydgenote wat ek nie hoef te noem nie, het deur 'n goeie toeval vrygebly van kennis, of tenminste begrip. Hulle werk wen ons simpatie deur sy kinderlike kwaliteite. Omdat hulle nooit dink nie, maak hulle ook nooit foute nie.’ 'n Kunstenaar wat hom van die massa onderskei deur 'n opregte strewe sonder bybedoelinge, het sy simpatie geniet. Die beste voorbeeld is Irma Stern, wie se dapperheid om alleen te kan staan hy bewonder het.
Ons keer terug tot sy werk.
Op die skildery ‘By die kragstasie, Kaapstad’ word ons 'n stuk van 'n Kaapse voorstad gewys wat in die gewone sin van die woord nie mooi is nie. Die straat op die voorgrond is kaal en leeg, die mure aan weerskante is troosteloos van banaliteit; dit is eintlik nie 'n straatgedeelte waar mense woon nie, en die houding van die twee figure wat kom aanstap, bewys hulle onverskilligheid teenoor die omgewing. Tog beslaan hierdie straat met sy sywande meer as die helfte van die hele doek se oppervlak. Op die twede plan is 'n groep fabrieksgeboue, uit 'n boukundige oogpunt ook alweer lelik. Die grootste skoorsteen is vir die komposiesie belangrik, maar die telegraafpaal op die voorgrond raak dit aan, wat 'n ander skilder waarskynlik sou vermy het. 'n Motorlorrie staan buite voor die poort. Die agtergrond vorm 'n stuk hemel en die linkerhelfte van Duiwelspiek, waarvan veral die kranse deur kleur en vorm 'n onherbergsame indruk maak. Die brok natuur word as dit ware weggedruk deur die prosaiese, ja brutale werk van mensehande.
'n Suiwer impressionistiese kunswerk. Selfs die vir kuns minder ontvanklike persoon sal dadelik die vraag stel: waarom is daardie troostelose onderwerp gekies? En die vraag stel beteken tewens: daaroor nadink, die begin van 'n waardering. By verder oorweging is dit moontlik om te verstaan dat 'n meer natuurgetroue behandeling van die groen berghelling die bedoelde stemming sou verstoor; dit sou 'n ongepaste toon van vrolikheid word temidde van die troosteloosheid. Maar, sal die krietiese gees opwerp: die hellings is mos mooi beplant en groen. Maar ons moet net noukeurig oplet hoe selfs sulke groen vlaktes by 'n sekere beligting veel van hulle kleur verloor, meer grys en somber word. Die skilder is getref deur die stemming wat daar op 'n bepaalde uur van 'n bepaalde dag op hierdie straathoek geheers het. As hy dit gaan skilder, sal hy sonder om die natuur geweld aan te doen as vanself 'n dergelike beligting kies, dit heel moontlik nog iets sterker maak om die gewenste totaalharmonie te verkry. Sy doel is mos nie: om 'n kopie sonder meer te maak nie, maar om sy gevoelens wat gewek is deur die konkrete natuurbeeld te vertolk met die vorme en kleure van daardie selfde beeld. In laaste instansie is so'n kunswerk dus ook simbolies; en juis
| |
| |
as 'n mens die graad van simboliek nagaan, is dit 'n baie doeltreffende toets of daar met 'n kunswerk 'n nuwe waarde geskep is of nie.
Die laaste afgebeelde werk is gemaak naby Montagu, waar Caldecott vir sy siekte heul gesoe khet. Hy het baie gely, maar die skildery tintel van vreugde. Die gekose landskap is opsigself nie imposant nie, daar ontbreek selfs ten enemale 'n stuk van die hemel, die geel krans vul die hele gatergrond, en ook die voorgrond is somar 'n stukkie van die aarde, sonder enige opmerklike besonderheid.
Dit het die skildersblik getref hoe die alleenstaande boom daar aan die voet van die rotse sy wortels ingeboor het, hoe die stam 'n endjie moet wegkruip om by die sonlig te kom, en hoe die volgevormde kruin daar op die beskutte plekkie oorversadig word van lig. Hoe sterk moes die impressie gewees het, dat die sieke sy pyn vergeet en homself oorgegee het aan die prag van die skepping! Ons kan verstaan hoe kunstenaars getuig dat elke werk wat hulle totstand bring, vir hulle 'n bevryding beteken. Hulle kry die gawe om in voeling te kom met die skoonheid, en om met al die krag wat in hulle is te getuig van die blydskap daaroor. Tot in die laaste maande van sy lewe moes Caldecott 'n gelukkige, begenadigde mens gewees het.
Hy het gelewe en gestry vir ideale. Veral sy onvermoeide ywer vir die wildtuine het groot erkenning gekry, en dit is nog tydens sy lewe met sukses bekroon. Mag hierdie opstel daartoe bydra om ook vir sy ander, en sy mees belangrike arbeid die bewondering wat dit so ten volle verdien, by die lesers van hierdie tydskrif op te wek en te vernuwe.
A.C. BOUMAN.
|
|